Britse Setlaars van 1820

Idee vir 'n kubermuseum - Stander en Ferdie Jansen - RIV
Opdatering en bywerking - Simon Jansen

Britse Setlaars

Attach:Image3.jpg Δ

Titel van prent 3

Verdere beskrywing van Beeld3

Die Britse Setlaars - 1820

Dis die oggend van 9 April 1820. Oor die groenblou horison van die see verskyn die seile van die Chapman, ’n seilskip met ’n paar honderd mense aan boord. In Algoabaai word anker uitgegooi en met platboomskuite word mans, vrouens en kinders na die strand gebring. Waar die skuite nie nader aan die strand kan kom nie, word vrouens en kinders deur soldate deur die vlak water tot op Suid-Afrikaanse bodem gedra. Dit is die eerste groepie immigrante wat Engeland verlaat het om in Suid-Afrika ’n nuwe vaderland te vind. Hulle het die beskaafde wêreld vaarwel gesê omdat daar vir hul kinders geen toekoms meer was nie en omdat die Britse regering en die goewerneur aan die Kaap mense wou hê om die Suurveld te verdedig teen die aanvalle van die Xhosas.

Na die Chapman het nog 20 ander seilskepe in Algoabaai aangekom met immigrante uit Engeland, Skotland en Ierland. By die Baai is ’n groot tentekamp opgeslaan om die setlaars voorlopig te huisves. Die goewerneur het 200 ossewaens van Boere uit die distrikte Uitenhage en Graaff-Reinet gehuur om die setlaars na hul nuwe tuiste in die Suurveld te vervoer. Die Suurveld was die streek wes van Visrivier, die oostelike helfte van die distrik Uitenhage, tussen Sondags- en Visrivier, ongeveer 70 myl lank en 50 myl breed.

Sommige gesinne moes 12 dae op die waens bly om hul bestemming te bereik. Die naaste plasies was ongeveer 80 myl van die Baai en ander tot 130 myl. Eers by hul aankoms in die Suurveld het die mense die ware oogmerk van die regering besef. Die afskeidswoorde van kolonel Cuyler, die landdros van Uitenhage, het die setlaars laat besef dat hulle hier aan groot gevare en sware ontberings blootgestel was. Hy het gesê: “Menere, as julle uitgaan om te ploeg, moet julle nooit julle gewere agterlaat nie.” Hulle hulpelose en weerlose toestand het verder duidelik geword toe die goedhartige Boere wat hulle na hul bestemming gebring het, met gevoelens van bejammering en verwondering hulle vaarwel gesê het. Die Britse regering het hulle nie vooraf ingelig oor die landstreek waarheen hulle immigreer nie. Daar is net verklaar dat hulle gevestig sou word êrens aan die suidooskus van Afrika.

Daar sit die setlaars nou op die vlakte met geen bedekking, geen vervoermiddel, maar met slegs hul bagasie op die lang gras neergesit, onbekend met die land en sy aard, hul enigste vertroue op God wat hulle duisende myle op gevaarlike oseane bewaar het. Maar te midde van die hopelose en onherbergsame toestand was daar tog een groot troosgedagte: hulle hou nou hulle eie grond besit en kon werk vir die toekoms van hul kinders.

Die gedagte aan ’n nuwe lewe het tot aksie en daadkrag besiel: tente is opgeslaan, die nagvure is aangesteek en die lewe van ’n setlaar het ’n aanvang geneem. Daar moes eers ’n huisie gebou word. Terwyl die mans hout gesaag en gekap het, het die vrouens en kinders riet en dekgras gesny. Die eerste huisies was eenvoudig met 2 vertrekke. Die mure was pale wat ingeplant is met latte en riete tussenin. Daarna is dit met grond gepleister. Die dak was van gras en die vloere van grond.

Die setlaars het nie trekdiere besit nie en daarom maar met ’n groentetuin begin. Toe enkele van hulle ’n paar osse gekoop het, het hulle ook ander gehelp om koring te saai. Hulle was nie toegelaat om werkvolk te huur nie. Hulle moes ’n pas hê as hulle van hul plasies wou gaan. Die plasies was heeltemal te klein en die grond en klimaat ongeskik vir landerye. Gedurende die eerste drie jaar is geen koring geoes nie omdat roes die gesaaide verwoes het. Mense moes soms tot 30 myl ver loop om kos te gaan haal en sakke van 50 pond gewig op die rug dra.

Sodra die setlaars beeste aangeskaf het, het die diefstal van die Xhosas begin. In September 1821 is ’n jong seun vermoor en ’n hele klomp beeste gesteel.

Die setlaars moes groot ellende en ontberings verduur. In 1824 was daar 1,800 van die boere in die Suurveld wat in die allerellendigste toestand verkeer het. Hulle klere en skoene was verweer en die meeste het net van mielies en pampoen gelewe. Maar deur volharding en harde werk het hulle uiteindelik die wildernis verower en vir hulle kinders ’n toekoms verseker.

Gedurende die Sesde Kafferoorlog van 1835 het die setlaars swaar verliese gely: 456 plase is verwoes, 5 700 perde, 12 000 beeste en 162 000 skape is geroof. Hierdie ramp was die oorsaak dat duisende Afrikaanssprekende boere die Kaapkolonie verlaat het. Dit is die Groot Trek. Die Engelse koloniste het egter gebly waar hulle soveel terugslae en teleurstellings verduur het. Hulle sou later ook nog die ellende van die sewende, agste en negende Kafferoorloë moes deurmaak. Die was vir hierdie mense ’n groot teleurstelling toe hulle mede-koloniste, die Afrikaners, die Kolonie verlaat het. Piet Retief was ’n vriend van die setlaars in die omgewing van Grahamstad. Hy was vir hulle die mondstuk en pleitbesorger by die Kaapse regering. Toe die Engelse vriende verneem dat Retief van plan was om by die Trek aan te sluit, het die setlaars ’n aantal manne na hom gestuur om hom te vra om van sy voorneme af te sien.

Toe die ou patriarg, Jacobus Uys, met sy seun Pieter Uys en ongeveer ’n honderd Trekkers buite Grahamstad uitgespan het op hul uittog na die noorde, het die setlaars uit agting vir hierdie ou vader en as ’n blyk van meegevoel en onder die besef van die tragiese verloop van sake, besluit om aan hom ’n aandenking te oorhandig. By wyse van ’n kollekte is ’n groot Bybel gekoop, in leer gebind en aan die ou volksvader oorhandig. Buite op die omslag was gegraveer: “Aanbieding deur die inwoners van Grahamstad en omgewing aan mnr. Jacobus Uys en sy trekkende mede-landgenote.”

Aan die binnekant van die omslag was geskryf: “Hierdie heilige Boek word aan mnr. Jacobus Uys en sy mede-trekkers aangebied deur die inwoners van Grahamstad en omgewing as ’n afskeidsgeskenk ter wille van die agting en die diepgevoelde spyt oor hul vertrek. Hulle innige begeerte en ernstige poging om ’n eie predikant te bekom en hulle strenge nakoming van die ordinansies van die gewyde Boek is voldoende waarborg dat hulle in hul swerftogte op soek na ’n ander vaderland, altyd gelei sal word deur die voorskrifte in hierdie heilige Boek en dat hulle standvastig by daardie ordinansies sal lewe, sal vashou aan die bevele van die Skepper van die Heelal, die God van alle nasies en volke.”

’n Groot aantal setlaars het die oorhandiging bygewoon. Thomas Phillips wat die Bybel oorhandig het, het in sy toespraak melding gemaak van die agting van die setlaars vir hulle mede-burgers en sy spyt uitgespreek oor hul vertrek: “… and we must always acknowledge the general and unbounded hospitality with which we have been welcomed in every portion of the Colony.” Piet Uys het namens sy ou vader gesê dat hy innig jammer was dat hulle van so baie getroue vriende moes afskeid neem. Hy het die blyk van agting en vriendskap baie hoog op prys gestel.

Die nageslag van hierdie manne en vroue wat ’n beskaafde land verlaat het om die Christelike beskawing in ons land te help vestig, woon vandag nog tussen ons. Baie van hulle het ’n groot aandeel geneem in die opbouing van ons land en hulle merk gemaak in ons volk se geskiedenis. Die name van Richard (Dick) King, Alexander Biggar, Thomas Halstead, William Robinson, Henry Hartley, Thomas Bowker en ander is nou verbonde aan ons nasiewording. Later vertel ons van hierdie manne.

Die koms van die Britse Setlaars

Die koms van die Britse setlaars van 1820 na die Kaapkolonie, het ’n nuwe tydperk in die ontwikkeling van suidelike Afrika ingelui. Hoewel Brittanje die Kaap reeds in 1806 verower het, was dit eers met die koms van die setlaars dat daar enigsins sprake was van ’n Engelssprekende bevolkingsgroep in Suid-Afrika. Dit het die ontwikkeling van die Kaap feitlik onlosmaakbaar geknoop aan Brittanje. Lg. sou nou ook deur bande van bloed aan die Kaap gebind word.

Die koms van hierdie Britse setlaars was in die teken van en omgeef met die groot probleme wat Brittanje en die Kaapkolonie aan die begin van die 19e eeu geteister het. Brittanje was uitgeput deur ’n jare lange oorlog teen Napoleon. Die Kaapkolonie is dan ook oorspronklik beset met die doel om te verhoed dat die Franse dalk beheer oor die Seeroete na die ooste verkry. Spoedig egter is die Britse owerheid betrek in duur grensbotsings met die Xhosas op die Oosgrens van die kolonie.

Vir goewerneur Charles Somerset was die enigste goedkoop en permanente oplossing van hierdie grensprobleem, die plasing van ’n groot aantal blanke koloniste op klein plasies langs die grens. Hulle sou dan die eerste linie-verdediging van die kolonie kon waarneem en so voorkom dat ’n groot troepemag gedurig op die grens gestasioneer moes word. Die Hollandssprekende koloniste het egter op uitgestrekte veeplase geboer en het in elk geval ná die eerste grensoorloë, nie meer in die Suurveld belanggestel nie. Die ideale oplossing vir Somerset was dus om immigrante uit Brittanje in te voer. Sy verengelsingsbeleid sou ook ’n groot stoor vorentoe kry as hy ’n groot aantal Engelssprekendes in die binneland kon vestig. Geesdriftig het hy toe aan die werk gespring om die Britse owerhede in so ’n skema geïnteresseerd te kry.

Die toestande in Brittanje was op daardie stadium baie haglik en duisende mense het emigrasie as hul enigste redding gesien. Die soldate wat na die einde van die Napoleontiese Oorloë teruggekeer het, moes nou vind dat daar geen werk vir hulle was nie. Nadat hulle jare lank vir Brittanje geveg het, kon hul eie land nie vir hulle ’n heenkome bied nie en het hulle verbitterde werkloses geword.

Die Industriële Omwenteling en die opkoms van fabrieke het verdere duisende werkloses veroorsaak. Waar hierdie mense vroeër ’n bestaan kon maak met tuisnywerhede, het die fabrieke hulle nou geruïneer en baie moes selfs hul jong kinders in die fabrieke laat werk om kop bo water te hou. Op die Engelse platteland is baie landbouers ook van ’n heenkome beroof deur die afkamping van die meent-gronde. Baie het ’n bestaan gemaak deur hul vee op hierdie meent-gronde te laat wei. Die regering het dit egter laat toekamp en aan die groot grondbesitters verkoop.

Toe die Britse regering dus bekend maak dat hulle R100,000 beskikbaar stel vir so ’n immigrasie-skema na die Kaapkolonie, was die aanvraag oorweldigend. Iets soos 90,000 aansoeke is ontvang. Ongelukkig kon hulle slegs 4,000 mense stuur. Hierdie immigrante moes hulself groepeer in groepies van minstens tien manlike persone. Die regering sou dan met die leiers van die groepe onderhandel. Elke volwasse manlike persoon moes R20 by die regering deponeer. Dit sou dan later in drie paaiemente aan hulle terugbetaal word. Hulle sou ’n gratis oortog en ’n plasie van ongeveer 50 morg verniet ontvang.

Salig onbewus van al die probleme wat nog op hulle wag, vertrek die immigrante toe in 1819 met 21 skepe uit Londen. Hulle arriveer in die volgende jaar in Algoabaai, waar hulle deur die waarnemende goewerneur sir Rufane Donkin, ontvang word.

Lord Charles Somerset het die Oos-Kaap beskryf as ’n vrugbare en pragtige park-landskap. Die setlaars was dus vreeslik teleurgesteld toe hulle by Algoabaai aankom en vind dat dit ’n droë, vaal en onaansienlike streek is – heeltemal anders as die groen landskap van Brittanje. Hier het die eerste wankelmoediges reeds begin wonder of hulle ’n wyse stap gedoen het.

Die nedersetting by Algoabaai het op daardie stadium slegs bestaan uit Fort Frederik en drie klein huisies. Die Setlaars is dus maar voorlopig in tente gehuisves, die armes in klein ronde tentjies en die hoër klas immigrante in gerieflike markiestente. Hierdie tradisionele Britse instelling van maatskaplike ongelykheid en klasseverskille moes egter gou voor die probleme en aanslae van Afrika wyk. Goewerneur Donkin verdoop dan ook op hierdie stadium die nedersettinkie tot Port Elizabeth – ter ere van sy oorlede vrou, Elizabeth Markham.

Die Setlaars moes eers ’n hele rukkie in hierdie tente-dorp bly voordat hulle na hul toekomstige plasies verskuif kon word. Donkin het eintlik net 2,000 van hulle verwag en toe daar dubbel soveel opdaag, was sy planne ’n bietjie in die war gestuur. Hy besluit toe om die Iere maar by Clanwilliam te laat vestig i.p.v. op die Oosgrens.

Vanaf Algoabaai is die Setlaars deur Hollandse koloniste uit die omgewing met ossewaens na hul standplase vervoer. Aangesien daar op daardie stadium slegs sowat 400 Boere in die hele kolonie Engels magtig was, kon die Setlaars glad nie eers met hul nuwe mede-landgenote gesels nie. Elke groepie is dan ook by hul plasie afgelaai, sonder dat hulle ’n idee gehad het van wat op hulle wag en watter probleme die nuwe land aan hulle sou bied. Daar, stokalleen op die verlate veld, het die Setlaars besef dat hulle sou moes wortel skiet of omkom in die proses. Daar was geen ander uitweg nie.

Die Setlaars se eerste taak was om vir hulself huise op te rig. Aangesien daar geen boumateriaal beskikbaar was nie, moes hulle maar gepleisterde wattelgehuggies met grondvloere bou. Hul meubels is geprakseer uit kissies en hout wat hulle self op hul plasies gekap het. Gedurende later jare, toe hulle darem meer gevestig was, het hulle stewige huise met klipmure gebou as beskerming teen die voortdurende rooftogte van die Xhosas. Baie van hierdie huise bestaan vandag nog.

Die oorgrote meerderheid van die Setlaars was oorspronklik stedeIinge en baie van hulle het nie die vaagste benul van boerdery gehad nie. Toe hulle dus hier in die wildernis ’n boerdery aan die gang moes sit, het dit maar sukkel-sukkel gegaan. So het een bv. sy wortelsaad in ’n sloot van twee voet diep gesaai. ’n Ander het mielies met die stronk en al geplant. Nog ’n volgende het sy uie onderstebo geplant en ’n lid van die Salemgeselskap het grawe vol koring gesaai. “As jy spaarsaam saai, sal jy spaarsaam maai,” het hy gesê.

“Die Britse setlaars van 1820 land in Algoabaai”, deur Thomas Baines, 1853.

Daardie eerste paar jaar het die Setlaars werklik harde bene gekou. Waar die gereelde droogtes nie die oeste laat misluk het nie, was dit weer die rooi-roes wat die koringoes vernietig het. Die owerhede moes hulle ’n lang ruk van basiese lewensbehoeftes voorsien om hulle aan die lewe te hou. Volgens die voorwaardes van hul koms mog hulle glad nie hul plasies verlaat het om elders in die dorpe te gaan geld verdien nie. Die Suurveld was ook glad nie geskik vir gewone landbou nie. Dit was egter goeie bees- en skaapwêreld. Die Setlaars mag egter vir eers nie met beeste geboer het nie. Die owerhede was bang dat hulle dan groot uitgestrekte plase sou begin aanlê en dat die idee van ’n digbevolkte grensgebied daarmee heen sou wees. Hul grondjies was in elk geval ook te klein vir veeboerdery. Hierdie byna uitsluitlike landboubedrywighede van die Setlaars het darem die voordeel gehad dat die Xhosas hulle aan die begin redelik met rus gelaat het. Eers toe die Setlaars ook met beeste begin boer het, was daar iets vir die Xhosa-bendes om te roof en het hulle weer in die Setlaars-gebied begin belangstel.

Teen 1823 was die Setlaars se toestande haglik. Toe drie jaar se misoeste gevolg word deur ’n vloedstorm wat hul lande en gehuggies weggespoel het, moes die owerhede ingryp. Hulle is verlof toegestaan om hul plasies te verlaat en in die dorpe te gaan werk. Baie het dan ook van die kans gebruik gemaak en na dorpe soos Grahamstad en Port Elizabeth gestroom. Hier sou hulle nou die beroepe waarvoor hulle opgelei was, kon beoefen. Sommiges het skrynwerkers, wamakers en hoefsmede geword en gehelp om die ontwikkeling van hierdie dorpe te stimuleer. Ander weer het handelaars geword en met hul waens die land ingedring.

Die wat op die plasies agtergebly het, is nou toegelaat om hul grondgebied uit te brei en ook om met vee te boer. Hulle het beeste en skape aangeskaf en heel gou sterk kuddes opgebou. In plaas van die vetstertskape van die Boere, het hulle hulself toegelê op die teel van Merino’s. Die grondslag van Suid-Afrika se winsgewende Merino-boerdery is dan ook hier deur die Setlaars gelê. Ten spyte van die verwoestende Xhosa-oorloë, het die Setlaars hierna heel gou ontwikkel tot ’n vooruitstrewende en welvarende gemeenskap.

Behalwe hul bydraes op landbougebied, was hul belangrikste bydrae tot die ontwikkeling van Suid-Afrika seker die stigting van ’n vrye pers. Setlaars soos Thomas Pringle, John Fairbairn en George Greig het ten spyte van teenstand deur die outokratiese Somerset, tog verlof verkry om hul “South African Journal” uit te gee. Die Setlaars is egter later teleurgestel deur hierdie koerante, toe hulle die Setlaars begin voorhou het as onderdrukkers van die nie-blankes.

Die oorhandiging van die Bybel aan die Voortrekkerleier Uys, een van die friese binne die Voortrekkermonument, Pretoria.

Hierdie gevoel van verontregting, tesame met ’n gemeenskaplike verset teen ’n outokratiese Britse owerheid en hul basies konserwatiewe lewensuitkyk het ’n besondere band tussen die Boere en die Setlaars laat ontstaan. Met die Groot Trek van 1836 was hulle dan ook werklik spyt dat die Boere wou wegtrek. Toe Jacobus Uys se geselskap Trekkers by Grahamstad verbytrek, het die Setlaars aan hulle ’n Bybel oorhandig as blyke van hul agting en welwillendheid. Miskien het hulle toe teruggedink aan 1820 en hoe hulle toe self van vooraf in ’n nuwe land moes begin.

Hoewel die Setlaars se invloed meer in ’n lokale verband in die Oos-Kaap van belang was en hulle miskien nie so ’n belangrike rol as ander immigrante-groepe, soos die Hugenote, gespeel het nie, was hul koms tog van groot belang vir Suid-Afrika. Hul koms kan beskou word as die bakermat van die ontstaan van die groot groep Engelssprekendes in die Suid-Afrika van vandag.

Die nasionale monument vir die Britse Setlaars van 1820 in Grahamstad

Die koms van die Britse setlaars in 1820 het Suid-Afrika se ontwikkeling baie bevorder. Suid-Afrika is toe ook met baie nou bande aan Brittanje geknoop. Die rede vir die Setlaars se koms, was die terugkeer van die soldate van die Napoleontiese oorloë – hulle was werkloos. Die industriële omwenteling het ook plaasgevind waar masjiene bo mense verkies is. Toe Lord Charles Somerset vra dat immigrante hulle in Suid-Afrika moes vestig, is iets soos 90 000 aansoeke ontvang. Ongelukkig kon hulle slegs 4 000 stuur. Lord Charles Somerset wou gehad het dat die immigrante hulle by die Oosgrens vestig om verdere botsings tussen die Xhosas en die Blankes te voorkom. Daar sou met ander woorde ’n sterker linie wees om die Xhosas te keer. Die Setlaars sou plasies van 50 morg ontvang. Daar was ook ’n tekort aan ambagsmanne in Suid-Afrika. Somerset het ook beoog om van die Kaap ’n Britse kolonie te maak. Hy het om daardie rede Setlaars aangevra. Dr. William Guybon Atherstone, bekend as die vader van geneeskunde in Suid-Afrika, was ook ’n vername 1820-Britse Setlaar. Ons het deur Pringle en Craig (al twee Britse Setlaars van 1820) se toedoen die vryheid van die pers verkry. Toe die Setlaars in 1820 in Suid-Afrika kom, was baie van hulle nie boere nie. Somerset het bepaal dat hulle nie van hulle plasies mag wegtrek nie. Een Setlaar het byvoorbeeld ’n sloot van 2 voet diep gemaak en wortelsaad daarin geplant. Iemand het uie onderstebo geplant en ’n lid van die Salemgeselskap het grawe vol koring gesaai en gesê: “Wie spaarsaam saai, sal spaarsaam maai.”

Vandag het ons ’n monument wat ons herinner aan die swaarkry van die Setlaars. Die gebou het sowat R5 miljoen gekos, beslaan sowat 6 240 meter2. Dit het sewe vlakke wat saamsmelt met die geskiedkundige Gunfire-heuwel by Grahamstad. In 1970 is die eerste sooi deur dr. Nico Malan, voorsitter van die monumentstigting, omgespit. Daar is begin! Toe kom die terugslae, helaas! weens die styging van boukoste. Maar die regering het weereens uitgehelp. Vandag staan die gebou daar. Dit is op 13 Julie 1974 ingewy.

Die monument is hoofsaaklik vir Engelssprekendes gebou. Die verhaal van hierdie gebou strek ver terug na 1957 toe wyle mnr. T. B. Bowker, L.V. van Albanie gesê het: “Ons moet die nageslag laat weet dat die Engelssprekende Setlaars asook die Nederlandse, Franse en Duitse tot die ontwikkeling van ons land bygedra het.” Die gebou sal gebruik word vir Engelse taalfeeste wat sal plaasvind in die gehoorsaal. Gedurende die feestyd is ’n reeks praatjies saam met rolprentvertonings in sewe aflewerings, oor die Suid-Afrikaanse lewe geloods.”

Bo die ouditorium is die konferensiesentrum. Behalwe die konferensiesaal met 400 sitplekke is daar nog ’n tweede konferensiesaal en kleiner vertrekke vir bestuursvergaderings en seminare. Daar is ook ’n ruim sitkamer vir afgevaardigdes en ’n restaurant agter glas met ’n pragtige uitsig oor die stad en omliggende landskap. Daar is moderne kombuisgeriewe en ’n banketsaal vir besondere bankette en byeenkomste wat in verband staan met ’n konferensieprogram. Voorsiening word gemaak vir pos-, projeksie-, kleurskyfie-, pers-, uitsaai-, televisie- en direkte vertalingsgeriewe. Die eerste konferensie het gehandel oor die onderwerp: “Engelssprekende Suid-Afrika – ’n waardebepaling”.

’n Silhoeët teen die blou lug, ’n grootse baken sigbaar van ver, so staan die Nasionale Monument vir die Setlaars van 1820. Dit is meer as net ’n monument, dit is ’n geleentheid, dit is ’n uitdaging!

Nie Europese Banier

Attach:Image1.jpg Δ

Titel van prent 1
(Verdere beskrywing van Beeld1)

Attach:Image2.jpg Δ

Titel van prent 2
(Verdere beskrywing van Beeld2)

TERUG