Vroeë Middeleeue

opgedateer deur Simon Jansen

Vroeë Middeleeue

Middeleeuse kaart

Die uitbreiding van die Frankiese Ryk onder Karel die Grote

Die vroeë Middeleeue - Agtergrand

Die fassinerendste tyd in die Europese geskiedenis. Só dink baie mense aan die Middeleeue. ’n Tyd van landhere en lyfeienes, ridders en romantiek, kastele, katedrale, pelgrimstogte, rogbrood, dorpskelms, kinderbruide, onderdrukking en ongeletterdheid. In dié reeks voer Mieliestronk.com jou terug na daardie eeue. In hierdie eerste aflewering word vertel waar dit alles begin het...

EUROPA in die Middeleeue! Probeer jou daardie wêreld voorstel. Huise met hoë dakke gekluister om ’n kerk. Kloosters teen die heuwelhange in stille, landelike omgewings. Sober kastele wat op hoë heuweltoppe hurk.

Ridders met blink wapenrustings wat op perde oor ophaalbrûe rammel of mekaar onverskrokke met lanse bestorm. Landhere wat kleinwild met valke jag, of herte met hul pyle en boë agtervolg.

Baie mense het ’n mooi, romantiese idee van die Middeleeue. Maar die sowat tien eeue waarin hierdie tydperk val, is ook gekenmerk deur ’n jammerlike en patetiese verval van die mens.

Met die “Middeleeue” dui geskiedkundiges die periode aan tussen die antieke en moderne tyd in Wes-Europa. Nogtans is dit moeilik om presies te sê waar alles werklik begin of geëindig het. Daar word egter gewoonlik aanvaar dat dit ingelui is deur die ineenstorting van die Romeinse Ryk in die jare 400 n.C. en afgesluit is met die soeke na en die verbreding van kennis in die jare 1500.

Die Middeleeue word soms verkeerdelik die Donker Eeue genoem, weens die kennelike gebrek aan geleerdheid, veral in die eerste vyf eeue. Dié term word egter vandag nie juis deur kenners gebruik nie, want navor­sing het getoon dat hulle nie heeltemal so “donker” was nie.

In ons reeks oor antieke beskawings word vertel hoe die Romeinse Ryk van omstreeks 160 n.C. en veral in die jare 200 n.C. geteister is deur die invalle van Germaanse volke wat barbare genoem is.

Teen die jare 400 n.C. was die Romeinse Ryk so verswak dat hy nie meer die invallers kon weerstaan nie. In die loop van die eeu is die ryk opgekerf in baie koninkryke wat deur barbaarse opperhoofde regeer is.

Onder Romeinse heerskappy was die mense gewoond aan ’n lewe van orde en reg. Hulle het sterk sentrale en plaaslike regerings gehad met die veiligheid en geborgenheid wat daarmee saamgaan, asook billike verhore.

Onder die barbare is orde en reg vervang deur bygeloof, chaos en voortdurende oorlogvoering.

Die handel, wat onder die Romeine nuwe hoogtes bereik het, is heeltemal vernietig en die weë na Rome het verbrokkel. Sonder handel en geld moes die mense hulle noodgewonge tot ’n landelike lewenswyse wend om te oorleef.

Landgoedere

NÁ die invalle van die barbare was Wes-Europa se ekonomie op ’n stelsel van landgoedere gegrond. Teen die jare 800 was die meeste van die grond verdeel in groot landgoedere wat deur ’n handvol welgestelde landhere besit en beheer en deur arm landvolk bewerk is.

Biskoppe en ander hoë geestelikes wat hul lewe aan die kerk gewy het, het ook oor groot stukke grond regeer en baie soos die landhere geleef.

Op elke landgoed was ’n dorpie van eenvoudige hutte waarin die landvolk gewoon het. Die dorpenaars het omtrent alles geproduseer wat hulle, die landheer en die geestelikes nodig gehad het.

Groot dorpe, wat vanweë die Romeinse handel floreer het, het al hoe onbelangriker geword. Die inwoners het na die plase getrek om werk te kry, en baie groot dorpe het heeltemal van die toneel verdwyn.

Daarmee saam het die kulturele en opvoedkundige bedrywighede tot niet gegaan. Die antieke Griekse en Romeinse geleerheid was so te sê vergete, en vaardighede in die letterkunde, skilderkuns, beeldhou en argitektuur was daarmee heen.

Wes-Europa is in “duisternis” gedompel...

Christendom

DIE enigste lig in die donker tonnel van die vroeë Middeleeue was die Christelike kerk. Terwyl die toestande elders verswak het, het die kerk na vore getree as die enigste instelling wat in staat was om die klassieke beskawing te beskerm.

Twee instellings van die kerk—die katedraal en die klooster—het belangrike sentrums van geleerdheid geword.

Die monnike van sekere kloosters en die geestelikes van die katedrale het die lees en skryf van Latyn lewend help hou en antieke manuskrifte gekopieer, waardeur baie klassieke letterkundige werke behou gebly het wat andersins heeltemal sou verdwyn het.

Hulle het ook baie skole in Europa opgerig en voortreflike biblioteke gebou.

Met verloop van tyd is die barbare tot die Christendom bekeer, wat die geografiese invloed van die kerk grootliks verbreed het. Die barbare het geleidelik die Romeinse begrippe van owerheidsgesag en geregtigheid aanvaar.

Die kerk het ’n toenemend belangrike rol in staatsbestuur gespeel, en kerklui het burgerlike take oorgeneem met die insameling van belastings en die instandhouding van geregshowe om misdadigers te straf.

Feodalisme

TUSSEN die middel van die jare 700 en 987 is Wes-Europa regeer deur sekere Frankiese konings wat die Karolingers genoem word. In die laat 700’s het die heersende koning, Karel die Grote, Wes-Europa verenig—die eerste keer sedert die ineenstorting van die Romeinse Ryk.

Die heersers het besef dat hulle nie hul onderdane sonder soldate kon beheer of beskerm nie, en in die loop van die agtste eeu het ’n regeringstelsel wat as die feodale stelsel bekend staan, in Europa ontstaan.

Dit was allereers ’n stelsel van grondbesit waarin mense grond verkry het in ruil vir dienste. Só byvoorbeeld kon ’n lyfeiene (iemand wat met lyf en lewe aan ’n heer behoort en dus eintlik net ’n soort slaaf was) van sy leenheer verlof ontvang om ’n bepaalde stuk grond vir sy eie gewin te bewerk. Die voorwaarde was dat hy sy leenheer se grond ploeg.

Die feodalisme was egter ook ’n lewensvorm, waarin ’n mens se geboorte geheel en al bepaal het watter status jy in die lewe sou beklee. ’n Lyfeiene sou byvoor­beeld nooit eens daarvan gedroom het om ’n ridder te wil word nie, en hy het feitlik geen hoop gehad om ooit iets anders as ’n lyfeiene te wees nie.

Die Middeleeue het onder Karel die Grote die grootste opgang beleef. Hy het die onderwys ver­beter en ’n skool gevestig met leerkragte wat ander skole en biblioteke ingerig en antieke manuskrifte gekopieer het. Hierdie hernieude belangstelling in geleerd­heid word die Karolingiese Renais­san.C.e genoem.

Maar ná Karel die Grote se dood het Europa weer in koninkryke verbrokkel.

In die jare 900 en 1000 was die grootste deel van Wes-Europa in feodale state verdeel. In party, soos Engeland en Frankryk, is sterk regerings gevestig, wat ’n mate van vrede en veiligheid vir hul volkere gebied het. Ander, soos in Duitland en Italië, het ondoeltref­fend gebly.

Feodalisme is op elke vlak van die gemeenskap bedryf. Konings kon nie hul lande regeer sonder die steun van hul ridders nie. Here kon nie hul landgoedere beheer sonder die landarbeiders nie. Die landvolk kon nie lewe sonder dat hulle die beskerming van hul here teen die gevare en onsekerhede van daardie tyd gehad het nie.

Jammerlik gebrekkig soos die stelsel was—met al die onreg en lyding wat dit vir die laer stande meegebring het—is dit algemeen beskou as die beste manier om ’n staat te bestuur wat van die landbou afhanklik is.

Daarby het dit ’n skyn van orde in Europa help vestig waar daar voorheen slegs chaos was.

Riddertyd

ONS woord ridder hou sigbaar verband met die woord ruiter (iemand te perd), en die Engelse knight kom weer van die Angel-Saksiese cniht, wat berede dienskneg beteken.

Ridders se plig in oorlogtyd was om te perd as gewapende soldate te veg, en in vredestyd moes hulle huishoudelike pligte vervul.

Aanvanklik kon elkeen ’n ridder wees. Maar namate wapenrusting en oorlogsperde duurder geword het, kon slegs die rykes dit bekostig, en dit het geleidelik ’n eer en onderskeiding geword.

Van ’n ridder is verwag om eerbaar en dapper in die stryd te wees en om sy koning, sy kerk en sy dame te dien.

In tye van vrede het hulle dikwels te veel vrye tyd gehad en hul vaardighede in twee algemene speletjies vertoon: steekspele, waarin twee gewapende ridders mekaar met hul lanse bestorm het in ’n wedywering om glorie en eer; en toernooie of miniatuur-gevegte, waarin groepe ridders op hul perde oor die landskap gery en mekaar met hul lanse uit die saal probeer gooi het.

Hul bloeddors is dikwels in plaaslike gevegte geles. Hul slagof­fers was meestal onskuldige landvolk.

Dis te verstane dat die ridders sowel geliefd as gehaat was.


Nie Europese Banier

TERUG