Zirk Jansen #36

- Idee en skrywe deur Ferdie Jansen
- Navorsing deur Elise Jansen

Zirk Jansen Geskiedenis

Ons weet met redelike sekerheid dat Zirke Jansen in sy Pa se werkswinkel gewerk het. Kon dit wees dat die inkomste te laag was om hom voldoende te vergoed? Daar was die reeds genoemde algemene ekonomiese situasie en 'n ooraanbod van linne, kleremakers en produkte van die bedryf. Neustadtgödens was 'n grensdorp - die produkte is meesal in die buiteland gelewer en dit te midde van die beperkende tariefbeleid wat in 1744 deur die Pruisiese regering in Oos-Friesland afgedwing is.

Nie Europese Banier

Frieland Kaart

 Die Hollandse taal en kultuur was laastens dalk nie totaal vreemd vir die jong Zirke Jansen nie.  Daar was gedurende die 18de eeu, veral in Neustadtgödens - as gevolg van al die ekonomiese en kulturele faktore en die teenwoordigheid van die Mennonietiese gemeenskap - 'n spesiale affiniteit na Nederland.  Zirke Jansen was waarskynlik bekend met van die Mennoniete.  Die Mennoniete het Nederlands met mekaar gepraat met Nederlands as die voertaal in die Mennonietiese Kerk en skool. Nederlands self is in 1750 as addisionele skoolvak by die Neustadgödense "dorp skool" aangebied. Laastens kan ons bespiegel oor die situasie in die Jansen-familie self. Was daar dalk spanning tussen Zirke en sy stiefmoeder? Daar is ook dokumentêre bewys gevind dat die Jansenhuis by 57 Spielstrasse in ca1752 gesloop is. Is dit moontlik dat Zirke se vader in 1752 oorlede is en dat die huis toe verkoop en gesloop moes word? Tensy verdere bewyse gevind word oor die gesin se wel en weë, sal ons nooit werklik weet waarom Zirke sy vaderland vrlaat het nie.

Oor die beste gedeelte van ‘n honderd-en twintig jaar vandat die bou van die Ellenser Dam begin het om die mense van Neustadtgödens se lewens te verander, is ‘n scenario geskep waarop die jonge Zirke Jansen sy finale besluit kon basseer. In konteks gesien was dit dus geen verassing toe die jong man tot die besluit gekom het dat daar vir hom geen toekoms in die vaderland was nie. Sy vader en stiefmoeder was waarskynlik teleurgesteld en verslae toe Zirke uiteindelik sy plan bekend maak om by die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie aansoek te doen vir werk. Zirke het nie enige tyd verspeel nie en was spoedig op pad na die werwingskantore van die VOC in Harderwijk aan die Suidersee in Nederland.

Op 28 Desember 1752 bevind Zirke hom as lid van ‘n groep van sewe-en-sestig soldate aan boord van die “Huis te Manpad”, ‘n Oos-Indië vaarder, op ‘n vaart vanaf Texel na Batavia via die Kaap van Goeie Hoop. Presies twee maande en ses-en-twintig dae later, op 23 Maart 1753, meer die skip in Tafelbaai vas. Zirke stap hier aan wal en sou op 2 Oktober 1755 met die dogter van ‘n ander Duitse soldaat, Barend Buys, wat veertig jaar vroeër vanaf Braunschweich in die Kaap gearriveer het, in die huwelik tree. Op hierdie wyse sou Zirke die stamvader van ‘n nuwe familie van Jansens in ‘n nuwe vaderland word.

Zirke het hom as kleremaker gevestig en hy het druiwe op sy plasie Tuinland in Drakenstein, die teenswoordige Paarl, verbou. Hy en sy eggenote, Catharina Buys, het twee seuns en vyf dogters gehad.

Catharina het vir Zirke op 2 September 1772 ontval en hy self is drie maande later op 21 Desember 1772 in Drakenstein oorlede. Die verhaal eindig egter nie hier nie. Alhoewel Zirke en Catharina maar ‘n wyle in lewe in die Afrikaanse Suiderland vertoef het - die oudste van die sewe kinders was skaars sestien jaar oud toe beide hul ouers deur die dood weggeneem is – was die wortels van die jong boompie goed gevestig. Vanuit hul kortstondige lewensbestaan, die stam van die Suid-Afrikaanse Jansenfamilie, het twee magtige takke gegroei. Hierdie twee takke was die nageslag van Zirke en Catharina se twee seuns, Cornelis en Roelof. As lede van die vroegste pioniers aan die Kaapse Oos-grens, was beide betrokke by die vorming van ‘n nasie. Vanwaar die Sondagsrivier sy draai deur Graaff-Reinet maak en vanaf die vrugbare weidings van die Sneeuberg op pad na Middelburg in die Karoo, het hulle kinders en kinds-kinders oor die lengte en breedte van Suid-Afrika versprei. Vir tweehonderd-en-vyftig jaar sou hulle gedy en groei tot ‘n noemenswaardige deelversameling van die Afrikanervolk aan die Suidpunt van Afrika. Vandag vind ons afstammelinge van Zirke en Catharina Jansen op elke vasteland van die wêreld. Vanuit die Verenigde State van Amerika, Kanada, Europa, en Asië, tot in die verre suide in Australië en Nieu Zeeland leef hulle voort. Baie van hulle het lank reeds by taal en kultuur verby gegroei, maar die bloedverwantskap sal altyd staan. G.A. Watermeyer, Afrikaanse Digter vanuit die middel twintigste eeu, skryf so in sy Bundel, "Die Republiek van Duisend Jaar":

'Klein windgerigte Westerloot'

'Wat in die Suide stam kom stoot'

'Jy brei tot boom wat vrugte dra'

'Oor breër grond as Afrika …'

Watermeyer het dit hier gehad oor die Afrikanervolk in ‘n gedig wat hy “Gestalte van my Volk” genoem het. Hierdie woorde kan egter net so wel van toepassing wees op die nageslag van Zirke, die seun van Cornelius en Trintke Marie Jansen van Neustadtgödens in Oos-Friesland, wat as 21-jarige jongman sy vaderland in 1752 verlaat het om hom aan die Suid-punt van Afrika te vestig.

SOLI DEO GLORIA

Nie Europese Banier

TERUG