Uit die Newels van die Tyd

skrywer en outeur - Ferdie Jansen
opgedateer deur Simon Jansen

Uit die Newels van die Tyd

Argeologiese bewyse is gevind dat die Neandertal mens die vasteland van Europa tot ongeveer 40 000 jaar gelede bewoon het. Homo Sapiens (die moderne mens) het die kontinent op hiedie tydstip vanaf die Suide begin beset. Die vervanging van Neandertal met Homo Sapiens was eensklaps. Geen argeologiese bewyse is ooit gevind om aan te toon dat Homo Sapiens vanuit Neandertal ontwikkel het nie. Dieselfde geld vir Homo Erectus wat ongeveer 100 000 jaar vroeër in China en Asië gevind is. Homo Erectus het 60 000 jaar voor die verskyning van Homo Sapiens uitgesterf.

Teen ongeveer 28 000 jaar gelede het die laaste van die Neandertal mens verdwyn. Die Europese Homo Sapiens, of Cro Magnon, soos wat hulle genoem word, het teen 10 000vC ‘n nomadiese bestaan oral oor Europa gevoer. Hulle het die diere waarop hulle jag gemaak het in klein groepies gevolg en hulle kampe saam met die seisoene verskuif. Daar is in ons tyd weinig lewende oorblyfsels van daardie nomadiese kulture. Die “uitsterwing” van Cro Magnon is die direkte gevolg van ‘n tegnologiese revolusie wat omstreeks 10 000vC plaasgevind het. Hierdie revolusie was so fundamenteel dat dit enige verdere ontwikkeling wat Cro Magnon as jagters moontlik kon ondergaan het, totaal oorskadu het.

Hierdie revolusie was die ontwikkeling van landbou. Die kern van hierdie proses het in die Midde-Ooste, in die vrugbare bolope van die Tigris en die Eufraat riviere in gedeeltes van die huidige Sirië, Irak, Turkye en Iran plaasgevind.

Dit is in hierdie wêrelddeel dat die jagters vir die eerste keer die saad van wilde grasse begin eet het. Dit was onvermydelik dat van die sade verspil is en wat dan in die volgende seisoen ontkiem het. Dit was ‘n klein en eenvoudige stap vorentoe vir hierdie mense om hierdie toevallige proses waar te neem totdat hulle die saad doelgerig begin oes het om dat later weer rondom hulle kampe te saai. ‘n Verdere gevolg was dat die kampe permanente woonplekke geword het.

“Die Here God het ‘n tuin in Eden in die Ooste aangelê en die mens wat Hy gevorm het daar laat woon. Daar het ‘n rivier in Eden ontspring om die tuin nat te maak, en van daar af het dit verdeel en vier riviere geword. Die eerste rivier is die Pison en dit loop rondom die hele Gawila, waar daar goud is. Die goud van daardie land is suiwer. Daar is ook balsem en oniks. Die tweede rivier is die Gihon en dit loop rondom die hele Kus. Die derde is die Tigris wat oos van Assirië verbyloop en die vierde is die Eufraat. Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas.”

Kaart

Die verspreiding van die Neolitiese kulture in die vrugbare bekken van die Tigres en die Eufraat riviere. Die ingekleurde gedeeltes dui op die teenwoordigheid argeologiese fondse van landboubedrywighede gedurende die aangeduide periodes.

‘n Bevolkingsontploffing het in die Midde-Ooste plaasgevind as gevolg van die ontwikkeling van landbou. Dit is gevolg deur ‘n stadige maar onkeerbare proses van migrasie van hier af na die res van Europa. Die klein groepies jagters wat steeds agter die wild aangetrek het en steeds oor die hele Europa gewoon het is vinnig verswelg. Die migrasie het hoofsaaklik twee roetes gevolg. Argeologiese bewyse is gevind van permanente woonplekke van Neolitiese bevolkings in die Suidelike Balkan gebiede teen 6000vC.

Een tak het noordwaarts oor die Hongaarse vlaktes en af in die valleie van die groot Europese riviere tot by die Baltiese See migreer. Die ander groepe het weswaarts beweeg langs die Mediterreense kus so ver as Spanje, en langs die Europese weskus to by Wes-Brittanje. Landbou het vanaf 5000vC vinnig oor die hele Europa versprei en teen 2000vC was die arena gereed vir die ontwikkeling van die hedendaagse Europese bevolkingsgroepe.

Nie Europese Banier

TERUG