Staats President Paul Kruger

Idee vir 'n kubermuseum - Stander en Ferdie Jansen - RIV
Opdatering en bywerking - Simon Jansen

Staats President Paul Kruger

Stephanus Johannes Paulus Kruger (plaas Bulhoek, distrik Steynsburg, 10 Oktober 1825 – 14 Julie 1904, Clarens, Switserland), ook bekend as "Oom Paul", is gebore in die Kaapkolonie uit 'n familie van Pruisiese afkoms. Hy was 'n prominente Boere weerstandsleier teen die Britse bewind en het later, op 30 Desember 1883, die laaste president van die Zuid-Afrikaansche Republiek geword. Hy is vier keer tot president verkies, die laaste keer in 1898. Sy volgehoue pogings om die Oranje-Vrystaat en ZAR te verenig, het misluk. Tydens die daaropvolgende burgeroorlog het hy Van Rensburg gesteun en Potchefstroom verower. Na die mislukking van president Burgers se uiters ambisieuse program, word hy een van die steunpilare van die nasionale weerstand teen die Britse anneksasie.

Nadat Shepstone die Britse vlag in 1877 gehys het, sluit Kruger aan by die protesafvaardiging na Londen en beïndruk almal met sy aangebore bekwaamheid as bemiddelaar. Toe dit misluk, konsentreer hy op anti-Britse propaganda onder sy eie mense in die Transvaal en as onder-president van die Zuid-Afrikaansche Republiek onderneem hy nog 'n vrugtelose deputasie na Londen en Europa in 1878.

Hy het in 1883 na Engeland gereis om die Konvensie van Pretoria van 1881 (die ooreenkoms tussen die Boere en die Engelse wat die Eerste Vryheidsoorlog beëindig het) te verander.

Die Tweede Vryheidsoorlog het op 11 Oktober 1899 uitgebreek. In Oktober 1900 het hy Suid-Afrika verlaat op die oorlogskip De Gelderland, wat gestuur is deur Nederland se koningin Wilhelmina. Sy vrou, Gezina Kruger, was op daardie tydstip baie siek, en kon hom nie vergesel nie. Sy het op 20 Julie 1901 gesterf.

Paul Kruger het na Marseille, Frankryk, gegaan en 'n ruk lank in Nederland gebly, voor hy na Clarens in Switserland getrek het, waar hy op 14 Julie 1904 gesterf het. Hy is op 16 Desember 1904 in die Kerkstraatbegraafplaas, Pretoria begrawe. Sy vorige woning is nou die Krugerhuis-museum.

Vroeë lewe

Die gerestoureerde opstal op die plaas Bulhoek, distrik Steynsburg. Op hierdie plaas het Elsie Steyn, Kruger se moeder, haar jeugjare deurgebring. Ná haar huwelik met Casper Kruger in September 1820 het die egpaar van tyd tot tyd hier gewoon. Volgens oorlewering is Kruger in Oktober 1825 hier gebore. Elsie Kruger se broer A.P.J. Steyn was die siel van die onderneming om 'n dorp en gemeente in die omgewing van Steynsburg gestig te kry. Die dorp en Gereformeerde kerk Steynsburg is dan ook na hom genoem. Paul Kruger se vader, Casper Jan Hendrik Kruger, en sy moeder, Elsie Fransina Steyn, het by die Groot Trek aangesluit, en die jong Paul het al die ontberings van die tyd deurgemaak. Op 15-jarige ouderdom is hy as 'n burger erken en toe hy 17 was trou hy en gaan vestig hom op sy plaas Waterkloof, naby Rustenburg in Transvaal. Op een van sy jagtogte het hy sy eie duim per abuis afgesit. Hy word 'n sterk voorstander van die Gereformeerde Kerk en was 'n lekeprediker van dié kerk tot en met sy dood.

Hy het deelgeneem aan verskeie oorloë teen die swart stamme en in 1854 toon hy buitengewone heldemoed deur die lyk van kommandant Potgieter uit die beleërde bergvesting van hoofman Makapan te gaan haal.

Groot Trek

In 1835 het Casper en sy broer Gert die Kaapkolonie verlaat en na die Caledonvallei getrek. ʼn Jaar later het hulle hul by die noordwaartse trek van Andries Hendrik Potgieter uit die Tarka aangesluit. Hulle was dus nie meer trekboere nie, maar Voortrekkers. Naby die teenswoordige Heilbron het die 11-jarige Paul sy "assegaaidoop" ondergaan by die Slag van Vegkop (Oktober 1836). waar die Matebeles van Silkaats die Trekkers probeer uitwis het.

Hy het saam met die ander jong seuns en die vroue gehelp om die voorlaaiers te laai. Vroeg in 1838, aan die Natalse kant van die Drakensberge waarheen die Krugers saam met die Potgieters getrek het, moes Paul die laer help verdedig teen die aanvalle van die Zoeloes, wat na die moord op Retief op die Trekkers toegeslaan het. Na die Slag van Italeni (April 1838) het die Krugers saam met Potgieter oor die Drakensberge teruggetrek en noord van die Vaalrivier deel gehad aan die stigting van Potchefstroom.

Die 13-jarige Paul het van daar af deelgeneem aan ʼn ekspedisie teen Silkaats by Silkaatsnek en by die geleentheid sy eerste renoster geskiet. Op die ekspedisie het hy ook vertroud geraak met die streek anderkant die Magaliesberge, in die omgewing van die huidige Rustenburg. Op 16-jarige leeftyd was Paul Kruger, as vryburger, daarop geregtig om 'n plaas vir hom uit te soek.

Hy het hom aan die voet van die Magaliesberge, op die plaas Waterkloof, gevestig en is in 1842 met Maria du Plessis getroud. Hy moes altyd 20 uur te perd aflê om vir haar op haar ouers se plaas langs die Renosterrivier in die Vrystaat te gaan kuier. In 1845 het hy saam met Potgieter verhuis na Ohrigstad, waar sy vrou en hul eerstelingbaba in 1846 oorlede is. In 1847, nadat hy na die Magaliesberge teruggekeer het, is hy getroud met Gezina Susanna Frederika Wilhelmina du Plessis (1831-1901), 'n niggie van sy eerste vrou. Sestien kinders is uit die huwelik gebore (9 seuns en 7 dogters), van wie sommige vroeg oorlede is.

Militêre leier

Paul Kruger het reeds in 1846 as 'n waarnemende veldkornet aan Potgieter se ekspedisie teen die Bapedi-hoof Sekwati deelgeneem. In 1851 het hy veldkornet van sy distrik geword. Sy pligte het nie net militêre organisasie en leiding ingesluit nie, maar ook kleiner regsprekende en administratiewe aangeleenthede. Hy het ook 'n belangstelling in die politiek begin toon. In 1850 het hy byvoorbeeld 'n versoekskrif aan die Volksraad opgestel en laat onderteken waarin daar beswaar gemaak word teen die aanstelling van 'n militêre owerste in vredestyd. In die twis wat tussen Potgieter en Andries Pretorius ontstaan het, het Kruger Pretorius se kant gekies omdat hy geglo het dat slegs Pretorius eenheid in Transvaal kon bewerkstellig.

As veldkornet was hy deel van die krygsraad wat aan Pretorius opdrag gegee het om met die Britte te onderhandel oor die erkenning van Transvaal se onafhanklikheid. In Januarie 1852 het hy Pretorius vergesel na die ontmoeting by die Sandrivier, waar die Sandrivier-konvensie tussen Brittanje en die Trekker-republiek onderteken is. In 1853, die jaar waarin sy vader oorlede is, het Paul Kruger byna self gesterf toe hy tydens 'n skermutseling met die Tswanas van Setshele onder die vuur van sy eie makkers gekom het. 'n Jaar later, as kommandant van Rustenburg, het hy hom vanweë sy dapperheid onderskei in die veld tog teen Mankopane en Mokopane (Makapaan) toe hy in die omgewing van die teenswoordige Potgietersrus die lyk van die gesneuwelde kommandant-generaal Piet Potgieter voor die bek van Makapaan se grot weggedra het.

Die Zuid-Afrikaansche Republiek

In Transvaal is hy "die dapperste onder die dapperes" genoem en selfs buite die landsgrense het hy 'n reputasie as 'n ervare en onverskrokke militêre leier opgebou. In 1855 is Kruger aangestel as lid van die Volksraadkommissie wat onder leiding van die Nederlander Jacobus Stuart 'n grondwet vir Transvaal moes opstel. Die grondwet is in Januarie 1857 voltooi en op 6 Januarie 1857, met die hysing van die Vierkleur op Potchefstroom, het die Zuid-Afrikaansche Republiek amptelik totstand gekom.

Die grondwet het voorsiening gemaak vir 'n wetgewende gesag (Volksraad) wat deur die volk verkies is, 'n uitvoerende raad onder voorsitterskap van 'n staatspresident en waarin die kommandant-generaal ook sitting gehad het, en 'n onafhanklike regsplegende gesag. Die staatspresident is vir 'n periode van 5 jaar gekies en die kommandant-generaal aanvanklik vir 'n onbepaalde tydperk. Marthinus Wessel Pretorius, seun van Andries Pretorius, is as eerste president gekies en Stephanus Schoeman as die eerste kommandant-generaal. Stephanus Schoeman, leier van die Trekkers wat hulle in die omgewing van die Soutpansberge gevestig het, was aanvanklik gekant teen die grondwet, maar is later deur die taktvolle bemiddeling van Kruger, wat tydens 'n siekbed van Pretorius met volmag opgetree het, oorreed om sowel die grondwet as sy amp te aanvaar. Die distrik Lydenburg het hom egter onafhanklik verklaar van Potchefstroom en het hom eers in 1860 by die ZAR aangesluit.

Kerktwis

Die onenigheid het gespruit uit 'n kerktwis wat ontstaan het toe die Nederduitsch Hervormde Kerk tot enigste erkende kerk in die ZAR verklaar is en Lydenburg versoek het om by die Sinode van die Kaapse Nederduitse Gereformeerde Kerk ingelyf te word. Kruger was self nie tevrede met die pasgestigte Nederduitsch Hervormde Kerk nie en was in Januarie 1859 een van die ondertekenaars van 'n brief wat aan die Algemene Kerkvergadering gerig is en waarin die stigting van die Vrye Gereformeerde Kerk aangekondig is. Die predikant wat hulle uit Nederland laat kom het, was ds. Dirk Postma. In 1858 het die Vrystaters Kruger se hulp ingeroep in hul stryd teen Mosjesj. Kruger het die Basoetohoof in sy bergvesting ontmoet en op 18 Junie 1858 'n ooreenkoms met hom gesluit.

Terug keer

Daarna het hy teruggekeer na Transvaal, waar hy verskeie ekspedisies teen opstandige inboorlingstamme onderneem het. Tussen 1860 en 1864 het Kruger ʼn belangrike rol in die Transvaalse Burgeroorlog gespeel. Die onenigheid was te wyte aan Pretorius se besluit in 1860 om ook die presidentskap van die Vrystaat te aanvaar. Kruger het saam met die Volksraad kant gekies teen Schoeman en die Pretorius-volgelinge. In 1862 het hy Schoeman met 'n kommando uit Pretoria verdryf en Potchefstroom beset. Nadat hy in 1863 tot kommandant-generaal verkies was, kon hy met meer gesag optree en op 5 Januarie 1864 het sy "staatsleër" slaags geraak met die "volksleër" van kommandant J.W. Viljoen van Marico. Die burgeroorlog is beëindig deur die bemiddeling van Pretorius, wat later in die jaar weer tot president van die ZAR verkies is. Kruger is ook as kommandant-generaal herkies. Onrus onder die inboorlinge het voortgeduur, veral in die Soutpansberge en Lydenburg, en aan die einde van 1864 moes Kruger saam met Pretorius na die oosgrens reis om nuwe grensreëlings met die Zoeloe-opperhoof Panda te tref. In die daaropvolgende jaar het hy die Transvaalse kommando persoonlik aangevoer wat saam met die Vrystaters teen die Basoeto's geveg het. Kort daarna het hy sy been in 'n karongeluk gebreek en kon hy nie ʼn ekspedisie teen inboorlinge in die Soutpansberge lei nie. Die ekspedisie het misluk en in 1867 het Kruger self 'n kommando na die Soutpansberge gelei. Weens die onwilligheid van baie Boere om op kommando te gaan en 'n tekort aan ammunisie was Kruger verplig om die aftog te blaas en die gebied te ontruim. Latere pogings om die gebied te herower, het misluk en Kruger is jare daarna nog verwyt vir die verlies van die distrik Soutpansberg. Hy het egter daarin geslaag om Mankopane in 1869 opnuut te onderwerp. Weens sy langdurige afwesigheid kon Kruger sy boerdery nie na wense behartig nie en reeds in 1860 was hy in 'n finansiële moeilikheid waaruit hy eers jare tater gekom het. As vergoeding vir sy diens aan die staat het hy etlike plase ontvang, wat egter nie veel werd was nie. Sy onbeskroomde optrede tydens die burgeroorlog en sy lidmaatskap van die Gereformeerde Kerk het hom by baie Transvalers ongewild gemaak.

Nie Europese Banier

TERUG