Opsigter en byvoegings - Simon Jansen
Generaal Tjaart vd Walt b4, die “Leeuehart”
(etal)b4 Tjaart vd Walt, die “Leeuehart,” mees hooggeagte, onverskrokke burgerkommandant wat algemene ontsag, ook by die Britte en Xhosas, afgedwing het, by die Xhosas bekend as Waalie of Witgod, pionierboer, kranige skut, vermaarde jagter(etal).
(etal)Gebore op 28 Augustus 1748 te Uitkyk (Boplaas), Roggeveld (Sutherland), as derde seun van stamvader Geele Andriesz van der Walt en Johanna Weyers. Tjaart trou te Tulbagh op 28 Februarie 1768 met b5c1d4 Anna Martha Venter gebore op 26 Januarie 1750, sterf op 10 Junie 1785. Hul het 8 kinders, 4 dogters. Hy hertrou met b5c2d7 Maria Elizabeth Venter (sy niggie) gebore op 29 September 1771. Hul het 8 kinders, twee dogters(etal).
(etal)Tjaart verkry in 1768 op die leningsplaas Mistcraal, Agter-Roggeveld, in 1770 De Poort, op die Sneeuberg, in 1772 Drooge Rivier agter die Sneeuberg, en in 1781 Buffelsvallei en Tafelberg agter die Renosterberg by die huidige Middelburg. In 1786 word hy as burgeroffisier die kornet van die 1ste kompanie van Graaff-Reinet, in 1787 tweede luitenant, in 1788 heemraad. In 1789 verkry hy “Nietgenaamd of Nooitgedacht geleegen aan’t warmbad boven d’ oliphantsrivier” in die destydse distrik Swellendam waar hy sedert 1790 woon. (Dié plaas, nou ’n natuurreservaat, lê 44 km noord van Uniondale, naby Towerwaterpoort se warmbad(etal).)
(etal)Van der Walt en sy seun c9 Pieter ontmoet Jacob van Reenen en sy ekspedisie op Woensdag 1 September 1790 by Warmbad. Die Van der Walts spreek af om op Donderdag 9 September by Winterhoek by die ekspedisie na die Oosgrens aan te sluit om na die skipbreukelinge van die Grosvenor te soek. Die Van der Walts kom weer op Saterdag 1 Januarie 1791 onverrigter sake tuis. Teen die einde van 1792 word Van der Walt as heemraad en veldkommandant van Swellendam aangestel. In 1793 vergesel Van der Walt 'n ekspedisie onder Nicolaas Smit om 'n einde te maak aan die wreedhede en veediefstal van die Sanbendes in die huidige distrikte Prins Albert en Beaufort-Wes. Later in 1793 trek hy onder die kommandantskap van sy broer tot aan die Sakrivier om die Sanbendes verder te verdryf(etal).
(etal)Tydens die Derde Grensoorlog (1799 – 1801) het die berugte Khoi-driemanskap Boesak, Klaas Stuurman en Hans Trompetter met die Xhosas saamgespan teen die Boere en die kommando’s. Die gebied tussen die Gamtoos en Sondagsriviere was ’n verlate woesteny. Van 120 plase was net 4 nie totaal verwoes en leeg-geplunder nie. Vier gesinne, Naudé, Scheepers, Strydom en Van Rooyen, is uitgemoor. Van der Walt stuit in 1799 die Xhosa-aanval aan die Groot Swartberge. Daarna trek hy met 'n Swellendamse kommando ooswaarts om die vrede te help herstel(etal).
(etal)In die vroeë 1800 het Generaal F Dundas, bevelvoerder van die Britse troepe aan die Oosgrens, verskeie strafekspedisies aan die oosgrens goedgekeur. Kommandant Tjaart van der Walt was een van die burgeraanvoerders wat talle van die straftogte suksesvol gelei het en in groot guns by die regering was. As erkenning vir sy waardevolle diens het hy ʼn prag dubbelloopgeweer van generaal Dundas ontvang(etal).
(etal)Na herhaalde strooptogte deur die Xhosas en die Khoi in die oosgrensdistrikte, en die onvermoë van die regering om doeltreffend teen hulle op te tree, is daar in 1801 weens ernstige nood in die grensdistrikte weer ʼn kommando op die been gebring: Die digbeboste bergwêreld aan die bolope van die Gamtoosrivier in die Winterhoek is in 1802 deur die Xhosas ingeneem, die bolope van die Sondagsrivier deur die Khoi, en selfs langs Olifantsrivier by die huidige Oudtshoorn is boere vermoor, huise afgebrand, beeste, gewere en kruit geroof. Generaal Dundas het Majoor Francis Sherlock met 300 man gestuur, maar hulle vind die gebied tussen Algoabaai en Graaff-Reinet verlate, behalwe vir swerwende Khoibendes. Inwoners het eenvoudig alles verlaat en gevlug. Vroeg in 1802 het Generaal Dundas burgers opgeroep vir kommandodiens teen die vyandige Xhosa en die opstandige Khoi onder Klaas Stuurman. Veldkornette het 200 man opgeroep, maar Van der Walt kon net op 66 kommandolede reken. Weens swak ondersteuning deur die burgers was die Februarie-veldtog onder leiding veldkommandant Tjaart van der Walt ’n mislukking. Hulle het op 13 Februarie 1802 na Roodewal, ’n sterk kraal met vuurwapens suid van die Sondagsrivier, opgeruk. Tydens die eerste stormloop is die kommandant se seun, b4c8 Jacobus Tjaart, gebore op 8 Februarie 1784, op 13 Februarie 1802, op 18-jarige leeftyd noodlottig gewond. Hy was net 15 maande getroud(etal).
(etal)Op 7 Mei 1802 is weer ʼn proklamasie uitgevaardig om al die burgers van Swellendam en Graaff-Reinet byeen te bring met die oog op ʼn strafekspedisie teen die rowers. Die militêre leiding is weereens aan kommandant Tjaart van der Walt, in samewerking met majoor Francis Sherlock van Graaff-Reinet, opgedra. ’n Vasberade poging is aangewend om die gesamentlike Xhosa en Khoi mag aan die Sondagsrivier te verslaan. Die rowers is verslaan, daar was 230 ongevalle en gewere, 13 100 beeste en 4 perde is teruggeneem. Klaas Stuurman het beloof om in vrede te lewe en veerowers te straf, maar die kommando was skaars in die bos toe hul weer aangeval word. Van der Walt se Khoi-wapendraer word gedood en Tjaart se geweer geroof(etal).
(etal)Die toestand in die grensdistrikte vererger daagliks want die broers Klaas en Dawid Stuurman, geswore vyande van Boere, slaan oral toe. Die kommando sit die stryd teen die Khoi en Xhosas vir tien dae voort, maar word teruggeroep om ’n inval van die Khoi langs die bergagtige, digbeboste Gamtoosrivier af te weer. Kommandant Tjaart van der Walt is in die Kouga-heuwels, tussen Baviaanskloof en die Kougarivier in stryd teen krale waar rowers skuil, deur die Khoi-kaptein Boland vroegoggend voor geveg aan gang gekom het, verras en op 8 Augustus 1802 noodlottig gewond. Die “Leeuehart” is by Onverwacht (Cambria) in die distrik van Humansdorp begrawe waar hy geval het. Sy stoflike oorskot is op 10 Oktober 1950 by die Goedehoop kerksaal herbegrawe, en die Tjaart van der Walt-gedenknaald is op 16 Desember 1950 daar onthul(etal).
(etal)Nog nooit was die sukses van ʼn enkele veldslag so fataal getref deur die dood van ʼn enkeling nie. Van generaal Dundas tot die nederigste burger het onvoorwaardelike vertroue in die kommandant gehad; sy uitstaande karakter en onverskrokkenheid asook sy toewyding aan sy taak, was vir almal ʼn groot inspirasie. Die veldtog het egter ʼn tragiese wending geneem. In die verwarde maande na die dood van hul gevierde leier is die kommando se moed gebreek en binne ’n week is hulle uiteen(etal).
(etal)Drie dae na Tjaart van der Walt se dood het sy weduwee aan generaal Dundas tyding gestuur. In antwoord het Dundas op 9 Oktober 1802 die plaas Nietgenaamd (of Nooitgedacht) as huldeblyk aan haar toegeken. Goewerneur Janssens van die Bataafse bewind besoek die weduwee Van der Walt op Sondag 3 Julie 1803 om Dundas se toekenning mondeling te bevestig. Op 5 Julie 1803 het Janssens dit ook skriftelik gedoen met die besluit om “erflik toe te staan en te vergunnen de Veeplaats Nietgenaamd of Nooitgedacht(etal)...”
(etal)Op Maandag 9 Mei 1803, tydens Goewerneur JW Janssens se besoek aan die Oosgrens, kom hy te wete dat Boesak “een fraaij geweer met dubble loop” en nog ’n “groote fraaije geweer” van die oorlede kommandant Tjaart van der Walt het wat deur Genl Dundas aan hom geskenk is. Boesak het albei gewere gehad maar wou dit nie afstaan nie. Wat op aarde sou daarvan geword het(etal)?
