Eerste Wêreldoorlog

- Idee vir die kamer Ferdie Jansen
- Bygewerk en foto's verskaf deur Simon Jansen

Eerste Wêreldoorlog van 28 Julie 1914 tot 11 November 1918

Oorsaak can die Eerste Wêreldoorlog

Op 28 Julie 1914 het oorlog uitgebreek met die Oostenryk-Hongaarse strooptog in Serwië, gevolg deur die Duitse strooptog in België, Luxemburg en Frankryk en ’n Russiese aanval op Duitsland. Ná die Duitse mars teen Parys het die wesfront in ’n langdurige oorlog betrokke geraak. In die ooste het die Russiese weermag met sukses teen die Oostenryk-Hongaarse magte geveg, maar hulle is teruggedwing deur die Duitsers. Nog fronte het ontstaan nadat die Ottomaanse Ryk by die oorlog aangesluit het in 1914, Italië en Bulgarye in 1915, Roemenië in 1916 en die Verenigde State in 1917. Die Russiese Ryk het in 1917 ineengestort en Sowjet-Rusland het die oorlog verlaat ná die Oktober-rewolusie later in die jaar. Ná die Duitse aanval op die wesfront in 1918 het die Verenigde State tot die oorlog toegetree en die Geallieerdes het die Duitse weermag verdryf. Op 11 November 1918 het Duitsland ingestem om aanvalle te staak. Dié dag staan bekend as Wapenstilstanddag.

In geen ander konflik voor die Eerste Wêreldoorlog is soveel soldate gemobiliseer of het soveel slagvelde plaasgevind nie. Meer as 70 miljoen militêre personeel uit sowat 40 lande, waarvan 60 miljoen Europeërs was, het aan die oorlog deelgeneem.

Suid-Afrika se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog

Die Unieverdedigingsmag wat eers op 1 Julie 1912 tot stand gekom het, het in Januarie 1915 'n veldtog in Suidwes-Afrika (Namibie) geloods en op 9 Julie van dieselfde jaar het die Duitsers in die gebied oorgegee. Altesaam sowat 35000 Kleurlinge en Swartes uit Suid-Afrika het gedurende die veldtog in 'n nie-gevegsrol in Suidwes Afrika diens gedoen.

Vanaf 1916 tot 1918 het Suid-Afrikaanse troepe ook in Duits-Oos-Afrika, Egipte, Palestinie asook in Frankryk geveg. Generaal J.C. Smuts het vroeg in 1916 self die opperbevel in DuitsOos-Afrika oorgeneem en die Suid-Afrikaanse troepe, wat uiteindelik die grootste gedeelte van die Imperiale troepemag aldaar uitgemaak het, het tot aan die einde van die oorlog op die front geveg. In Egipte het die Suid-Afrikaners 'n belangrike rol gespeel in die onderwerping van die Senussistamme, terwyl hulle in Palestinie 'n waardevolle bydrae gelewer het in die stryd teen die Turke.


Die Eeerate wereldoorlog Storie

Die Eerste Wêreldoorlog was die eerste oorlog waarby lande van die hele wêreld betrokke was. Dit het van 1914 tot 1918 tussen die Geallieerdes en die Sentrale Moondhede plaasgevind en het al die wêreld se groot moondhede betrek. As gevolg van sy sterk teenwoordigheid in die kollektiewe herinneringe van Frankryk en die Engelstalige wêreld staan dit daar steeds bekend as die Groot Oorlog (Engels: The Great War, Frans: La Grande Guerre)

Die oorlog is hoofsaaklik veroorsaak deur die konflikte van die drie groot magte Oostenryk-Hongarye, die Ottomaanse Ryk en die Russiese Ryk op die Balkanskiereiland en die ontluikende nasionalisme van die plaaslike bevolking. Hierdie konflikte het uitgeloop op die sluipmoord op aartshertog Frans Ferdinand en sy vrou Sophie Chotek, wat oor die algemeen beskou word as die oorsaak van die oorlog. Langtermyn-oorsake, soos imperialistiese buitelandse beleid van die groot magte van Europa, soos die Duitse Keiserryk, Oostenryk-Hongarye, die Ottomaanse Ryk, die Russiese Ryk, die Britse Ryk, Frankryk en Italië het ook ’n belangrike rol gespeel. Verskeie alliansies wat oor die vorige dekades gevorm het, het mekaar gesteun en binne ’n paar weke ná die sluipmoord het die groot moondhede oorlog gevoer. Hulle het die konflik deur hul kolonies vinnig oor die hele wêreld versprei.

Op 28 Julie 1914 het oorlog uitgebreek met die Oostenryk-Hongaarse strooptog in Serwië, gevolg deur die Duitse strooptog in België, Luxemburg en Frankryk en ’n Russiese aanval op Duitsland. Ná die Duitse mars teen Parys het die wesfront in ’n langdurige oorlog betrokke geraak. In die ooste het die Russiese weermag met sukses teen die Oostenryk-Hongaarse magte geveg, maar hulle is teruggedwing deur die Duitsers. Nog fronte het ontstaan nadat die Ottomaanse Ryk by die oorlog aangesluit het in 1914, Italië en Bulgarye in 1915, Roemenië in 1916 en die Verenigde State in 1917. Die Russiese Ryk het in 1917 ineengestort en Sowjet-Rusland het die oorlog verlaat ná die Oktober-rewolusie later in die jaar. Ná die Duitse aanval op die wesfront in 1918 het die Verenigde State tot die oorlog toegetree en die Geallieerdes het die Duitse weermag verdryf. Op 11 November 1918 het Duitsland ingestem om aanvalle te staak. Dié dag staan bekend as Wapenstilstanddag.

In geen ander konflik voor die Eerste Wêreldoorlog is soveel soldate gemobiliseer of het soveel slagvelde plaasgevind nie. Meer as 70 miljoen militêre personeel uit sowat 40 lande, waarvan 60 miljoen Europeërs was, het aan die oorlog deelgeneem. Teen die einde van dié oorlog was dit die tweede bloedigste opgetekende konflik (ná die Taiping-rebellie) met meer as 17 miljoen sterfgevalle, alhoewel dit binne ’n paar dekades oorskadu sou word deur die Tweede Wêreldoorlog.

Die Eerste Wêreldoorlog word gekenmerk deur die loopgraafoorlog, veral aan die wesfront. Meer as nege miljoen soldate het op die oorlogsveld gesneuwel, en amper ewe veel op die tuisfront weens voedseltekort, massamoord en grondgevegte. Chemiese wapens is vir die eerste keer gebruik, die eerste grootskaalse bomaanvalle uit die lug is geloods en van die eeu se eerste grootskaalse burgerlike slagtings het plaasgevind. Die Armeense en die Ponties-Griekse volksmoord, wat grotendeels in die Ottomaanse Ryk plaasgevind het, was verantwoordelik vir die stelselmatige uitmoor van ongeveer twee miljoen Armeniërs en Grieke deur die regering van die Jong Turke.

Die konflik het geëindig met ’n oorwinning deur die Geallieerdes. In die nasleep daarvan het die Verenigde State een van die belangrikste nywerheidslande geword, terwyl die sukkelende Europa minder belangrik geword het. Die oorlog het die selfbewussyn van die deelnemende koloniale soldate en nasies versterk en het gelei tot meer selfbeskikking in al die kolonies.

Agtergrond

Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Gebeurtenisse wat tot die Eerste Wêreldoorlog gelei het.

Alhoewel daar soms aangevoer word dat die sluipmoord op aartshertog Frans Ferdinand direk aanleiding gegee het tot die oorlog, lê die oorlog se ware oorsake verder terug, in die komplekse netwerk van alliansies en teenkragte wat ontwikkel het tussen die verskeie Europese magte ná die nederlaag van Frankryk in die Frans-Duitse Oorlog en die vorming van die Duitse staat onder Otto von Bismarck in 1871.

Ná die oorlog het Duitsland, Oostenryk-Hongarye en Rusland op Oktober 1873 die Driekeiserverbond gestig. Dié alliansie het egter misluk weens die Oostenryk-Russiese opposisie op die Balkanskiereiland en die weiering van keiser Wilhelm II van Duitsland in 1890 om die herversekeringsverdag te steun. In 1879 het Duitsland en Oostenryk-Hongarye die Tweekeiseralliansie gestig en in 1882 het Italië by die alliansie aangesluit, wat daardeur die Drievoudige Verbond geword het.

Op die Berlynse Kongres van 13 Junie tot 13 Julie 1878 het die koloniale magte die Balkankrisis tydelik opgelos en ’n vrede vir Suidoos-Europa bewerkstellig. Op die Kongokonferensie tussen 15 November 1884 en 26 Februarie 1885 is vrye handel aan die riviere Kongo en Niger onderhandel en in die Kongowet is die koloniale verdeling van Afrika geïnisieer.

In 1892 het Frankryk met Rusland ’n alliansie gestig as opposisie teen die Tweekeiseralliansie. In 1904 het Frankryk en die Verenigde Koninkryk die Entente Cordiale gevestig en in 1907 het Rusland en die Verenigde Koninkryk die Anglo-Russiese Alliansie onderteken. Hierdie stelsel van bilaterale ooreenkomste het die Drievoudige Entente gevorm.

Oostenryk-Hongarye het die Bosniese krisis van 1908–09 ontketen deur die amptelike anneksasie van die voormalige Ottomaanse grondgebied Bosnië en Herzegowina, wat sedert 1878 beset is. Dit het die Koninkryk van Serwië en sy beskermheer, die pan-Slawiese en Ortodokse Russiese Ryk, ontstig.

In die Italiaans-Turkse Oorlog van 1911 en 1912 het Italië die Dodekanes, Tripolitanië en Sirenaïka (die huidige Libië) van die Ottomaanse Ryk verower, wat die oorsaak van die Balkanoorloë tussen die Balkanlande en die verswakte Ottomaanse Ryk was.

In 1912 en 1913 is die Eerste Balkanoorlog geveg tussen die Balkan-alliansie en die swakker wordende Ottomaanse Ryk. Die gevolglike Verdrag van Londen het die Ottomaanse Ryk verder laat krimp, die stigting van ’n onafhanklike Albanese staat voorgestaan asook die uitbreiding van die gebiede van Bulgarye, Serwië, Montenegro en Griekeland. Toe Bulgarye Serwië en Griekeland op 16 Junie 1913 aangeval het, het dit in die daaropvolgende Tweede Balkanoorlog die grootste deel van Masedonië, Serwië en Griekeland en die Suid-Dobrudsja aan Roemenië verloor, wat die hele streek verder destabiliseer het.

Op 28 Junie 1914 is aartshertog Frans Ferdinand, die troonopvolger van Oostenryk-Hongarye, in Sarajevo, Bosnië en Herzegowina, deur ’n pro-Serwiese nasionalis (die Bosnies-Serwiese student Gavrilo Princip) vermoor.

Die sluipmoordaanval het tot ’n diplomatiese krisis tussen Oostenryk-Hongarye en die Duitse Keiserryk aan die een kant en die Russiese Ryk, Frankryk en die Verenigde Koninkryk aan die ander kant gelei, wat as die Juliekrisis bekend staan. Oostenryk-Hongarye het op 23 Julie 1914 ’n onaanvaarbare ultimatum van tien punte aan Serwië gestel. Serwië het slegs agt punte aanvaar, waarna Oostenryk-Hongarye met die ondersteuning van die Duitse keiser Wilhelm II op 28 Julie 1914 oorlog teen Serwië verklaar het. Een dag later het Rusland gedeeltelike mobilisering begin en op 30 Julie het Duitsland sy soldate gemobiliseer. Op 1 Augustus het Frankryk gevolg en Duitsland het op dieselfde dag oorlog teen Rusland verklaar en op 3 Augustus teen Frankryk. Die Ottomaanse Ryk het die Sentrale Moondhede in die oorlog gesteun nadat die geheime Ottomaans-Duitse Alliansie op 2 Augustus onderteken is. Ná die Duitse inval in België en Luxemburg het die Verenigde Koninkryk op 4 Augustus oorlog teen Duitsland verklaar na aanleiding van ’n "onbevredigende antwoord" op die Britse ultimatum dat België en Luxemburg neutraal gehou moet word.

Verloop van die oorlog

Die Eerste Wêreldoorlog was ’n vier jaar lange oorlog, met die Sentrale Moondhede as die dominante magte aan die oosfront. Daar het veral Duitsland en Oostenryk-Hongarye teen die Russe geveg, wat in die Kaukasus deur die Ottomaanse Ryk ondersteun is. Aan die wesfront het drie jaar lank ’n balans tussen Duitsland, Frankryk en die Verenigde Koninkryk geheers nadat België en Luxemburg vinnig onderwerp is. Eers nadat die Verenigde State in 1917 by die Geallieerdes aangesluit het, kon dit die Duitse magte terugdryf. In die Alpe het die Koninkryk van Italië in twaalf Isonzo-slagte teen die Donaumonargie geveg. Op die Balkanskiereiland, waar die oorlog uitgebreek het, het veral Bulgarye, Duitsland, Oostenryk-Hongarye en die Ottomaanse Ryk geveg teen Montenegro, Roemenië en Serwië, wat deur Frankryk, Italië en die Verenigde Koninkryk ondersteun is. Die neutrale Albanië is in die noorde deur die Sentrale Moondhede en in die suide deur die Geallieerdes beset. In die Midde-Ooste het die Britte onder Lawrence van Arabië ’n suksesvolle Arabiese opstand teen die Turkse heerskappy van stapel gestuur. Tussen 1915 en 1918 het die Britte en Franse alle Duitse kolonies met ondersteuning van inheemse soldate beset. Qingdao is reeds ná ’n beleg van drie maande op 7 November 1914 deur Japannese magte verower, wat ook die Duitse kolonies in die Stille Oseaan verower het.

In 1917 het die Russe oorgegee en dit het tot die einde van die gevegte aan die oosfront en die Verdrag van Brest-Litofsk gelei. Deur dié verdrag het Finland, Estland, Letland, Litaue, Pole, Oekraïne, Georgië, Armenië en Azerbeidjan onafhanklike lande geword. In dieselfde jaar het die VSA by die Geallieerdes aangesluit, wat die kragte aan die wesfront verander het. Daardeur is die balans van mag ten gunste van die Geallieerdes verander.

Nasleep

Op 29 September 1918 het Bulgarye oorgegee, op 30 Oktober 1918 die Ottomaanse Ryk, op 4 November 1918 Oostenryk-Hongarye en op 11 November 1918 die Duitse Keiserryk.

Geen ander oorlog het die politiese landskap van Europa so drasties verander nie – vier ryke het tot ’n val gekom: die Duitse, Russiese, Oostenryk-Hongaarse en Ottomaanse Ryk. Die laaste twee lande het opgehou om te bestaan. Hierdie vier dinastieë, die Hohenzollern, die Habsburgers, die Ottomane en die Romanofs, wat tot uit die tyd van die kruistogte dateer, het almal geval tydens of ná die oorlog. Tydens die Russiese Rewolusie van 1917 het die Sowjetunie uit die Russiese Ryk gevorm, terwyl die kaart van Sentraal-Europa heeltemal oorgeteken is en verskeie kleiner lande ontstaan het.

Die Begraafplaas op die slagveld van Verdun

België en Serwië het erg skade gely, terwyl Frankryk 1,4 miljoen soldate verloor het, ander slagoffers uitgesonder. Duitsland en Rusland is op soortgelyke wyse geraak.

Ná die Russiese Rewolusie van 1917 en die val van tsaar Nikolaas II het die Bolsjewiste met die Sentrale Moondhede die Verdrag van Brest-Litofsk onderteken, wat Rusland se deelname aan die oorlog beëindig het. Dit het gelei tot die onafhanklikheid van Finland, Estland, Letland, Litaue, Pole en Oekraïne.

Ná die oorlog is die verdrae van Parys tussen die Geallieerdes en die Sentrale Moondhede onderteken. In die Verdrag van Versailles op 28 Junie 1919 het Duitsland ’n republiek geword, Elsas en Lotaringe is aan Frankryk oorhandig, Eupen en Malmedy aan België, Noord-Sleeswyk aan Denemarke en Oos-Pruise aan Pole. Tanganjika, Samoa en Nieu-Guinee het ’n Britse, Togo en Kameroen ’n Brits-Franse, Suidwes-Afrika ’n Suid-Afrikaanse, Nauru en Nieu-Guinee ’n Australiese, Wes-Samoa ’n Nieu-Seelandse, die Karolina-, Mariana- en Marshalleilande ’n Japannese Volkebondmandaat geword. Tianjin en Qingdao is weer aan China toegevoeg. Daarbenewens is die vrye stad Danzig en die vrye staat Fiume gestig.

In die Verdrag van Saint-Germain-en-Laye op 10 September 1919 is Oostenryk-Hongarye ontbind, Hongarye, Pole, Tsjeggo-Slowakye en die Koninkryk van die Serwiërs, Kroate en Slowene gestig en Oostenryk het Trentino, Suid-Tirool, Triest, Istrië en Dalmasië aan Italië, Galisië aan Pole en die Boekowina aan Roemenië oorhandig.

Hongarye het in die Verdrag van Trianon op 4 Junie 1920 die Burgenland aan Oostenryk, Kroasië, Slowenië en die Banaat aan Joego-Slawië, Slowakye aan Tsjeggo-Slowakye en Transsilvanië aan Roemenië verloor.

In die Verdrag van Neuilly-sur-Seine op 27 November 1919 het Griekeland Wes-Thrakië en Joego-Slawië kleiner gebiede van Bulgarye ontvang.

In die Verdrag van Sèvres op 10 Augustus 1920 is die Ottomaanse Ryk en die Ottomaanse Kalifaat ontbind, Izmir en Wes-Thrakië het dele van Griekeland geword, die Koninkryk van Hejaz en die Demokratiese Republieke van Armenië, Azerbeidjan en Georgië is internasionaal erken, Koerdistan het onafhanklik geword, Siprus, Egipte, Mesopotamië en Palestina het ’n Britse, Libanon en Sirië ’n Franse Volkebondmandaat gewoord.

Die Eerste Wêreldoorlog het ’n definitiewe wegbreek van die ou wêreldorde gebring en die absolute monargieë in Europa finaal beëindig. Na-oorlogse pogings om baie van die oorsake en gevolge van die oorlog doeltreffend te hanteer het gelei tot die ontstaan van fascisme in Italië, die nasionaal-sosialisme in Duitsland en die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog twee dekades later Die oorlog was ook die katalisator vir die Russiese Rewolusie, wat later kommunistiese en sosialistiese rewolusies in ander lande soos China en Kuba sou inspireer, en dit het die basis vir die Koue Oorlog tussen die Sowjetunie en die Verenigde State gevorm. Die einde van die Ottomaanse Ryk in die ooste het ’n demokratiese opvolgstaat, Turkye, tot gevolg gehad. In Sentraal-Europa is die nuwe lande Tsjeggo-Slowakye en Joego-Slawië gestig, en Pole is herskep. Die oorlog was ook ’n oorsaak vir die Ierse opstand teen die Verenigde Koninkryk en die stigting van die Republiek van Ierland ná die Tweede Wêreldoorlog, wat reeds tussen 1917 en 1921 onafhanklik geword het. Die Britse kolonies soos Australië, Brits-Indië, Kanada, Newfoundland, Nieu-Seeland en Suid-Afrika het outonoome lande binne die Britse Ryk geword.

Aktiwiteite van Frankryk en die Britse magte in die ooste van die voormalige Ottomaanse Ryk het uiteindelik verskeie latere konflikte tot gevolg, insluitend die Israel-Palestynse konflik, die Grieks-Turkse konflik om eilande in die Egeïese See en Siprus, die Iran-Irak-konflik van die 1980's, en die gepoogde landbesettinge van die 1990's deur Irak in Koeweit. Die Grieks-Turkse konflik wat in 1924 geëindig het, was die laaste groot, direkte konflik van die oorlog. Ander konflikte met ’n oorsprong in die Eerste Wêreldoorlog is die Midde-Oosterse konflik, die konflikte in die Kaukasus-streek en op die Balkanskiereiland.

In Suid-Afrika het die oorlog die Maritz-rebellie onder leiding van Jopie Fourie, Manie Maritz en andere Duits-vriendelike Boere ontketen teen die land se deelname onder Louis Botha aan die kant van die Britse Ryk teen Duitsland.

Die Volkebond is as gevolg van die oorlog gestig in die hoop om ’n tweede wêreldoorlog te voorkom. Die groei van die Europese nasionalisme as gevolg van die oorlog, die ontbinding van ryke en die Verdrag van Versailles het gelei tot die begin van die Tweede Wêreldoorlog in 1939.

Nie Europese Banier

TERUG