Die Grense Oorloë Van Die Kaap Kolonië

- Idee vir die kamer Ferdie Jansen
- Bygewerk deur Simon Jansen

Nederlandse Nedersetting

Die Nederlandse nedersetting van die area begin in Maart 1647 met die stranding van die Nederlandse skip Nieuwe Haarlem. Die skeepswrak se oorlewendes bou 'n klein fort wat hulle die "Sand Fort van die Kaap die Goeie Hoop" noem. Hulle bly vir amper 'n jaar, totdat hulle deur 'n vloot van 12 skepe onder leiding van W.G. de Jong gered word.

Die Nieuwe Haerlem skip van die Nederlandse OOs Indiese Kompanje

Ná hul terugkeer na Nederland probeer van die oorlewendes die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie oortuig om 'n handelsentrum in die Kaap te open.

'n Nederlandse ekspedisie van 90 Calvinistiese setlaars, onder leiding van Jan van Riebeeck en die Politieke Raad, stig die eerste permanente nedersetting naby die Kaap die Goeie Hoop in 1652. Jan van Riebeeck was op een van die reddingskepe wat die gestrande seevaarders gered het en ná hy die land gesien het, het hy besluit om later weer terug te keer na die Kaap. Hulle kom in die hawe van die moderne Kaapstad aan op 6 April 1652 met vyf skepe: die Reijer, die Oliphant, die Goede Hoop, die Walvisch en die Dromedaris. Die Kaap was onder Nederlanse bestuur vanaf 1652 tot 1695 en weer vanaf 1803 tot 1806.[1] Die Nederlandse Kaapkolonie self begin in 1671 met die eerste aankoop van grond vanaf die Khoikhoi buite die grense van die fort wat deur Van Riebeeck gebou is.

Die owerhede het die Gamtoosrivier as die oostelike grens van die kolonie bestempel, maar die trekkers het dit binnekort oorgesteek. In 'n poging om botsing met die 'Swartstamme' (die Xhosa) te verhoed het die Nederlanders ingestem om in 1780 die Groot-Visrivier die grens van die kolonie te maak. In 1795 het die swaar-belaste boere van die grensdistrikte, wat geen beskerming teen die Xhosa geniet het nie maar self onderwerp is aan streng reëls deur die owerhede in Kaapstad en in Europa, die amptenare van die VOC uitgedryf en onafhanklike regerings by Swellendam en Graaf-Reinet opgestel.

Die Kaapkolonie soos bestuur deur die Nederlanders en die Britte

Britse Beheer

Ná die oorlog weer uitgebreek het, word 'n Britse mag weereens gestuur na die Kaap. Na die Slag van Blaauwberg, wat naby Kaapstad op 8 Januarie 1806 geveg is, is Britse heerskappy in Suid-Afrika gevestig. Die Nederlandse vesting om die Kasteel en die res van die kolonie is aan die Britte onder Sir David Baird oorgegee. In 1814 word die kolonie permanent afgestaan deur Nederland aan die Britse kroon. Teen daardie tyd het die kolonie gestrek tot teen die berge voor die groot sentrale plato, toe genoem "Boesmansland", en het 'n oppervlak van sowat 194 000 vierkante kilometers en 'n bevolking van sowat 60 000 gehad, waarvan 27 000 blank, 17 000 vrye Khoikhoi, en die res slawe was. Hierdie slawe was meestal ingevoerde swart mense, Indiërs en Maleiers.

Daar was altesaam 9 Grens oorloë vaaf 1779 tot 1881

  • Eerste Grensoorlog (1779 tot 1781)
  • Tweede Grensoorlog (1793)
  • Derde Grensoorlog (1799 tot 1803)
  • Vierde Grensoorlog (1811 tot 1812)
  • Vyfde Grensoorlog (1818–1819) (Oorlog van Nxele)
  • Sesde Grensoorlog (1834–1836) (Oorlog van Hintsa)
  • Oorlog van die Byl (1846–1847) (Amatola-oorlog, Sewende Grensoorlog)
  • Agtste Grensoorlog (1850–1853) (Oorlog van Mlanjeni)
  • Negende Grensoorlog (1877–1879)/Oorlog van Ncayecibi/Mfengu-Galeka/Tamboekie
  • Rebellie van Mpondomise (1880)
  • Thembu-rebellie (1880-1881)

Inleiding tot Grensoorloë

Die eerste van vele oorloë met die Xhosas was reeds geveg teen die tyd wat die Kaapkolonie aan die Verenigde Koninkryk afgestaan is. Die Xhosas wat die koloniale grens oorgesteek het, is verjaag uit die distrik tussen die Sondagsrivier en die Groot-Visrivier, bekend as die Zuurveld, en wat 'n tipe neutrale gebied geword het. Vir 'n geruime tyd voor 1811 het die Xhosas reeds besit van die Zuurveld ingeneem en koloniste aangeval; in 'n poging om hulle uit te dryf het kolonel John Graham die area met 'n gemengde-ras leër ingeval in Desember 1811, en uiteindelik is die Xhosas tot verby die Visrivier gedryf. Op die ligging van Graham se hoofkwartier het 'n dorp met sy naam verrys, Graham's Town, wat later die stad Grahamstad (tans Makhanda) geword het.

Verdere opstand van die Xhosas het in 1817 gevolg, direk as gevolg van 'n poging deur die koloniale owerhede om terugbetaling te eis vir gesteelde vee. Op 22 April 1817, onder leiding van die profeet-stamhoof Makana, het hulle Grahamstad aangeval, toe deur 'n handvol blanke troepe beset; hulp het betyds aangekom en die vyand is teruggedryf. Daar is toe ooreengekom dat die land tussen die Vis- en Keiskammariviere neutrale gebied sou wees.


Eerste Grensoorlog

Die Eerste Grensoorlog van 1779 tot 1781 was in werklikheid 'n reeks botsings tussen koloniste van die Kaapkolonie en die Xhosastamme aan die Oosgrens.

Teen die middel van 1779 het veediefstal deur die Xhosas so algemeen voorgekom aan die suidwestelike grens van die kolonie dat die Hollandse boere hulle plase aan die Boesmansrivier begin verlaat het. In Desember 1779 het 'n gewapende botsing tussen die Boere en die Xhosas plaasgevind, blykbaar weens ongerymdhede wat deur sommige blankes aan die grens teen die Xhosas gepleeg is. Twee burgerlike kommando's, een onder leiding van Josua Joubert en die ander onder Pieter Hendrik Ferreira, het vroeg in 1780 uitgery en daarin geslaag om baie beeste aan te keer, maar hulle kon nie die Xhosas uit die plaasgebied verdryf nie.

In Oktober 1780 het die Kaapse regering Adriaan van Jaarsveld, 'n hoogs ervare kommandoleier, aangestel as veldkommandant van die hele Oosgrens. 'n Kommando onder sy leiding het 'n groot aantal beeste teruggekry en daarop aanspraak gemaak dat hulle al die Xhosas teen Julie 1781 uit die Zuurveld verdryf het.


Tweede Grensoorlog

Die Tweede Grensoorlog in 1793 was die tweede van nege grensoorloë tussen koloniste van die Kaapkolonie en die Xhosastamme aan die Oosgrens.

Ondanks die verdwyning van die Xhosas tydens die Eerste Grensoorlog uit die Zuurveld het toestande aan die grens onseker gebly, selfs nadat die distrik Graaff-Reinet in 1786 geproklameer is. Die Boere en Xhosas het aangehou om die Zuurveld binne te dring en onwettige ruilhandel en die indiensneming van Xhosa bediendes het voortgegaan. Droogte het die veediefstal en aggressie vererger. Omdat die grensgebiede gelyktydig uit die noorde deur die San en in die ooste deur die Xhosas aangeval is, het die regering - deel op aanbeveling uit die grensgebied, onder meer van Adriaan van Jaarsveld - besluit om sy militêre mag op die San toe te spite terwyl 'n versoeningsbeleid met die Xhosas nagestreef sou word. Dit het tot aansienlik verbittering onder die nedersetters aan die grens gelei, veral omdat onderlinge vyandighede onder die Xhosas in 1790 daartoe gelei het dat die Xhosas die Zuurveld verder binnegedring het. Vyandighede het toegeneem.

In 1793 ontstaan 'n volskaalse oorlog toe grensboere onder leiding van Barend Lindeque, onder meer die wettelose Coenraad de Buys wat voorheen betrokke was by vergrype jeens die Xhosas, besluit het om kragte saam te snoer met Ndlambe, die opperhoof van die westelike Xhosas, in sy stryd teen die Gunukwebe-stamme wat die Zuurveld binnegedring het. Paniek en die ontruiming van plase het gevolg ná Ndlambe se inval en nadat hy vertrek het, het sy vyande in die Suurveld agtergebly. Ondanks die feit dat twee regeringskommando's onder aanvoering van die landdroste van Swellendam en Graaff-Reinet die Xhosagebied so ver as die Buffelsrivier binnegedring en op baie beeste beslag gelê het, kon hulle nie die Suurveld beveilig nie en 'n skietstilstand is in 1793 gesluit. Ontevredenheid aan die Oosgrens oor regeringsbeleid het aanleiding gegee tot opstande op sowel Graaff-Reinet as Swellendam in 1795.


Derde Grensoorog

Die Derde Grensoorlog (1799 - 1803) was die derde in 'n reeks van nege grensoorloë tussen die koloniste van die Kaapkolonie en die Xhosastamme aan die Oosgrens.

Hoewel die grensboere die Zuurveld teen 1798 herbeset het, het baie Xhosastamme in die suidelike deel van die gebied agtergebly, waarvan sommige selfs so ver as Swellendam deurgedring het, deels weens die burgeroorlog tussen die volgelinge van Ndlambe, waarnemende opperhoof van die westelike stamme, en sy neef Gaika, die regmatige opvolger. Vir die regering aan die Kaap was dit onmoontlik om die Xhosas te oorreed om terug te keer na die oorkant van die Groot-Visrivier. Veediefstal en die indiensneming van Xhosa bediendes het, soos in die aanloop tot die Tweede Grensoorlog, die spanning laat opbou. In Januarie 1799 ontstaan 'n tweede opstand onder die burgers van Graaff-Reinet. Dit gee aanleiding tot die Derde Grensoorlog.

In Maart 1799 stuur die regering van die eerste Britse besetting van die Kaap 'n aantal Britse soldate onder aanvoering van genl. T.P. Vandeleur om die Graaff-Reinetse opstand te onderdruk. Dit was skaars teen April 1799 gedaan, of 'n groep ontevrede Khoi kom in opstand. Die Xhosas sluit hulle by die opstandelinge aan en saam val hulle grensplase aan. Teen Julie 1799 het hulle so ver as Oudtshoorn gevorder. Op pad terug na Algoabaai val 'n Gunukwebe-stam, wat bang was hulle sou uit die Zuurveld gedryf word, genl. Vandeleur se soldate aan. Kommando's van Swellendam en Graaff-Reinet word op die been gebring 'n reeks gewapende botsings volg. Die regering was bevrees 'n volskaalse Khoi-opstand kon uitbreek en sluit daarom vrede en laat die Xhosas toe om die Zuurveld aan te bly.

'n Verder opstand op Graaff-Reinet in 1801 lei egter tot verdere Khoi-drostery. Plase is in groot getalle verlaat en die Khoi-groepe onder aanvoering van Klaas Stuurman, Hans Trompetter en Boesak voer wydverspreide strooptogte uit. Al het verskeie kommando's opgeruk, waaronder 'n Swellendamse kommando onder leiding van komm. Tjaart van der Walt, wat sneuwel in Junie 1802, het hulle geen blywende oplossing teweeg gebring nie. Selfs 'n groot kommando wat uit die distrikte Graaff-Reinet, Swellendam en Stellenbosch byeengebring is, kon nie werklik hond haaraf maak nie. Kort voor die Britse regering die Kaap aan die Bataafse Republiek oorhandig het, is 'n onbeslissende vrede gereël in Februarie 1803. Die Bataafse owerheid het probeer om die Khoi te paai, maar kon nie die Xhosa tussen 1803 en 1806 oorreed om die Zuurveld te verlaat nie.


Vierde Grensoorlog

Die Vierde Grensoorlog was van 1811 tot 1812 die vierde in 'n reeks van nege oorloë aan die Oosgrens van die Kaapkolonie tussen enersyds die koloniste en andersyds die Xhosas (en soms ook die Khoi).

Luitenant-kolonel Richard Collins is in 1809 deur die Britse regering aan die Kaap gestuur om ondersoek te gaan instel na die omstandighede aan die Oosgrens. Hy beveel aan die Xhosa moet uit die Zuurveld verdryf word, wat dan beveilig moet word deur middel van digte wit vestiging, en dat die gebied tussen die Groot-Visrivier en Keiskammarivier 'n onbewoonde gebied moet word waar nóg wit nóg swart mag gaan woon. In Januarie en Februarie 1812 is nagenoeg 20 000 Gunukwebes en Ndlambes oor die Visrivier gedryf deur die Britse troepe in samewerking met die kommando's van Swellendam, George, Uitenhage en Graaff-Reinet onder die opperbevel van lt.kol. John Graham. 'n Strook grensforte is gebou, maar die poging om digte bewoning deur boere daar te stel, het misluk. Daarom sluit die goewerneur, lord Charles Somerset, 'n verdrag met Gaika, die veronderstelde opperhoof van die westelike Xhosas, wat koloniale patrollies sou toelaat om spesifiek op te tree teen 'n kraal waarheen die spore van gesteelde beeste lei. Die verdrag het egter tot 'n soort nasionalistiese oplewing onder westelike Xhosas gelei, onder aanvoering van die "profeet" Makana, wat opnuut tot burgeroorlog tussen Gaika en Ndlambe lei. Dit gee aanleiding tot die Vyfde Grensoorlog.


Vyfde Grensoorlog

Die Vyfde Grensoorlog van 1818–1819 (ook bekend as die Oorlog van Nxele), die vyfde in die ry van nege Kaapse grensoorloë, was 'n direkte gevolg van die spoorstelsel.

Lord Charles Somerset, die Kaapse goewerneur, het met Ngqika (Gaika) van die Rarabe-stam 'n verdrag gesluit waarvolgens die kraal waarheen die spore van gesteelde vee lei die beeste teruggee. So kies Somerset kant vir Gaika bo Ndlmabe (Slambie) in hul stryd om die opperhoofskap. Dit lei tot 'n gevoel van inmenging, weerwraak en 'n protesbeweging onder die westelike Xhosa onder die leiding van die kaptein en profeet Makana (Maqana / Nxele / Lynx / Links). Hierdie inmenging in die huishoudelike sake van die Xhosa was 'n diplomatieke fout en lei tot die Vyfde Grensoorlog.

In Junie 1818 vlam die burgeroorlog tussen Gaika en Slambie weer op. Gaika word by Debenek verslaan en nader Somerset op grond van hul verdrag om hulp. In Desember 1818 val koloniale magte die Xhosa-gebiede binne en verslaan Slambie. 23 000 beeste word teruggekry. Toe die Kaapse magte onttrek, hergroepeer Slambie en sit sy veldtog van roof, moord en verwoesting voort. Net na dagbreek op 22 April 1819 val Makana met 'n mag van 10 000 krygers die dorp Grahamstad aan. 'n Garnisoen van 350 man onder lt.kol. Tiger Tom Willshire bygestaan deur 'n Khoikhoi-mag onder Jan Boesak kry weens hul beter wapens en taktiek die oorhand. 'n Duisend Xhosa-krygers is gewond of sneuwel. Willshire met 'n mag van 4 000 soldate en burgers verdryf die Xhosamag oor die Groot-Keirivier, Slambie se militêre mag is gebreek en hy vlug na Hintsa van die Galekas. Hierdie aksie staan bekend as die Slag van Grahamstad. Makana gee in Augustus 1819 oor en duisende stuks vee word teruggekry. Die Xhosas is uit die gebied tussen die Groot-Visrivier en die Keiskammarivier (die latere Victoria-Oos) verdryf. Dit het 'n neutrale en onbewoonde buffergebied geword om skeiding tussen die koloniste en die Xhosa te handhaaf. Grenswagte in verskeie forte, waarvan Fort Willshire langs die Keiskammarivier die grootste was, moes die nuwe grensreëling handhaaf. Dus het die Keiskammarivier in die praktyk die oosgrens van die Kaapkolonie geword.


Sesde Grensoorlog

Die Sesde Grensoorlog (die Oorlog van Hintsa) van 1834-1836 was die sesde in die reeks van nege Kaapse grensoorloë wat tussen 1779 en 1877 deur Groot-Brittanje en die Kaapkolonie teen die Xhosa-stamme gevoer is.

Redes

Aan die oosgrens van die Kaapkolonie het daar omstabiele omstandighede geheers. Weens die uitbreidende Zoeloe-ryk ('n gevolg van die Mfekane) is die Xhosa suidwaarts gedryf. Gedurende die vorige grensoorloë is die Xhosa se suidwaartse beweging gestuit en die gebied ten suide van hulle beset deur die Khoikhoi, Britse setlaars en grensboere. Hoofmanne Makomo en Tjali was verbitter omdat hulle uit die Tjumi-gebied verdryf is. Die gevoel is vererger deur die vergelding deur koloniale patrollies weens die verhoogde veediefstalle deur die Xhosa as gevolg van die heersende droogte. Xhosa-oorbevolking en 'n weifelende grensbeleid (spoorstelsel, verdragstelsel, besettting van neutrale gebied) skep verdere onsekerheid. Die Xhosa vertolk dit as 'n teken van swakheid aan die kant van die blanke. Om geld te spaar was daar 'n vermindering van Britse troepe in die gebied en is daar 'n beperking op die kommando's geplaas. Handelaars het wapens en ammunisie aan die Xhosa verkoop. Gewapende Khoikhoi-drosters is met ope arms deur die Xhosa verwelkom. Daarby het die Xhosa in die vorige grensoorloë oorlogservaring teen die blanke opgedoen. Dit het alles 'n gevoel van onveiligheid by die setlaars en grensboere geskep.

Oorlog

Op 21 Desember 1834 bars 'n Xhosa-mag van 15 000 man gelei deur Makomo, Tjali en ander Gaika-kapteins oor die grens van die Kaapkolonie. Alle grensbewoners is heeltemal verras. Plunderende groepe verwoes die land tussen die Winterberge en die see. In die vallei van die Katrivier het die Khoikhoi erg gely. Piet Retief en 'n kommando tree in die Winterberge teen die invallers op. 'n Honderd koloniste sterf, honderde plase is verwoes, opstalle geplunder en afgebrand. Sewe duisende mense raak dakloos. Die grensboere verloor 115 000 beeste, 161 000 skape en bokke, 5 700 perde en 60 waens. Die soldate en koloniste vergeld deur 60 000 beeste terug te verower en hutte en selfs hele krale af te brand. Tot sover as Uitenhage was daar geen blanke boer op plase meer oor nie. Baie van hulle het die veiligheid van Grahamstad opgesoek.

Die Kaapse regering tree vinnig op. Britse troepe vertrek oor land en per skip na Algoabaai. Lt.-kol. Harry Smith vertrek op sy legendariese perderit na Grahamstad. 'n Mag van 3 000 man bestaande uit 'n Khoikhoi-mag, koloniste en Britse soldate loods vergeldingsaanvalle. Die Xhosa ly verskeie neerlae o.a. by Trompettersdrift in die Groot-Visrivier. Alhoewel die meeste kapteins oorgee, vlug Makomo en Tjali, die Rarabe-hoofman, na die klowe van die Amatolaberge. Sir Benjamin D'Urban, die Kaapse goewerneur, glo verkeerdelik dat Hintsa, die kaptein van die Galekas, beheer het oor alle Xhosa-stamme en hou hom dus verantwoordelik vir die aanvalle op die koloniste en die veediefstalle. In April 1835 lei D'Urban met Harry Smith as tweede-in-bevel 'n mag oor die Groot-Keirivier na Hintsa se kraal net oos van die huidige Butterworth. In die krygsoptrede word Hintsa gyselaar geneem. In 'n ontsnappingspoging op 12 Mei by Nqabaraspruit word Hintsa doodgeskiet. Dit lei tot groot ergernis by die Britse regering, vyandskap by die Xhosa teen die Britte en opgewondenheid by die filantrope en sendelinge.

Gevolge

Die Sesde Grensoorlog eindig as 'n groot militêre sukses vir die Britse owerheid. Harry Smith stig die Provinsie van Koningin Adelaide en die Fingo's word lojale Britse onderdane, word van vuurwapens voorsien, vorm kommando's om hul nuwe land te beveilig en veg as bondgenote saam in die komende oorloë. Weens 'n beperkte Britse troepemag het die owerhede baie op die kommando's staatgemaak. Owerhede het voorrade, waens en perde van die grensboere opgekommandeer. Daarby het die grensboere ook enorme verliese gelei deur die skade aan landerye en plaashuise en veediefstalle. Die vergoeding wat deur die Britse owerheid verskaf is, was onvoldoende. Lord Charles Glenelg, die Britse minister van kolonies, het die grensboere daarby ook nog beskuldig dat hul militêre ekspedisies om gesteelde vee terug te kry konflikte aanhits. Dus het die grensboere vertroue in die Britse regering en regstelsel verloor en het hierdie oorlog net nog meer bygedra tot die redes vir die Groot Trek.


Sewende Gtrnsoorlog

Die Oorlog van die Byl (ook bekend as die Amatola-oorlog) van 16 Maart 1846 tot Desember 1847 was die sewende in die reeks van nege Kaapse grensoorloë wat in die jare 1779 tot 1877 tussen die Westerse koloniseerders en die Xhosa-stamme gevoer is.

Redes

Lord Charles Glenelg, die Britse minister van kolonies, se filantropiese beleid om verdrae met die Xhosas op die oosgrens te sluit het geen einde aan die onrussituasie gebring nie. Dit het die lewe vir die blanke grensbewoners net meer ondraaglik gemaak. Latere wysigings in die verdrae deur goewerneurs sir George Napier en sir Peregrine Maitland het ook nie die toestand verbeter nie. Die wyfelende Glenleg-verdragstelsel lei tot allerlei grensinsidente en hierdie sewende grensoorlog was 'n direkte gevolg daarvan. Voedselskaarste weens die aanhoudende ernstige droogte het tot groter veediefstalle glei. Die oorsake van hierdie oorlog kan toegeskryf word aan opbouende spanning veroorsaak deur moorde, veediefstalle, grondhonger, onderlinge wantroue en kultuurverskille.

Oorlog

'n Xhosa-man genaamd Kleintje het in Fort Beaufort 'n byl gesteel, is gearresteer en onder begeleiding van twee Khoikhoi-wagte na die hof in Grahamstad gestuur. Hoofman Tola eis Kleintje se vrylating en stuur 40 krygers om hom te bevry. Kleintje word ontset en een van die wagte vermoor. Die vonk wat die oorlog laat losbars, was toe die uitdagende Rarabe-opperhoof Sandile weier om die moordenaar uit te lewer. Kol. John Hare tree vinnig op, waarsku die boere, versprei vuurwapens, versterk die garnisoene te Fort Beaufort en Fort Peddie en die handelaars vlug weswaarts. Die sendelinge bly op hul pos.

Vir die koloniste begin die oorlog rampspoedig. Hare en kol. Henry Somerset se 125 ossewaens met krysvoorraad en rantsoene word in April 1846 by Burnshill in 'n hinderlaag gelok en die helfte van die voorraad gaan aan die Xhosa verlore. Die Xhosa stroom oor die grens en laat 'n spoor van verwoesting agter. Soldate in die forte langs die Groot-Visrivier kan weinig doen om die stroom beeste wat ooswaarts langs die forte gejaag word, teen te hou. Die Xhosa was in beheer van die situasie, het ook nou ook oor moderne vuurwapens beskik en was duidelik meer doeltreffend as in die vorige oorloë en hul getalsterkte was tienmaal groter as die gekombineerde mag van die Britse troepe, die Fingo, die setlaars en sir Andries Stockenström se burgerkommando's.

'n Xhosa-opmars na Grahamstad is deur Somerset by Fort Peddie gekeer. Die Britse en die koloniale troepe is deur die droogte gekniehalter en is verplig om hulp te aanvaar van die plaaslike kommando's. Hierdie manne is meer doeltreffend as die soldate, weens hulle deeglike kennis van die plaaslike omstandighede. Stockenström en sy kommando's behaal 'n reeks oorwinnings, dring oor die Groot-Keirivier ooswaarts deur, dwing die Galeka- hoof Kreli om gesteelde beeste terug te gee en af te sien van alle grond wes van die Groot-Keirivier.

Die einde van die oorlog is deur verskeie faktore vertraag. 'n Onverklaarde wapenstilstand het ingetree. Weens die droogte kon die koloniale troepe nie opvolgoperasies uitvoer nie. In hierdie oorlog was daar ook vir die eerste maal 'n duidelike gebrek aan samewerking tussen die koloniale troepe en die burgerkommando's. Ten spyte van die beleid van verskroeide aarde wat deur beide kante gevoer is, het verskeie stamme hulle tot guerrilla-taktiek gewend. Op 25 November 1846 het die Xhosa-hoofman Makoma hom oorgegee. In Desember 1847 was Kreli (Sarili), opperhoof van alle Xhosas en hoof van die Galeka-stam, die laaste om hom oor te gee. En dit bloot omdat daar geplant moes word om hongersnood te voorkom.

Gevolge

Die nuwe goewerneur, sir Harry Smith, het die Keiskammarivier tot nuwe oosgrens van die Kaapkolonie geproklameer. Brits-Kaffrarië en Victoria-Oos is gevorm. Na die oorlog was die opperhoofde gegrief en haatdraend teenoor die koloniale bewind. Hul woongebiede was oorbevolk en weens die droogte het die landhonger toegeneem. Daar het geen duursame vrede gekom nie. Smith se nuwe grensreëlings is te oorhaastig ingestel en het nie die Xhosa se kultuur en tradisies eerbiedig nie. Ná hierdie oorlog was die verhouding tussen die Britse bewindhebbers aan die Kaap en die blanke grensboere op 'n laagtepunt.


Agste Grensoorlog

Die Agtste Grensoorlog van Desember 1850 tot Maart 1853 (ook bekend as die Umlangeni-oorlog, Mlanjeni-oorlog of Bonte Oorlog) was die agtste in die reeks van nege Kaapse grensoorloë wat tussen 1779 en 1877 deur die Westerse koloniseerders en die Xhosa-stamme gevoer is. Vyftienduisend Britse soldate en duisende koloniste was in hierdie hewigste van die nege oorloë betrokke.

Oorsake

Deur die goewerneur, sir Harry Smith, se pogings om die Westerse beskawing onder die Xhosa te bevorder deur die ontmoediging van stamtradisies, skep hy wantroue by die hoofmanne. Smith het nie die ekonomiese en sosiaal-kulturele lewe van die Xhosa begryp nie en deur hom daarmee te bemoei skep hy probleme wat tot 'n volgende grensoorlog gelei het. Die stamhoofde was gegrief oor die beperking van hul gesag. Boonop was daar 'n voedselskaarste as gevolg van die heersende droogte. Oorbevolking, landhonger en 'n besonder koue winter het verder tot die ontevredenheid bygedra. Rond 1850 het dit 'n gees van onrus onder die Gaika-stammme veroorsaak wat deur die profeet Mlanjeni verder aangehits is. Terselfdertyd het die Khoikhoi van die Katriviernedersetting tweedeklas-burgers in hul eie land gevoel weens die dwangmaatreëls wat die Britse amptenare en wit boere aan hulle opgelê het en hulle dwing tot plaasarbeid.

Verloop

Goewerneur Smith het die Xhosa se teenstand teen sy beleid van paternalisme geheel en al onderskat. In Oktober 1850 word Sandile van die Rarabe-stam (die Gaikas) deur Smith as stamhoof ontslaan. 'n Troepemag van 650 man onder kol. MacKinnon is gestuur om Sandile te arresteer, maar die Britte word op 24 Desember 1850 in die Boomah-pas in 'n lokval gelei. Onder hewige geweervuur van die Xhosas val die Britse troepe na Fort White terug, maar 42 Britse soldate sneuwel en goew. Smith word self in Fort Cox vasgekeer. Op Kersdag 1850 val die Gaikas onverwags die militêre poste Woburn, Aukland en Juanasburg aan, wis dit uit en verower die pos by Line Drift.

Die Gaikas is gesteun deur die Galekas van Kreli en ook deur sommige Temboes. Khoikhoi van die Katriviernedersetting en die Blinkwatervallei rebelleer in Februarie 1851 onder die Xhosa-Kleurlingbasterbendeleier Hermanus Matroos en verower Fort Armstrong. Selfs Xhosa-polisiemanne muit en lede van die Cape Mounted Rifles weier om te veg. Die Khoikhoi se deelname het die oorlog verleng, omdat hulle die blanke se gevegsmetodes geken het. Omdat die Khoikhoi van die Katrivier deelgeneem het, het die burgers van die oostelike dele nie op kommando gegaan nie. Smith was in 'n moeilike posisie. Weens die Britse regering se besuinigingsmaatreëls het hy nie oor voldoende troepe beskik nie. Versterkings uit Engeland is vertraag en boonop het die skip Birkenhead vergaan. Die Gaikas en hul bondgenote het ook nou oor vuurwapens beskik. Die koloniste was nie geesdriftig oor die oorlog nie, want hulle het nie Smith se inmengingsbeleid goedgekeur nie.

Aanvalle deur die Xhosamagte op Fort White en Fort Hare is afgeslaan. Hermanus Matroos sneuwel in die Khoikhoi se mislukte aanval op Fort Beaufort. Kol. MacKinnon het met voorrade van King William's Town na Fort White, Fort Cox en Fort Hare opgeruk, die Khoikhoi onder die Khoikhoi-rebelleleier Willem Uithaalder uit Fort Armstrong verdryf en verjaag na die Amatolas. In die bebosde Waterkloof het insypelaars hulle aan roof en brandstigting skuldig gemaak, Fort Fordyce aangeval en Harry Smith se magte groot skade berokken. Teen Maart 1852 het die Xhosa egter reeds 80 van hul kapteins en 6 000 krygers verloor sowel as 80 000 beeste en baie bokke.

Nuwe goewerneur

Die Britse owerheid het besef dat die sentiment in die kolonie teen goewerneur Smith gedraai het en dat sy onvanpaste optrede grotendeels verantwoordelik was vir die geweld. In Maart 1852 word hy vervang met genl. sir George Cathcart. Hy reorganiseer die hele strydmag, het meer troepe tot sy beskikking en geniet die steun van die setlaars en grensboere. Daarby was die Xhosa ook al oorlogsmoeg.

Vroeg in 1852 beweeg 'n gekombineerde mag (insluitende burgerkommando's) onder genls. sir Henry Somerset en V. Yorke oor die Groot-Keirivier, verslaan Kreli, verower 10 000 beeste en brand Kreli se kraal af. Die Rarabe-kapteins in die Amatola-berge en -klowe is deur die burgerkommando's aangeval. In September 1852 is alle Gaikas uit die Amatolas verdryf en in November is die laaste Khoikhoi-rebel verslaan. Die Xhosa kon nie die stryd volhou nie en sluit vrede. Kreli is 'n groot boete opgelê, maar die Gaikas kon hul grond behou.

Gevolge

Die Rarabes is verplig om die Amatolagebied te verlaat en in lokasies nader aan die see te vestig waar minder skuilplek beskikbaar was. Die gebied wat hulle ontruim het, is met blanke setlaars bevolk en die dorp Queenstown is gestig. Kreli en Sandile is aan Britse gesag onderwerp deur 'n stelsel van militêre administrasie.

Hierdie oorlog lei tot die vernietiging van die Xhosa se militêre mag en die onderwerping van die Xhosa wes van die Keirivier aan die Britse bewind. Toe hierdie gevolge na enkele jare by die Xhosa se denke insink, lei dit tot die Nasionale Selfmoord van Xhosas.


Negende Grensoorlog

Die Negende Grensoorlog (ook bekend as die Fingo-Galeka-oorlog, die Gaika-Galeka-oorlog en die Oorlog van Ngcayechibi) was die laaste van die Kaapse grensoorloë tussen 1779 tot 1877.

Agtergrond

In 1858 is die Galeka-stam onder Kreli (Sarili), opperhoof van alle Xhosas, hoof van die Galekas, deur die Kaapkolonie se goewerneur, sir George Grey, oor die M'basherivier na Bomvanaland verdryf weens Kreli se rol in die Nasionale Selfmoord van Xhosas. In die verlate gebied tussen die Groot-Keirivier en die M'bashe is die Fingo's by Butterworth en die Ndlambe by Idutywa gevestig. Ses jaar later is die Galeka weer in die gebied toegelaat, maar het so sleg met die Fingo's klaargekom dat die Negende Grensoorlog ontvlam. Hierdie oorlog het uitgebreek na 'n periode van vrede van amper 25 jaar. In 1872 het die Kaapkolonie verantwoordelike bestuur van die koloniale heerser, Groot-Brittanje, ontvang. Blank en swart het aan verkiesings deelgeneem en beide groepe se grondregte is gewaarborg. Grenspatrollies om die oosgrens te beveilig was die taak van alle bevolkingsgroepe in die kolonie, naamlik die blanke grensboere, Fingo, Khoikhoi en die Britse en Duitse setlaars. Verantwoordelike regering het ongelukkig skerp verskille tussen Londen en Kaapstad laat ontstaan. Die Britse regering wou in Suider-Afrika 'n konfederasie onder sy eie leiding stig. En om dit te bewerkstelling, moes die onafhanklike swart volkere noord van die Kaapkolonie onder Britse gesag gebring word. Daarteenoor was die regering in die Kaap juis sterk gekant teen enige verdere gebiedsuitbreiding.

Oorsake van die oorlog

Rond 1875 is die oosgrens deur 'n knellende droogte geteister. Ekstensiewe veeboerdery deur die Xhosa lei tot 'n gebrek aan weiveld en grondhonger. 'n Bevolkingstoename plaas boonop druk op die voedselbronne. Die Galekas was jaloers op die Fingo's, want hulle was sedert vorige oorloë bondgenote van die koloniste en daar is met begerige oë na die Fingo's se grond gekyk. Na meer as twee dekades van redelike vrede was daar baie jong krygers wat na oorlogservaring gesmag het en boonop beeste nodig gehad het om hul lobola te betaal.

Uitbraak

'n Relletjie in 'n kroeg tydens 'n bruilof ontaard in 'n stamgeveg tussen die Galekas en die Fingo's. Vee word oor en weer gesteel. Nog dieselfde dag val Galeka-krygers die polisiepos in die Gwadana-berge aan. Dit was beman deur Fingo-konstables onder Von Hohenau. Fingo-krygers snel hul stamgenote te hulp, maar kon nie voorkom dat Von Hohenau en ses konstabels sneuwel nie. Die Kaapse goewerneur, sir Bartle Frere, gryp die voorval aan, verklaar oorlog teen Galekaland en ontslaan opperhoof Kreli.

Eerste fase

Onder druk van sy oorlogsugtige volgelinge laat Kreli sy krygers na die grens opruk. Die Kaapse premier, John Molteno, beskou die konflik as 'n plaasllike probleem en het daarom met Frere ooreengekom dat Britse troepe nie sal inmeng nie. Op 29 September val 'n 8 000 Galekas die polisiekantoor by Ibeka aan. Die Frontier Armed and Mounted Police (FAMP) slaan die aanval af, brand Kreli se kraal af, en die Galeka-mag spat uiteen. Maar hulle val verdere polisieposte aan. Molteno slaag nog daarin om die Britse troepe buite die gevegte te hou en plaas grensboere, Temboes en Fingo's in die gevegsgebied. Die Galekas is oor die M'bashe- en die Mthatharivier verdryf. Kreli verloor 700 man en nagenoeg 13 000 beeste. Na drie weke was die oorlog verby en is die kommando's teruggeroep, want verowering van Galekaland was nie die Kaapkolonie se oogmerk nie. Toe die troepe na Galekaland opruk, het Frere 'n krygsraad in King William's Town byeengeroep met die doel om die beheer oor die krygsgebeure te verkry. Twee van Molteno se ministers was deel van die krygsraad en het die Britse troepe as onbekwaam en ondoeltreffend in die heersende situasie afgemaak. Hierdie uitlating het die verhouding tussen Frere en Molteno versuur.

Tweede fase

Frere se volgende stap was om alle swartmense (selfs die swart soldate) te ontwapen. Dit lei tot hewige protes en baie soldate dros. Die Britse troepe-bevelvoerder Cunynghame raak in paniek en laat die hele Brits-Kaffraria deur sy troepe omsingel. Molteno en sy regering eis dat die Britse regering vir Cunynghame terugroep en die diskriminerende ontwapening ophef. Frere weier, stuur nog Britse troepe na Galekaland en stel dit oop vir blanke bewoning. Die Britse troepe was geheel en al verlore in die vir hul vreemde gebied en kon die Galekas nie vasvat nie. Kreli se mense herstel gou van die terugslag, glip oor die M'bashe suidwaarts na die Gaikas van Sandile. Op Kersdag 1877 val hulle die Draabosch Hotel, 48 km noord van Oos-Londen, aan. Dit skep 'n ernstige situasie, want daar was geen vrywilligers beskikbaar en die FAMP was uitgeput. Op 12 Januarie 1878 ly die Galekas 'n neerlaag by N'Amaxa en verloor 150 man. Frere ontketen 'n konstitusionele krisis deur die Kaapse regering te ontslaan sodat Groot-Brittanje die leiding kan oorneem. Maar die Britse troepe slaag nie daarin om doeltreffende beskerming aan die grensbewoners te bied nie. Gevolglik vlug baie van die bewoners na die forte. Frere het wel die Fingo-troepe van die afgesette regering tot sy beskikking. Onder Veldtman Bikitsha, die nie-amptelike leier van alle Fingo's, beleër hulle op 13 Januarie die Galekas naby Nyumaxa. Die Britse mag toon weer sy onbekwaamheid in die situasie. 'n Aanval van 5 000 krygers onder die persoonlike leiding van Kreli en Sandile vind op 7 Februarie plaas. Die Slag van Kentani kon slegs met die hulp van die Fingo's en ander plaaslike krygers afgeweer word. Uiteindelik het die oorlogsmoë Galekas hulle teruggetrek en in Junie het Kreli oorgegee, maar die Gaikas het die stryd voortgesit.

Guerrilla-oorlog

'n Mag van 2 000 Gaikas onder Sandile en ondersteun deur Tamboekies het hulle in die Perie-bos in die Amatolaberge verskuil en 'n guerrilla-oorlog begin. Ondertussen is Arthur Cunynghame as Britse militêre opperbevelhebber in die Kaapkolonie met luitenant-generaal lord Chelmsford vervang. In Maart 1878 het die Britse troepe die Amatolaberge binnegedring in 'n poging om die Gaikas te ontset. Dit was onsuksesvol. Toe die Britte die strategie gebruik wat plaaslik aanbeveel is, naamlik om die krygsgebied in kleiner dele met elk sy eie troepemag te verdeel, was hulle meer suksesvol. Vlugtende Gaika-krygers kon so makliker agtervolg word . Die uitgange van die klowe is goed bewaak en deur aanhoudende druk het Sandile se krygers vinnig oorgegee. Sandile het self langs die vallei van die Groot-Visrivier weggekom. Ongeveer 'n maand later op 29 Mei is hy deur 'n Fingo-mag onder kapt. J. Lonsdale by die isiDenge-woud doodgeskiet. Kort daarna is sy seun Siyolo langs dieselfde rivier doodgeskiet deur 'n patrollie van Duitse vrywilligers onder die oorlogsveteraan Von Linsingen. Aan die oorlewende rebelle is amnestie verleen.

Gevolge

Fingoland, Griekwaland-Oos en die Idutywa-distrik is by die Kaapkolonie ingelyf. Galekaland is nie geannekseer nie, maar is namens die Kaapkolonie geadministreer deur 'n hooflanddros in die Transkei. Tot in 1894 is die grens van die Kaapkolonie stuksgewys ooswaart geskuif tot by die Umtamvunarivier.


Rebellie van Mpondomise (1880)


Thembu-rebellie (1880-1881)

Nie Europese Banier

TERUG