- Opsigter en byvoegings - Simon Jansen
Lucas Cornelius Jansen (Geyser) b6c3d1e7 Geskiedenis
Lucas Cornelius Jansen (Geyser) b6c3d1e7
'n Merkwaardige vrou wat diep spore getrap het.
Met haar geboorte op 3 Julie 1896 was daar probleme om vir haar 'n naam te gee. Haar pa wou haar na Cecil John Rhodes vernoem, want die het vir hom 'n plaas belowe vir sy dienste tydens die Matabele-opstand. Tant Katrina haare ma het egter verseg en op die einde is sy Lucas Cornelius gedoop. Vandaar haar noemnaam, Loekie. Die Matabeles was nog opstandig en terwyl haar Pa en ouboet Frikkie op kommando is, moes die moeder met haar kinders na Bulawayo vlug. In 1899 trek die gesin Transvaal toe waar die vader as veldkornet by die Boeremagte van President Paul Kruger aansluit. Toe die Engelse magte Pretoria beset, is tant Katrina en haar kinders na Merebank-konsentrasiekamp waar agt van haar kinders oorlede is.

Lucas Cornelius Jansen (Geyser) b6c3d1e7
Frikkie is gewond, gevang en na Ceylon (Sri Lanka)as krygsgevangene gestuur. Na die Vrede van Vereniging vestig oom Lucas op die plaas Turffontein sowat 30 km suid van Pietersburg (Polokwane) waar Loekie die C.N.O. skooltjie op Rietvlei bywoon. Later is sy na die "goewermentskool" op Marabastad (nie Pretoria). Haar naam saam met die van Stephanus Hofmeyr later inspekteur van onderwys in die Kaap-kolonie, verskyn eerste op die register. Later kom daar 'n koshuis en klaskamer - sinkgeboutjies op pale - end die koshuisfooi is R6-00 per kwartaal. Die ouers, brandarm na die oorlog wat nie kon betaal nie, kon losies beurse kry. Die kinders slaap twee-twee op 'n ysterkateltjie, met een laken, een kombers en een kussing. Die eerste paar weke moes die kinders in die watervoor gaan was, later het daar gemakshuisies op die terrein gekom.
Die spyskaart het bestaan uit mieliepap, brood, vleis, mielierys en af en toe aartappels of pampoen. In die somer-maande voer koshuis-kinders strooptogte op naburige plase uit, '...en Loekie Geyser dra nog spore van 'n oom se donshael haar been toe sy by die seuns aangesluit het om te gaan vrugte steel. Naweke het Loekie huis toe gegaan en daardie onvergeetlike lekkernye, konfyt of varkvet saamgebring koshuis toe om die droë brood meer eetbaar te maak. In die somermaande swem die kosgangers in die riviertjie wat onderkant die skool verby vloei. Geen gemengde baaiery - seuns en meisies het elkeen hulle eie swemgat gehad. In 1912 maak Loekie standerd 6 en in 1913 gaan sy by 'n plaasskooltjie onderwys gee. In Blouberg hou sy vir haar broer, Frikkie se kinders en die van ander bure skool. In Hooghollands leer sy hulle lees, skryf en somme maak. Hulle leer ook Engels. In die Soutpansberg-kontei word hierdie langbeen-rooikop bekend sodat baie vlerkslepers hul draai daar kom gooi.
Sy verwerf onderwyskap nadat inspekteurs van onderwys, Mnr Jan Moerdijk en Mnr Duncan Linney haar met voorligtind en aanmoediging onder hande gehad het. En sy koop haar eerste fiets om ouerbesoek te gaan doen ...soms dertig kilometer op 'n middag, of later, per "trêppie" en 'n perd, Pietersburg toe vir skoolmateriale. Haar salaris was R10-50 per maand. Sy maak die jare van Storm en Drang - 1914, 1918 - deur. Die Eerste Wêreldoorlog, die Rebellie, die Spaanse Griep ... en in 1919 trou sy met 'n wewenaar, Schalk Jansen met vyf kinders. Binne enkele jare groei die kindertal tot twaalf aan. Toe oom Schalk te sterwe kom, kry tant Loek in die Algemene Hospitaal, Pretoria werk as linne matrone. Omdat geld ontbreek moedig sy haar kinders aan om privaat te studeer. Sy tree in 1956 met oom Thys Nel, 'n wewenaar in die eg, hy ontval haar in 1959.
Sedert +/- 1962 het sy geen vaste blyplek en woon by haar kinders. In omtrent 1966 trou sy met haar derde man oom Andries Dique. Oom Andries ontval haar in 1977. In 1982 woon tant Loek, nou 86 jaar oud, die saamtrek op die skou terrein te Pretoria by, waar sy 'n feesalbum van kampkinders ontvang. Sy doen 'n heupfraktuur op, op haar verjaarsdag 3 Julie 1987. Sy is in die hospitaal opgeneem maar weer ontslaan. Onmiddelik na haar heup fraktuur het ouma Loekie se fisiese- en psigiese toestand drasties agteruitgegaan. Aanvanklik was sy heeltemal gedisorienteer wat tyd en plek betref. As gevolg van die fraktuur was sy nie meer instaat om onafhanklik te loop nie. Haar laaste jare spandeer sy in Herfsblaar, Queenswood, Pretoria.
