- Opsigter en byvoegings - Simon Jansen
Kmdt Tjaart van der Walt Geskiedenis
Kmdt Tjaart van der Walt
Tjaart van der Walt (1749 – 8 Augustus 1802) was 'n kommandant-generaal in die Kaapkolonie.
Hy is op 30 Maart 1749 gedoop en vergesel in 1790 vir Jacob van Reenen op 'n ekspedisie na die Oosgrens om na die skipbreukelinge van die Grosvenor te soek. Twee jaar later vergesel hy 'n ekspedisie onder Nicolaas Smit om 'n bende San, wat vee gesteel het, te straf. Later in dieselfde jaar trek hy onder die kommandantskap van sy broer tot aan die Sakrivier om die Khoi verder te verdryf.
In die middel van 1790's is hy as kommandant van Swellendam aangestel en stuit in 1799 die aanval deur die Xhosas aan die Groot Swartberge. Daarna trek hy met 'n kommando Swellendammers ooswaarts om die vrede te help herstel. As erkenning vir sy dienste ontvang hy 'n tweeloopgeweer van genl. Francis Dundas, bevelvoerder van die Britse troepe aan die Oosgrens.
In 1802 val hy as kommandant-generaal die invallende Khoi-bendes oorkant die Sondagsrivier aan, waar een van sy seuns noodlottig gewond word. Hy sit die stryd teen die Khoi en Xhosas voort, maar word teruggeroep om 'n inval van die Khoi langs die Gamtoosrivier af te wend en word op 8 Augustus 1802 deur die Khoi-kaptein Boland verras en doodgemaak.
Tjaart van der Walt-gedenknaald
Die burgerkommandant Tjaart van der Walt het op 8 Augustus 1802 tussen die Baviaanskloofberge en die Kougarivier gesneuwel en is op die plaas Cambria (toe bekend as Onverwacht) begrawe.
Op aanwysings van Walter Smith het die Humansdorpse Kultuurvereniging die graf in 1949 opgespoor. Van der Walt se oorskot is op 10 Oktober 1950 opgegrawe en herbegrawe langs die Goede Hoop-kerksaal. Dit is 'n 8 km van waar hy gesterf het. Die Geloftefeeskomitee van die Gamtoosvallei het 'n gedenknaald op sy nuwe graf opgerig. Van der Walt was die eerste Boere-kommandant wat in Suid-Afrika op die slagveld geval het.
Die obelisk kan bereik word deur met die R332-pad vanaf Patensie noordwes te ry tot net buite die suidelike hek van die Baviaanskloof Wildernisarea.
