- Opsigter en byvoegings - Simon Jansen
Martiens Johannes Bekker skryf 30 September 2012
Vir party gaan dit slegte nuus wees en vir ander dalk goeie... Bekker is 'n redelike prominente ‘van’ in Judisme en in Yisrael. Vanaf Yisrael gaan rekords terug tot in Mitzrayim (Egipte) na die kontrei van Gershon waar die 'clan' Bekeriete gewoon het. Hulle het later opgedeel tussen die stam Benyamin en Ephrayim - basies Noordelike en Suidelike kante. In Hebreeus wat sonder klinkers geskryf word bestaan die van uit Beit, Kaf, Resh en kan dus enige van insluit wat die basiese konsonante bevat. Die verdubbeling van die letter 'k' en die 'ck' het later plaas gevind - heel moontlik om verwaring te voorkom. Die Bekker's in die UK en Europa het nie die familie wapen met die Skedel op nie.
Lewenskets
Peter arriveer aan die Kaap op 16 April 1695 as soldaat in diens van die VOC aan boord die fluitskip “Voetboog”. Hy is die seun van Johannis Bekker *±1645. Hy was van Köningsberg, Duitsland afkomstig. 18 Mei 1697 [ouderdom 24] is Pieter ‘n Vryburger te Drakenstein [Paarl].
Hy is getroud met Johanna DE KLERK, sy is die weduwee van Andries Gauch (Gous, Gouws). Johanna is die suster van Abraham de Klerk. Johanna is die dogter van Pieter LE CLERCQ en Sara COCHET. Daar bestaan 'n moontlikheid dat Bekker vir Andries Gauch vermoor het. Die saak teen hom is egter nooit bewys nie.
Hy was vir twee jaar 'n landboukneg voordat hy in 1697 'n vryburger geword het en in Drakenstein gaan boer het (die naam van sy plaas is onbekend). Op 18 November 1698 verklaar Jean du Plessis, die Franse chirurgyn van Stellenbosch, dat hy vir Claas, die slaaf van Pieter Becker van Drakenstein, ondersoek het in opdrag van landdros Ditmar. (Is dit dieselfde slaaf Claas wat Andre Gauch gekoop het?). Die rede vir die ondersoek word nie genoem nie en 'n mens wonder of dit is omdat Pieter Becker die slaaf aangerand het.
Becker het op 1 Oktober 1701 tydens 'n militere parade in Stellenbosch voor almal aan kornet Jan Stevensz Botma van die Stellenbosse Dragonders, onder wie se bevel hy gestaan het, gesê dat hy nie onder Botma diens wil doen nie. Hy het vreeslik geraas en geskel. Kaptein Olof Berg het die lawaai gehoor en ondersoek ingestel. Becker wou nie bedaar nie en Berg het hom 'n paar houe met sy rottang geslaan om horn te probeer kalmeer. Becker het net nog woedender geraak, sy mes uitgepluk en gedreig dat hy Berg se kop sou afkap. Hy is in 1701 vir hierdie voorval verhoor. Sy verweer was dat hy dronk was. Hy is skuldig bevind aan insubordinasie en sy straf was verbanning na die eiland Mauritius vir 10 jaar. Hy is op Robbeneiland aangehou totdat 'n vloot Tafelbaai sou aandoen wat hom na Mauritius kon neem. (Dit klink na 'n baie swaar straf vir so 'n oortreding, maar miskien was die Kompanjie teen daardie tyd al moeg vir al die probleme wat Pieter Becker veroorsaak het.) Voordat hy na Mauritius verskeep kon word, het hy ontsnap en die binneland in gevlug. Sy vrou moes na die kinders en die plaas omsien.
Dit is nie bekend of die owerhede laks was en toegelaat het dat Becker openlik in sy huis aanbly nie, en of hy dalk nie te diep die binneland in geskuil het en nooit aangegee is nie, want tussen 1702 en 1710 is vier van sy en Jannetje se kinders gebore. Die ekstra kinders het meer verantwoordelikhede vir haar meegebring. Op 25 Mei 1702 lê Hercules du Pree, Francois du Pree en Pieter Becker 'n verklaring voor die Landdros en Heemrade van Stellenbosch en Drakenstein af dat Daniel Hugo teen die aand van 21 Mei 1702 na die plaas van Hercules du Pree gegaan het en die huis van die Hottentot kaptein, Jan, aan die brand gesteek het. Hercules du Pree het aan Hugo gevra hoekom hy dit gedoen het en Hugo het geantwoord dat kaptein Jan se beeste in sy wingerd gewei het en dit verniel het. Hercules du Pree het aan hom gesê dat hy eerder 'n saak by die Landdros en Heemrade teen kaptein Jan moes maak.
Pieter Becker was onmiddellik aggressief en het Daniel Hugo met die vuis geslaan. Hugo het nie op hom laat wag nie en het sy geweer op die Du Pree's en Becker gerig, maar Becker het dit uit Hugo se hand geklap en 'n skoot het afgegaan wat Hugo in die voet gewond het. Op 5 Mei 1710 lê die burgers Etienne Terreblanche en Pierre Mouy 'n verklaring voor die Landdros en Heemrade af. Etienne Terreblanche het verklaar dat hy en die burger Claas Albertse op Vrydag 25 April 1710 in Drakenstein by die huis van Jean le Roux de Blois was en vir Pierre Mouy daar aangetref het. Mouy was al 'n geruime tyd daar.
Pieter Becker, sy vrou Jannetje de Clercq en hul slavin Maria van Ceylon was ook daar. Becker het gesê sy twee "jongens Over't Roo-Sand" is dood en Ω. Becker se slavin het baie dierlik daar uitgesien met dik oë byna toegeswel, sy kon skaars loop (sy het met geboë kniee geloop) en sy het glo baie gestink. Terreblanche het verklaar dat hy gesien en gehoor het hoe Becker met sy regterhand op haar boud geslaan het.
Pierre Mouy het ook getuig dat hy gesien het dat Becker se slavin die nag met 'n ketting geboei voor die vuur gelê het. Op 10 Augustus 1710 lê Etienne Bruere, 'n boer van Drakenstein, 'n verklaring voor die Landdros en Heemrade af dat hy omtrent 3 weke gelede "in't Rode Sand" aan huis van Etienne Terreblanche en Jean Imbert was, en daar die medelandbouer Jacques Delporte gesien het. In Terreblanche en Imbert se teenwoordigheid het Bruere gehoor Jacques Delporte en sy vrou Sara Vitou sê dat hulle 'n ruk gelede aan huis van Pieter Becker in Drakenstein was en dat Becker en sy vrou, Jannetje de Clercq, stry gekry het. Becker het aan Jannetje geslaan waarop sy haar man toegesnou het dat hy 'n moordenaar is wat bloed stort. (Verwys sy na die twee "jongens" wat dood en Ω is in Rodesand ?)
Becker is uiteindelik in Mei 1710 weer in hegtenis geneem vir die mishandeling van sy slavin Maria van Ceylon. Sy het op 14 Mei 1710 'n verklaring afgelê dat haar baas, Pieter Becker, haar vreeslik geslaan het omdat sy nie 'n pan wou skoonmaak nie. Hy het haar ook aan die skoorsteenketting vasgemaak en 'n vuur in die vuurherd gemaak wat veroorsaak het dat haar vel gebrand het. Sy het ook verklaar dat Pieter Becker, sy vrou Jannetje en hul kneg Matthys Craal die aand sit en kaart speel en wyn drink het. Jannetje het later aan Pieter Becker gesê dat hy sy mishandeling van Maria moet stop.
Maria word net na die Paastyd vir drie dae lank deur Pieter en sy vrou, Johanna, gemartel "om het niet wel schoon maken van een pan". Op die eerste dag is Maria op 'n leer vasgebind en vir ure lank met 'n kweperlat geslaan. Die aand het Bekker, sy vrou en sy kneg, Matthijs Craal, kaart gespeel en saam wyn gedrink. Daarna het Bekker sy degen uitgehaal, dit op die tafel neergesit en aan Maria gesê: "Ik moet mijn plaisier nogh wat met jou nemen". Hierna het hy met elke teug wyn wat hy geneem het, haar terselfdertyd met die degen 'n hou op haar lyf gegee.
Nadat haar liggaam met 'n mengsel van uriene en sout gewas is, is sy gedwing om vuur in die vuurherd te maak. Daarna het Bekker 'n wa-ketting, waaraan 'n stuk houtblok was, om haar nek gedraai. Die res van die ketting is styf om haar lyf vasgetrek en die punt is aan die ketting wat in die vuurherd gehang het, geheg. Die hitte het later so intens geword dat "als de baas en de Hottentot (waarskynlik die Khoi, Jochem) haar't lighaam waschte een stuk vleijs van haar bil [boud] afviel".
Maria het die stuk vleis opgetel, waarop Johanna aan haar gevra het: "Wat wil je daar me[e] doen? Kom, vreet het nu". Maria is hierna gedwing om 'n lang ruk daaraan te kou en toe dit na Johanna se mening lank genoeg geduur het, het sy vir Maria beveel om dit in die vuur te spuug. Hierna het die Hottentot op bevel van Bekker 'n tang geneem, en verdere stukkies vleis wat los gehang het, van haar liggaam afgetrek. Die res van Maria se verklaring sal liewer nie hier aangehaal word nie.
Op die tweede dag is sy vir twee uur lank om die beurt deur Becker, sy vrou, die kneg en die Khoi, Jochem, gegesel. Op die derde dag vir nog 'n kwartuur lank. (Later het Bekker beweer dat die mengsel waarmee sy gewas was, as 'n genesingsmiddel bedoel was). Bekker het gereken dat hy alle mag oor Maria gehad het, en het hy haar selfs na haar verskriklike ondervinding, saam met hom na 'n ander boer geneem. Daar aangekom "kon zij nauwelijks lopen, stond bevend met gebogen knieën en stonk zo erg dat 'sij na oogenschijn haast de waereld soude moeten verlaten". Gelukkig het Bekker se mede-vryburgers nie met hierdie verfoeilike dade verlief geneem nie, en nadat dit onder die aandag van die landdros gebring is, is Bekker voor die Raad van Justitie gedaag. As vonnis word Bekker 'n straf vir 'n periode van vier jaar dwangarbeid in kettings op Robbeneiland opgelê. Na die verstryking van die vonnis, is hy as verdere straf uit die Kaapse vestigingingskolonie verban.
Hy is tot vier jaar hardepad gevonnis (blykbaar het hy die vier jaar hardepad op Robbeneiland uitgedien - sien die datum van hul skeisaak) en na Europa verban. Sy besittings is op 'n vendusie, gehou in Drakenstein op 24 Januarie 1710, verkoop. Baie Hugenote het van sy eiendom, soos beddens, porseleinware, tinware en ander huisraad, asook vee en slawe gekoop.
Jean Durand het die plaas met opstal in Drakenstein gekoop terwyl Jan Oberholster die plaas in die Land van Waveren gekoop het (dit is nie bekend watter plaas in die Land van Waveren Becker besit het nie). Die vendusie het f1774:7½ vir die Kompanjie se rekening ingebring. Jannetje de Clercq het niks op die vendusie gekoop nie. Moes Jannetje van voor af huisraad en 'n boerdery opbou? Wat het sy en haar kinders intussen gebruik?
Pieter Becker was 'n harde, ongenaakbare man wat blykbaar nie daarvan gehou het om verkul te word nie. Op 24 Januarie 1715, terwyl hy op Robbeneiland aangehou is, het hy by die Raad van Justisie aansoek gedoen om van Jannetje te skei op grond van owerspel. Jannetje het erken dat, terwyl haar man op Robbeneiland in ballingskap was, sy owerspel gepleeg het met iemand in die Land van Waveren. 'n Dogter Johanna is uit die verhouding gebore. Sy het ook erken dat terwyl haar man op Robbeneiland aangehou is en gewag het op die retoervloot om hom na die vaderland te neem, sy hom daar besoek het en hulle omgang gehad het. Sy was egter oortuig dat Becker nie Johanna se vader was nie. (Tot vandag is die naam van Johanna se vader onbekend). Landdros Nicolaas van der Heuvel het Jannetje de Clercq skuldig bevind aan owerspel en gevonnis tot 50 jare aanhouding in die vroue tughuis op Batavia, asook 'n boete van 100 riksdaalders. Die Raad van Justisie moes blykbaar ter versagting haar 11 minderjarige kinders wat van haar afhanklik BEKKER Families van SA was in ag geneem het. Hulle het haar verbanning ter syde gestel en haar slegs met 100 riksdaaldcrs beboet.
Pieter Becker en Jannetje de Clercq se huwelik is amptelik op 7 Maart 1715 ontbind met die reg om weer te trou, 'n reg wat geeneen uitgeoefen het nie. Becker was vasberade om weer in die Kaap te woon en in 1717 het hy in Europa as soldaat by die Kompanjie aangesluit en na die Kaap teruggekeer. In 1718 is Becker egter weer gearresteer en lewenslank na Robbeneiland verban, al sy besittings is weer eens gekonfiskeer en op 'n vendusie verkoop. Hy is op 26 Augustus 1745 op Robbeneiland oorlede. Sy gewese vrou ontvang in 1731 die plaas, Straatskerk, over Roodesand.
