Ferderik Antonie Jansen #2

Bygewerk deur Simon Jansen ter nagedagtes aan Ferdie - RIV

Ferdie se Resume

Ferdie en Elise Jansen

Ferdie en Elise, sy regterhabd het 'n reuse bydrae gelewer met haar navorsing en die insameling van die informasie wat Ferdie gebruik het in sy webtuiste.

Frederik Antonie (Ferdie) Jansen #2 (ab4c5d6e1f3g2h1) is op 26 Junie 1949 in Philipstown, Noord-Kaap, Suid-Afrika gebore. Hy is die oudste seun van Frederik Antonie (Frikkie) Jansen #3 (ab4c5d6e1f3g2) en Charlotta Philippina (Phyllis) Venter #4 van die plaas Bermuda in die distrik van Philipstown, Noord-Kaap, Suid-Afrika.

Ferdie het sy skoolloopbaan in 1956 begin by die Sekondêre Skool Philipstown (toe was die dorp nog in die Kaapprovinsie). Hy het sy hoërskool opleiding in 1967 voltooi by die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein, Oranje Vrystaat. In die daaropvolgende jaar, in 1968, het hy militêre diensplig verrig. Hy het opleiding as Sekerheids Wagbevelvoerder by die Lugmag Gimnasium in Pretoria, Transvaal ondergaan en diens gedoen by die Lugmagbasis Bloemspruit buite Bloemfontein, Oranje Vrystaat.

Ferdie se tersiêre opleiding het in 1969 by die Universiteit van die Oranje Vrystaat begin waar hy as B.Sc. student ingeskryf het. Hy het egter in 1970 na die Universiteit van Stellenbosch, Kaapprovinsie verskuif waar hy 'n B.Sc. graad in Elektrotegniese Ingenieurswese verwerf het.

Ferdie Jansen en Elise Breytenbach #5 is op 4 Januarie 1975 in die NG Kerk Touwsrivier, in die Karoo getroud.

Elise is op 7 Maart 1953 in Balfour, in die destydse Transvaal gebore waar haar vader Wynand Breytenbach 'n onderwyser was. Haar vader en moeder Elizabeth Venter het eers na Vryburg in die Noord-Kaap verhuis voordat hulle hul op Touwsrivier gevestig het. Elise het in 1970 hier gematrikuleer en het daarna op Stellenbosch studeer, waar sy 'n B.Sc. graad en Hoër onderwysdiploma verwerf het. Haar onderwysloopbaan het in 1975 by die Hoërskool JG Meiring in Goodwood, Kaapstad, begin. Elise het vir 26 jaar by verskeie skole oral in Suid-Afrika Wiskunde en Natuur-en-Skeikunde onderrig.

Ferdie het sy loopbaan in 1976 by die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens begin as 'n Sinjaal Ingenieur. Sy loopbaan het hom oor die lengte en breedte van Suid-Afrika geneem, vanaf Kaapstad, deur Beaufort-Wes, Vryheid, Johannesburg en tot in Oos-Londen. Hy het in 1995 as ingenieur bedank en die gesin het na Kaapstad verhuis om as kleinhandelaars 'n supermark te bedryf.

Na verloop van twee jaar het Ferdie na die ingenieursprofessie teruggekeer. Vanaf 1997 tot 2000 het hy as projekbestuurder by 'n internasionale ingenieursmaatskappy in Johannesburg gewerk voordat Ferdie 'n aanbod gekry het om as konsultant by 'n maatskappy in Engeland te werk. In 2001 het Ferdie en Elise en hul jongste seun na Engeland verhuis. Ferdie en Elise en hul jongste seun het in Solihull gewoon, 'n dorpie buite Birmingham , in die Engelse Middellande. Elise werk as 'n Senior Versorger by 'n tehuis vir bejaardes en is 'n deeltydse lektrise by Solihull Kollege tot en met jul terugkeer na Suid Afrika.

Dit was in 1967, tydens sy laaste skooljaar in Bloemfontein , dat Ferdie in genealogie begin belang stel het. Die Jansen familie-register het in 'n skool oefeningboek begin nadat sy Oupa Frikkie tydens een van die skoolvakansies 'familie uitgelê' het in 'n gesprek waarby Ferdie teenwoordig was. Die onderwerp het hom gefassineer en hy het hierna nooit opgehou om inligting oor die familie in te samel nie.

Dit was egter nie voordat hy agt jaar later met Elise getroud is, dat hulle met formele familie-navorsing begin het nie. Ferdie se eie tak van die Jansen-familie is vinnig voltooi en is deur die RGN in Pretoria gepubliseer as deel van hul publikasie, "South African Genealogies" (Heese en Lombard, Pretoria, 1992). Ferdie het sy versamelde genealogiese data in 1984 begin dokumenteer met die opstel van 'n lewensgeskiedenis van die stamvader.

Hy het daarna nog vyf ongepubliseerde dokumente oor die Jansen Genealogie voltooi;

1. "Jansen Stamregister" (Kaapstad, Januarie 1977).
2. "Zirke Jansen" (Beaufort-Wes, Augustus 1984).
3. "Genealogiese Kwartierstaat van Frederik Antonie en Anna Sophia Jansen" (Benoni, Oktober 2000).
4. "Die Nie-Europese Voorouers van Frederik Antonie Jansen & Anna Sophia Jansen" (Benoni, Desember 2000).
5. "Friesland , Land van Oorsprong" ( Solihull , Desember 2003).
6. "Zirke Jansen: Stamvader van die Suid-Afrikaanse Jansen Familie" (Solihull , Maart 2004).
7. "Frederik Antonie Jansen: Jou Wortels" ( Solihull , April 2004).

Ferdie het ook 'n werkstuk, buite die konteks van die Jansen familie voltooi. Hierdie werk is deur die lewe en karakter van sy vrou se tannie, 'Suster' Breytenbach, reeds oorlede, geïnspireer:

8. "Die Memoirs en Ervarings van Johanna Susanna Breytenbach" (Benoni, Oktober 2000).

Die geskiedenis van Roelof Andries Jansen, een van Zirke Jansen, die Jansen-stamvader, se twee seuns, en een tak van sy nageslag, sal in die volgende werk beskryf word. Die werkstuk sal ongelukkig nie voltooi kan word nie weens Ferdie se vroeë afsterwe.

9. "Die Voorouers van die Olievenfontein Jansens". - Hierdie boek word tans saamgestel - sal onvoltooid bly en nie gepubliseer word nie..

Terselfdertyd, terwyl die gesin in Engeland woon, en met maklike toegang tot die argiewe van Engeland en Skotland, is Ferdie besig om die geskiedenis van Elise se enigste Britse voorvader, John Douglas, na te vors. John was die stamvader van die Douglas familie van Suid-Afrika. Elise se vader is 'n afstammeling van John Douglas, wat in 1817 as deel van die sogenaamde twee-honderd Moodie Setlaars by Swellendam gevestig is:

10. "Die Skotse erfenis van die Breytenbach familie van Suid-Afrika". - Hierdie boek word tans saamgestel.

Met leedwese neem ons afskeid van Ferdie. Hy het hierdie webwerf begin en lewe gegee. Die geweldige groot taak het in lewendige elektroniese blad daargestel vir die nageslag. Ferdie het baie ure en ure se navorsing gedoen en met sy leiding gestalte gegee aan 'n dinamiese familie webwerf wat vir elke Jansen iets kan beteken. Neem hieruit wat jy nodig het en bewaar dit. Ons blad groei, met Ferdie se afsterwe het ons 3984 bevestigde name in die register gehad - ons trek nou by 6970.

Frederik Antonie Jansen #2 - RIV
a1b4c5d6e1f3g2h1 'n Ander nommer stelsel in die genealogiese omgewing
27 Mei 2006

TERUG