Neustadtgödens: Plek van Oorsprong

Idee, skrywer en outeur - Ferdie Jansen

Zirke Jansen was die stamvader van die Jansenfamilie van Suid-Afrika.   Hy is in 1731 in Neustadtgödens in Oos-Friesland gebore.

Aanneming Titel

Titelbladsy van 1747 Aannemingsregister: Lutherse Kerk, Neustadtgödens

Aanneming Register Inskrywing

1747 Aannemingsregister-inskrywing met Zirke Jansen en sy vader, Cornelius Jansen, se name

Zirke was die oudste kind van Cornelius en Trintke Marie Jansen.  Cornelius was ’n kleremaker van beroep.  Sy eggenote, Trintke Marie, is op 10 April 1742 in Neustadtgödens oorlede en vanuit die Lutherse Gemeente aldaar begrawe.  Cornelius se huwelik met Trintke, voor 1731, was sy eertse huwelik.  Hy is vir ’n tweede keer op 7 November 1742 in die Lutherse Gemeente in Neustadtgödens met Margaretha Siefken getroud.  Zirke was dus elf jaar oud toe sy eie moeder oorlede is en toe sy vader sewe maande later weer getroud is.  Zirke se twee sussies was onderskeidelik drie en vyf jaar oud toe hul moeder oorlede is.  Die onderdom van die twee dogtertjies was waarskynlik die rede waarom Cornelius so spoedig na sy eggenote se oorlye weer getroud is.

Zirke is op Dinsdag 23 Mei 1747 (”als 3de Pfingst Feÿertag”) as sestienjarige seun in die Lutherse Gemeente in Neustadtgödens as lidmaat aangeneem.  Zirke se naam word as ”Cirke Janssen” in die Lutherse Kerkregister aangeteken.  Sy vader se naam, beroep en plek van oorsprong word as ”Cornelius Janssen, Schneider, Neustadt” aangegee.

Lutherse Kerk

Die Lutherse Kerk waar Zirke Jansen in 1747 as 'n lidmaat bevestig is. Die toring is gerestoureer, maar lyk steeds soos wat dit in Zirke se kindertyd en voor sy vertrek na die Kaap gelyk het. Die kerkklok is die oorspronklike. Klik hier onder om daarna te luister.

Die klokkespel van die Lutherse Kerk in Neustadtgödens

Alhoewel Zirke se naam deur die skriba van die kerk as ”Cirke” gespel is, sal later gesien word dat hy sy eie naam as ”Zirke” gespel het.

Behalwe vir Zirke, het Cornelius en Trintke ook nog twee ander kinders gehad.  Hul dogter, Anna Margaretha Jansen, is op 8 Januarie 1737 in die Lutherse Gemeente in Neustadtgödens gedoop.  Sy is op 10 Desember 1803 vanuit dieselfde gemeente begrawe.  Dit dui daarop dat sy heel waarskynlik haar lewe in hierdie omgewing deurgebring het.  Sy was 66 jaar oud toe sy oorlede is.  Sy was getroud met Jacob Harms Frese, ’n Wewer van beroep.

Net so is Cornelius en Trintke se ander dogter, in Neustadtgödens gebore en ook daar  begrawe.  Eile Catharina Jansen is op 23 November 1739 gebore en op 23 November 1744, op haar vyfde verjaardag, en slegs twee jaar na haar moeder se dood, vanuit die Lutherse Gemeente in Neustadtgödens begrawe.

Zirke Jansen se moeder, Trintke Marie het Oos-Friesiese name gehad.  Die Duitse weergawe daarvan was ”Catharina Maria”.  Daar sal later gesien word dat Zirke Jansen sy oudste seun na sy vader, en sy derde oudste dogter na sy moeder vernoem het.

Die enigste ander bron vir Zirke Jansen se geboortedatum (1735) is die registers van die ”Church of Jesus Christ of Latter Day Saints” (LDS, of ook Mormone, van Salt Lake City in die VSA).  Die bronverwysing vir hierdie datum word egter nie deur die LDS aangegee nie.  Die LDS se weergawe het Zirke as sewentienjarige seun geïdentifiseer toe hy sy ouerhuis verlaat het om na Suid-Afrika te reis.  Die dokumente wat in die argiewe van die Lutherse Gemeente van Neustadtgödens gevind is, is egter voldoende bewys dat Zirke in der waarheid tussen 23 Mei 1730 en 23 Mei 1731 gebore is, want daar is aangeteken dat hy 16 jaar oud was tydens sy aanneming op 23 Mei 1747.  Soos later gesien sal word was Zirke dus 21 jaar oud toe hy sy ouerhuis verlaat het, en nie 17 soos deur die LDS-rekords geïmpliseer is nie.  Hierdie hoër ouderdom is ook meer in pas met die destydse reëls en regulasies van die Verenigde Oos-Indiese Kompanje dat net persone van ouer as 18 jaar in diens geneem kon word.

http://jansenfamilie.co.uk/pmwiki/pub/MP3s/Luthers_kerkklokke.mp3

Zirke se latere beroep in Suid-Afrika, toe hy ’n vry-burger geword het, is voortspruitend vanuit die omgewing waarin hy opgegroei het.  Zirke se beroep as Kleremaker, na sy bedanking as soldaat by die VOC, was inderdaad ’n voortsetting van ’n familieberoep, en ’n ambag wat hy by sy vader, ’n Kleremaker, geleer het.  Sy swaer, Jacob Frese, was boonop ’n beroepswewer.

Meer oor Zirke se lewe volg in Hoofstuk 3.

Die volgende hoofstuk handel oor die seevaart na die Kaap van Goeie Hoop

Nie Europese Banier
.

TERUG