- Opsteller en skrywer - Ferdie Jansen - RIV
- Opsigter en byvoegings - Simon Jansen
Jansens van Molepolole, Botswana
Op 26 Januarie 2007 het Ferdie Jansen (die outeur van hierdie artikel) die volgende (onveranderde) e-pos brief vanaf ‘n sekere “Fred Jansen” van Gaborone, Botswana, ontvang:
“Someone early this morning handed me a crumpled piece of paper which contained one page of a print out from your website.
I then accessed your site and was very intrigued by the familiar sounding names! This prompted me to make contact and try to establish how my side of the family fits in, which it must, considering that all the family names are there!
I must admit that I have done no homework on my family history, but I am 53 now and have been thinking in that direction for a while.
My family, as far as I am aware, has been in what is now Botswana since the 1850s. The year 1850 was mentioned by the old people on occasion.
As you may have concluded by now, I go under the Frederik Antonie name! Which actually comes from my mother's side (my parents were both born Jansen, but as far as I know were not closely related before their marriage). My father, who passed away less than a year ago, was called Zirk Bernardus, and inevitably my older brother carries the same tag!
The "old people", who regrettably have now all passed on, were always very clear that "we came from Graaf-Reinett in the eastern Cape", and that the original Jansen came from Europe in 1753.
There was once several families living at a place called Molepolole, not too far from here, but many of the children moved to Joburg and particularly the Brits area near Pretoria in the past 50 years or so.
I married an English girl from Natal and my children have English names, but my Afrikaans is still passable."
Wat hier volg, is die ongelooflike verhaal wat ontvou het in opvolging van Fred se brief.
In 1760, ongeveer 247 jaar voordat Fred sy brief hierbo geskryf het, is daar vir die Suid-Afrikaanse Jansen-stamvader, Zirke Jansen (#36), ‘n tweede seun, Roelof Andries Jansen (#34), in die Kaap gebore. Zirke Jansen en sy gesin het op hul plasie “Thuynland” in die Drakenstein gewoon waar hy ‘n kleremaker was en ook brandewyn geproduseer het. Roelof was 12 jaar oud toe beide sy ouers hom en sy broer en susters in ‘n skokkende verwikkeling in die somer van 1772 ontval het. Dit moes vir die Jansen-kinders besonder traumaties gewees het – die jongste van die sewe wesies was maar skaars 2 jaar oud toe albei die ouers binne slegs drie maande oorlede is. Die Jansen-kinders het waarskynlik nooit hul Jansen-familie in Oos-Friesland geken nie en hulle is waarskynlik deur hul voogde (hul moeder se Buys-familie) in sorg geneem. Teen 1784, op 24-jarige ouderdom, het Roelof reeds as grensboer op die oewer van die Boesmansrivier op die plaas “De Geelhoute Boom” naby die teenswoordige Alexandrië in die Oos-Kaap ‘n bestaan gemaak.
Elf jaar later, op 22 Februarie 1795 is Roelof en sy eggenote, Elsie Elizabeth Vlotman, met wie hy op 23 Augustus 1789 in Kaapstad getroud is, se derde kind gebore. Die egpaar het hierdie seuntjie op 17 Mei 1795 in Graaff-Reinet as Frederik Antonie Wilhelm Johannes Jansen (#356) laat doop. Groot opgewondenheid het waarskynlik op daardie Sondag in die laat herfs van 1795 in die Jansenhuis op Graaff-Reinet geheers: Behalwe dat dit die egpaar se eerste seun was wat ten doop gebring is, het die seuntjie boonop die name van sy oupa aan moederskant ontvang. Hierdie oupa, Anthonie Frederik Vlotman, was ‘n kleinseun van Anthonie Vlotman, die Suid-Afrikaanse Vlotman-stamvader, oorspronklik vanaf Amsterdam, Nederland. Roelof en Elsie sou dit nie toe kon weet nie, maar met die toekenning van die name “Frederik Antonie” aan hul seuntjie, het hulle ‘n ryk familie-tradisie van naamgewing vir die Jansen-familie begin. Die name word naamlik steeds, na meer as twee-honderd jaar, nougeset deur ‘n groot deel van die Jansen-nageslag aan hul seuns gegee.
Baie min is oor Frederik Antonie Wilhelm Johannes Jansen bekend. Hy is op 9 April 1815 in Graaff-Reinet met Anna Susanna Wilken getroud. Anna is op 12 Mei 1857 oorlede en Frederik is weer getroud, met Maria Elisabeth Magdalena Smit. Hy is op 1 Februarie 1867 oorlede. Frederik en sy eerste eggenote, Anna Susanna, het sewe kinders gehad. Die sewende, Zirk Bernardus Jansen (#376), is op 17 Februarie 1838 in Graaff-Reinet gebore. Dit is hierdie kind wat later saam met sy eggenote sou besluit om die lang pad na die Noorde te vat. Hulle het uiteindelik op die plaas Elandskuil in Ventersdorp se distrik in die Wes-Transvaal gaan vestig.
Dit is nie heeltemaal duidelik presies wanneer hierdie trek na Transvaal plaasgevind het nie, maar Zirk (#376)en sy eggenote, Anna Catharina Swanepoel, se eerste agt kinders is almal voor 1874 in Graaff-Reinet gebore. Die egpaar het ‘n verdere tien kinders gehad, maar hulle geboortedatums en –plekke is nie bekend nie. Daar word gevolglik vermoed dat die trek na die Noorde ten minste na 1874 en waarskynlik na die beëindiging van die Eerste Vryheidsoorlog in 1881, plaasgevind het.
Die eerste Voortrekkers wat die Oos-Kaap omstreeks 1836 begin verlaat het, het die gebied oorkant die Vaalrivier en suid van die Limpoporivier, Transvaal genoem. Voortrekkers wat teen die begin van die veertigerjare van die 19de eeu uit Natal verdryf is, het ook hier gevestig. Hulle het ‘n aantal klein onafhanklike republieke gestig soos byvoorbeeld in Potchefstroom, wat saam met Winburg die kortstondige Republiek van Potchefstroom-Winburg gevorm het. Met die Verdrag van Sandrivier erken die Britse koloniale owerhede in 1852 die onafhanklikheid van die Zuid-Afrikaansche Republiek, waarin die kleiner Boererepublieke in die Transvaal-gebied verenig is.
Die Eerste Vryheidsoorlog het begin nadat Sir Theophilus Shepstone die Sandrivier konvensie verbreek het en Transvaal op 12 April 1877 geannekseer het. Die boere het geprotesteer en die oorlog het daarna uitgebreek. In November 1880 het die eerste openlike konflik tussen Boer en Brit plaasgevind. ‘n Sekere Bezuidenhoudt van Potchefstroom, het geweier om ekstra fooie te betaal op sy ossewa en aangevoer dat hy reeds sy belasting betaal het. Die Britse owerheid het die wa gekonfiskeer, maar 100 Boere onder leiding van Piet Cronje het die wa gaan haal en aan Bezuidenhoudt terugbesorg.
Verskeie veldslae het plaasgevind, met die boere grootliks as oorwinnaars by elk. Die laaste veldslag, by Majuba, was die finale strooi wat die kameel se rug gebreek het. Die Britse Koninkryk is tot in sy fondamente geskud. Die Slag van Majuba was die mees verwoestende van al die veldslae van die Eerste Vryheidsoorlog – nie in omvang nie, maar in krygsvernuf. Die politieke betekenis van die slag was onberekenbaar. Na Majuba is met vredesonderhandelinge begin en 'n vredesooreenkoms is op 21 Maart 1881 geteken. Die Transvaal het sy vryheid herwin. Naas Bloedrivier was dit die belangrikste enkele gebeurtenis vir die Afrikanervolk in sy oorlewingstryd.
Dit word vry algemeen aanvaar dat die Jansens van Graaff-Reinet, soos ook ander medetrekkers, aangespoor was deur die Transvaalse Boere se oorwinning oor Brittanje. Zirk Jansen (#376) en later sy volwasse kinders, se aktiewe betrokkenheid by die Tweede Vryheidsoorlog in 1899 is eweneens ‘n demonstrasie daarvan dat ook hierdie familie se trek na die noorde nie om dowe neute was nie, maar die uitvoering van ‘n werklike wens om van die Britse owerhede te ontsnap. Aangevuur deur groot ongelukkigheid oor die streng beleid van die Britse regeerders in die Kaap, het hulle hul gevestigde lewenswyse opgesê en met hul ossewaens en slegs die nodigste na die noorde getrek. Die beter landbou vooruitsigte van die Transvaal, meer aanloklik as die droë Oos-Kaap, het waarskynlik verder tot die besluit om te trek, bygedra.
Vir die doeleindes van hierdie studie word slegs twee van Zirk en Anna Jansen se agtien kinders genoem: Die een was Zirk Bernardus Jansen (#2960), wat in 1864 in Graaff-Reinet gebore is. Die ander was Frederik Antonie Jansen (#2992), wat op sy beurt in 1874, ook in Graaff-Reinet, gebore is. Die oudste van die twee, Zirk Bernardus, is op 16 September 1886 met Martha Margaretha Kruger, ‘n jonge dogter van Rietfontein, Rustenburg, getroud. Die egpaar het slegs vier kinders gehad toe Martha onverwags oorlede is. Zirk self is in 1942 in Louis Trichardt oorlede en is ook daar begrawe.
Zirk Bernardus Jansen (#2960)
gebore in 1864 te Graaff-Reinet; oorlede in 1942 te Louis Trichardt
Frederik Antonie Jansen (#2992)
gebore in 1874 te Graaff-Reinet; oorlede in 1939 te Molepolole
Die foto's is deur Fred Jansen bygedra
Zirk (#2960) se broer, Frederik Antonie (#2992), is slegs drie dae voor Martha se oorlye met Maria Margaretha Hendrieka le Roux getroud. Frederik was 'n Transportryer en Skoenmaker van beroep. Die egpaar het onmiddelik na hul skoonsuster Martha se dood, haar en Zirk se vier kinders (Martha Magrietha, Anna Catharina, Zirk Bernardus en Daniel Frederik Jansen) aan huis geneem om te versorg. Net asof hierdie traumatiese gebeurtenis nie genoeg was nie, is Frederik en Maria weens hul betrokkenheid by die Anglo-Boere oorlog deur die Britte gevange geneem. Maria en die kinders is na die konsentrasiekamp by Mafeking geneem en Frederik is na Bermuda verban en later na St. Helena verskuif. In vandag se Verenigde Koninkryk sou hierdie miskenning van menseregte waarskynlik tot die Britse regering se val gelei het, maar die optrede van Koningin Victoria en haar Generaals in Suid-Afrika sou onbelemmerd voortgaan om tot die bykans totale uitwissing van ‘n volk te lei. Maria en die kinders het die trauma van die Konsentrasie-kamp oorleef en die egpaar het besluit om die Transvaal te verlaat na Frederik se terugkeer vanaf St. Helena.
Zirk (#2960),se oudste seun, Zirk Bernardus Jansen (#3010), in Ventersdorp gebore op 23 April 1892 en wat saam met sy twee susters en broer by sy oom Frederik (#2992) aan huis grootgeword het, het waarskynlik in navolging van Frederik die Wes-Transvaal verlaat en hulle in Molepolole, Botswana gevestig. Die eerste drie van Frederik en sy eggenote se eie twaalf kinders is tussen 1899 en 1906 in die Wes-Transvaal gebore. Die res is almal tussen 1906 en 1923 in Molepolole, gebore.
Die vermoede bestaan dus dat die emigrasie in 1906 plaasgevind het. Zirk (#2960) self, wat op Louis Trichardt gewoon het, het volgens oorlewering ook na Molepolole verhuis, maar het later teruggekeer na Louis Trichardt waar hy oorlede is en ook begrawe is. Hy is ook deur die Britte tydens die Anglo Boere Oorlog gevang en na Ceylon verban. Daar is ‘n foto van hom wat volgens oorlewering op ‘n skip, wat die bannelinge weggeneem het, geneem is.
Zirk Bernardus Jansen (#3010)
gebore in 1892 te Ventersdorp; oorlede in
1960 te Molepolole
Zirk Bernardus Jansen (#3044)
gebore in 1926 te Molepolole; oorlede in 2006 te
Molepolole.
Die foto's is deur Fred Jansen bygedra
Die Jansens het nie blindweg die vreemde ingetrek nie. Hulle was deeglik bewus van ‘n aantal Boere wat selfs voor die Eerste Vryheidoorlog in ‘n vrugbare vallei by Molepolole gewoon het. Oorlewering wil dit hê dat die Jansens grootwild-jagters was en gereeld in hierdie gebied gejag het. Een van die eerste trekkers wat homself in Molepolole gevestig het, was Gert van Coppenhagen, ‘n voorvader van Zirk (#3010) se toekomstige eggenote (sien later). Daar was tussen 1865 en 1883 ‘n Sendeling met die naam Price werksaam in hierdie omgewing en in ‘n boek "The Journals of Elizabeth Lees Price” onder redaksie van Una Long, is aangeteken dat daar op daardie stadium ongeveer vyftig Boere hoër op in die kloof gewoon het.
Zirk (#3010) het as “Zoon” bekend gestaan in Molepolole. Hy is in 1916 in Molepolole met Jacoba Elizabeth van Coppenhagen getroud. Die Van Coppenhagen familie was toe reeds vir ‘n aantal geslagte in Molepolole woonagtig. Zirk en Jacoba sou nege kinders hê. Twee hiervan, Jacoba Elizabeth Jansen (#3035)en Zirk Bernardus Jansen (#3044), is vir die doeleindes van hierdie studie van belang. Net so is twee van Frederik (#2992) en sy eggenote Maria se kinders, naamlik Zirk Bernardus Jansen (#3036)en Gertina Cornelia Jansen (#3037)van belang. In ‘n klassieke voorbeeld van ondertrouery is hierdie broer en suster met suster en broer soos volg in die eg verbind:
Zirk Bernardus Jansen (#3036) trou in Molepolole met sy neef se dogter, Jacoba Elizabeth Jansen (#3035). Die huweliksdatum is onbekend, maar hulle is onderskeidelik op 17 Maart 1983 en 17 Julie 1963 in Molepolole oorlede. Beide is in die dorp se begraafplaas begrawe.
Zirk Bernardus Jansen (#3044) trou in Molepolole met sy vader se niggie, Gertina Cornelia Jansen (#3037). Hierdie huwelik het op 11 Mei 1948 plaasgevind. Die egliede is onderskeidelik 15 Maart 2006 en 29 September 1997 in Molepolole oorlede en ook daar begrawe.
Beide egpare het die name Zirk Bernardus en Frederik Antonie in hul kinders laat voortleef. Eersgenoemde egpaar se seuns, Zirk Bernardus Jansen (#3055), is in Julie 1936 gebore, terwyl Frederik Antonie Jansen (#3061) op 2 Maart 1938 gebore is. Laasgenoemde egpaar se seuns, Zirk Bernardus Jansen (#3129) en Frederik Antonie Jansen (#3150), is onderskeidelik op 14 Desember 1951 en 19 September 1953 in Molepolole gebore. Laasgenoemde twee broers het ‘n suster, Jacoba Elizabeth Jansen (#3158, Elsa van Rooyen), wat die genealogiese data vir die Jansens van Molepolole saamgestel het en wat as basis gedien het om hierdie brokkie geskiedenis vir die Jansen-familie neer te pen. ‘n Groot bydrae tot die register is ook deur ‘n ander familielid, Rina Oosthuizen van Ellisras, gemaak.
Van Links na Regs: Alexander Andrew Jansen (#3152), Gennai Lyndsay Holtzhausen, Calley-Jane Jansen (#3153), en Frederik Antonie (#3150, Fred) Jansen. Laasgenoemde het die saamstel van die meegaande artikel oor die Jansens van Wes-Transvaal en Molepolole met sy brief aan die outeur van die artikel geïnisieer. Dankie aan Fred vir die foto.
Fred Jansen het in sy oorspronklike brief die volgende opmerking gemaak:
“My family, as far as I am aware, has been in what is now Botswana since the 1850s. The year 1850 was mentioned by the old people on occasion. The ‘old people’, who regrettably have now all passed on, were always very clear that ‘we came from Graaf-Reinett in the eastern Cape’, and that the original Jansen came from Europe in 1753."
Die “Ou Mense” na wie Fred verwys het, was natuurlik in die kol met hul kennis van waar die Jansens van Molepolole afkomstig was, asook hul kennis van die Jansen-stamvader se aankomsdatum in Suid-Afrika. Die oorlewering oor wanneer die Jansens na Botswana uitgewyk het was egter nie korrek nie. Soos deur die outeur se navorsing uitgewys, was daar wel Afrikaner families in Botswana woonagtig sedert die middeljare van die negentiende eeu, maar die Jansens self het eers na 1806 verhuis na die vrugbare vallei by Molepolole. Dit is egter wel so dat hulle tydens hul jagtogte waarskynlik vir lang periodes in Botswana woonagtig kon wees en dan welbekend in daardie kontrei sou wees.
Dit het die outeur hiervan groot plesier verskaf om hierdie stukkie geskiedenis te kon neerskryf. ’n Groot eer het hom te beurt geval toe hy Fred persoonlik kon ontmoet toe laasgenoemde in die herfs van 2010 in Londen was vir besigheid. Die outeur is besonderse dank aan Fred Jansen en sy suster Elsa van Rooyen verskuldig vir hul bydrae om die geskiedenis van hierdie besondere tak van Suid-Afrika se Jansens lewendig te maak.
Al die komplekse familieverbintenisse wat hierbo beskryf is, word in die twee diagramme hier onder saamgevat.
Diagram 1. Afstammingstafel vir Frederik Antonie Wilhelm Johannes Jansen (#356), Patriarg van die Jansens van Molepolole, Botswana en sy verbintenis met die Jansen-stamvader, Zirke Jansen (#36) van Neustadtgödens in Oos-Friesland, Duitsland.
Diagram 2. Afstammingstafel vir Frederik Antonie Jansen (#3150), wat die bestaan van die Jansens van Molepolole aan die outeur hiervan bekend gemaak het, sy broer Zirk Bernardus Jansen (#3129), wat steeds, na 207 jaar, die Jansen-stamvader se naam dra, en van hul suster, Jacoba Elizabeth Jansen (#3158), wat die Botswana tak van die Jansens nagevors en opgeskryf het.