Die Groot Trek - Opsomming

- Opsteller en skrywer - Ferdie Jansen - RIV
- Opsigter en byvoegings - Simon Jansen

Die Groot Trek

Die Groot Trek (Nederlands: de Grote Trek) verwys na die massa-migrasie, vanaf die jaar 1835, van Kaapse Nederlandssprekende burghers na die Suid-Afrikaanse binneland om onder andere weg van Britse beheer af te kom. Die immigrante was afstammelinge van setlaars vanuit die westelike vasteland van Europa, veral uit Nederland, Noordwes-Duitsland en Hugenote uit Frankryk. Die Groot Trek het gelei tot die stigting van verskillende Boererepublieke vernaamlik die Natalia Republiek, die Oranje-Vrystaat en die Transvaal. Die Trek het ook gelei tot die verplasing van die Matabele na die noorde van die Limpopo rivier en tot die omverwerping van die Zoeloe-koning Dingaan.

Inleiding

Pierneef se skildery: Die Groot Trek

Weens die onrus aan die Kaapse Oosgrens en ’n verskeidenheid van griewe teen die Britse owerheid het ’n paar duisend Afrikaanssprekende boere tussen 1834 en 1837 hul plase verlaat en na Natal, Transvaal en Vrystaat getrek. Hulle wou ’n onafhanklike staat vestig waar hul hulself volgens eie oortuiging kon regeer.

Die swaartepunt van die Groot Trek was in Natal, totdat die gebied in 1842 deur Brittanje geannekseer is. Daarna het ’n sogenaamde Tweede Trek na Transvaal en Transoranje (Vrystaat) ontstaan. Voortdurende botsings tussen die heterogene bevolkingsgroepe van Transoranje (Vrystaat) het meegebring dat Brittanje die gebied in 1848 geannekseer het. Transvaal (Gauteng) het egter onafhanklik gebly en kon deur die Sandrivier-konvensie (1852) amptelike Britse erkenning van sy onafhanklikheid ontvang. Die konvensie was die begin van ’n ommeswaai in die Britse beleid ten opsigte van die Trekkers en het uiteindelik ook gelei tot die Bloemfontein-konvensie (1854), waarmee Brittanje onafhanklikheid aan Transoranje (Vrystaat) verleen het.

Die Groot Trek, wat in 1834 begin het en eers 20 jaar later met die ondertekening van die Bloemfontein-konvensie afgerond is, was ’n ordelike emigrasie van sowat 10 000 Afrikaner-grensboere uit ’n toestand wat vir hulle ondraaglik geword het.

Hulle was ontevrede oor die Britse beleid aan die Oosgrens van die Kaapkolonie en oor die behandeling wat hulle van die Britse owerheid ontvang het. Met die doel om ’n onafhanklike staat te stig, weg van Britse invloed, het hulle hul plase in die Oosgrensdistrikte van die Kaapkolonie verlaat en na die binneland getrek.

In die opsig was die Groot Trek dus ’n vreedsame rebellie en die begin van die Afrikaner se nasiewording. Hoewel die Groot Trek in sommige van sy doelwitte gefaal het, was dit ’n gebeurtenis van deurslaggewende belang in die geskiedenis van Suid-Afrika. Met die konvensies van Sandrivier (1852) en Bloemfontein (1854) het twee onafhanklike Boererepublieke in die binneland tot stand gekom, terwyl Brittanje in daardie stadium, juis as gevolg van die Groot Trek, van Natal besit geneem het. Binne die relatief kort tydsbestek van 20 jaar het die Groot Trek dus die noordgrens van blank-bewoonde Suid-Afrika van die Oranjerivier na die Limpoporivier verskuif en gestalte gegee aan Suid-Afrika soos hy vandag daar uitsien.

Oorsake

Die Voortrekkers se griewe teen die Britse owerheid, op geestelike sover as materiële gebied, het hulle onderskei van die trekboerbeweging. Die trekboere was sedert die tweede helfte van die 18e eeu ’n algemene verskynsel in die Kaapkolonie. Hulle was halfnomadiese veeboere wat voortdurend na nuwe en beter weivelde verskuif het. Ten tyde van die Groot Trek het baie van die trekboere hulle reeds permanent in Transoranje (Vrystaat) gevestig. Hulle het egter om suiwer materiële redes uit die Kaapkolonie getrek, was lojaal teenoor die Britse owerheid en het geen permanente breuk met die Kolonie in gedagte gehad nie. Die Voortrekkers, daarenteen, het juis uit die Kolonie geëmigreer met die doel om nooit terug te keer nie en om alle bande met die Britse owerheid te verbreek.

Piet Retief se manifes wat in die Grahamstown Journal van 2 Februarie 1837 verskyn het, gee ’n uiteensetting van die beweegredes vir die Trek.

Een van die hoofoorsake van die Groot Trek was die voortdurende onrus aan die Oosgrens van die Kaapkolonie. Die grensoorloë het met grootskaalse veerowery, verwoesting en aansienlike lewensverlies gepaard gegaan. Die toestand is vererger deurdat die Britse owerheid vanweë die voortdurende wisseling van goewerneurs en ministeries geen konsekwente beleid ten opsigte van die grensprobleme gevolg het nie.

Oor die algemeen is daar ook nie simpatiek teenoor die boere opgetree nie. Daar is voortdurend toegegee aan druk wat deur invloedryke filantrope op die imperiale regering uitgeoefen is. Gegronde griewe van die boere is dikwels veroordeel as onnodige aggressie teenoor die Xhosas. Om koste te bespaar, het die Britse owerheid nooit ’n toereikende aantal troepe aan die Oosgrens gestasioneer nie. Die boere was gevolglik in toenemende mate op die kommandostelsel aangewese, nie net vir hul eie beskerming nie, maar ook vir die terughaal van gesteelde vee. Vir ammunisie en voorrade was die kommando’s egter afhanklik van die owerheid se steun, iets wat steeds ontoereikender geword het namate die druk van die filantrope toegeneem het.

Die filantrope het die kommandostelsel as ’n euwel beskou en die boere daarvan beskuldig dat hulle dit misbruik om die Xhosas van vee te beroof. In 1833 is die kommandostelsel dan ook afgeskaf. By die boere het die gedagte posgevat dat die Britse owerheid hulle nie wou en ook nie kon beskerm nie. Die afskaffing van die kommandostelsel het die boere tydens die verwoestende Sesde Grensoorlog (1834/35) onbeskermd gelaat. Die verliese wat hulle in die oorlog gely het, het op R600 000 te staan gekom. Die nuwe grensreëlings wat na beëindiging van die oorlog deur die Kaapse goewerneur, sir Benjamin D'Urban, ingestel is, is kort daarna deur die Imperiale regering verwerp.

Boonop is die boere deur die regering daarvan beskuldig dat hulle self vir die oorlog verantwoordelik was en is die beloofde, hoewel geringe, skadevergoeding nooit uitbetaal nie. Die grensboere het alle vertroue in die owerheid verloor en geglo dat die Britse regering, wanneer dit op stuk van sake sou kom, niks sou doen om hulle van algehele ondergang te red nie. Die onsekerheid van die lewe aan die Oosgrens, soos veral weerspieël is in die Sesde Grensoorlog en in die Britse houding daarna, was ’n onmiddellike oorsaak van die Groot Trek. Daar was egter ook ander griewe, op materiële sowel as geestelike gebied, wat die emigrasie-idee onder die grensboere laat posvat het.

Die Groot Trek se roetes op 'n kaart aangedui

Die belangrikste hiervan was ’n gebrek aan arbeid, grond en kapitaal, die ongunstige voorwaardes waarop die slawe vrygestel is (1834), die gelykstelling van die Hottentotte (1828), die feit dat die grensboere geen seggenskap in bestuursake gehad het nie en die bereid van verengelsing sedert 1822. Sedert 1813, toe die pagstelsel deur die erfpagstelsel vervang is, was grond moeiliker bekombaar en het plase ook kleiner geword. Ingevolge die nuwe stelsel het boere besitreg op hul plase verkry in plaas daarvan dat dit net teen ’n vaste bedrag jaarliks aan hulle verhuur is. Weens swak administrasie het boere in baie gevalle na ’n lang tyd nog nie kaart en transport op hul grond ontvang nie. Dit het onsekerheid oor hul eienaarskap laat ontstaan en hulle daarvan weerhou om verbeterings op die plase aan te bring. Die grondskaarste is vererger deur die dooie punt wat die ooswaartse migrasie bereik het. Die konsentrasie van blankes en swart mense aan weerskante van die Oosgrens was juis die grondliggende oorsaak van die onrus wat geheers het. Die boere het gemeen die Kaapkolonie het te klein geword vir hul uitgebreide veeboerderye.

Nou verwant aan die grondskaarste was die skaarste aan kapitaal. Daar was nooit baie geld in die Kaapkolonie in om loop nie omdat die ekonomie basies nog op ruilhandel ingestel was. Die situasie is vererger deurdat die uitgifte van groot somme papiergeld die waarde van geld verminder het. In 1825, toe die Engelse muntstelsel in die Kaapkolonie ingevoer is, moes ’n riksdaalder wat voorheen sowat 40 sent werd was, ingeruil word vir slegs 15 sent. Hoewel banke, geldskieters en dorpbewoners die meeste daardeur getref is, het talle grensboere tog ook daaronder gely. Ordonnansie 50 van 1828 het alle vorige wetgewing insake die Hottentotte herroep en aan hulle gelykstelling met die blankes verleen.

Die passtelsel waardeur die bewegings van die bruin mense beheer is asook die inboekstelsel waarvolgens Hottentotkinders vir ’n bepaalde aantal jare by ’n boer moes werk, is daardeur opgehef. Die ordonnansie het die boere meteens van alle seggenskap oor hul arbeiders ontneem. Bruin mense was nou nie meer verplig om te werk nie en duisende het rondgeloop en van diefstal geleef. Van die sowat 32 000 bruin mense in 1836 aan die Kaap het tussen 8 000 en 10 000 sonder vaste werk rondgeswerf. Die ordonnansie het die boere op twee maniere nadelig getref: aan die eenkant het hulle baie van hul arbeiders verloor omdat die Hottentotte nie meer gedwing kon word om te werk nie, en aan die ander kant het hulle slagoffers geword van die astrantheid van rondlopende bruin mense wat van diefstal geleef het eerder as om te werk.

Dit was nie altyd moontlik of lonend vir ’n boer om 2 of 3 dae te perd na die naaste magistraat te ry om ’n klag in te dien teen ’n Hottentot wat oortree het nie. Die arbeid- en kapitaalskaarste is verder vererger deur die vrystelling van die slawe. Die waarde van die Kaapse slawe is op R6 miljoen vasgestel, maar slegs R2,5 miljoen sou uitbetaal word. Die betaling het ook nie in kontant geskied nie, maar in Britse aandelesertifikate wat in Londen gehaal moes word. Omdat dit vir die boere onmoontlik was om die reis na Londen af te lê, het hulle hul eise teen ’n breukdeel van die Groot Trek waarde aan spekulante verkoop. Daardeur het hulle nie net geweldige verliese gely nie, maar is hulle ook van nog ’n bron van arbeid ontneem.

Die meeste boere was gegrief deur die morele en sosiale implikasies van Ordonnansie 50 van 1828. Hulle het die gelykstelling tussen blank en nie-blank as "strydig met die Woord van God" beskou. Hulle het ’n onderskeid getref tussen hulself en die bruin mense, nie net op godsdienstige gebied nie (die kerstening van bruin mense was toe nog in die beginstadium), maar ook wat die fisieke en maatskaplike ontwikkeling betref het. Hulle het gemeen dat die gelykstelling ondraaglik was vir enige fatsoenlike Christen.

Die rondlopery en astrantheid van die Hottentotte het hulle net nog heftiger laat reageer. Hoewel die nasionale bewussyn van die Afrikaner aan die vooraand van die Groot Trek nog nie ten volle ontluik het nie, het hulle tog sedert die einde van die 1880's ’n gevoel van nasionale samehorigheid geken. Deur die stelsel van landdros en heemrade het hulle ’n mate van seggenskap in plaaslike bestuursake verkry. Die stelsel is met die Britse oorname beëindig. Dit was die Britse beleid om waar moontlik Britse offisiere as magistrate aan te stel. Weereens onder druk van die filantrope is die regsgesag van die veldkornette ook ingekort. Britse amptenare is aangestel om die regte van die nieblankes teenoor die grensboere te beskerm. Die boere was gegrief omdat hulle nie geken is in sake wat hulle intiem geraak het nie, veral die nie-blanke beleid en die wyse waarop die vrystelling van die slawe geskied het.

Sommige Voortrekkers het ook die beleid van verengelsing in die regspraak, skole en kerke as ’n rede vir hul emigrasie aangegee. Daar is reeds in 1822 met die beleid begin, maar ten tyde van die Groot Trek is dit nog nie heeltemal deurgevoer nie, veral nie in die afgeleë grensdistrikte waar ’n praktiese toepassing van die beleid die plaaslike administrasie in duie sou laat stort het nie. Voor en gedurende die Groot Trek is daar dus nog in baie gevalle van Hollands gebruik gemaak in amptelike korrespondensie en dokumente. Dit het in daardie stadium egter vir baie Afrikanerboere gelyk of algehele verengelsing uiteindelik toegepas sou word.

Ontplooiing

Met sy vertrek uit Grahamstad neem Voortrekker J.J. Uys ’n bybel in ontvangs van Vrederegter Thomas Phillips. Die fries sowel as die bybel kan in die Voortrekkermonument besigtig word. Namate die grensboere se griewe toegeneem het en van owerheidsweë niks gedoen is om hulle tegemoet te kom nie, het die gedagte om te emigreer, al hoe stewiger posgevat. Omdat die Trekkers hul voorbereidings in die geheim gedoen het, is dit nie seker waar en by wie die trekgedagte ontstaan het nie. Om dieper die binneland in te trek, waar hulle weg van Britse invloed hul belange self kon behartig, was vir hulle aanvaarbaarder as emigrasie na oorsese gebiede of as gewapende opstand. Boonop was die grensboere beweeglik van aard. Die ontwikkeling wat hulle in vorige geslagte as trekboere (van die een leenplaas na die ander) ondergaan het, het meegebring dat hulle hulle fisiek en geestelik by die trekkerslewe sou kon aanpas. In die derde dekade van die 19e eeu was die binneland van Suid-Afrika nie heeltemal onbekend nie. In Transoranje (Vrystaat) het daar benewens die trekboere ook Griekwas en Korannas gewoon. Hulle was afstammelinge van Hottentotte en ander gekleurdes wat hulle lank tevore daar gevestig het. Die Basoeto’s, onder leiding van Mosjesj, het in die bergagtige ooste van Transoranje (Vrystaat) gewoon. Hul geledere is aangevul deur klein stamme wat vroeër in die eeu voor die skrikbewind van Shaka gevlug het. Verder ooswaarts, in die omgewing van Port Natal, was Britse jagters, handelaars, sendelinge en selfs setlaars. Die grootskaalse migrasiebewegings wat deur die Mfecane (Shaka se skrikbewind) veroorsaak is, het groot dele van die binneland – Transoranje (Vrystaat), Natal en dele van Transvaal onbevolk gelaat. Dit was die streke wat die Trekkers aangelok het. Jagters en ander avonturiers het voortdurend kennis omtrent die binneland in die Kaapkolonie rugbaar gemaak.

Die voornemende Trekkers se kennis omtrent die binneland is verder uitgebrei deur 3 ekspedisies wat in 1834 onderskeidelik na Natal, die Soutpansberge en Suidwes-Afrika vertrek het. Die ekspedisie na Natal, onder wie Jacobus Uys, broer van Pieter, en Stephan Maritz, broer van Gerrit, het deur die latere Transkei gereis en met ’n gunstige verslag teruggekeer. Hulle het met die Britte by Port Natal kontak gemaak en was van mening dat die Trekkers en die Britte op vriendskaplike voet met mekaar sou kon verkeer. Die hawe van Port Natal sou hulle ook van handel en kontak met die buitewêreld verseker. Baie Trekkers het egter hul bedenkinge oor die Britse teenwoordigheid in Natal gehad, en het uiteindelik verkies om verder noordwaarts oor die Vaalrivier te trek. Die vinnige opeenvolging van gebeure aan die Oosgrens in 1835/36 (die Sesde Grensoorlog, die Glenelg Despatch waarmee die nuwe grensreëlings omvergewerp is en die aanstelling van die filantropiese Andries Stockenström as luitenant-goewerneur) het die noordwaartse emigrasie aan die gang gesit. Aanvanklik het die Britse regering ’n weifelende houding teenoor die Groot Trek ingeneem. Dit was ’n unieke verskynsel waarmee hulle nog nie tevore te kampe gehad het nie. Die goewerneur, sir Benjamin D'Urban, het dit as uiters nadelig vir die Kolonie beskou. Die Koloniale Sekretaris, lord Glenelg, en Andries Stockenström het dit as deel van die trekboerbeweging beskou en het daarom nie daadwerklik opgetree nie. In 1836 is die "Cape of Good Hope Punishment Act", ’n wet wat ’n paar jaar tevore met die oog op die trekboere ontwerp is, teen die Voortrekkers uitgevaardig. Dit het bepaal dat almal suid van 25 grade suiderbreedte (dit is selfs verder noord as die huidige Pretoria) onder Britse jurisdiksie val. Die Trekkers het die Kaap in groepe verlaat, elke groep met ’n erkende leier. Die vernaamste leiers, in die volgorde waarin hulle die Kaap verlaat het, was Louis Tregardt en Hans van Rensburg, Andries Hendrik Potgieter, Gerrit Maritz, Piet Retief, Piet Uys en Andries Pretorius.

Louis Tregardt

Met die uitbreek van die Sesde Grensoorlog in 1834 het Louis Tregardt en sowat 30 ander gesinne geruime tyd reeds in Xhosaland (Oos-Kaap) gewoon op grond wat hy van Hintsa gehuur het. Die oorlog het hom in ’n moeilike posisie geplaas en hy het besluit om met ’n geselskap van sowat 50 noordwaarts te trek. In Transoranje (Vrystaat) het die trek van Hans van Rensburg, afkomstig uit die noordoostelike distrikte van die Kaap, by hom aangesluit. Tregardt (1783–1838 - "Tregard" tot in 1882) en Hans van Rensburg (1779–1836) het onafhanklik van die ander Trekkers opgetree en was streng gesproke nie deeI van die Groot Trek nie.

Hoewel hul trekke niks blywends tot stand gebring het nie, het hulle tog waardevolle pionierswerk gedoen. Tregardt, met die Van Rensburgs altyd ’n entjie vooruit, het die Soutpansberge in 1836 bereik. Kort na sy aankoms het hy besoek ontvang van Potgieter en belowe om op die Potgieter-trek te wag. Die Van Rensburgs, wat intussen alleen vooruitgetrek het op pad na Lourenço Marques (die huidige Maputo), is in Julie 1836 deur inboorlinge by die sameloop van die Olifants- en die Limpoporivier vermoor. Tregardt het ’n jaar lank vergeefs op Potgieter gewag. Toe sy voorrade begin opraak, het hy besluit om ooswaarts oor die Transvaalse Drakensberge na Lourenço Marques te trek. Langs die pad het sy trekgeselskap talle ontberings deurgemaak, hoofsaaklik weens die koors en tsetsevlieë wat die trekvee afgemaai het. Slegs 26 van die 53 siele wat die Soutpansberge verlaat het, het Lourenço Marques in April 1838 bereik. Die helfte van die oorlewendes, insluitende Tregardt en sy vrou, is in Lourenço Marques aan koors oorlede. In 1839 het die Trekkers in Natal ’n skip gestuur om die Tregardtmense in Lourenço Marques te gaan haal. Tregardt het ’n dagboek aangehou wat nie net ’n waardevolle bron van inligting oor sy trek is nie, maar ook ’n interessante kyk op die pionierslewe bied. Sy seun, Carolus, het later ’n bekende jagter en ontdekkingsreisiger geword.

Andries Hendrik Potgieter

"Blouberg" Potgieter (1792–1852) het aan die einde van 1835 ’n trekgeselskap vanuit die Tarkagebied gelei. Sarel Cilliers en Paul Kruger, toe ’n seun van 10 jaar, was deel van sy trek. In Transoranje (Vrystaat), tussen Thaba Nchu en die Vetrivier, het Potgieter sy trek agtergelaat en saam met ’n klompie mans noordwaarts na die Soutpansberge gery. Daar het hy Louis Tregardt ontmoet en hom gevra om op sy trek te wag. Potgieter wou so ver moontlik wegkom van Britse invloed.

Hy was derhalwe nooit ten gunste van Natal nie en wou hom anderkant 25 grade suiderbreedte vestig. Hy het gehoop dat die Trekkers in Transvaal (huidige Gauteng, Limpopo, ens.) Lourenço Marques as ’n hawe sou kon gebruik. Die grond wat Potgieter van Makwana, die Barolongkaptein, tussen die Vet- en die Vaalrivier geruil het, het Silkaats, opperhoof van die Matebeles in Transvaal, ongerus gemaak. Die Trekkers het uit dieselfde rigting gekom as die Griekwas en Korannas, wat ook gewapende perderuiters was en hom kort tevore bedreig het. Vanuit sy hoofstat, Mosega, in Wes-Transvaal, het hy impi’s gestuur om die wit mense "op te eet". Die Trekkers was in daardie stadium oor ’n groot gebied versprei en het hulle nie aan waarskuwings van Matebelegevaar gesteur nie.

Sommige van hulle, onder wie die Liebenbergs, is deur die Matebeles oorval en uitgemoor. Die aanvalle op die Trekkers het in Potgieter se afwesigheid geskied. Met sy terugkoms het hy dit gerade geag om in die omgewing van die moderne Heilbron laer te trek, omdat hy geweet het dat Silkaats later ’n veel groter mag teen die Trekkers sou stuur. Op of omstreeks 23 Oktober 1836 het ’n impi van 6 000 die laer by Vegkop aangeval. Sowat 40 gewapende mans het die aanval afgeweer, maar die Matebeles het al die vee weggevoer. Met die hulp van die Barolongs, die Wesleyaanse sendeling James Archbell en Gerrit Maritz, wat intussen in Transoranje (Vrystaat) aangekom het, het die Potgietertrek na Thaba Nchu teruggekeer.

Gerrit Maritz

Gerrit Maritz (1797- 1838) het in 1836 uit die distrik Graaff-Reinet getrek. Hy was ’n voorste burger, bekend as ’n knap sakeman en kerkleier. Sy trek het uit ongeveer 200 volwasse mans en 100 waens bestaan. Hy was vergesel van sy swaer, Erasmus Smit, ’n oudsendeling van die Londense Sendinggenootskap en oudonderwyser. Hy is later aangewys as die Trekkers se predikant, hoewel hy vir baie van hulle onaanvaarbaar was. Die Kaapse Sinode het die Groot Trek veroordeel en die Trekkers later onder sensuur geplaas.

Die gevolg was dat geen predikant sy weg oopgesien het om die Trekkers te vergesel nie. Vir hul godsdiensleiding was die Trekkers aangewese op Britse en Amerikaanse sendelinge in die binneland, totdat eenheid probeer bewerkstellig is deur die aanstelling van Erasmus Smit. Na die aankoms van Maritz by Thaba Nchu is die eerste en ietwat primitiewe Voortrekkerregering saamgestel: Maritz is gekies as voorsitter van ’n burgerraad van 7 lede, terwyl Potgieter as kommandant-generaal aangestel is.

In Januarie 1837 het 2 kommando’s, onderskeidelik onder leiding van Potgieter en Maritz en bestaande uit 107 man, na Mosega vertrek om die gebuite vee terug te bring. Die feit dat die strafekspedisie 2 afsonderlike leiers gehad het, was reeds ’n aanduiding van die onvermoë wat die Trekkers later sou ondervind om saam te staan en eenheid te bewerkstellig. Die Matebeles was onvoorbereid op die aanval en is weswaarts teruggedryf, hoewel hul mag nog nie gebreek was nie. Mosega is vernietig en 7 000 stuks vee is gebuit. Onenigheid het ontstaan oor die verdeling van die gebuite vee en teen die tyd dat Piet Retief se trek Thaba Nchu in April 1837 bereik het, het Potgieter en Maritz nie meer saamgewerk nie.

Pieter Retief (1780- 1838)

Retief, wat in Februarie 1837 uit die omgewing van die Winterberge getrek het, het sy trekredes in sy Manifes uiteengesit. Die Manifes is op 2 Februarie 1837 in die Graham’s Town Journal gepubliseer en later ook in ander koerante. Dit was ’n keerpunt in die ontplooiing van die Groot Trek: Retief het nie net sy eie trekredes bekend gemaak nie, maar ook ’n aanduiding gegee van die beleidsrigting wat die beoogde Afrikanerstaat in die binneland sou volg.

Hy het ’n beroep op ander boere gedoen om die onveiligheid van die Oosgrensrewe te verruil vir die sekuriteit wat hulle in ’n eie staat sou kon geniet. Die Manifes is nie net ’n goeie bron van inligting oor die redes vir die Groot Trek nie, maar gee ook ’n aanduiding van die doelstellings van die Trekkers. Retief het aan die Oosgrens ondervinding opgedoen in plaaslike bestuur, onder meer as kommandant. Hy was ’n bekende en gesiene man en die Trekkers in Transoranje (Vrystaat) het gretig op sy koms gewag. Hulle het gehoop hy sou eenheid kon bewerkstellig en ’n koersvaste rigting aan die Groot Trek gee. Kort na sy aankoms by Thaba Nchu het die Trekkers ’n volksvergadering gehou (April 1837) waarop hy as hoofleier met die titel "goewerneur" gekies is.

Hy is ook gekies as kommandant-generaal. Maritz het aangebly as hoof van die regspleging en was ook president van die Raad van Politie, die voorloper van die Volksraad wat later in Natal in die lewe geroep is. Potgieter is oor die hoof gesien. Die feit dat Potgieter geen aandeel in die nuwe regering gehad het nie, het die onenigheid onder die Trekkers vererger. In die winter van 1837 het die Trekkers in Transoranje (Vrystaat) vertoef terwyl gepoog is om eenstemmigheid te bereik oor die trekrigting wat ingeslaan moes word. Retief, Maritz en Piet Uys (wat in April 1837 uit die distrik Uitenhage getrek het) was ten gunste van Natal.

Potgieter het Britse inmenging in Natal gevrees en wou noordwaarts oor die Vaalrivier trek, waar hy hom by Tregardt wou aansluit. Solank die Matebelegevaar voortgeduur het, kon hy nie sy belofte nakom om hom by Tregardt in die noorde van Transvaal (Soutpansberg) aan te sluit nie. ’n Ekspedisie wat hy gestuur het om na Tregardt te soek, het onverrigter sake teruggekeer. Uiteindelik is besluit om Natal toe te trek, maar ook dat die Matebelegevaar eers uitgewis moes word. In Oktober 1837 het Retief, vergesel van 15 man, na Natal vertrek om die setlaars by Port Natal te besoek en met Dingaan, opperhoof van die Zoeloes, oor grond te onderhandel. Vroeg in November het Potgieter, wat hom intussen langs die Vetrivier gevestig het, saam met Uys op ’n tweede strafekspedisie teen die Matebeles vertrek.

In ’n slag wat 9 dae geduur het, het hulle Silkaats se nuwe hoofstat, Kapain, ingeneem en die Matebeles ver noordwaarts verdryf. Andries Pretorius, ’n besoeker uit die Kaap, het die veldtog teen die Matebeles meegemaak. Op 14 November 1837, die dag waarop die veldtog teen die Matebeles afgesluit is, het die eerste Voortrekkerwaens aan die Natalse kant van die Drakensberge gestaan. Vroeg in 1838 was al die Trekkers, insluitende Potgieter, reeds in Natal.

Moord op Retief

Koning Dingaan sluit die traktaat met Piet Retief, soos uitgebeeld op ’n fries in die Voortrekkermonument

Attach:dingaanstad.jpg Δ

Voortrekkers word onverhoeds deur ’n impi van Dingaan aangeval

Retief en sy volgelinge het Port Natal aan die einde van Oktober besoek en weer ’n maand later, na sy besoek aan Dingaan by uMgungundlovu. Die Britte in Natal het die Trekkers vriendelik ontvang. Die landbouprodukte wat die Trekkers sou lewer, sou hul eie handel laat floreer en terselfdertyd sou ’n blanke staat aan hulle sekuriteit teen die Zoeloes verskaf. Alexander Biggar, een van die setlaars, het Retief meegedeel dat Dingaan in Junie 1837 die stuk grond tussen die Umgeni en die land van Faku aan die Britse Kroon afgestaan het.

Die sendeling A.F. Gardiner het kragtens die Cape of Good Hope Punishment Act as Britse magistraat in die gebied opgetree. Die meeste van die Natalse setlaars het egter sy gesag verwerp. By uMgungundlovu het Dingaan Retief daarvan beskuldig dat die Trekkers van die Zoeloes se vee gesteel het. Nadat Retief aan hom verduidelik het dat die vee in werklikheid deur die onderdane van Sekonyela geroof was, het hy beloof om die gebied tussen die Tugela en die Umzimvubu aan die Trekkers af te staan. Retief moes egter eers die vee wat Sekonyela gesteel het, terugbring as bewys dat die diefstal nie deur die Trekkers gepleeg is nie. In Januarie 1838 het Retief en ’n kommando daarin geslaag om die gesteelde vee by Sekonyela af te neem.

Vergesel van sowat 70 man, onder wie sy eie tienderjarige seun en 30 gekleurde agterryers, het Retief op 3 Februarie by uMgungundlovu aangekom met die doel om die gesteelde vee terug te gee en ’n traktaat van grondafstand te laat onderteken. Die traktaat is gedateer 4 Februarie en is op 6 Februarie onderteken. Dingaan het intussen reeds besluit om die Trekkers te vermoor, ’n besluit waarby vrees sekerlik geen geringe rol gespeel het nie. Hy het die blankes met hul perde (horinglose beeste) en hul gewere (vuurstokke) as towenaars beskou.

Hy was deeglik bewus van die nederlaag wat die Matebeles teen die blankes gely het. In ’n brief wat Retief vroeër uit Port Natal deur bemiddeling van die sendeling Owen Wood aan die Zoeloekoning gestuur het, het hy gewys op die swaar straf wat die Matebeles van die Trekkers ontvang het en bygevoeg dat die God van die blankes ’n slegte koning nie lank laat lewe nie. Bowendien was dit die Zoeloekonings se tradisionele beleid om nie sterk bure te duld nie. Later het Dingaan ook aan sendelinge verduidelik dat hy die blankes vermoor het omdat hulle van hul "koning af weggeloop het".

Op 6 Februarie 1838 het Retief en sy volgelinge op versoek van Dingaan ongewapen en te voet die stat binnegegaan vir ’n afskeidsbyeenkoms. Hulle het herhaalde waarskuwings van William Wood, ’n 12-jarige seun wat by die sendeling Owen ingewoon en die Zoeloes baie goed geken het, geïgnoreer. Binne-in Dingaan se kraal is die blankes deur die dansende impi oorweldig en na ’n koppie buite uMgungundlovu gesleep, waar hulle vermoor is.

Die Vlugkommando

’n Replika van koning Dingaan se groot gehoorsaal, die iNdlunkulu, is op die oorspronklike staanplek te uMgungundlovu opgerig.

Monument vir die vermoorde Retiefgeselskap, te Moordkoppie, uMgungundlovu

Die Wenkommando lê die gelofte af, soos uitgebeeld in die 1938-film Die Bou van ’n Nasie Ten tyde van die moord op Retief was Potgieter se trek nog aan die voet van die Drakensberge, terwyl Piet Uys se hele trek nog bo-op die berge was. Die trekke van Retief en Maritz het egter, ondanks hul leiers se waarskuwings om naby mekaar te bly, geleidelik langs die Tugela en sy vertakkings versprei in die nag van 16 tot 17 Februarie 1838 het die impi’s van Dingaan die voorhoede van die Trekkers langs die Bloukrans- en die Boesmansrivier oorrompel. Sowat 300 blankes en meer as 200 nie-blanke bediendes is vermoor. Die aanval is eers die middag teen die laer van Gerrit Maritz gestuit. Die Voortrekkerdorpie wat later daar aangelê is, is Weenen genoem.

Hoewel die Zoeloes teruggeval het, was hul mag nog lank nie gebreek nie. Daar is besluit om ’n kommando onder aanvoering van Potgieter en Uys na uMgungundlovu te stuur. Die kommando van sowat 350 man het op 6 April uit die laers vertrek en is ’n paar dae later anderkant die Buffelsrivier by Italeni deur die Zoeloes in ’n hinderlaag gelei. Pieter Uys, sy seun Dirkie en 9 ander het gesneuwel.

As gevolg van kritiek wat uitgespreek is teen sy aanvoering van die "Vlugkommando" (soos die mislukte ekspedisie bekend geword het), het Potgieter en sy volgelinge Natal permanent verlaat. Hulle het hulle op die Hoëveld naby die Vetrivier gevestig en Winburg aangelê. Min of meer gelyktydig met die nederlaag by Italeni het die Britse setlaars en hul swart volgelinge ook in ’n skermutseling met die Zoeloes betrokke geraak. Meer as die helfte van die handjievol setlaars het gesneuwel. Gerrit Maritz en ’n nuwe aankomeling uit die Kaap, Karel Landman, kon Port Natal dus sonder enige weerstand namens die Volksraad van Natalia beset.

In Augustus 1838 het sowat 10 000 Zoeloes ’n verwoede aanval op die laer van Koos Potgieter en Hans "Dons" de Lange by die Boesmansrivier gedoen. Daar is so verbete om lewe en dood geveg dat die laer as Veglaer bekend geword het. Die Zoeloes is verdryf, maar weereens sonder dat hul mag gebreek is. ’n Maand later, op 23 September 1838, is Gerrit Maritz oorlede. Terwyl daar op die koms van hulp en ’n nuwe leier uit die Kaap gewag is, het Karel Landman die leiding waargeneem.

Die Wenkommando Sien ook: Lys van manskappe Die nuwe leier, Andries Pretorius (1798-1853), wat op 22 November 1838 by die hooflaer in Natal aangekom het, was geen onbekende by die Trekkers nie. Hy het die tweede strafekspedisie teen die Matebeles meegemaak, Port Natal reeds besoek en Retief ontmoet na laasgenoemde se terugkeer van Sekonyela. Hy was bekend met Retief se toekomsplanne en begeesterd met die ideaal om die Afrikaner tot ’n selfstandige nasie te laat ontwikkel.

Op 25 November 1838 is Andries Pretorius as kommandant-generaal aangewys en 2 dae later het hy met ’n kommando na Zoeloeland vertrek. Die kommando het 57 waens saamgeneem. Later is hul geledere aangevul deur Britse setlaars met swart volgelinge en die groep het toe uit 470 man bestaan. Op 15 Desember het Pretorius tussen ’n sytak van die Buffelsrivier en ’n diep donga laer getrek. Die volgende dag, Sondag, 16 Desember 1838, is ’n Zoeloe-impi van sowat 12 500 deur Pretorius-hulle verslaan. Die pad na Dingaan se hoofstat het nou oopgelê. By die verlate uMgungundlovu het die Trekkers, op die plek waar Retief en sy gevolg vermoor is, die traktaat van grondafstand ongeskonde teruggevind.

’n Tweede en ’n derde skermutseling met die Zoeloes (27 Desember 1838 en die "beeskommando" van 1840) het die mag van Dingaan gebreek. Die Zoeloekoning is in 1840 vermoor deur sy halfbroer Mpande, wat die Trekkers goedgesind was.

TERUG