Constantia van Bengale
Claas van Malabar
Helena van Timor

Constantia na JPG Carelse

Diagram 16. Jacobus Petrus Gerhardus Carelse, ‘n agterkleinkind van, Jan Claasen, ‘n kleinkind van Claas van Malabar en Helena van Timor, asook van Constantia van Bengale

Soos voorheen genoem, het daar enkele gevalle voorgekom waar gekleurde mans, van slawe- of nie-Europese herkoms, in die blanke samelewing aanvaar is. ‘n Uitstaande geval wat binne hierdie groep val, is die huwelik van Johannes Claasen met Johanna de Ryk op 2 Des ember 1725.

Johannes Claasen was ‘n slaaf van “volle kleur”. Sy vader, Claas van Malabar, Indië, en moeder, Helena van Timor, Maleisië, is in 1721 getroud. Johanna de Ryk, was die dogter van Constantia van Bengale, Indië en ‘n onbekende vader.

In hierdie geval is die stamvader van die Claasens, Johannes, (gedoop in 1695), egter “in vryheid” gebore. Sy vader, Claas van Malabar, word reeds in die opgaafrolle van 1692 as ‘n “vry-swart” aangegee. Wat hierdie huwelik en familie nog meer besonders maak, is dat beide die stamvader en die stammoeder oorspronklik van slawe-herkoms was, maar kultureel en sosiaal as blank aanvaar is. Hoewel Johannes en Johanna Claasen (de Ryk) se seun, Jan Claasen, ‘n voorkind, ‘n jaar voor hul huwelik gedoop is, is sy nageslag volledig in die blanke samelewing aanvaar en opgeneem.

Die kulturele identiteit van “Europese” gekleurdes soos Johannes Claasen en Johanna de Ryk, is verder versterk deur die feit dat die opkomende geslag hulle ook met die beroepswyse van die “ras-egte” Europeërs geïdentifiseer het. Sommiges het, soos die meerderheid Kaapgebore “blankes”, hulle tot die landbou en veeteelt gewend. Gedurende die agtiende eeu sou hierdie bestaanswyse ‘n lewenswyse word en het ‘n nuwe kultuur ontstaan – eie aan die latere “blanke” Suid-Afrika.

Dit was weens laasgenoemde verskynsel (die be-oefening van veeboerdery) dat sommige persone van Asiatiese oorsprong ook tot “blanke” geledere toegelaat is selfs op so ‘n laat stadium as die einde van die agtiende eeu. So was die nageslag van Johannes Claasen, die seun van Claas van Malabar en Helena van Timor, veeboere in die binneland.

Soos gesien kan word vanuit Diagram 16, was Jacobus Petrus Gerhardus Carelse ‘n afstammeling van Claas van Malabar, Helena van Timor, sowel as Constantia van Bengale. J.P.G. Carelse was natuurlik A.S. Jansen van Olievenfontein se oupa-grootjie. Indien Diagram 14 se inhoud hier bygelees word (J.P.G. Carelse stam ook direk vanuit Jan Jacobs van die Kaap en Christina van die Kaap), is die hoë persentasie (28%) gekleurde afkoms van J.P.G. Carelse verstaanbaar.

TERUG