Catharina van Malabar

Catharina na JB Rabie

Diagram 17. Jan Bastiaan Rabie, ‘n agterkleinkind van, Margaretha Pyl, ‘n agterkleinkind van Catharina van Malabar.

Catharina van Malabar is ‘n voorbeeld van waar die plek van herkoms van ‘n persoon in die huweliksregisters duidelik aangedui is. Catharina is van suiwer Indiese afkoms en haar plek van oorsprong word as die kus van Malabar, Indië, aangegee. Haar eggenoot, Cornelis Claasen was van Utrecht, Nederland afkomstig. Hulle is op 15 Maart 1676 in die Kaap getroud. Volgens De Villiers en Pama het die egpaar 6 kinders gehad van wie ‘n nageslag in die Europese omgewing in die Kaap opgeneem is. Catharina het egter reeds voor haar huwelik met Cornelis ‘n kind by Gabriel, ‘n vryswarte van Samboua (?), gehad. Hierdie kind het bekend gestaan as Adriana Gabrielse, Ariaantje van Katrijn, Ariaantje van die Kaap of Adriaentje Claassen. Sy is reeds voorheen (Diagramme 9, 10 en 11) bespreek. Cornelis Claassen was dus die stiefvader van Ariaantje van Cathrijn, ‘n persoon “van die Kaap” van “volle kleur”.

Cornelis en Catharina het ‘n dogter, Cornelia Cornelisse gehad. Sy is op 18 November 1674 gedoop. In hierdie geval het die kind dus die voornaam van haar vader as van gekry. Cornelia is gebore toe haar moeder nog in ‘n staat van slawerny was. Hulle huwelik is eers twee jaar na Cornelia se geboorte voltrek. Hierdie verbintenis is ook ‘n voorbeeld van ‘n huwelik tussen ‘n Europeër en ‘n slavin, maar wat eers voltrek is na die geboorte van die kinders. Hierdie langdurige verhoudings is egter as de facto huwelike tipeer en erken. Voor Cornelia het hulle ook ‘n seun, Claas gehad wat in 1673 gedoop is. Hulle het ‘n derde kind, Alida laat doop op die dag waarop hulle huwelik voltrek is op 15 Maart 1676.

Soos reeds genoem, is die kinders van hierdie huwelik almal onder die Europese gemeenskap aan die Kaap opgeneem en het dus ‘n belangrike bydrae gelewer tot die bevolkingsamestelling van die Afrikaner. Dit was veral die geval met vroeë nedersetters, wat uit die aard van die saak ‘n groter nageslag sou hê as ‘n immigrant wat sê, na 1800 na Suid-Afrika sou kom.

‘n Huwelik van ‘n slavin met ‘n Europeër was voorts ‘n ontsnappings-meganisme vanuit slawerny, en het aan die kinders vanuit so ‘n huwelik die geleentheid gebied om sosiaal en ekonomies die hoogste sport te bereik.

Cornelia se agterkleinkind, Christiaan Rabie, was ‘n oupa van Jan Bastiaan Rabie, op sy beurt ‘n oupa-grootjie van F.A. Jansen van Olievenfontein. Verwys na Diagram 17.

TERUG