Eva Krotoa

Eva na ZB Jansen

Diagram 1. Zirk Bernardus Jansen (#32, 1800-1869). Eva was sy GGGG-ouma.

Eva na AC Momberg

Diagram 2. Aletta Catharina Momberg (#33, 1808-1884). Eva was haar GGGG-ouma.

Eva na EE Kruger

Diagram 3. Elsie Elisabeth Kruger (#165, 1812-1842). Eva was haar GGGGG-ouma.

Eva van die Kaap is een van die bekendste van F.A. & A.S. Jansen se nie-Europese voorouers. Eva was ‘n Khoi-meisie van ongeveer twaalf jaar oud toe Jan van Riebeeck en sy geselskap op 6 April 1652 voet aan wal gesit het in die Kaap. Haar Khoi naam was Krotoa, maar sy is deur Maria van Riebeeck tot Eva hernoem.

Eva is aanvanklik in Van Riebeeck se huishouding opgeneem as speelmaat en kinderoppasser vir die Van Riebeeck kinders. Sy het egter spoedig ook diens gedoen as tolk. Sy moes besonder skrander gewees het, maar dit is nie bekend hoe sy die Europese taal so vinnig aangeleer het nie. Dit is wel bekend dat sy die broerskind van Herrie die Strandloper was. Herrie het voorheen kontak met die seevaarders gehad en was die Hollandse taal magtig. Miskien het Eva Krotoa dus die taal by haar oom Herrie geleer. Feit is egter dat Eva Krotoa haar eie mense verlaat het en as deel van die Van Riebeeck huishouding in die fort gewoon en gewerk het. Die verhouding wat met Eva gehandhaaf is was voorts waarskynlik ook 'n diplomatieke skuif. As handelsmaatskappy was dit nodig vir die Kompanjie om goeie verhouding met die Khoi handelsvennote te handhaaf. Nouer bande met die Khoi sou sekerlik die veehandel met hulle bevorder.

Eva is circa 1642 aan die Kaap gebore. Sy was ‘n lid van die Goringhaikona stam van die Khoi. Haar oom Herrie, ook bekend as Autohoemao, was die kaptein van die stam. Eva is op 3 Mei 1662 in die ou fort gedoop. Sy is op 12 April 1664 met Pieter van Meerhof (vanaf Kopenhagen in Denemarke), ook in die fort in die Kaap getroud. Spoelstra skryf in “Bouwstoffen voor de Geschiedenis der NG kerken in ZA” Volume II, pagina 23, van 2 April 1663: “Sybelius wederen, een predikatie gedaen, ende gedoopt een bejaerde vrouspersoon, de eerste van dese ingeboren lantsluiden, genaemd Hottentoos; is genaemt den naam van Eva”. In “Resolusies van die Politieke Raad”, Volume I, pagina 316, word Eva beskryf as “een fraei, nuchter borst van aensien”. Van Meerhof het in 1659 as soldaat na die Kaap gekom. Hy het verskeie landtogte namens die Kompanjie na die binneland onderneem en weens sy bekwaamheid en kennis van die medisyne het hy spoedig die rang van onder-chirurgyn verkry.

Eva het die Kompanjie goed gedien en omdat sy nie vergoeding ontvang het nie, het die Kompanjie vir haar ‘n behoorlike huweliksonthaal in die fort gereël. Sy het ook ‘n klein huwelikskat van 50 Riksdaalders ontvang. Van Meerhof se rang is voorts tot die van Chirurgyn verhoog. In Mei 1665 is Van Meerhof aangestel as superintendent van die gevangenis op Robbeneiland. Dit was ‘n pos met groot verantwoordelikheid vir Van Meerhof, maar vir Eva was dit ‘n baie beperkende nuwe woonplek. Sy was gewoond aan die aktiwiteite en besige lewe van die fort. Sy was voorts totaal afgesny van ander vroue, asook van haar eie mense. Pieter van Meerhof is in 1668 oorlede tydens ‘n ekspedisie na Madagaskar. Die egpaar het drie kinders gehad, waarvan Pieternella van Meerhof die tweede jongste was. Die oudste en jongste was Jacobus en Salamon. Eva het in Februarie 1668 teruggekeer na die Kaap.

Eva was nou alleen. Haar oer-afkoms, in kompetisie met die volksvreemde westerse lewenswyse, sonder die leiding en ondersteuning van haar Europese eggenoot, was waarskynlik vir haar te veel om te verwerk. Sy het aan drank verslaaf geraak en ‘n losbandige lewe gevoer. In Februarie 1669 het die kerk besluit om die kinders vanuit haar sorg weg te neem en by ‘n sekere Jan Reyniersz en sy vrou te plaas tot tyd en wyl permanente verblyf vir hulle gereël kon word. Op 1 Maart 1669 is die kinders by Barbara Geems geplaas. Dit was bekend dat sy ‘n bordeel in die Kaap bedryf het. Nadat die drie Van Meerhof kinders van haar weggeneem is, het Eva nog twee kinders, Jeronimus en Anthonij gehad. Weens die toenemende verleentheid wat sy vir die Kompanjie en die Hollanders aan die Kaap geword het, is sy na Robben-eiland verban waar sy op 29 Julie 1674 oorlede is.

In 1677 is twee van die wesies Pieternella en Salamon aan Bartholomeus Borns toegeken. Pieternella se Hollandse aanneemouers het in daardie jaar na Mauritius verhuis waar sy op baie jeugdige ouderdom met Daniel Zaaiman van Vlissingen, Nederland, getroud is. Die egpaar was baie gelukkig en het agt kinders, onder andere Pieter Zaaiman gehad. Daniël Zaaiman en sy gesin het in 1709 teruggekeer na Kaapstad waar Pieter op 10 Januarie 1712 met ‘n Hollandse meisie, Anna Maria Koopman, die dogter van Bartholomeus Koopman (vanaf Utrecht) en Engeltje Cornelis van der Bout, getroud is. Pieter Zaaiman en Anna Maria Koopman se seun, Bartholomeus Zaaiman is op 20 Oktober 1741 met Anna van Billion, die dogter van Bernardus van Billion (oorspronklik vanaf Overijse, in die Brabant streek van België) en Maria van die Kaap (sien later) getroud. Hulle het ‘n dogter, Aletta Catharina Zaaiman gehad, wat op 24 maart 1765 met Anthonie Frederik Vlotman getroud is.

Anthonie Frederik Vlotman en Anna Catharina Zaaiman was die grootouers van Zirk Bernardus Jansen en Aletta Catharina Momberg, oupa- en oumagrootjie van beide F.A. en A.S. Jansen van Olievenfontein, Phillipstown. Zirk Bernardus Jansen was natuurlik ‘n kleinseun van die Jansen stamvader, Zirke Jansen. ‘n Ander afstammeling van Anthonie Frederik Vlotman en Aletta Catharina Zaaiman, Elsie Elisabeth Kruger, is ook ‘n agter-grootouer van Frederik Antonie Jansen van Olievenfontein (sien later).

Die nageslag van Eva en hulle konteks in die voorgeslagte van F.A. en A.S. Jansen word in Diagramme 1, 2 en 3 geillustreer. Volgens Diagram 1 is Zirk Bernardus Jansen (agter-grootvader van beide F.A. en A.S. Jansen) ‘n afstammeling van Eva van die Kaap. Net so is, volgens Diagram 2, Aletta Catharina Momberg (Agter-grootmoeder van beide F.A. en A.S. Jansen) ‘n afstammeling van Eva. Die intensiteit en frekwensie van ondertrouery tussen die Jansen voorgeslagte en die gevolglike “verdikking” van die gekleurde komponent vanuit die voorgeslagte, in hierdie geval Eva, word duidelik hierin gedemonstreer.

Die voorkoms van Eva van die Kaap in beide F.A. & A.S. Jansen se voorgeslagte volg uit die huwelike van Elsie Elisabeth Vlotman en Johanna Francina Vlotman (susters, en kinders van Anthonie Frederik Vlotman en Aletta Catharina Zaaiman) met Roelof Andries Jansen en Hendrik Lodewyk Momberg respektiewelik, tesame met die daaropvolgende huwelik van die twee susters se kinders, Zirk Bernardus Jansen en Aletta Catharina Momberg (‘n huwelik tussen eie neef en niggie). In Tabelle 1 en 2 is gesien dat F.A. & A.S. Jansen (van die plaas Olievenfontein) respektiewelik afstammelinge is van Frederik Antonie Jansen (Frikkie Withuis) en Zirk Bernardus Jansen (broers, en kinders van Zirk Bernardus Jansen en Aletta Catharina Momberg). F.A. en A.S. Jansen van Olievenfontein was dus eie kleinneef en –niggie. Die ondertrouery word verder gedemonstreer in Diagram 3.

Roelof Andries Jansen en Elsie Elisabeth Vlotman het ook ‘n dogter, Zirkija Jacoba Jansen (suster van Zirk Bernardus Jansen, die eggenoot van Aletta Catharina Momberg) gehad. Sy het met Frans Johannes Christiaan Kruger getrou en ‘n dogter Elsie Elizabeth Kruger is op 12 Maart 1812 gebore. Laasgenoemde het met Jan Bastiaan Rabie getrou en hul dogter, Anna Susanna Rabie, die eerste eggenote van Frederik Antonie Jansen (Frikkie Withuis), was die ouma van Frederik Antonie Jansen (Olievenfontein). Hiervolgens kom Eva dus ook voor in die voorgeslagte van Elsie Elizabeth Kruger, agter-grootmoeder van F.A Jansen. (verwys na Tabel 1 en Diagram 3).

Om egter elke voorbeeld van ondertrouery te probeer verduidelik om sodoende die behoud van die nie-Europese genetiese materiaal te probeer demonstreer, sou te kompleks wees vir die doeleindes van hierdie studie. Dit is voldoende om te volstaan met bogenoemde drie voorbeelde. Die leser moet voorts bewus bly van die feit dat komplekse ondertrouery ook geld vir die takke van suiwer Europese afkoms in die familie, wat eweneens dan sorg vir die “verdikking” van die Europese genetiese komponent van F.A. & A.S. Jansen se voorgeslagte.

TERUG