Cecilia Sweeris

Cecilia na G v Niekerk

Diagram 20. Gerrit van Niekerk, ‘n agterkleinkind van, Jacob Kruger, ‘n kleinkind van Cecilia Sweeris.

Cecilia na EE Kruger

Diagram 21. Elsie Elisabeth Kruger, ‘n agterkleinkind van, Frans Kruger, ‘n kleinkind van Cecilia Sweeris.

‘n Verdere voorbeeld van die tendens aan die Kaap van buite-egtelike verhoudings tussen Europese mans en slawe en/of Kaaps-gebore slawe, was die verhouding wat Nicolaas Kemp met Cecilia Serisse of Sweeris gehad het. Hulle het ‘n dogter, Jannetje Kemp in 1696 gehad.

Toe Jannetje Kemp sowat 22 jaar oud was, is sy op 1 Mei 1718 met Jacob Kruger, van Sadenbeck in die Keurvorstedom van Brandenburg, Duitsland, getroud. Of haar vader, Nicolaas Kemp, reeds voorheen oorlede is, kan nie vasgestel word nie, maar haar moeder Cecilia is op 10 November 1709 met Jacob Jacobs Vliet getroud. Jacob en Cecilia Vliet het twee seuns gehad voordat hy op 13 Desember 1713 oorlede is. Jannetje was toe ongeveer sewentien jaar oud. Dit is ook die jaar waarin Jacob Kruger aan die Kaap geland het met die skip Middelwout.

Jacob Kruger het in 1716 aansoek gedoen vir burgerregte, maar dit is eers in 1718 toegestaan. Kort hierna is hy met Jannetje Kemp getroud. Jacob en Jannetje Kruger was die stamouers van ‘n talryke nageslag in Suid-Afrika. Uit hulle huwelik is vyf seuns en twee dogters gebore, en soos wat nou reeds verskeie kere aangetoon is, is die kinders en hulle nageslag volledig in die blanke gemeenskap opgeneem. Die oudste seun Jacob, is met ‘n Sweedse meisie getroud; Frans, Johannes en Pieter met Hollandse meisies; Terwyl die twee dogters elk met ‘n gewese Duitse soldaat in die huwelik getree het.

Die stamvader van die Krugers, Jacob Senior, het in die kusstrook naby Brakkekuyl in die Kaapse Distrik geboer. Hy is in 1749 oorlede. Jannetje het toe by haar jongste seun, Pieter, wat in die Klein Roggeveld tussen die latere Matjiesfontein en Sutherland geboer het, gaan woon. Sy is daar op hoë ouderdom in Mei 1779 oorlede. Al haar seuns het ten tye van haar dood in dieselfde omgewing gewoon.

Jacob Kruger Senior se oudste seun, ook Jacob Kruger, het soos sy vader, ook op Brakkekuyl geboer. Op 25 Oktober 1739 het hy met Christina Strang, die dogter van ‘n Sweedse egpaar, Carel Strang van Gotenburg en Anna Maria Swart van Stockholm, getrou. Na sy vader se dood het hy die plaas naby die see verlaat en na die Roggeveld getrek waar hy die plaas Fortuin bewoon en bewerk het. Sy ander broers, Frans, Johannes en Pieter het hom spoedig gevolg en hulle ook in die Klein Roggeveld gevestig.

Jacob Kruger Junior, en sy eggenote Christina Strang, was ‘n grootjie-oupa en -ouma van Gerrit van Niekerk, op sy beurt ‘n grootjie-oupa van F.A. Jansen van Olievenfontein. Verwys na Diagram 20. Die verbintenis van Gerrit van Niekerk met Helena (Mulder) van die Kaap is reeds voorheen bespreek. F.A. Jansen se moeder, Hendrina Cecilia Viljoen, se name het natuurlik hul oorsprong in hierdie besondere tak van die Kruger-familie.

Frans Kruger, die tweede seun van Jacob Kruger Senior, is op 1 Maart 1744 getroud met Judith Coetsee. Sy het hom egter in 1752 ontval, en Frans is weer getroud; hierdie keer op 29 Oktober 1752 met Maria Putter. Maria was, soos voorheen gesien, ‘n afstammeling van Lourens Campher van België en Ansela van die Kaap. Frans en Maria was ‘n oupa-en ouma-grootjie van Elsie Elisabeth Kruger, op haar beurt ‘n grootjie-ouma van A.S. Jansen van Olievenfontein. Verwys na Diagram 21. Die verbintenis van Elsie Elisabeth Kruger met Eva is reeds voorheen bespreek. So ook is reeds voorheen gesien dat Elsie Elisabeth Kruger se moeder, Zirkija Jacoba Jansen ‘n kleindogter van stamvader Zirke Jansen was.

TERUG