FAMILIE HERALDIEK

 

 Jansen Wapen 1  Jansen Wapen 2  Jansen Wapen 3
 Jansen Wapen 4  Jansen Wapen 5  Jansen Wapen 6
 

Jansen familie-wapens vanuit J.B. Rietstap,Armorial Général, Amsterdam. G. Theod. Bom. 1875.

 

Die oud-Germaanse volkere het tot aan die einde van die eerste millennium hoofsaaklik enkel persoonsname gebruik om mense uit te ken. Hierdie enkel noemname was deurgaans van eie vinding en sonder vreemde invloed. Dit was die Christendom met sy gepaardgaande akademiese geleerdheid wat vir die eerste keer die geleentheid geskep het vir indringing van vreemde nie-Germaanse name onder die Germane. Soos te verstane was die kerklike invloed hierna die grootste motiveringsfaktor vir naamgewing en naamsverandering. Na die kerstening van die Duitse volkere vanaf die agste eeu, is Hebreeuse en Griekse name met religieuse oorsprong al meer as doopname deur die Germaanse volkere gebruik.

Dit was veral in die Hebreeuse naamgewing dat die Godvererende gesindheid, 'n religieuse gestemdheid, besonder sterk na vore gekom het. Dit word veral gedemonstreer in die baie name wat begin met Ja-, en met gepaardgaande wisselvorme Jo-, Je- en El-. Hierdie aanvangsgrepe word vervat in name waarmee ouers hulle dankbaarheid jeens God uitdruk, of waarmee 'n belofte of seënwens uitgespreek word. "Ja-" is 'n verkorting van Jahwe of Jehowa, die Hebreeuse vorm van 'God', en word gevind in name soos byvoorbeeld Josua, 'wie se hulp die Here is'.

 Enkelname wat op hierdie wyse in die volksmond gevorm is, en wat aan manlike kinders gegee is om hulle as die seuns van spesifieke vaders te identifiseer, het tot die begrip patronimieka aanleiding gegee. Patronimieka dui op die gebruik van naamgewing waartydens vaders se name, of name wat van vadersname afgelei is, aan seuns van die volgende geslag gegee is. Dit is voorts ook meesal aanduidend of tiperend van oud-Germaanse mansname of van mansvoorname van kerklike oorsprong. Die oud-Germaanse mansname is gekenmerk deur die feit dat hulle oorspronklik met baie min uitsonderinge uit twee woorde of woordstamme saamgestel is. 'n Mooi voorbeeld hiervan is Jansen, 'n samestelling van "Jan" en "seun", of dan wel "Janszoon" of "Jan se seun".

 Die oorsprong van die naam Jan is ietwat meer gekompliseerd. Dit was algemeen om die oorspronklike veel-lettergrepige name vir gebruik in die daaglikse omgang te verkort. Hierdeur het vleiname ontstaan wat in baie gevalle die oorspronklike volle naam heeltemaal verdring het. Die vorming van sulke verkorte vleiname is egter deur sekere reëls beheers. Dit was naamlik so dat die eerste lid, wat in Germaans altyd die klemtoon het, na weglating van die tweede onbeklemtoonde deel, alleen gebruik kon word. Dikwels het die beginkonsonant van die tweede onbeklemtoonde lid egter bewaar gebly en is die uitgang van die eerste lid gewysig. Dit het of deur assimilasie, of deur uitstoting van sekere klanke, plaasgevind.

 Die name "Johan" en sy erg verkorte vorm "Jan", het op presies hierdie wyse vanuit die Hebreeuse oorsprongsvorm, "Jehochanan" ("God is genadig"), ontstaan. Patronimieka het "Johan" omvorm tot die vadersnaam "Johanson", "seun van Johan". "Johanson" het as saamgestelde naam in die Germaanse volksmond na "Jansen" verander. Langs 'n ander ontwikkelingsweg het die die verkorte vorm "Jan" natuurlik vanselfsprekend op sy eie deur die toepassing van patronimieka aanleiding gegee tot die skepping van die vadersnaam "Jansen", of "seun van Jan". Die verklaring van alle verwante name soos Johannes, Johan, Jan en Jansen lê dus in die feit dat die kind as 'n geskenk van die Heer beskou is.

Na 1200 was name soos "Jan" en sy patronimiese vorm "Jansen" algemeen in gebruik in die gebiede van die Heilige Romeinse Ryk wat Noord van die Alpe geleë was. Dit was sulke name wat later, veral vanaf die vyftiende eeu, tot familiename ontwikkel het.

 Familiename of dan wel 'vanne', is dus nie besonder oud nie. In die Romeinse Ryk was daar wel families wat 'n soort familienaam gehad het, maar nie in die vorm waarin dit vandag bestaan nie. Met die ineenstorting van die Ryk het die gebruik egter grootliks verdwyn en was persone algemeen onder net een naam bekend. Hierdie name is van een geslag na die volgende oorgedra, maar het gevolglik dikwels ook as tipiese noemname uit families verdwyn. Met ander woorde, daar was oorspronklik nooit werklik tipiese name in families nie. In baie gevalle is die name ook noodgedwonge verander en omvorm om verwarring tussen eendersnamige persone in opeenvolgende geslagte in dieselfde familie te voorkom.

 Dit was tydens die 12de-eeuse Renaissance, wat natuurlik op verskeie wyses die wêreld op die koms van die latere Renaissance voorberei het, dat byname in Italië die karakter van vanne begin aannneem het. Van al die gebiede Noord van die Alpe waar stede gevorm en magtig geword het, was die Noord-Franse en Suid-Nederlandse gebiede die toonaangewendste. Dit is in hierdie gebied waar die Middeleeuse beskawing tot sy hoogste bloei gekom het. Dit is ook hier waar bepaalde name wat soms tot egte vanne ontwikkel het, in die laat twaalfde eeu die meeste voorgekom het. Vir die eerste keer het erflike byname ontstaan wat saam met die voornaam 'n bepaalde persoon in amptelike dokumente aangedui het.

 Onder hierdie name was daar in der waarheid ook onveranderde voorname wat op 'n gegewe tydstip as vanne aangeneem is. Voorbeelde hiervan is onder andere Lodewyk, Maarten, Otto, en natuurlik Jansen. Alhoewel hierdie name as vanne gebruik word, word hulle steeds ook as voorname aan kinders gegee. Die werklike oorspronklike betekenis van die name het gou verlore gegaan en name is ook spoedig verkort, verleng, vervorm, gelatiniseer, en selfs met volle of dele van ander name gekombineer.

 Vanne soos Janse, Pieterse, Jacobse, in al hul vorme, is voorbeelde hiervan. Dit was naamlik nie net die -se of -sen wat as uitgangsvorme gebruik is nie. In die Friese lande is byvoorbeeld -ma en -inga vir dieselfde doel gebruik, en in die Saksiese streke, -ing en -ink. Die vanne Jansz, Janse, Jansen, Janssen, Jansma, Janninga, Jannink (daar bestaan meer as sewentig bekende vorme van die betrokke van wêreldwyd) behoort almal tot dieselfde stam.

 Hierdie proses van naamgewing het tot in die vyftiende eeu voortgeduur. Op hierdie tydstip het nuwe regeringsvorme na vore gekom en is die staat meer en meer deur amptenare geadministreer. Registers vir belasting-, militêre- en ander doeleindes is ingestel en alle persone moes hulle name vir hierdie doel registreer. Dit het gou geblyk dat so 'n registrasie-proses onmoontlik sou word indien net een naam gebruik is. Die gebruik van tweede name oftewel vanne, is dus aangemoedig en in sommige gevalle selfs voorgeskryf. Hierdie proses van aanneming van vanne het egter baie stadig gevorder, maar het nogtans vanaf die Suidelike gebiede Noordwaarts versprei. Teen die middel van die dertiende eeu was vanne byvoorbeeld algemeen in gebruik in Antwerpen, maar in Amsterdam was dit eers teen die sestiende eeu die geval. In Friesland in die verre Noorde het boere op die platteland nog tot aan die einde van die agtiende eeu vadersname gebruik.

 Ten spyte van al die verskillende redenasies oor hoe name in Noord-Europa ontwikkel en ontstaan het, kan met redelike sekerheid beweer word dat die oud-Germaanse van "Jansen", in sy eenvoudigste vorm, "die seun van Jan" beteken. "Jan", daarenteen is deur omvorming afgelei uit die Hebreeuse woord "Jehochanan", of te wel, "God is genadig" en wat dui op die feit dat die kind as 'n geskenk van die Heer beskou is. Hierdie Semities-religieuse betekenis van die naam het onder andere aanleiding gegee tot die plasing van die Dawidster op een die bekendste van die antieke Jansen familiewapens, 'n wapen wat algemeen bekend is as die Jansens se 'Hollandse wapen'.  

Benewens hierdie wapen kon 'n verdere vyf Jansen-wapens opgespoor word. Een daarvan, 'n wapen wat bekend is as die Jansens se 'Duitse wapen', bevat twee rooi horisontale bane op 'n silwer agtergrond. Dit toon ooreenkomste met die Hollandse wapen, wat drie silwer horisontale bane op 'n blou agtergrond bevat. Links op die blou agtergrond in die skildhoof van die Hollandse wapen is 'n goudkleurige Dawidster geplaas. Die oorsprong van die Duitse wapen (met rooi horisontale bane) word aangegee as Zwartsluis, 'n stad aan die Suid-Oostelike hoek van die Suidersee in Overyssel, een van die latere sewe Nederlandse provinsies wat halfpad deur die sestiende eeu tot 'n eenheid ontwikkel het. Die Hollandse wapen word nie aan 'n spesifieke streek of stad in Holland gekoppel nie.

 Dit is interessant om daarop te let dat die oudste vorm van heraldiese gebruike dateer uit die tyd van die Frankiese Ridders wat deelgeneem het aan die eerste kruistogte in 1096.  Vele beskrywings en voorbeelde van heraldiese skilde het ook behoue gebly vanuit die twaalfde eeuse geskiedenis van die Graafskap van Anjou, later die Hertogdom van Anjou in Wes-Frankryk.  Die verbintenis van hierdie en ander westelike Franse provinsies soos Vlaandere en Normandië met Engeland is welbekend.  Dit is eweneens welbekend dat dit veral in Noord-Frankryk, die Nederlande en Engeland is waar vir die eerste keer verskillende merke op skilde gebruik is om verskillende families te identifiseer en ook om te onderskei tussen verskillende lede van dieselfde familie.  So is daar byvoorbeeld twee Jansen-familiewapens met oorsprong in die Graafskap Limburg en wel vanuit dieselfde stad, Sittard, in die heuwelagtige Suide.

Die een Jansen-familiewapen vanuit Sittard,Limburg, toon ‘n silwer keper (chevron, die Franse woord vir die nok van ‘n dak, maar in heraldiek na Afrikaans vertaal as keper) op ‘n blou agtergrond met twee silwer muntstukke in die skildhoof, asook een silwer muntstuk in die skildvoet.  Dit was veral in die periode 1530 tot 1560 dat hierdie erg vereenvoudigde ontwerpe vir die eerste keer gebruik is.  Die keper of chevron het geen noemenswaardige betekenis gehad nie en is slegs as breë versierende skeidslyn op die skild tussen die ander voorwerpe, in hierdie geval die silwer muntstukke, geplaas.   Die silwer muntstukke dui op besittings, of rykdom.

Die ander Jansen-familiewapen uit Sittard,Limburg, toon, op ‘n silwer agtergrond, ‘n blou horisontale balk met ‘n swaeltjie in die skildhoof.  Die swael hou ‘n swart klawerblaar in sy snawel.  In die skildvoet is drie swart klawerblare.  Die drie-blaar klawer aan ‘n blaarstingel word tradisoneel gekoppel aan St. Patrick, van wie gesê word dat dit hy was wat die simbool oorspronklik aangeneem het as die simbool van die leer van die Drie-eenheid.  In heraldiese terme het die swael twee betekenisse:  Eerstenskandit die houer van die skild aandui as die vierde seun van die monarg of vors.  Die swael is egter ook die heraldiese simbool vir “blitsig” of “vinnig”.

In beide van die Limburgfamilie-wapens figureer die adellikheid en rykdom van die draers van die betrokke twee heraldiese skilde dus baie sterk. 

Die Jansen-familiewapen afkomstig uit Allemagne (die Franse woord vir Duitsland) toon ‘n komplekse vorm van twee klimmende swart bere, een elk op die goudkleurig eerste en vierde kwartiere van die skild.  Die bere dui op grondbesit en gevolglik jag, as spesifieke landelike sport van die adellikes.  Die tweede en derde kwartiere is geometries elk in twee driehoeke, een rooi en een silwer, verdeel, met ‘n agtpuntige ster elk, ook in rooi en silwer verdeel, bo-op die driehoeke.  Die agtpuntige ster dui op uitgebreide besittings van die skilddraer en is veral in die suide vanNederlandgebruik.  Die oorsprong van hierdie wapen, soos wat die geval was met die Hollandse wapen, word nie aan ‘n spesifieke stad of provinsie gekoppel nie, en word dit slegs as ‘n Duitse wapen van die betrokke Jansen-familie aangedui.

Die laaste Jansen-familiewapen, van onbekende oorsprong, het ‘n sterk religieuse karakter.  Dit vertoon ‘n swart kruis op ‘n goudkleurige skild en het die afbeelding van ‘n kronkelende groen slang in die skildvoet.  Die kruis dui op ‘n Christelike verbintenis, terwyl die groen slang in heraldiese terme dui op staf van Aesculapius, die klassieke god van medisyne, en dus genesing.

Dit is belangrik om daarop te let dat daar nie ‘n Jansen familiewapen in Suid-Afrika geregistreer is nie.  Nie een van die ses bekende Jansen wapens kon aan die voorgeslagte van Zirke Jansen, die stamvader, gekoppel word nie en niemand wat die Jansen naam dra, kan enige van hierdie wapens as sy persoonlike familiewapen aanwend nie.  Die wapens beskik hoogstens oor ornamentele waarde.  Ten einde ‘n wapen te kan voer sal dit nodig wees dat ‘n individuele Jansen-afstammeling ‘n wapen vir himself sal moet laat ontwerp en registreer.  ‘n Verdere opsie sou wees om ‘n Jansen Bond te stig wat dan namens alle afstammelinge van Zirke Jansen ‘n familiewapen of heraldiese simbool vir die familie in sy geheel kan registreer.