G. Kulturele Erfenis

 Uitstalling G1. Depressie-kersie
Kerse was maar altyd deel van die Afrikaner se huislike lewe.  Dit was veral die boere op die afgeleë nedersettings en plase wat kerse as ligbron in hul wonings gebruik het.  Olie vir lampe was nie geredelik beskikbaar nie en elektrisiteit het maar eers gedurende die eerste kwart van die twintigste eeu algemeen beskikbaar geword.  Tydens die Groot Trek was dit die Trekkers wat  die vervaardiging van vetkerse as ’n fyn kuns ontwikkel het.  Diervet is aanvanklik gebruik as verbrandingsbron, maar weens die slegte reuk wat dit afgegee het, is spoedig oorgeskakel na bye-was.  Bye-was was egter nie geredelik beskikbaar nie en dierevet was maar altyd die voorkeur energiebron.  Wanneer swaarkry en ’n gebrek aan geld hoogty gevier het, het die Boerevolk se inisiatief sterk na vore gekom.  Die vervaardiging van die sogenaamde “depressie-kersie” was ’n voorbeeld van hierdie vindingrykheid.  Tydens die Anglo Boere-oorlog is hierdie tipe kers deur die vrouens in die konsentrasie-kampe gemaak, maar later ook tydens die groot depressie van 1933.

#MG01_1 #MG01_2

Louisa Catharina (Louise) Malan, eggenote van Stander Jansen se halwe broer, Johan Adriaan (Johan) Jansen, het ‘n voorbeeld van so ’n depressie kersie aan Stander geskenk vir uitstalling in die Jansen-museum.  Dit bestaan uit 'n skoenpolitoerblikkie gevul met skaapvet, met in die middel 'n skaapdrolletjie wat as pit gedien het.

TERUG


Uitstalling G2. Jansensalf
Jansensalf (Jansenpleister of Geloofspleister) is 'n tuisgemaakte salf wat gebruik was om die genesing van wonde te versnel. Oormaat gebruik (dik aanwending) was veronderstel om wonde vinniger te laat genees, terwyl dun aanwendings gebruik was om byvoorbeeld pitsere oop te trek. Die resep vir die salf is grootliks as 'n familiegeheim beskou en was dus net aan enkele persone binne die familie bekend.

#G02Jansen salf Tienie
Jansensalf (met Balsem Kopiva) berei deur
Tienie Fourie (#4690)

 Ouma Hannie Jansen, boervrou van Schaapkraal, Philipstown, word aangedui as die oorspronklike eienaar van die resep. Johanna Catharina Carelse (#111, Hannie) was 'n dogter van Jacobus Petrus Gerhardus Carelse (#114) en Anna Maria Johanna Claasen (#116). Sy is op 3 Augustus 1840 in Graaff-Reinet gebore.  Haar eerste eggenoot was Isaac Johannes van der Merwe (#110).  Isaac is in 1873 oorlede, Die egpaar het drie dogters gehad.  Een hiervan, Anna Sophia van der Merwe (#59, Fita) is op 20 Junie 1867 in Graaff-Reinet gebore en word interessantheidshalwe hier genoem omdat sy self later 'n bekende boerin van Olievenfontein, Philipstown sou word.

Hannie van der Merwe is na Isaac se oorlye weer getroud.  Haar tweede eggenoot was Zirk Bernardus Jansen (#60) 'n wewenaar-boer van Schaapkraal, Philipstown.  Die huwelik het meegebring dat daar nou tien kinders (drie Van der Merwes en sewe Jansens) in die groot huis op Schaapkraal was.  En om die prentjie volledig te maak, 
sou Zirk en Hannie Jansen self saam 'n verdere agt kinders hê.  Vir Hannie Jansen moes dit 'n formidabele taak gewees het om nie net al hierdie monde te voed nie, maar veral om al die seerplekke en kinderkwale gesond te dokter.

Jansensalf was natuurlik deel van die inhoud van Ouma Hannie se medisynetrommel.  Sy het die salfresep later aan haar kinders oorgedra, wat dit op hulle beurt aan hulle kinders van geslag tot geslag aangegee het.  Ons weet van drie salfresepte wat op hierdie wyse behoue gebly het vir die nageslag.  Die volgende persone (almal Jansen-afstammelinge) se onderskeie resepte word hier in hul eie handskrif gereproduseer. Anna Coetzee (#481), Annie Maher (#451) en Tienie Fourie (#4690).    Anna Coetzee en Annie Maher is intussen respektiewelik in 2007 en 2010 oorlede.

#G02 Annie Resep #G02 Tienie Resep
Annie Maher se resep vir Jansensalf met
Balsem Sulphuris as bestanddeel
Tienie Fourie se resep vir Jansensalf met
Balsem Kopiva as bestanddeel

 

#G02Jansensalf Anna Resep 1

#G02Jansen salf Anna Resep 2

#G02Jansensalf Anna Resep 3

Anna Sophia Coetzee se resep.  Sy het die resep by haar moeder, Anna Sophia Jansen (#27,
van Olievenfontein) ontvang, wat dit op haar beurt vanaf Anna Sohia van der Merwe (#59, Fita),
dogter van Hannie Jansen (#111), ontvang het.

 Let op die verskille tussen die bestanddele van die drie resepte. Die basiese bestanddele in al drie gevalle is sydistels, rou lynolie ("linseed oil") en byewas. Tienie noem dat Balsem Kopiva bygevoeg kan word, terwyl Balsem Sulphuris deel vorm van Annie Maher se resep. Anna Coetzee se resep bevat nie enige bymiddels nie en is ook meer olyfgroen en donkerder van kleur as Tienie Fourie se salf.

Balsem-Kopiva is aangewese vir matige nierprobleme, rugpyn en blaasinfeksies, terwyl Balsem-Sulphuris 'n matige lakseermiddel is en ook aangedui vir die behandeling van rugpyn en nierprobleme. Beide is Lennon produkte. Afgesien van medisinale waarde, speel byewas waarskynlik ook 'n rol om die mengsel in salfvorm te kry. Die funksies van sydistels en rou lynolie is onbekend. Oor die genesende waarde van die bestanddele in salfvorm kan genoem word dat dit veral op wonde wat sukkel om te genees, aangewend is/word. Hiervan het beide Zirk Middelplaas en Tienie Fourie eerstehandse ervaring gehad. Tienie het ook vir Stander 'n hoeveelheid van die salf gegee.

TERUG