HOOFSTUK 3

Zirke Jansen: Suid-Afrikaanse Jansen Stamvader

Drie onafhanklike bronne gee Neustadtgödens aan as Zirke Jansen se plek van oorsprong.  Die oudste van die drie dokumente word in die argiewe van die ‘Verenigde Oost-Indische Compangnie’ (VOC) in die Nasionale Argief in Den Haag, Nederland, bewaar.  In hierdie dokument word Zirke as ‘n passasier op die skip, “ ’t Huis te Manpad” gelys vir ‘n seereis op 28 Desember 1752 vanaf Texel in Nederland na Batavia via die Kaap van Goeie Hoop.    Onder die inskrywing vir die VOC-soldate aan boord, langs inventaris nommer 14453, folio 217, verskyn Zirke se naam en word sy plek van oorsprong aangegee as “Niewstadsgues” (Sien foto hier onder).  Die betrokke dokument gee ook ‘n datum aan wanneer Zirke se diens as soldaat by die VOC beïndig is.  Dit was op 22 November 1757 (foto van bladsy nie ingesluit nie)

 Soldy 1

 Soldy2

Inskrywing in Zirke se soldy-boek as passasier op die 't Huis te Manpad

  

Die tweede dokument, Zirke se aansoekbrief aan Goewerneur Rÿk Tulbagh, om uit die diens van die VOC ontslaan te word, word in die Nasionale Argief in Kaapstad bewaar.  In hierdie brief gee Zirke sy plek van oorsprong aan as “Nieuwstad Geus”.

 

Aansoekbrief1 Aansoekbrief2

  

Zirke Jansen se suksesvolle aansoekbrief om hom as Burger te vestig.

 

Die brief is nie gedateer nie en ook nie onderteken nie.  Dit dra egter die amptelike reliëf seël van die VOC en laat geen twyfel oor die geldigheid van die dokument nie.

 

Die derde dokument is ‘n oorspronklike huweliksregister van die Hollandse Kerk in Kaapstad.  Zirke se huwelik met Catharina Buys is teenoor die datum 2 Oktober 1755 aangeteken.  Hierdie dokument word  deur die Argief van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Kaapstad bewaar.  In die inskrywing word Zirke beskryf as “Sirke Jansz van Nieuwstadt Geuns, Soldaat in dienst den E: Compy, jongman”.

 

 Huweliksregister

 

Kaapstad Huweliksregister 1713 - 1756 (F G1 13/1) NG Kerk Argief

 Ten spyte van die verskillende spelvorme vir die plek van herkoms in die onderskeie  dokumente, word algemeen aanvaar dat Zirke Jansen oorspronklik afkomstig was vanaf Neustadtgödens in Oos-Friesland, Duitsland.  Verskeie genealoë, soos De Villiers, Pama, Colenbrander, Redelinghuys, en andere, verwys na Oos-Friesland, of Duitsland, as die stamland van die Suid-Afrikaanse Jansens.  Die LDS registers gaan een stap verder deur die stamland aan te dui as Neustadtgödens, Hannover, Pruise.   Die betrokke landstreek was deel van Pruise tydens Zirke se kinderdae (1744).   Deurslaggewend egter as bewys van Zirke se plek van oorsprong is twee dokumente wat in die argief van die Lutherse Kerk in Neustadtgödens gevind is.  Die eerste is 'n inskrywing in 'n belastingsregister van Zirke se vader, Cornelius, en waarvolgens die gesin in Sieslstrasse, Neustadtgödens, gewoon het.  Die ander dokument is die kerk se register van persone wat as lidmate van die kerk aangeneem is.  Hiervolgens is Zirke in 1747 as lidmaat van die Lutherse Kerk in Neustadtgödens aangeneem.  Afdrukke van beide hierdie dokumente word elders op hierdie webwerf getoon.  (Kyk by "Register/Friesland se Jansens" en "Geskiedenis/Neustadtgödens, Plek van Oorsprong").  Volgens die beskikbare rekords was Zirke een-en-twintig jaar oud toe hy sy vaderland verlaat het.  Dit is onwaarskynlik dat die jong man die Hollandse amptenare wat hom gehelp het om die aansoeke te voltooi, sou teregwys oor die spelling van sy naam of plek van oorsprong.  Wat meer is, hy het waarskynlik nie eens opgemerk dat die amptenare sy naam foneties neerskryf soos wat dit vir hulle geklink het toe hy dit mondelings teenoor hulle in sy moedertaal, Hoog-Duits, uitgespreek het nie.  Dit is voorts algemeen bekend dat die name van nie-Hollandse persone dikwels verskillend neergeskryf is deur die verskillende amptenare van die VOC.  Dieselfde geld vir nie-Hollandse plekname.

  

 

Goedens Kaart 1736 NSGodens ou kaart

 

Die kaart links is van Neustadtgödens en omgewing en dateer uit 1736.  Zirke Jansen was toe ongeveer 5 jaar oud. Die waterverf-tekening regs is ongedateer, maar te oordeel aan die geboue wat uitgebeeld word, is dit voor 1695 gemaak.  Hierdie tekening toon Brückstrasse onder dwars en Kirchstrasse noordwaarts met die Koringmeul links waar die Lutherse kerkgebou later opgerig is.  Die Jansens se huis was die tweede huis heel bo regs in Sielstrasse (later ook Kirchstrasse genoem).  Die blou streep links om die dorp is 'n waterkanaal en die bruin streep regs 'n dyk met 'n pad daarop.

 

Neustadtgödens is ‘n klein dorpie omtrent 12 kilometer suidwes van Wilhelmshaven, die  Duitse hawestad aan die Noordsee in Oos-Friesland.  Neustadtgödens was omtrent ‘n honderd jaar voor Zirke se geboorte ‘n welvarende vissersdorpie met vrye toegang tot die see via ‘n stelsel van waterweë.  In 1615 is ‘n dyk of damwal, die sogenaamde “Ellenser Dam” tussen die dorp en die see gebou.  Dit het die see ontoeganklik vir die vissers gemaak en hulle hoofbron van inkomste totaal uitgewis.  Die landelike gebied rondom Neustadtgödens het uit moerasgrond en vleie bestaan en was grootliks ongeskik vir landbou.  Ter wille van oorlewing moes die dorpenaars egter vinnig aanpas.  Hulle het wewers en kleremakers geword.  ‘n Honderd jaar later, toe Zirke se ouers in die omgewing gewoon het, was hierdie beroepe stewig gevestig.  Hierdie besondere gedeelte van Oos-Friesland was dan ook bekend as vervaardigers en uitvoerders van goeie gehalte weefstowwe.

 

Toe Zirke Jansen in 1757 uit die diens van die VOC wou tree, het hy op sy aansoekbrief geskryf dat hy homself wou vestig as ‘n kleremaker.

 

Die geskiedenis lewer geen uitspraak oor die werklike redes waarom Zirke sy vaderland so vroeg in sy lewe verlaat het nie.  Die ‘t Huis te Manpad  het die hawe van Texel in Noord-Holland op 28 Desember 1752 verlaat.  Aan boord was 67 soldate wat diens moes doen in die Kaap en Batavië.  Onder hul geledere was die jong Zirke Jansen.  Die skip het op 23 Maart 1753, na net minder as drie maande op see, in Tafelbaai anker gegooi.  Zirke se persoonlike reisnommer was 3579.3.  Die ‘t Huis te Manpad het ‘n maand lank in Tafelbaai voor anker gelê voordat die res van die reis na Batavië aangepak is.  Sy het op 14 April 1753 uitgevaar en Batavië op 6 Junie 1753 bereik, ses maande na haar vertrek uit Holland.  Zirke het egter nie hierdie gedeelte van die reis meegemaak nie en in die Kaap agtergebly.  Die retoervaart vanaf Batavië het op 30 Oktober 1755 begin.  Die Kaap is op 20 Desember 1755 bereik, en Texel op 26 Julie 1756.  Hierdie keer het sy drie maande aan die Kaap vertoef.  Die voorwaartse vaart wat Zirke na die Kaap geneem het, was vir die VOC Kamer van Hoorn.  Zirke het ook nie die retoervaart vanaf die Kaap na Texel meegemaak nie.   Toe die skip vanuit Tafelbaai wegvaar, het Zirke agtergebly en hy sou die Kaap nooit weer verlaat nie.  Dit was so bestem dat Zirke Jansen die stamvader sou word van ‘n talryke Jansen nageslag in Suid-Afrika.

 

Die ‘t Huis te Manpad was ‘n “spiegel retourschip”, ‘n Oos-Indië vaarder, onder die grootstes van die VOC se skepe.  Die verplasing van die skip was 850 ton en sy is in 1745/46 in die VOC se Amsterdamse skeepswerf gebou.  Hierdie tipe skepe was toegerus met drie maste, was 46 meter lank en kon passasiers, sowel as vrag, vervoer.  Sy het haar nooiensvaart in Oktober 1746 onderneem.  In 1766, na slegs twee verdere retoervaarte na die Ooste, ‘n enkelvaart na Batavië en ‘n enkelvaart vandaar na Bengale, Indië, is die skip aldaar verkoop.

 

 Zirke Jansen het in Holland by die VOC aangesluit as soldaat, oorgeplaas na die Kaap, maar dadelik die diens in 1757 verlaat na verstryking van sy vyfjaar dienskontrak.  Net soos die rede vir sy verlating van sy vaderland waarskynlik nooit bekend sal wees nie, is die rede vir sy aanbly aan die Kaap verlore in vergetelheid.   Die kontrakte wat die VOC destyds met sy soldate aan die Kaap en in Batavië gesluit het, het vir drie opsies voorsiening gemaak: Hulle kon hul kontrakte hernu, hulle is die geleentheid gebied om terug te keer na Holland, of hulle kon plaaslik uit diens tree mits hulle aanvaarbare en lewensvatbare beroepe beoefen het.  Zirke het nie sy eie brief geskryf toe hy aansoek gedoen het om uit die diens van die VOC ontslaan te word nie.  Dit was die jaar 1757, slegs vyf jaar nadat hy vanaf Duitsland in die Kaap gearriveer het.  Hy was waarskynlik nie gereed om so gou ‘n amptelike brief aan die Goewerneur in die amptelike hoogdrawende Hollandse taal te skrywe nie.  Hy was immers Duits van afkoms, het waarskynlik min skolastiese onderrig gehad, en dit sou sekerlik nie aanvaarbaar gewees het om die brief aan die Goewerneur in ‘n vreemde taal te skryf nie – veral nie waar so ‘n belangrike saak ter sprake was nie.

 

In die brief spel Zirke se briefskrywer sy naam as “Sierrke”, foneties, presies soos wat “Zirke” in Duits uitgespreek sou word.  Daar bestaan geen twyfel oor die korrekte spelling van Zirke se naam en van soos wat dit vandag algemeen in genealogie-dokumente aangedui word nie.  Daar bestaan ‘n duidelike skoon handtekening van die stamvader soos wat hy dit self op ‘n borgakte op 9 September 1763 aangebring het.  Zirke was toe ongeveer 32 jaar oud.  In ‘n sterk stewige handskrif skryf hy sy eie naam as “Zirke Jansen”.

 

Zirke Handtekening
Stamvader Zirke Jansen se handtekening
9 September 1763

 Interessantheidshalwe kan genoem word dat sy naam as “Sirha Jansz” op die ‘t Huis te Manpad se skeepsregister voorkom.  Behalwe dit wat reeds genoem is, is daar nog drie ander spellingsvorme van die naam gevind.  In sy sterftekennis word sy naam as “Zirken Janszen” gespel en op sy boedelinventaris as “Zirke Jansz”.  Die skriba van die Hollandse kerk in die Kaap het sy naam as “Cirke Janse” aangeteken by die doop van die eerste Jansen baba.

 

Zirke Sterfte
Zirke Jansen se Sterfte-register inskrywing - 21 Desember 1772

 

Zirke Boedel
Uittreksel uit Zirke Jansen se Boedelinventaris - 26 Desember 1772

 

 Ter ondersteuning van sy aansoek om vryburgerskap, het Zirke genoem dat hy homself as kleremaker wil vestig.  Daar bestaan geen twyfel dat hy in der waarheid hierdie beroep beoefen het nie.  So is daar byvoorbeeld verskeie artikels van hierdie aard aangeteken as bates in sy boedelrekening toe hy 27 jaar later oorlede is.  Hy het dus hierdie beroep tot met sy dood in 1772 beoefen.  In dieselfde boedelrekening is daar bedrae geld aangeteken wat verskuldig was aan die boedel vir die vervaardiging van pakke klere en ander kledingstukke.  So byvoorbeeld was ‘n sekere Pieter Delport geld verskuldig vir die maak van ‘n broek (1 Riksdaalder) en Pieter du Toit vir die maak van ‘n onderpak (3 Riksdaalders).  Onder die items wat Zirke aan sy kinders nagelaat het was ‘n naaldwerktafel, stryk- of parsyster en ‘n koper liniaal.  Die boedelinventaris en rekening is opgestel deur sy swaer, Nicolaas Buys, na Zirke se oorlye op 21 Desember 1772.

 

Volgens die inventaris, wat 26 Desember 1772 gedateer is, het Zirke ‘n stukkie grond, “Thuynland”, in die distrik van Drakenstein naby die Paarl besit.  Op die erf was ‘n sesvertrek huis, ‘n stal en ‘n kelder.  Die res van die eiendom het bestaan uit landbougrond wat vir tuinbou gebruik was.  Daar kon nie vasgestel word hoe en wanneer Zirke in besit van die grond gekom het nie.  Dit is heel waarskynlik volgens die gebruik en stelsels wat op daardie stadium in plek was, deur die regering aan hom toegeken.   Die moontlikheid bestaan ook dat hy dit kon gekoop het.   Slegs tien jaar vantevore in 1762, en volgens so ‘n toekenning, was ‘n gelyknamige stuk grond in die besit van ‘n sekere Gert Engelbrecht.  Laasgenoemde was ook afkomstig vanaf Oos-Friesland en het in 1756 ‘n vryburger geword.

 

Terwyl Zirke voorgegaan het om sy kleremakersberoep te beoefen, was hy ook ‘n ywerige wingerdboer.  Laasgenoemde aktiwiteit word beskryf in kontraktuele dokumente wat in die Kaapse Argief bewaar word.  Hierdie dokumente is gedateer 1763, maar dit is nie bekend of Zirke reeds op daardie stadium druiwe op sy grond “Thuynland” verbou het nie.  In Engelbrecht se toekenning is gestipuleer dat lewende hawe nie op die erf toegelaat was nie.    Desnieteenstaande het Zirke ‘n hingsperd en twee trekperde op sy erf aangehou.  Hierdie diere was deel van sy besittings ten tyde van sy afsterwe.  Die grootte van Engelbrecht se erf was twee morge, maar dit is nie bekend wat die grootte van Zirke se eiendom was nie.  Volgens ‘n kaart van Drakenstein wat uit 1770 dateer, was die wynlande net Oos van die Bergrivier teenoor die dorpsaanleg van Drakenstein (Paarl) geleë.  Dit is die wingerd- en landbougebied net suid van die huidige Du Toitskloof Tolplaza en oos van waar die N2 vandag langs die KWV landgoed verbygaan.   Engelbrecht se bure was Pieter Delport en die weduwee van die landbouer Paul Retief.  Na alle waarskynlikheid was dit dieselfde Pieter Delport vir wie Zirke ‘n broek gemaak het net voor sy afsterwe.

 

Ten tyde van sy afsterwe, volgens sy boedelinventaris, het Zirke se kelder ‘n redelike  hoeveelheid toerusting vir die maak van drank bevat.  Daar was ‘n druiwepers, ‘n vultregter, emmers en sewe leë wyn leggers (180 liter wynvaatjies).  Daar was ook een leë half-aam (80 liter wynvat).  Daar word geen melding gemaak van ‘n distilleerder nie, alhoewel ‘n ander dokument gevind is wat bewys lewer dat Zirke ook brandewyn (aracq) gestook het.  Toe hy oorlede is, het hy aktief besigheid gedoen met ‘n stuurman, Oldman Alders, in die Kaapse hawe.  Hierdie Alders het by Zirke se afsterwe 3 leggers (ongeveer 1600 liter) wyn in vooorraad gehad, en wat toe teen markwaarde ten gunste van Zirke se boedel verkoop moes word.

 

Zirke het nie geskroom om kanse te waag in sy besigheid nie.  Wat meer is, dit is duidelik dat hy sommer baie vertroue gehad het in die wynhandel in die Kaap.  Op 9 September 1763 het hy en ‘n sekere Johan Hendrik Snyder borg geteken vir Jan Daniël Holst, ‘n wyn- en aracq handelaar van die Kaap.  Hulle het Holst ondersteun in ‘n onderneming waarvolgens hy 3325 gulde moes betaal vir goedere wat hy van die regering gehuur het.  Holst het die geld geleen en Jansen en Snyder het hulle self verbind om elk verantwoordelikheid te aanvaar vir een derde deel van die geld as die onderneming sou misluk, of om elk een derde van die wins te ontvang as die besigheid sou slaag.  Die kontrak was geldig vir een jaar tot Augustus 1764.  Dit is nie bekend wat die uitkoms van hierdie onderneming was nie.

 

Alles het egter nie altyd voor die wind gegaan met Zirke se eie sake nie.  Hy het somtyds self kontant benodig.  Op 15 Februarie 1764 het hy ‘n bedrag van 1252 Gulde van die bootsman van die skip ‘Keukenhof’ in Tafelbaai geleen.  Dit is nie bekend waarvoor  Zirke die geld nodig gehad het nie, maar dit moes vir iets baie belangrik gewees het.  Hy het homself kotraktueel onder sy handtekening verbind dat hy die geld met rente binne ses maande sou terugbetaal.  In die proses het hy al sy besittings, vaste, sowel as roerende bates as sekuriteit vir die lening aangebied.  Ook hierdie transaksie se finale uitkoms is nie bekend nie.  Dit kon egter nie te sleg gegaan het nie, want slegs agt jaar later, op 21 Desember 1772 sterf Zirke as ‘n burger van Drakenstein met heelwat eiendom en besittings steeds in sy besit.  Die presiese ligging van sy erf, asook sy graf, is nie bekend nie.

 

Ongeveer agt-en-dertig jaar voor Zirke se aankoms in die Kaap het ‘n ander Duitse soldaat, Barend Buys, in Tafelbaai gearriveer.  Hy was afkomstig vanaf Brunswyk (Braunschweich) in Duitsland.  Barend het aan die Kaap begin werk as ‘n boerkneg, maar het tussen 1716 en 1718 weer diens gedoen as soldaat.  In 1721 het hy ‘n vryburger geword en in Drakenstein gewoon.  Op 12 Oktober 1721 is hy getroud met Alida van den Berg, ‘n dogter van Jacobus van den Berg en Jacomina Carteniers.  Jacobus was afkomstig vanaf Breskens in Seeland, destyds deel van Holland en Jancomina vanaf Oudenaarde in Vlaandere, vandag België.  Jacobus en Jacomina is op 8 Oktober 1700 getroud.  Alida was hul derde kind.  Barend en Alida Buys het tien kinders gehad.  Die agste, Catharina, is in 1736 gebore en op 6 Januarie 1737 in die Hollandse kerk in die Kaap gedoop.  Catharina Buys was bestem om die stammoeder van die Jansens van Suid-Afrika te word.

 

Catharina was agtien jaar oud toe sy en Zirke Jansen op 2 Oktober 1755 in die Hollandse kerk in die Kaap getroud is.  Die Hollandse nedersetting aan die Kaap was op hierdie stadium goed gevestig en die nedersetters het oor die hele Wes-Kaap in ‘n ge-ordende gemeenskap gewoon.   Zirke was ten tyde van hulle huwelik nog in diens van die VOC as soldaat.  Dit is nie bekend waar hy en Catharina na hul huwelik gewoon het nie.  Hy sou eers twee jaar later, vier maande na die geboorte van hul tweede kind, uit diens van die VOC tree.

 

Die Jansen stammoeder was dus van Duitse afkoms aan vaderskant, en gemengde Hollandse en Belgiese afkoms aan moederskant.  In die huweliksregister waar hul huwelik aangeteken is, word Zirke en Catharina geïdentifiseer as ‘jong man’ en ‘jong dogter’.  Dit impliseer dat die huwelik beide se eerste was.  Die Buysfamilie sou ‘n fundamentele invloed op die verdere verloop van die Jansengesin aan die Kaap se geskiedenis hê.  Soos weldra gesien sal word, kan daar selfs beweer word dat die Buys familie die tweede stamouers van die Jansen familie was.  Die betrokkenheid van die Buysfamilie by die Jansens het afgeskop by die doop van die Jansen egpaar se eersteling op 11 Julie 1756.  Voogdyskap het vanaf die vroegste jare aan die Kaap ‘n belangrike rol in die geskiedenis van die Afrikanervolk gespeel.  Aangewese voogde van kinders het byvoorbeeld feitlik sonder uitsondering as doopgetuies by die doop van die kinders opgetree.  ‘n Studie van die doopregisters toon duidelik dat hierdie tradisie teen die middel-agtiende eeu ‘n gevestigde gebruik aan die Kaap was.  Catharina se oudste suster, Lacea Buys, en haar eggenoot, Roelof Andries Zuidhoff, het as getuies by die doop van nie minder nie as drie van die Jansenbabas opgetree.  Dit was by die doop van die eerste, die derde en die vierde kinders.

 

Roelof Zuidhoff was afkomstig vanaf Gröningen in Noord-Holland.  Alle aanduidings is dat, behalwe dat hy hulle swaer was, hy ook ‘n baie spesiale vriend van die Jansens was.  Die eerste Jansen kind, “Lacea Rudolvina”, in die Kaapse kerk gedoop op 11 Julie 1756, was heelwaarskynlik vernoem na haar voog, Roelof.  Daar bestaan egter geen feitelike bewys vir so ‘n aanname nie.  Die geboorte van die derde Jansenbaba was ‘n groot gebeurtenis.  Dit was die eerste manlike Jansenkind wat in die nuwe vaderland gebore is.  Dis baie interessant dat hierdie seuntjie se naam ook ‘n verbintenis met Roelof Zuidhoff se naam toon.   Hy is op 9 Desember 1759 as “Cornelis Rudolphus” gedoop en weereens sou Roelof Zuidhoff en sy vrou as doopgetuies optree.  Die vierde kind, ook ‘n seun, is op 7 Desember 1760 as “Roeloff Andries” gedoop.  Hierdie keer het Zirke en Catharina hul kind voluit na hul vriend vernoem.   Die Zuidhoff egpaar het weereens as doopgetuies opgetree. 

 

Dit is ‘n bekende feit dat naamgewing gedurende die agtiende en negentiende eeue ‘n streng patroon onder die nedersetters aan die Kaap gevolg het.   Die oudste seun is gewoonlik na die vader se vader vernoem en die tweede seun na die moeder se vader.  Die derde seun is dan na die vader self vernoem.  Vanaf die vierde seun was die reël minder rigied toegepas. Hy is gewoonlik na die vader se oudste broer vernoem.  Vir dogters was die naamgewing op ‘n soortgelyke patroon geskoei, maar langs die vroulike lyne: Die oudste dogter is vernoem na die moeder se moeder, die tweede na die vader se moeder, die derde na die moeder self, ensovoorts.  Dit wil voorkom asof Zirke en Catharina redelik angstig was dat die naam “Roelof” of “Rudolph” moet bly voortbestaan.   Hierdie kan die rede wees waarom die egpaar afgewyk het van die naamgee-reël en eers hul tweede dogter na Catharina se moeder vernoem het.  Die eerste seun is tewens weer “Rudolph” genoem, maar met eerste naam “Cornelis”.  Zirke se vader het “Cornelius” geheet.  Hierdie tipe naam (byvoorbeeld Cornelis Rudolph) het in die laat sestiende en gedurende die sewentiende eeu in die lae lande en Noord-Wes Europa begin ontwikkel as gevolg van patroniemika, ‘n stelsel van naamgewing volgens vadersname.  Rudolphus is afgelei van Rudolph’s, wat eenvoudig beteken “die seun van Rudolph”.  In die geval van Zirke beten dit dat Zirke se vader se naam Cornelis was en sy oupa, aan vaderskant waarskynlik Rudolph (Roelof).   Totdat daar egter bewys hiervoor gevind kan word, sal Zirke se afkoms en die familiename hoogstens bespiegeling bly.  Ooreenkomstig sy Zuidhoff-vriend se betrokkenheid by die kinders se doopseremonies en voogdyskap oor hulle, blyk die meer aanvaarbare verklaring vir die oorsprong van die naam “Roelof” in die Jansen stamregister te wees dat Zirke in der waarheid sy vriend vernoem het.

 

Die tweede Jansen baba is op 24 Julie 1757 as Alida Elizabeth Jansen gedoop.  Sy is na Alida Elizabeth Buys (gebore van den Berg), haar ouma aan moederskant, vernoem.  In ‘n eienaardige versuim van die skriba van die Kaapse kerk is die doopgetuies nie in hierdie geval aangeteken nie.   Na die geboorte van hul twee seuns is daar nog drie dogters uit die huwelik gebore.  Die vyfde kind, Catharina Maria (derde dogter, vernoem na Zirke se moeder), is op 20 November 1763 gedoop.  Hierdie keer sou Stephanus Buys, Cathrina se tweede oudste broer, en sy vrou Maria de Vries, as doopgetuies optree en dan ageer as voogde ooreenkomstig die gebruik van die tyd.  Catharina se jongste broer, Johannes Nicolaas Buys en sy vrou, Anna Louisa Jordaan, sou as doopgetuies by die sesde Jansen baba, Anna Louisa Jansen, se doop op 25 Oktober 1767 optree.  Die jongste en sewende kind, Anna Lasea Jansen, is op 11 Maart 1770 in die Paarl gedoop.  Die gemeente van Drakenstein (Paarl) waar die kindjie gedoop is, is in 1691 gestig, die derde na die Kaap en Stellenbosch.  In hierdie geval sou Johanna Maria Buys, Catharina se tweede oudste suster, en haar man, Jan Hendrik Venter, as doopgetuies optree.  Anna Lasea Jansen sou die laaste kind van Zirke en Catharina wees.  Catharina het op 2 September 1772 gesterf, en Zirke net meer as drie maande later op 21 Desember 1772.  Dit is nie bekend waarom die Jansen stamouers so kort na mekaar oorlede is nie.   Die klein Anna Lasea was dus maar ongeveer twee en ‘n halwe jaar oud toe, eers haar moeder, en toe haar vader oorlede is.

 

Catharina het sonder ‘n testament gesterf, maar in Zirke se boedelinventaris word vyf van die kinders aangewys as erfgename van al hul vader se besittings.  Die tweede oudste dogter en jongste vier kinders word genoem.  Hulle was onderskeidelik 15, 12, 9, 5 en 2 jaar oud.  Dit is onbekend waarom die oudste dogter en oudste seun nie in die inventaris genoem is nie.  Hulle was onderskeidelik 16 en 13 jaar oud.   Die vraag sou onmiddelik ontstaan oor wat onder hierdie omstandighede van veral die drie jongste dogtertjies sou word.  Die antwoord is opgesluit in die feit dat voogde reeds by elkeen se doop geïdentifiseer is en wat juis onder sulke omstandighede onder verpligting sou staan.  Dit was miskien nie toevallig dat al die kinders se voogde, op een uitsondering na, vanuit die Buysfamilie afkomstig was nie. 

 

Dit was Zirke se swaer, Nicolaas Buys wat Zirke se afsterwe geregistreer het en wat onder sy handtekening al die besonderhede voorsien het vir die opstel van die boedelrekeninge.  In die boedelinventaris word beskryf dat Zirke 32 stuiwers vir die oudste dogter nagelaat het om in die huishouding te gebruik.  Dit is nie bekend of hierdie “oudste dogter” verwys na Lacea Rudolphina nie.  Dis in elk geval onwaarskynlik dat Zirke (of dan Nicolaas Buys) bedoel het dat enige van die oudste dogters die volledige versorging van die kinders moes behartig,  Daarvoor was hulle veels te jonk.

 

Hierbo is genoem dat dit die gewoonte was vir die voogde om by die doop van kinders as getuies te ageer.  By implikasie, by die dood van beide ouers en met vyf benoemde minderjariges, kan dus aanvaar word dat die Jansen kinders dadelik deur die voogde aan huis geneem is.  Dit sou beteken dat die Jansen wesies sou grootword as Jansens, maar in die huise van hul Buys voogde.  Vandaar dan die suggestie dat die Buys familie die tweede stamouers van die Jansenfamilie van Suid-Afrika genoem kan word.

 

Daar is niks bekend van Cornelis Rudolphus, die eersgebore Jansenafstammeling, vir die periode vanaf 1772 tot in 1786, toe daar vir die eerste keer weer van hom verneem is nie.  Hy was dertien jaar oud toe sy vader oorlede is, en hy was reeds 27 jaar oud toe hy as ‘n grensboer naby Graaff-Reinet ‘n bestaan gemaak het saam met sy gesin.  Op 5 April 1786 het hy toestemming verkry van die Goewerneur aan die Kaap om die verlate plaas van Hercules Malan, Rietfontein aan die Buffelsrivier, as weiveld vir sy vee te gebruik.  Die vlogende jaar, in 1787, het hy ‘n ander plaas, Snyderskraal teen die voorste Sneeuberg, Noord van Graaff-Reinet vir weiding gebruik.

 

Vier jaar later, op 23 Maart 1791, het landdros Woeke van Graaff-Reinet toestemming verleen dat Cornelis die plaas, “De Vyf Seekoegaten” op ‘n plato van die voorste Seeuberg, aan die boonste beginpunt van die Paarde Vallei, met sy vee kon beset.  Hierdie was ‘n verlate plaas wat voorheen deur Albertus Viljoen, ‘n seun van Henning Viljoen, die welbekende stamvader van die Viljoen familie se Henning-stam, besit is.   Die toekenning deur landdros Woeke was egter net vir een jaar geldig.  Cornelis Jansen was toe 32 jaar oud.  Die betrokke dokumente is op Graaff-Reinet opgestel en geliasseer.

 

Cornelis is op 6 April 1777 met Johanna Catharina Smit getroud.  Hulle het vier seuns en drie dogters gehad.  Die vier seuns was, met hul geboortedatums in hakies,  Christoffel Jacobus (1779), Cornelis Rudolph (1787), Willem Alwyn (1789) en Roelof Johannes (1797).  Die dogters was Maria Jacoba (1783), Johanna Catharina (1791) en Sophia Adriana (1794).  Dit is weereens interessant om te let op die feit dat Cornelis nie sy vader volgens die tradisies van die tyd vernoem het nie.  Die afstammelinge van hierdie kinders het in Graaff-Reinet, Beaufort-Wes, Colesberg en in Kroonstad in die Oranje Vrystaat gewoon.  Cornelis is later vir ‘n tweede keer met Geertruy Maria Swanepoel in Graaff-Reinet getroud.

 

Roelof Andries Jansen is op 23 Augustus 1789 met Elsie Elizabeth Vlotman in Kaapstad getroud.  Elsie was die derde kind van Antonie Frederik Vlotman en Aletta Catharina Zaaiman.  Antonie Frederik Vlotman was ‘n kleinseun van Atonie Vlotman en Sara Bruynvis, beide vanaf Amsterdam in Nederland.  Aletta Zaaiman stam uit ‘n veelbesproke en geskiedkundige familie van Kaapstad.  Sy was ‘n kleindogter van Pieter Zaaiman, die oudste seun van Daniel Zaaiman, afkomstig vanaf Vlissingen, Nederland.  Vlissingen is die hedendaagse bekende  hawestad aan die monding van die Westerschelde en die toegang tot die Noordsee, sowat 45 minute per motor vanaf Antwerpen. Dit is baie interessant om daarop te let dat Daniel Zaaiman getroud was met Petronella van Meerhof, die dogter van Pieter van Meerhof, ‘n mediese dokter vanaf Kopenhagen in Denemarke.  Hy was in diens van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie en het gedien op Jan van Riebeeck se personeel.  Hy was getroud met Eva, ‘n hottentottin in Jan van Riebeeck se huishouding.   Die huwelik tussen Pieter van Meerhof en Eva op 12 April 1664, was een van die eerste tussen ‘n Europeër en ‘n boorling van die Kaap.

 

Elsie Elizabeth Vlotman is  op 30 Augustus 1772 in Kaapstad gedoop.  Sy was dus sewentien jaar oud toe sy met die nege-en-twintigjarige Roelof Andries Jansen getroud is.   Dit is nie bekend wanneer Roelof Jansen die Kaap verlaat het nie.  Hy was reeds in 1784 ‘n gevestigde landbouer aan die Oos-grens.  Die plaas De Geelhoute Boom is op 7 Januarie 1784 as leningsplaas aan hom toegeken.  Die plaas word steeds bewoon onder die naam Geelhoutboom en is geleë aan die Boesmansrivier, wes van die teenswoordige Alexandrië in die Oos-Kaap, naby Port Elizabeth.  Roelof was dus 24 jaar oud toe die plaas aan hom toegeken is. 

 

Roelof en Elsie het drie seuns en vier dogters gehad.  Die seuns was, met hul geboortedatums in hakies, Frederik Antonie Wilhelm Johannes (1795), Zirk Bernardus (1800) en Roelof Andries (1807).  Die dogters was Elsje Elizabeth (gedoop, 1792), Zirkija Jacoba (gedoop, 1792), Anna Catharina Lasya (1798) en Johanna Louisa (1803).  Dit was dus Roelof Andries Jansen, Zirke se tweede seun, wat sy vader sou vernoem en sodoende gesorg het dat die stamnaam van die Jansens, “Zirke”, vir die nageslag behoue gebly het.  Die byvoeging van Bernardus is nogeens ‘n demonstrasie van die Buys familie se invloed op die verloop van die Jansen geskiedenis.  Bernardus was die naam van Catharina Buys se oudste broer.  Dit was voorts ook Roelof Andries Jansen wat sy eerste seun Frederik Antonie genoem het en daarmee ‘n ander baie bekende Jansen naam gevestig het.   Soos reeds gesien, het Elsie se vader Anthonie Frederik Vlotman geheet.

 

Die twee seuns van Zirke Jansen en Catharina Buys het dus gelyktydig aan die Oos-Grens geboer, Cornelis in die gebied bekend as voor-sneeuberg, en Roelof langs die Boesmansrivier in die Oos-Kaapse grensgebied.  Daar kon egter geen bewys gevind word dat die twee broers op enige wyse met mekaar kontak gehad het nie.  Benewens Zirke se eie twee seuns, was daar dus altesaam sewe kleinseuns, vier in die Cornelis Rudolphus tak en drie in die Roelof Andries tak wat die familienaam kon voortplant.  Die stamnaam “Zirk” is deur die Roelof Andries tak voortgedra en kom nie voor onder die eerste vier geslagte van die nakomelinge van Cornelis Rudolphus nie.  Verdere navorsing in die stamland, Oos-Friesland, was nodig om te bewys dat die oorspronklike Jansenstamname Cornelius was (Zirke se vader).   In soverre dit die Suid-Afrikaanse familie betref, is “Zirke” of sy latere vorm, “Zirk” of “Sirkie”, die hoof stamnaam van die Jansens volgens naamgewing langs die manlik lyne.

 

Professor Brian Sykes van Oxford Universiteit skryf in sy boek, “The Seven Daughters of Eve”, dat daar nooit uit die oog verloor moet word dat die moeders in voorgeslagte met net soveel reg aanspraak kan maak op insluiting in hulle nageslagte se stamlyne as die vaders.  Dit is tewens wetenskaplik veel meer akkuraat om verwantskap langs die lyn van moeder-voorsate te bewys deur gebruik te maak van die DNS wat in die mitokondria van die menslike sel voorkom.  Dit is so dat mitokondriese DNS net langs die vroulike lyne voortgeplant word.  Seuns erf ook mitokondriese DNS vanaf hul moeders, maar kan dit nie geneties na hul kinders oordra nie.  ‘n Afkomstabel (moeder na dogter) gebaseer op mitokondriese DNS, is dus wetenskaplik baie meer akkuraat as ‘n afkomstabel wat op vadersname (vanne) gebaseer is soos wat tans in die genealogie gebruik word.  Die implikasies hiervan is verrykend, maar daar word vireers volstaan met hierdie vlugtige verwysing na ‘n baie interessante onderwerp.  Lees die volledige beskrywing elders op hierdie webwerf by "Genetika".

 

Daar word in die Jansens se geskiedenis heelwat verwys na die Hottentottin, Eva, en haar posisie onder die voorgeslagte van Roelof Andries Jansen se Vlotman eggenote.   Eva se regte naam was Krotoa.  Sy is deur Maria van Riebeeck, die eggenote van die volksplanter, Jan van Riebeeck, na Eva hernoem.   Krotoa was ‘n kind van omtrent 11 jaar oud, ‘n dogter vanuit een van die inheemse Khoi stamme aan die Kaap, toe Jan van Riebeeck en sy gevolg op daardie herfsdag in April 1652 voet aan wal gesit het in Tafelbaai.  Dit is aangeteken dat sy op die strand was saam met ‘n aantal van die haar stamlede toe die Van Riebeeckgroep se bote geland het.  Sy het opgevoed en goedgemanierd voorgekom en daar is dadelik onderhandel dat sy in die Van Riebeeck-huishouding opgeneem word as speelmaat vir die Van Riebeeckkinders.   Hierdie gebeurtenis het die pad voorberei vir haar latere huwelik met Pieter van Meerhof en die gevolglike geskiedkundige verloop waarvolgens die hele nageslag in die Roelof Andries tak van die Jansens as Eva Krotoa se bloedverwante aangeteken sou word.

 

Navorsing dui aan dat Eva Krotoa ‘n lid van die Goringhaikona Strandlopers was.  Haar oom, Autshumato, beter bekend as Herrie die Strandloper, was die Kaptein van die betrokke Strandloperstam (Khoikhoi) aan die Kaap.  Daar is aangeteken dat Eva op die rug van ‘n os vervoer is, of gery het.  In die Khoi tradisie het dit op hoë status gedui.  Laasgenoemde feit, tesame met haar oom se status, het van Eva Krotoa ‘n lid van die Kaapse adel gemaak.   A.M. van Rensburg skryf in “My Enrichment”: “One might pose the question what entitles one to be an Indigenous person or First Nation person?  Do I qualify or not?”  Eva was ‘n lid van ‘n familie wat aan die Kaap oor hul Khoi volgelinge geheers het lank voordat Jan van Riebeeck daar voet aan wal gesit het.  Sy was ook onder die eerstes van die plaaslike bevolking wat tot die Christendom bekeer is, gedoop is, en later met ‘n Europeër getroud is.  Haar vereniging in ‘n huwelik met Pieter van Meerhof, die Deense dokter-kolonis, was in ‘n sekere sin die begin van die Afrikaner, ‘n nuwe Nasie aan die Suidpunt van Afrika.  Na aanleiding van Van Rensburg se diskoers kan gevra word of die nageslag van Eva Krotoa (insluitend die afstammelinge in die Roelof Andries tak van die Jansens) koloniste is omdat hulle afstam van Pieter van Meerhof, en of hulle Afrikane is omdat hulle afstam vanaf Eva?  Is hulle inboorlinge van Afrika met Europese bloedverwantskap, of is hulle Europese nedersetters met Afrika bloedverwantskap? Is hulle Europeërs of is hulle Afrikane? 

 

Net soos bostaande feite ‘n klug maak van die pas afgelope stelsel van Apartheid op grond van velkleur, maak dit ‘n klug van die huidige stelsel van “voorheen benadeeldes” op grond van velkleur.  Ooreenkomstig hul afkoms is Afrikaners maar net Afrikane soos enige Zulu of Xhosa.  Daar is in September 2004 in die Suid-Afrikaanse pers berig dat DNS-toetse getoon het dat wyle oudpresident Nelson Mandela geneties verwant is aan die Khoisan.   Beide Mandela en die afstammelinge van Zirke Jansen se tweede seun, Roelof Andries Jansen, is dus afstammelinge van die oorspronklike bewoners van Afrika.   Geen persoon het die reg om enige van hierdie afstammelinge op grond van hulle velkleur hul Afrikaskap te ontsê nie.  Roelof Andries Jansen se  nageslag het ook geen inset gehad in die besluit van Zirke Jansen om hom aan die suidpunt van Afrika te vestig nie.  In sy eenvoudigste vorm beteken hierdie bewering dat hulle nie koloniste of setlaars is nie, maar mense van Afrika, net soos Nelson Mandela.

 

Hoe dit ookal sy, die Jansenfamilie van Suid-Afrika sou hul eerste treë in die nuwe vaderland op dramatiese wyse gee.  Die eerste vyftig jaar van hul lewe in die nuwe vaderland is deurspek van demonstrasies van verstommende moed en deursettingsvermoë.  Wat ookal die rede vir Zirke se emigrasie vanuit die Europese stamland was, dit was voldoende motivering om die ongelooflike uitdaging te aanvaar en risiko te loop om sonder voorbehoud in ‘n afgeleë, wilde en vreemde land te gaan woon en werk.  Dit was bo alles voldoende rede om sy ouers, suster, ander familielede en alles wat dierbaar en bekend is, op mondige ouderdom vir altyd te verlaat.  Die afskeid moes onbeskryflik gewees het.  Benewens die emosionele trauma wat die skeiding met huis en haard sonder twyfel  meegebring het, was daar bo alles die geweldige onsekerheid oor die toekoms. 

 

Moderne navorsers het bevind dat dit hoofsaaklik uiterste armoede was wat die tipiese Duitse kolonis van die agtiende eeu ter wille van oorlewing na Holland gedryf het op soek na werk.   Een oorsaak van hierdie armoede en radeloosheid was die toestande wat geheers het na die beïndiging van die Dertigjarige Oorlog.  Dit was veral Oos-Friesland wat deurgeloop het en soms die “kruispad vir die weermagte in die oorlog” genoem is.  Die bevolking se lewens en lewenswyse is drasties ontwrig en dit sou baie dekades neem om van die nagevolge van die oorlog te herstel.   Daar was voorts die traumatiese ervaring van diens by die VOC.  Dit het begin by die lewensgevaarlike seevaart op die retoerskepe na die Ooste.  Sowat 10% van die passasiers het byvoorbeeld nie die heenvaart na die Kaap oorleef nie.  ‘n Verdere 12% het op die vaart na Batavië gesterf.  Net minder as dertig persent van die persone wat die reis aanvanklik aangepak het, het uiteindelik weer Europa bereik.  Daar was ‘n gesegde in Nederland: “Om vir die VOC na Indië te vaar is soos om jou vader en moeder dood te slaan”.  Dit was net so traumaties en net so finaal.

 

Die soldate is elk met ‘n skeepskis uitgereik waarin hy sy klere en karige persoonlike besittings kon pak vir die lang en lewensgevaarlike seereis na die Kaap.  Dit beteken dat hulle sonder geld en met feitlik geen besittings by hul bestemming gearriveer het.  Hulle het 28 stuiwers (daar was 20 stuiwers in 1 gulden of floryn) per maand by die VOC verdien as “kostgeld”.  Hierby het hulle  ook 28 stuiwers ontvang om lewenskoste te dek.  Dit het geweldige inisiatief en ondernemingsvermoë gevra om op minder as 2 stuiwers per dag te oorleef.  Die eenvoudigste en goedkoopste eetplekke in die Kaap het 2 stuiwers vir ‘n bord kos gevra waarop daar onder andere maar ‘n baie klein flentertjie vleis was.  Zirke Jansen moes onder hierdie omstandighede as blote kind, alleen, en in ‘n vreemde en ongenaakbare omgewing staande bly.  Desnieteenstaande het hy daarin geslaag om genoeg bymekaar te maak om slegs twee jaar na sy aankoms in die Kaap ‘n vrou te neem vanuit die gevestigde Hollandse gemeenskap en met ‘n gesin te begin.  Na sy uitdienstreding by die VOC het hy twee beroepe beoefen.  Hy was so suksesvol dat hy met sy afsterwe, slegs 19 jaar na sy aankoms, ‘n stukkie grond en heelwat besittings aan sy kinders kon nalaat.  Dit was voorwaar ‘n besondere demonstrasie van inisiatief, ondernemingsgees en deursettingsvermoë.

 

Dieselfde mate van moed en deursettingsvermoë word weerspieël in die lewens van sy twee seuns, die eerste manlike afstammelinge in die nuwe vaderland.  Hulle was op ‘n baie vroeë ouderdom wees gelaat, en moes noodgedwonge uitspring om te oorleef.  Dit was moeilik.  Die migrasie van Cornelis en sy broer Roelof vanaf die Kaap na die Oosgrens het byvoorbeeld saamgeval met die tydvak toe die eerste en tweede Grensoorloë in die Zuurveld, die gebied tussen die Visrivier en die Boesmansrivier in die Oos-Kaap, plaasgevind het.   Sodoende het die twee Jansenbroers, as deel van die eerste groepe trekboere wat hulle in die Oos-Kaapse grensgebied gevestig het, onlosmaaklik deel geword van een van die prominentste tydvakke van die Suid-Afrikaanse geskiedenis.   Die Oosgrens was in der waarheid in hierdie tydperk ‘n primêre konflik kontakgebied tussen wit en swart, ‘n konflik wat in ‘n meerdere en mindere mate tot vandag voortduur.  Onder uiters moeilike omstandighede en met ‘n owerheid wat nie altyd genoegsaam ondersteunend was nie, het die twee broers aan die vormingsjare van hul nuwe vaderland meegewerk.  In die proses moes hulle verskeie kere hul plase ontruim, het hulle waarskynlik by meer as een geleentheid hul besittings verloor en moes hulle heel waarskynlik agter die loop van ‘n geweer hul families beskerm.  Desnieteenstaande het hulle en hulle gesinne oorleef en kon hulle nageslag die haai Karoo bewoon en bewerk as vertrekpunt vir hul verspreiding oor die hele Suidelike Afrika. 

 

Volgens Dr. J. Hoge, in die “Argief-jaarboek vir die S.A. geskiedenis – 1946, Personalia of the Germans at the Cape, 1652 – 1806”, het altesaam twee-en vyftig immigrante met die van “Jansen” vanaf Duitsland na Suid-Afrika verhuis.  Die meerderheid van hierdie Jansens was egter ongetroud of het geen nageslag agtergelaat nie.  Na die migrasie na die Oos-Kaap en Graaff-Reinet, het lede van die familie ook by die Groot Trek aangesluit en hul mettertyd in die Vrystaat, Natal en Transvaal gevestig.  As burgers van die twee Republieke, het verskeie van hulle aan die Tweede Vryheidsoorlog deelgeneem.  So kom die name van P.J. en P.C. Jansen voor op die lys van Burgers wat tussen Junie 1900 en Augustus 1902 in die Groenpuntse gevangenekamp oorlede is.  Daar was ook ondersteuning vanuit die kolonie vir die saak van die Boere Republieke.  In hierdie verband word die naam van Zirk Bernardus Jansen (1858 – 1945) genoem.  Hy het in 1900 as Rebel by die Boeremagte aangesluit om teen die Engelse besettingsmagte te veg.

 

Onder die huidige nasate is daar wetgeleerdes, dokters, sakemanne, boere en predikante.  Die eer het die Jansens te beurt geval om ‘n naamgenoot te hê as Goewerneur-generaal van Suid-Afrika, naamlik dr. Ernest George Jansen.  Laasgenoemde was egter nie ‘n afstammeling van Zirke en Catharina Jansen nie.  Ernest George se vader het in 1875 vanuit Nederland na Natal ge-emigreer.

 

Na die politieke ineenstorting van die Afrikaner, die einde van apartheid, en die koms van globalisering teen die einde van die twintigste eeu, het groot hoeveelhede Afrikaners Suid-Afrika verlaat en in ‘n nuwe Groot Trek na die res van die wêreld verhuis.  Daar woon vandag afstammelinge van Zirke Jansen in Brittanje, in Kanada en selfs in die verre suide, in Nieu Zeeland en in Australië.

 

Jehochanan!  God is genadig!

Soli Deo Gloria!  Aan God die eer!

 TERUG