HOOFSTUK 2

Na die Kaap van Goeie Hoop

Agtergrond

Vanuit ‘n Europese oogpunt en met Europa as middelpunt, was internasionale handel in die sewentiende eeu betreklik eenvoudig.   Toestande was gunstig en die wêreld was honger vir ontwikkeling.  In Nederland self het bevaarbare riviere en kanale die binneland toeganklik gemaak en produkte en grondstowwe kon maklik vanaf en na die groot en besige hawens vervoer word.   Tesame met die Hollanders se seevaartkundigheid, het hierdie gunstige handelsklimaat van Nederland een van die rykste en magtigste lande van die sewentiende eeuse wêreld gemaak.  Bowendien was daar vryhandel tussen die verskillende Nederlandse provinsies.  Daar was voorts nie ‘n sterk gesentraliseerde staatsgesag  wat handel kon beperk nie.  Internasionale handel het vinnig gegroei en verskeie groot maatskappye het ontstaan om veral met Oos-Indië handel te dryf.

Die VOC

Die mededinging tussen die groot maatskappye was egter so straf dat nadelige gevolge vinnig ontwikkel het.  Dit het daartoe gelei dat die grootste maatskappye op 20 Maart 1602 verenig het as die Verenigde Nederlandse Geoktrooieerde Oos-Indiese Kompanjie, of kortweg die VOC.  Die VOC is deur sewentien direkteure, bekend as die Here Sewentien bestuur.  Die hoofsentra was Amsterdam, Middelburg, Rotterdam, Hoorn, Enkhuizen en Delft.  ‘n Tyd van ongekende voorspoed het gevolg.  Amsterdam het die belangrikste handelsentrum van die wêreld geword.  Die VOC het die handelsmonopolie met Asië gehad en het handelaars van ander lande vir ‘n baie lang tyd totaal oorheers.  Dit was veral handel in speserye wat die VOC in staat gestel het om reuse winste te maak en die organisasie het letterlik ‘n wêreldmag geword.  Alhoewel die VOC basies ‘n handelsmaatskappy was, het die organisasie soos ‘n onafhanklike staat gefunksioneer.  Dit het werknemers vir sy vloot en ander funksies gewerf en het onafhanklik handelsooreenkomste gesluit, oorlog gevoer op see en land en self sy private troepe in die oorsese handelsgebiede aangevoer.  Die VOC het selfs nuwe gebiede beset wat noodsaaklik geag was vir die sukses van die besigheid.

Die Kaap van Goeie Hoop

In Maart 1647 het die Nieuw-Haerlem, ‘n skip van die VOC se vloot, in Tafelbaai gestrand.  Die gestrande bemanning het ‘n tydelike fort gebou, groente geplant in die vrugbare grond en met die plaaslike inboorlinge, die Khoikhoi (Strandlopers), kontak gemaak.  Die oorlewendes is die volgende jaar opgepik en die Here Sewentien het twee handelaars, Leendert Jansz en Mathys Proot, gevra om ‘n verslag op te stel van hul wedervaringe aan die Kaap.  Hierdie verslag het die Amsterdamse Kamer van die VOC sodanig beïndruk, dat hulle onmiddellik besluit het om ‘n halfwegstasie vir die skepe aan die Kaap te vestig.  Op 6 April 1652 het die eerste Kommandeur, Johan Anthoniszoon van Riebeeck en sy gesin, tesame met die nodige amptenary, in drie skepe in die Kaap gearriveer.   Van Riebeeck het spesifiek opdrag gehad om nie die Kaap te koloniseer nie, maar om ‘n fort te bou, ‘n vlagpaal op te rig ten einde boodskappe aan skepe naby die kus te sein, en om loodsbote te bou om skepe te help om die hawe binne te vaar.  Hulle moes voorts groente kweek, landerye aanlê vir koring en mielies en veilige weiveld skep vir lewende hawe.

 Teen 1659 het die Kaap genoeg geproduseer om voldoende vars voorraad aan alle skepe wat in die Kaap aangedoen het, te voorsien.  In 1667 is die oorspronklike fort met ‘n permanente struktuur, bekend as die Kasteel, vervang.  Die werknemers van die Kompanjie is aanvanklik verbied om enige industrie aan die Kaap te skep vir eie gewin.    Van Riebeeck het egter vertoë tot die Here Sewentien gerig en in Februarie 1657 is die eerste grond aan Vryburgers langs die Liesbeeckrivier toegeken.  Dit was die begin van die Europese volksplanting in Suid-Afrika.  In dieselfde jaar, 1657, is die eerste slawe vanaf Batavië en Madagaskar ingevoer. Ander het later vanaf Maleisië en veral Indië gevolg.  Toe Jan van Riebeeck die Kaap in 1662 verlaat het, was daar reeds 134 amptenare, 35 Vryburgers, 15 vroue, 22 kinders en 180 slawe gevestig.  In 1676 het die VOC se amptelike beleid verander, en het die Here Sewentien besluit om ‘n volwaardige Hollandse Kolonie aan die Kaap te vestig om landbouproduksie te stimuleer.

Werwing en Werksomstandighede

Behalwe Nederlanders, het die VOC vanuit die staanspoor ook vreemdelinge van ander nasies in diens geneem.  Die aantal Nederlandse aansoekers vir werk was baie gou onvoldoende om in die groeiende Maatskappy se vereistes te voorsien.  Ten einde genoeg manskappe te voorsien vir sy vloot en sekerheidsmagte, het die VOC dus manskappe begin werf in ander lande.  Uiteindelik was net omtrent die helfte van die mense wat vir die VOC in Afrika en in die Ooste diens gedoen het, Nederlanders.  Die tweede grootste groep was Duitsers.  Hulle het omtrent een derde van die VOC se mannekrag uitgemaak.  Die verpligtinge van die VOC in die kolonies het ‘n baie groot effek op die arbeidsmark in Nederland gehad.  Daar het elke jaar tussen 4000 en 7000 matrose, soldate en handelaars vir die VOC diens gedoen in Nederlands Oos-Indië en aan die Kaap van Goeie Hoop.  In totaal was daar meer as 20,000 VOC werknemers van die VOC in hierdie twee sentrums gestasioneer gedurende die organisasie se bestaansjare.

 

Die VOC het aanvanklik daarin geslaag om die gevare verbonde aan die werk heeltemaal vir nuwe aansoekers te verberg.  So byvoorbeeld het die gemiddelde seereis na die Kaap van Goeie Hoop die lewens van 7 tot 8 persent van die matrose op die skip geëis.  Die tweede been van die reis na Indië het ‘n verdere 10 tot 12 persent geëis.  Hier het dit egter nie geëindig nie.  In Batavië het meer as 40 persent van die manskappe gesterf aan malaria en ander tropiese siektes.  Slegs sowat een derde van die werknemers wat deur die VOC in diens geneem is, het uiteindelik weer hulle vaderland gesien.

 

Dit was veral in Nederland self dat die gevare uiteindelik bekend geword het.  Minder en minder Hollanders was bereid om onder hierdie omstandighede vir die VOC te werk.  Dit was baie gou veel eenvoudiger vir uitlanders om as soldate en matrose by die Maatskappy werk te kry.  Ten spyte van die gevare, was daar nooit ‘n tekort aan nuwe aansoekers vir werk nie.  Dit was veral vanaf die aangrensende lande soos Duitsland waarvandaan die aansoekers gestroom het.  Baie jong Duitsers het nie ‘n toekoms vir hulle self in hulle vaderland gesien nie.  In die 17de eeu was dit veral die Dertigjarige Oorlog wat groot dele van Sentraal Europa en Noord-Duitsland verwoes het met geweldige nadelige gevolge vir die bevolking.

Duitsland

Gedurende die 18de eeu het een oorlog na die ander opnuut groot dele van Duitsland in puin gelê.  Hierdie oorloë het met reëlmaat die ekonomië van hele streke vernietig.  Behalwe vir die trauma en pyn wat die sterftes onder hulle mense veroorsaak het, wou die jong Duitsers ontsnap van die gewetenlose werwingsamptenare van veral die Pruisiese weermag.  In 1744 was Oos-Friesland onder Pruisiese beheer.  Aan die ander kant was daar natuurlik ook die beroepsoldate wat geen ander beroep kon beoefen nie.  Gedurende periodes wanneer daar geen oorlog of konfrontasie aan die tuisfront was nie, het  hierdie soldate hulle geluk in die weermagte van die VOC beproef.  Dan was daar natuurlik diegene wat eenvoudig deur die kanker van skuld en diepgewortelde armoede oorheers is.  Die VOC het ‘n welkome uitkoms in die vorm van werk en inkomste gebied.  Laastens was daar natuurlik die avonturiers; jong manne wat gehoor en gelees het van die eksotiese Kaap en Ooste en die geleentheid aangegryp het om hul fortuin te soek.


Diegene wat hulle self aan die VOC verbind het deur die gebruiklike vyf jaar dienskontrak, het welliswaar nie ‘n groot salaris ontvang nie, maar die inkomste was gereeld en seisoen-onafhanklik.  Behalwe vir die salaris, voedsel en behuising, was daar die addisionele verwagtinge van oorlogsbuit of aanloklike persoonlike handelstransaksies.  Die Duitse rekrute was gemiddeld 24 jaar oud en meesal afkomstig vanuit die Protestantse noordelike gebiede van Duitsland.  Die VOC het as ‘n reël nie Katolieke in diens geneem nie.  Die minimum indienstredings-ouderdom was 18 jaar.

Seevaart na die Kaap

Die Duitsers wat die agt maande lange vaart na die Ooste aangepak het, het baie gou die betekenis van die gesegde: “Wer Vater und Mutter thod geschlagen, ist noch zu gut nach Ostindien zu gehen.”  Vry vertaal beteken dit dat om na Oos Indië toe te gaan is dieselfde as om jou pa en ma dood te maak.  Daar was bloedweinig eenheidsgevoel onder die soldate aan boord van die VOC-skepe.  Dit het dikwels gebeur dat ‘n persoon rot en kaal besteel is  wanneer hy siek was, of om een of ander rede hulpeloos geraak het.  Dit was gevolglik standaard praktyk om so spoedig moontlik na vertrek met ‘n maat bevriend te raak sodat die paar mekaar kon ondersteun gedurende die vaart.  Die vaart self was voorts ook geen plesier nie.  Die skip was oorvol en beknop en onder die dek in die slaapkwartiere was die ventilasie uiters swak.   Die maaltye was eentonig en water is erg gerantsoeneer.

 

Die ongesonde kos, met ‘n gebrek aan noodsaaklike vitamines het gelei tot skeurbuik en daar het voortdurend mense omgekom as gevolg van die siekte.  Die beperkte ruimte en onhigiëniese toestande aan boord het gelei tot plae soos luise en die gevolglike komplikasies.  Dit was nie ongewoon vir die swakkeres om waansinnig te raak en selfmoord te pleeg onder hierdie uiterste toestande nie.  Dit was net die gesondstes en mees gehardstes wat die vaart ongeaffekteerd voltooi het.

 

Die VOC as werkgewer

 

Die loopbaan moontlikhede by die VOC was nie goed vir die Duitse rekrute nie.   Baie min van die offisiersposte en uitvoerende administratiewe funksies is aan die buitelanders toegeken.  Benewens hierdie ongeskrewe diskriminasie was daar ook die probleem van kommunikasie.  Alhoewel hulle eie taal (Hoog Duits) baie nou verbonde aan die Nederlandse dialekte was, en hulle op ‘n geradbraakte manier kon kommunikeer, kon die meeste van die Duitsers nie Hollands praat of skryf nie.    Baie van die Duitsers was voorts Lutherane, terwyl die VOC gedomineer is deur die navolgers van die Nederlandse gereformeerde kerke.  Sommige van die Duitsers het egter wel daarin geslaag om die meer senior poste te bereik.  Dit kon toe te skryf wees aan hulle vermoëns, maar heel waarskynlik eerder as gevolg van die groot aantal vakatures wat ontstaan het weens die hoë sterftesyfer onder die amptenary.    Twee Duitsers, Johann Thedens en Gustaf von Imhoff, het selfs daarin geslaag om die hoogste pos, naamlik die van Goewerneur, te bereik.  Die meeste Duitsers was egter gelukkig indien hulle selfs net ‘n beskeie fortuintjie huistoe kon neem.  Dit was gewoonlik as gevolg van oorlogsbuit, deur die be-oefening van handwerk, private handelstransaksies, of deur die oorname van afgestorwe makkers se besittings.  Diegene wat die gebruiklike vyf jaar dienstermyn oorleef het, het drie opsies gehad:  Hulle kon vir ‘n verdere termyn aanbly in diens van die VOC, hulle kon as vryburgers aanbly en ‘n beroep beoefen in die kolonies, of hulle kon na hulle land van herkoms terugkeer.  Laasgenoemde was in die meeste gevalle die beste keuse, want hulle is toegelaat om hulle eie handelsware soos tee, sy, speserye of Chinese porselein aan boord te neem. 

Die Duitse rekrute is by die koloniale indiensnemingskantoor van die VOC in Harderwijk aan die Zuidersee in diens geneem.  Alhoewel daar heelwat regulasies in plek was, was die VOC amptenary bekend daarvoor dat hulle oë toegeknyp het wanneer dit by die internasionale rekrute gekom het.  Daar was soveel druk om al die vakatures te vul, dat selfs nie geskroom is om drosters en kriminele in diens te neem nie.  Dit het natuurlik meegebring dat allerhande tipes op die indiensnemingskantoor in Harderwijk toegesak het.  Dit het spoedig aan, veral die uitlanders, ‘n baie slegte naam gegee.  Die Hollanders het deurgaans na hulle as uitvaagsels en uitgeworpenes verwys.  Die klein dorpie Harderwijk self het eweneens hieronder deurgeloop.  Behalwe vir die groot hoeveelheid rekrute, was daar natuurlik die gewone toeloop van twyfelagtige karakters wat munt probeer slaan het uit die treurige toestand van baie van die werksoekers.  Harderwijk het gevolglik spoedig die skelnaam “Kloakenmuendung” van Europa gekry. 

Sommige geskiedskrywers het bereken dat 85% van die Duitsers wat by die VOC aangesluit het, nooit weer na Europa teruggekeer het nie.  Baie van die soldate het hulle diensperiode ‘n hele aantal kere hernu, en hulself mettertyd permanent aan die Kaap van Goeie Hoop en in Nederlands Oos Indië gevestig.  Daar is ook bereken dat ongeveer 15% van hierdie VOC soldate na hul terugkeer by die Nederlandse koloniale weermag aangesluit het.  Hierdie metode waarvolgens die Duitse VOC werknemers Europa in groot getalle verlaat het, kan welliswaar as ‘n vorm van wettige emigrasie gesien word.  Die eerste emigrante was hoofsaaklik vanuit Noord-Wes-, Wes- en Suid-Wes Duitsland afkomstig.  Later het daar ook groot hoeveelhede vanuit die Ryn-gebied en Noord-Oos Duitsland vertrek.  Dit is interessant om daarop te let dat die groot hoeveelhede Duitse immigrante wat in hierdie tyd na die VSA uitgewyk het, vanuit dieselfde gebiede afkomstig was.

Einde van die Pad

Teen die einde van die 18de eeu het die VOC weens verskeie faktore verliese begin ly.  Hierdie verliese het so toegeneem dat die Maatskappy uiteindelik op 1 Januarie 1800 insolvent verklaar is.  Die Nederlandse regering het die die VOC se bates, die personeel, sowel as die slegte skuld oorgeneem.  Die oorsese nedersettings is as Nederlandse kolonies bedryf.  In die plek van ‘n private handelsonderneming het Nederland dus te voorskyn getree as ‘n koloniale moondheid.  Ten opsigte van die Kaap van Goeie Hoop was hierdie nuwe status egter van baie korte duur.  Teen 1806 het die Britse Koninkryk die Kaap finaal beset en sou die land eers in 1961 as regeerder verlaat toe Suid-Afrika ‘n soewereine Republiek geword het.  Die sogenaamde blanke oorheersing het finaal tot ‘n einde gekom toe die landsregering in 1994 in ‘n bloedlose rewolusie aan die inheemse swart bevolking oorhandig is.  Die instrument vir die oorhandiging was ‘n referendum en gevolglike verkiesing wat noodwendig deur die swart kiesers gewen sou word,  nie op grond van politieke meriete en paraatheid om te regeer nie, maar op grond van ‘n ideologie en gepaardgaande getalle oorwig.

Die Jansens van Neustadtgödens

Tweehonderd en veertig jaar vroeër, in die Europese herfs van 1752, het daar ‘n familie in Oos-Friesland, toe onder Pruisiese beheer, in die klein dorpie, Neustadtgödens, gewoon.  Hierdie familie, die gesin van Cornelius Jansen, was soos enige ander familie vanuit daardie omgewing en tydperk, blootgestel aan stampe en stote wat hulle hele lewensbestaan ontwrig het.  In die gesin was daar ‘n een-en twintigjarige jong man wat op die drumpel gestaan het om die huis te verlaat en oor ‘n loopbaan moes besluit.  Hy het waarskynlik gehoor van die moontlikhede wat die Nederlandse handelsmaatskappy, die VOC, gebied het en waarskynlik dae en weke lank gewonder wat hom te doen staan.  Sy ouers was heel waarskynlik teen die grond geslaan toe hy uiteindelik die nuus van sy besluit aan hulle oordra.  Hy sou naamlik deel word van die groot stroom van sy landgenote wat hulle heil elders wou gaan uitwerk.  Hy sou as soldaat by die VOC aansluit en diens gaan doen in een van die oorsese kolonies.  Zirke Jansen het nie gras onder sy voete laat groei nie, en was waarskynlik spoedig op pad na die indiensnemingskantore van die VOC in Harderwijk aan die Zuidersee.

 

Die rekrute moes ouer as 18 en jonger as 40 jaar wees om in diens geneem te kon word.    Alhoewel geen bewys gevind is vir sy werklike geboortedatum nie, weet ons presies wanneer Zirke in die plaaslike Lutherse gemeente aangeneem is as lidmaat.  Hiervolgens is Zirke in 1731 gebore en sou hy pas 21 jaar oud gewees het toe hy in Desember 1752 deur die VOC in diens geneem is.

 

Op 28 Desember 1752 bevind Zirke homself aan boord van ‘n skip, “ ’t Huis te Manpad” as lid van ‘n kontingent van 67 soldate vir ‘n vaart na Batavië via die Kaap van Goeie Hoop.  Die skip, ‘n Oos-Indië vaarder, ‘n “Spiegel Retour Schip”, op daardie tydstip een van die grootste skepe in diens van die VOC, het die betrokke vaart vir die VOC se Kamer van Hoorn onderneem.  ‘n Paar dae voor die einde van die jaar 1752 het die vaartuig voor anker gelê langs die kus van die Nederlandse eiland Texel.  Al die VOC se skepe het hier aangedoen om voorraad soos water, voedsel en proviand aan boord te neem vir die agt maande lange vaart na die Ooste.

Vaart na die Kaap

Terwyl die skepe gewag het vir goeie weer en gunstige passaat winde, het hulle voor anker gelê aan die suid-ooskus van Texel in vlak water wat bekend gestaan het as “De Rede van Texel”.  “Rede” is ‘n beskrywende woord vir “’n beskutte hawe waar skepe voor anker lê om voorraad in te neem”.  Die sogenaamde “Marsdiep” was ‘n toegangswaterweg in die see tussen Texel en die vasteland.  Die Rede van Texel was die laaste hawe voor die ingang na die Zuidersee en die groot Nederlandse hawens soos Amsterdam, en gevolglik ook die eerste hawe na vertrek vanuit die Zuidersee.  Texel was veral bekend vir die voorsiening van water aan die Oos-Indië vaarders.  Die 17de en 18de eeu was die hoogtepunt van welvarendheid en handelsukses vir Texel.  Dit was hoofsaaklik te danke aan die stigting van die VOC.   Daar het gedurende die VOC se bestaan tussen 2000 en 3000 handels- en oorlogskepe per jaar via die Marsdiep vanaf en na Texel gevaar.

Rede van Texel

Die "Rede van Texel"

Die Rede van Texel was egter lank voor die stigting van die VOC in gebruik.  Seevaarders het maar altyd die beskutting van die Rede gebruik vir toegang na en van die Zuidersee.  Ten einde hierdie roetes te beskerm teen die Spanjaarde, het Willem van Oranje in 1574 ‘n fort op Texel laat oprig.  Die fort het bekend gestaan as “De Schans” en is gebruik om soldate,  ammunisie en buskruit te huisves.  Ten tyde van Zirke Jansen se vertrek vanaf Texel kon die fort meer as 300 soldate huisves.  Gedurende die agtiende eeu was dit veral die soldate wat gewag het om aan boord te gaan van die Oos-Indië vaarders wat hier gehuisves is.  Dit is nie onwaarskynlik dat Zirke ook hier gehuisves is voor sy skip se vertrek nie.

Texel 1748  Die Schans

Die eiland Texel (Links), met die Marsdiep tussen De Helder en Texel.  Regs is die bouvalle van die Schans, waar soldate op die eiland gehuisves is terwyl die skepe voorberei is vir die lang vaart na die Ooste.

Die eiland Texel is die mees suidelike van ‘n string van eilande al langs die Noordkus van Holland en Friesland en tot by die kus van Denemarke.  Die eilande staan gesamentlik bekend as die Wadden Eilande en vorm ‘n natuurlike grens in die see tussen die Waddensee en die Noordsee.  Aan die vasteland se kant van die eilande, in die Waddensee, kon die vissersvlote vir eeue al ‘n veilige hawe vind.  Dit was egter veral heel suid, by Texel, waar die veiligste vasmeerplekke was.  Die hawe van Oudeschild is vandag steeds in gebruik, hoewel meesal vir die seiljagte van toeriste.  Die dorp is vroeg in die sewentiende eeu gevestig op Texel naby die Rede.

 

Naby Oudeschild, weg van die see, was daar ‘n huis wat bekend gestaan het as “Huize Brakenstein”.  Hierdie was ‘n soort herberg wat deur die kapteins en kommandeurs van die VOC skepe gebruik is na aankoms en voor vertrek vanaf Texel.  Die waterputte waarvandaan die vars water vir die skepe gekom het, is nie baie ver vanaf Brakenstein geleë nie.  Hierdie putte bestaan steeds vandag.  Die putte het aan ‘n weeshuis behoort en was bekend as “Wezenputten”.  Die weeshuis het die water aan die VOC verkoop as inkomste.  ‘n Waterkanaal het vanaf die putte tot by Oudeschild en die see geloop en is destyds gebruik om die watervaatjies na die see en die Rede van Texel waar die skepe voor anker gelê het, te vervoer.  Die kanaal het bekend gestaan as die “Skilsloot”.  Langs die Skilsloot was ‘n voetpad, “Het Skillepaadje”, waarlangs die slawe geloop het wat die bote, belaai met watervaatjies, getrek het.

 

Wesenput 1 Wesenput 2 Skillepaadjie Skilsloot

 

Die Wesenputte bestaan steeds vandag. Tweede van regs is die Skilsloot met die skillepaadjie waar die slawe geloop het wat die vate op 'n boot na die Rede van Texel en die Oos-Indië vaarders getrek het  Regs is die skilsloot, steeds in gebruik deur die plaaslike inwoners.

 

Die water van die Wezenputte was van hoë gehalte en uiters geskik vir die doel waarvoor dit gebruik is.  Die hoë ysterinhoud het aan die water ‘n kenmerkende bruin kleur gegee.  Die ystersoute het as preserveermiddel gedien om die water vir baie langer vars te hou as gewone water wat elders ingeskeep is.  Die water in die houtvate wat vanuit die Wezenputte gevul was, was vir tot nege maande bruikbaar.  Desnieteenstaande is vars water weer in die Kaap ingeskeep.  ‘n Skip soos die ‘t Huis te Manpad, met tot 250 mense aan boord, moes meer as 100,000 liter water aan boord neem voor ‘n vaart.  Al hierdie water is in vate vanaf die Wezenputte via die Skilsloot na die skepe voor anker op die Rede van Texel vervoer.  Behalwe water het die skepe ook lewende skape en varke aan boord geneem.  Voorkeur is gegee aan dragtige diere omdat speenvark en skaaplam ‘n welkome alternatief vir die eentonige soutvleis tydens die vaart gebied het.  Voor die reis is daar ook eend geslag wat dan gerook en gesout is voordat dit aan boord geneem is.

 

Drie dae voor Nuwejaarsdag, op 28 Desember 1752, het die ‘t Huis te Manpad anker gelig by die Rede van Texel en stadig in die Marsdiep afgevaar en toe uit in die waters van die Noordsee.  Sy moes spoedig weswaarts maneuvreer, en daarna suid-wes om tussen die kuslyne van Nederland en Engeland in die Engelse kanaal suidwaards koers te vat.  Dit sou die heel laaste keer wees dat Zirke die kuslyn van die Europese kontinent sou sien.  Die jong man se gedagtes sal vir altyd verborge bly terwyl hy daar op die dek gestaan en kyk het hoe die kuslyn agter die eindeloosheid van die oop oseaan verdwyn.

Vaart na O)oste 1 Vaart na Ooste 2

 

Die standaard seevaart roetes tussen Europa en Oos-Indië in die 18de eeu.

 

Op 23 Maart 1753, presies twee maande en ses-en-twintig dae na hul vertrek vanaf Texel, sou Zirke weer op die dek staan.  Hierdie keer sou hy saam met sy makkers getuie wees toe Tafelberg op die oostelike horison uit die see verrys.  Hy sou dit toe nie kon weet nie, maar aan die voet van daardie berg sou hy sy lewensmaat ontmoet en sou hy die stamvader van ‘n nuwe familie word.  En nogeens sal dit nie moontlik wees om te bespiegel oor Zirke se gedagtes op die stadig bewegende dek van die ‘t Huis te Manpad terwyl hulle verby die rotsagtige kus van Robbeneiland Tafelbaai binnevaar nie.  Was dit vrees vir ‘n onbekende toekoms, of was dit jeugdige opgewondenheid?

Tafelbaai 1760

 

Tafelbaai 1760 (William Fehr, met dank aan Michael Clemens, Neustadtgödens in die Harlinger Heimatkalender 2012)


Kaapstad 1776

 
Kaapstad 1776

 

Nie ver vanaf die wit sand waar die branders skuimend gebreek het, sou die een-en-twintigjarige Zirke Jansen die vyfpuntige kasteel waarneem.  En bo hom, majestieus, sou die berg, met Duiwelspiek aan die een kant en Leeukop aan die ander kant, wag hou oor al die aktiwiteite onder op die kaai.  Die berg en die kasteel sou stille getuies wees toe Zirke sy eerste tree op die grond van sy nuwe vaderland gee;  die grond wat vir die Jansens van Suid-Afrika, van geslag tot geslag, ‘geboortegrond’ sou wees.  Hierdie was die nuwe vaderland.

 

Melkbos

Tafelbaai en Tafelberg vanaf Melkbosstrand

 

Erkenning: Met die uitsondering van die antieke kaart van Texel (“Van het Clijf tot den Hoorn”, De Jager & Kikkert) en die fotos van die Oos-Indië vaarders (VOC Museum) en afdrukke van skeepvaart roetes (VOC Museum), is al die fotos in hierdie dokument afkomstig vanuit reisbrosjures en/of advertensie- en publisieteitsmateriaal op die internet.

TERUG