HOOFSTUK 13

My Oupa in 'n Engelse Tronk 

                                                                                                                                      - Navorser en Outeur: Johan van Zyl

Voorwoord deur die Outeur

Ek onthou toe ek ’n kind was - ek praat hier van die begin tot middel vyftigerjare - het ek meer as een keer my oupa met smaak hoor sê dat hy in die tronk was.

Dis moeilik om te verduidelik wat my kinderlike gemoed destyds van dié inligting gemaak het. Was ek bietjie ouer gewees, sou ek natuurlik by hom gaan sit en opgewonde gevra het, “Haai, Oupa, wat sê Oupa daar? Vertel my daarvan!” Het hy vandag nog geleef, sou ek sorgvuldig aantekeninge gemaak en ’n boek oor sy wedervaringe geskryf het.

Maar ek was ongelukkig te klein. Wat ek onthou, is dat ek elke keer by die aanhoor daarvan, wenkbroue gelig het. Stillerige kind wat ek was, sou niemand eintlik agtergekom het dat ek hoegenaamd afgeluister het nie. Maar dit staan in my herinnering ingeprent asof dit gister gesê was. My geliefde en enigste oupa aan moederskant, Oupa Roelf – in die tronk…? Die rede waarom die regering dit nodig geag het om hom op te sluit, asook die omstandighede rondom die aangeleentheid, was grootmensgoed en my aandag het gou oorgespoel terug na my speelgoed toe.

Johan Roelof van Zyl (#3453)
28 April 2010

Wie was Roelf Jansen?

#429, Roelf Andries Jansen is op 21 September 1877 te Graaff-Reinet gebore. Hy was die sewende kind van Frederik Antonie Jansen (#30, "Freek Withuis") en sy derde eggenote, Johanna Susara Cornelia Potgieter.  Roelf het ’n aantal jare in verskeie sakeondernemings op die dorp gedien, voordat hy hom voltyds vir ’n bestaan op tuinbou toegelê het. In die dertigerjare was hy as die “wortelkoning” van Graaff-Reinet bekend.

My oupa was ’n korrelkop van die eerste water, en as hy sy voet eers dwars gesit het, kon jy hom nie beweeg nie. So het hy soos ’n waghond by sy sluise gestaan en sy water na sy boorde afgekeer sodra sy leibeurt aanbreek. Menigmaal het dit byna op vuisslaan neergekom wanneer sy buurvrou gemeen het háár beurt is nog nie verby nie. Dan het sy haar man geroep met die woorde, “Soutie, kom help, die ou vloek steel alweer ons water!”

Al het ek hierdie dinge sien gebeur en die rede daaragter verstaan, het die ontboeseming van my oupa dat hy op ’n stadium agter tralies was, in my ’n tipe ontsag gewek. En sover ek in staat was om op omtrent sewejarige leeftyd ’n oordeel te vel, het ek geredeneer dat hy seker een of ander kwaad aangevang het, en dat die tronkstraf seker darem verdiend was. Kyk hoe maak hy dan met oom Soutie; ek het dan gesien dat hulle mekaar een dag amper met spitgrawe bygekom het!

Dis dieselfde Oupa wat my in die kerk ’n venyninge knyp gegee het as ek nie stilsit nie. En as hy gemeen het my hare is te lank, het hy met my op die dwarspyp van sy dikwieltrapfiets na sy haarkapper toe gery om van die surplus lokke ontslae te raak. Hy het op ’n keer ’n nagemaakte Krugerpond by iemand in die hande gekry en ’n paar skoene by die algemene handelaar daarmee gaan koop. Maar die ervare handelaar was nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. Dit het groot mooipraat van my pa gekos om die ontstoke handelaar te oortuig my oupa sou die skoene dadelik teruggegee het nadat hy gesien het sy poets het geslaag. Hy was amper ’n tweede keer in die tronk, my oupa!
  Roelf Andries Jansen,
1877-1961
#429 RAJ

 Roelf Jansen, 'n Gevangene!

Die eintlike storie ágter Oupa se tronkverblyf destyds het ek eers heelwat later verneem. My pa het in 1985 begin om sy boekery te verminder, en dis toe dat ek die boek Memoirs of a Socialist in South Africa 1903-1947, deur Wilfred Harrison, as geskenk by hom ontvang het. Die boek was van besondere betekenis, omdat Harrison in Desember 1947 self die eksemplaar aan my pa geskenk en ’n boodskappie in sy handskrif voorin geplaas het. Toe ek met verloop van tyd in die boekie begin lees, kom ek af op ’n volbladfoto van ’n klompie Graaff-Reinetters wat in 1901 dwangarbeid moes verrig omdat hulle geweier het om die dorp teen die Boeremagte te help bewaak. In die fotobyskrif bemerk ek toe my oupa se naam, en daar sit hy as 24-jarige in die foto, op ’n klip, saam met die groepie weerspannige dorpenaars!

 Groot was my verbasing toe ek sien die Britse offisier wat die groepie bewaak, niemand anders was as Wilfred Harrison nie!

#429 RAJ ABO
Roelf Jansen sit in die voorste ry, heel links. Harrison, in uniform, staan
heel regs

Spoedig, soos ek verder gelees het, het die verhaal van Oupa wat in ’n Engelse tronk was, voor my oopgevou.

 Harrison was ’n offisier van die Britse Coldstream Guards wat in 1899 Suid-Afrika toe gestuur is om teen die Boere te veg. Een van die take wat hy gehad het om te verrig, was om toesig te hou oor die fortifikasie-werke rondom Graaff-Reinet, en om oor ’n seksie van die werkers te waak.

 Hierdie dorpie, tans bekend as die Juweel van die Karoo, was nog altyd, aldus Harrison, die rebellekern van “Hollanders” in hul teenkanting van Britse Imperialisme. Toe Harrison se regiment daar aanland om die dorp te beset, was die plaaslike Engelse en “lojale Hollanders” alte bereid om ’n dorpswag te vorm sodat die Britse magte hul aandag elders kon bestee. Aanvanklik het die lojaliste die waakbeurte as ’n avontuur ervaar, maar tog later begin kla dat daar baie van hul dorpsgenote is wat nie bereid was om handjie by te sit nie. Hulle het toe by die Britse militêre owerheid op die dorp aangedring dat die onaktiewe lede gedwing word om te help. Die aangeklaagdes se verweer was egter dat hulle voldoen aan Lord Milner se proklamasie van neutraliteit.

 Die  Graaff-Reinetters was natuurlik kolonialers en dus Britse onderdane, en sou  hulle aktief aan Boerekant aan die Oorlog deelgeneem het deur die wapen op te  neem, sou hulle as Kaapse rebelle onder die swaard van vervolging en die  doodstraf vir verraad geval het.    

 Soos dit nou maar gaan onder krygswet, was die groep van vyftig onwilliges skuldig bevind aan burgerlike ongehoorsaamheid deurdat hulle nie hul gewig by die Britse owerheid ingegooi het as lede van die dorpswag en gehelp het om die dorp teen die “vyand” te bewaak nie. Hulle is toe in die plaaslike tronk gestop met die verwagting aan owerheidskant dat hulle daar tot ander insigte sou kom. Hoe lank die vonnis van krag was en die gevangenskap geduur het, is nie bekend nie. Mettertyd, egter, is ’n kompromie met hulle getref, naamlik dat as hulle bereid sou wees om ligte werk aan die fortifikasies om die dorp te verrig, hulle vrygelaat sou word.

 Harrison, synde ’n militêre vakman, het toesig gekry oor helfte van hierdie groep (my oupa inkluis) met opdrag om fortifikasies in die omgewing van Spandauskop op te rig. Werksure was van agtuur voormiddag tot middagetenstyd. Harrison skryf dat hy gou uitgevind het dat daar vername mense in sy groep was. Een was selfs lid van die plaaslike dorpsbestuur, ’n ander redakteur van die plaaslike koerant, en onder hulle was van die omgewing se mees welgesteldes. 

 Harrison was self by tye baie rebels gewees, met die gevolg dat die groep met hom veel in gemeen gehad het en selfs met hom vriende gemaak het! Hy het soms saam met hulle geknoei sodat dit lyk asof hulle hard werk. Dan het hy ’n wag uitgeplaas om op die uitkyk te wees, en die groep toegelaat om kaart te speel of te eet. Een van die groep het selfs tyd ingeruim om Harrison te leer om bietjie Hollands te verstaan! Dit het alles daartoe gelei dat Harrison se bevelvoerder hom uiteindelik elders ontplooi het omdat sy gemoedelike optrede teenoor die Boeresimpatiseerders suspisie gewek het.

 Ná die oorlog het Harrison teruggekeer Engeland toe, maar in 1903 was hy terug in Suid-Afrika en het hy aktief in die politiek begin betrokke geraak. In 1941 het hy Graaff-Reinet besoek en was hy die geleentheid beskore om op uitnodiging van sommige van sy eertydse “gevangenes” tee te drink en die gesinslede te ontmoet. Onder hulle was my oupa Roelf, op daardie stadium lankal getroud, met ’n gesin van drie wat almal reeds uit die huis was. Ek sou wat wou gee om te weet hoe die geselligheid afgeloop het en waaroor die groepie met mekaar gesels het.

 Een ding weet ek vir ’n feit: die sosialis Harrison en my oupa sou nie aan dieselfde kant van die politieke draad gesit het nie!

TERUG