HOOFSTUK 12

Anneke Jans Bogardus en die Manhattan miljoene

                                                                                                            - Saamgestel deur Stander Jansen

Volgens oorlewering was Zirke Jansen, ons stamvader, ‘n afstammeling van Roelof Jansen en Anneke Webber (1), kleindogter van Willem die Swyger, ook bekend as die Prins van Oranje-Nassau. As bruidskat het Prins Willem ‘n groot stuk grond op Manhattan Eiland aan hulle geskenk (2). Oorlewering wil dit verder hê dat na hulle dood die grond aan die Trinity Kerk van New York verhuur is.

Anneke Jans #1

Uittreksel vanuit die oorspronklike huweliksregister van Wolfferdt Webber
en Annetgen
Kocks, na bewering die ouers van Anneke Jans Bogardus.
Die nota, deur 'n onbekende outeur, onderaan die dokument beweer dat die
Prins van Oranje die plaas op Manhattan Eiland as bruidskat aan die
"Anneke Webber" en "Roelof Janssen" geskenk het.

Pogings is by verskeie geleenthede gedurende die vorige eeu deur die afstammelinge van Zirke aangewend om die wettigheid hiervan vas te stel en om die eiendom self of vergoeding daarvoor op te eis. Soortgelyke pogings in die vorm van regsaksies is in die VSA deur die nasate van Roelof en Anneke, asook die van Anneke en haar tweede man, Everardus Bogardus, oor ‘n tydperk van bykans 200 jaar onderneem (3).

Vir die doel van moontlike aansprake deur die nasate van Zirke is ‘n afstammingsregister in die middel 1920s deur ene Magdalena Bowen opgestel. Volgens ‘n berig in die Graaff-Reinet Advertiser van 5 Mei 1926 het sy die Suid-Afrikaanse Jansens genealogies aan Anneke Jans, weduwee van Roelof, verbind. Stamvader Zirke Jansen was volgens haar ‘n agterkleinseun van Anneke Jans. Die einste Magdalena Bowen het onder andere beweer dat Zirke na sy huwelik in 1755 na Graaff-Reinet verhuis het, 'n bewering wat later verkeerd bewys is.

In die dertigerjare van die vorige eeu het ‘n sekere dame met die van de Bruyn by familielede aangedoen om geld vir haar passasie per skip na New York in te samel. Sy sou ter plaatse gaan vasstel wat die situasie is en ‘n eis namens die familie instel. Nodeloos om te sê, daar is nooit weer ‘n woord van haar gehoor nie.

Die huurooreenkoms met die Trinity Kerk sou volgens oorlewering onder die nageslag van Zirke in die laat 1950s / vroeë 1960s verval, wat optrede deur die Suid-Afrikaanse afsammelinge genoodsaak het. ‘n Familievergadering is in die stadsaal van De Aar belê en ‘n Erfeniskomitee onder voorsitterskap van Zirk Middelplaas (ZB Jansen, geb 1920) is aangewys om die saak te dryf. ‘n Berig hieroor, geskryf deur Eugene van Heerden,  het in die Huisgenoot van 12 November 1956 verskyn.

Die aanspraak op die “Jansen miljoene” was oor baie jare ‘n gewilde onderwerp van bespreking. So skryf Dr LP Kuyt, Departement Kliniese Genetika en Antropogenetika, Vrye Universiteit van Amsterdam, op 20 November 2002 as volg aan Stander Jansen:

Er is al veel geschreven over Anneke Webber en het is toch wel leuk om een beetje opwinding te zien bij onze generatie over het gedoe in de tijd.

Later in die brief skryf hy so: Kort en goed: de vermeende afstamming van Anneke Webber naar Willem de Zwijger berust op een fantasie. Het is wel een interesaant verhaal, maar een koppeling naar het huis van Oranje is er niet” (4).

Kyk ons na geskrifte wat hiertoe aanleiding gegee het, word beweer dat Anneke Webber, gebore in 1605, die dogter was van Wolfert Webber en “lady” Annetke Coch, ook bekend as Anna van Oranje. Wolfert, op sy beurt, was die seun van Prins Willem van Oranje, Koning van Holland, en sy vrou “lady” Annetke Wallace. Wolfert het sy pa in ongeveer 1600 as koning opgevolg. Die koninklike familie het die van Webber gebruik. In 1624 trou Anneke met Roeloff Jansen van Maesterlandt, ‘n militêre offisier en ‘n persoon van beduidende invloed in sy omgewing (5).

Anneke Jans #2
Transkripsie van die uittreksel uit die oorspronklike huweliksregister van Wolfferdt Webber en
Annetgen Cocks
(sien afskrif van oorspronklike dokument hierbo).

Ander beweer dat Anneke, kleindogter van Willem die Swyger van Oranje-Nassau, in 1605 in Den Haag gebore is, die dogter van Wolphert Webber(s) en Tryntje Jonas. Nederlandse rekords toon egter dat die Wolphert (Wolfert) Webber(s) familie in Amsterdam woonagtig was en nie Den Haag nie (1).

Die rekords van die Nederduits Gereformeerde Kerk van Amsterdam toon slegs een familie Webber, naamlik die van Wolfert Webber, gebore in Straesburgh, Duitsland, en eggenote Annetgen Kocks van Halsteegh. Dooprekords van onderskeidelik die Niewe Kerk en Oude Kerk toon hul kinders as: Hendrick, gedoop 3 Julie 1601; Bartolomeus, gedoop 10 November 1602, jonk oorlede; Wolfert, gedoop 18 Januarie 1604; Bartolomeus, gedoop 20 November 1605, jonk oorlede; Angentietje, gedoop 15 Junie 1608; Barber ‘n dogter, gedoop 30 Augustus 1612; Hester, gedoop 9 November 1614; Bartolomeus, gedoop 18 Desember 1616; Willem, gedoop 17 Desember 1617; en Sara, gedoop 29 Desember 1618. Anneke, gebore in 1605, pas dus nie by hierdie familie in nie (1). Terloops, Wolfert, die derde kind, trou in 1630 in Amsterdam met Annetje Wallis (6). Die lady Annetke Wallace verwarring het dalk hier sy oorsprong.

Die korrekte genealogiese rekord van Anneke Jans is as volg:

Huweliksgebooie gedateer 1 Aprl 1623, Amsterdam Gereformeerde Oude Kerk, van Roelof Jansson, gebore Maesterland, Swede maar woonagtig in Bohuslan, Noorweë tot 1658, seeman, 21 jaar oud; en Anna Jans, gebore in Vleckere, Noorweë, 18 jaar oud. Anna se moeder word aangegee as trijn roeloffs [ook genoem Trijntje Jonas (6)]. Die huweliksrekord toon dat hulle op 18 April 1623 in die Amsterdam Gereformeerde Niewe Kerk getroud is. Hullle drie oudste kinders, Lijntje, Sara enTtrijntgen, is in die Lutherse Kerk, Amsterdam, gedoop (1).

Hiermee is aangetoon dat Anneke Jans, alias Anneke Webber, gebore in 1605, nie die dogter van Wolfert Webber en Anna van Oranje was nie, maar van Trijn Roeloffs (alias Tryntje Jonas) van die eiland Maesterland, Noorweë, en haar man Johan. So ook was Trijn se skoonseun, Roelof Jansz, gebore in Swede, later woonagtig in Maerstland. Die van “Jans” verwys na die Nederlandse afkorting en verbuiging van die Noorweegse van “Johansdatter” en vewys na Anneke as die dogter van Johan (6).

Roelof Janszen en sy vrou Anneke Jans, vergesel van hul drie oudste kinders asook Anneke se ma, Trijntje, vertrek uit Nederland op die skip “Eendracht” (7,8) en arriveer op 24 Mei 1630 in Nieuw Amsterdam (8). Roelof tree in diens by die Patroon Killiaen van Rensselaer as boumeester of hoofsuperintendent van die plaas genaamd “de Laets Burg” (7,8).  Die volgende twee kinders, Fytje, ca 1631, en Jan, ca 1633, word hier gebore. Die dogters het die van Roelofs aangeneem en die seun die van Roelofszen. Nie een het onder die van Jansen bekend gestaan nie (6). Die gebied, toe bekend as Rensselaerwijk, staan deesdae bekend as die stad Rensselaer, New York (7).

Na voltooiing van Roelof se dienskontrak met die Patroon in 1635, keer die gesin terug na Nieuw Amsterdam. In 1636 bekom Roelof ‘n plaas van 62 akker op die Westekant van Manhattan Eiland* met die hulp van ‘n lening toegestaan deur die Oos-Indiese Kompanjie (7,8). [* Manhattan Eiland was volgens Nederlandse skattings in 1626 11,000 morge (nagenoeg 22,000 akker) groot.

Anneke Jans #6
Ligging van Anneke Jans se plaas op 'n teenswoordige kaart van Manhattan

Moderne beramings stel die grootte op 22.3 vierkante myl of 14,272 akker (6). Die sesde kind, Annetje, word in 1636 hier gebore (6). Roelof sterf kort daarna en laat sy weduwee met 5 kinders agter (7). Anneke word nou die eienaar van die 62 akker geleë noord van die Wes-Indiese Kompanje se bouwerie (plaas) en strek rofweg vanaf die hedendaagse Broadway tot by die Hudsonrivier en noord tot by Christopherstraat.

Anneke Jans #3
Anneke Jans #4
Everardus Bogardus Plase

I
n Maart 1638 trou Anneke met Dominee Everardus Bogardus, Nederduits Gereformeerde predikant van Nieuw Amsterdam (8). Ds Bogardus is self ‘n grondeienaar, geleë net noord van die van Anneke. Wetgewing van daardie tyd het bepaal dat Ds Bogardus nou die voog van sy vrou se grond geword het. Die twee stukke grond staan hierna bekend as Dominee se Bouwerie (9).

Die dominee en Anneke het vier kinders gehad, almal seuns genaamd Willem, Cornelius, Jonas en Pieter Bogardus. In 1646 sterf Ds Bogardus tydens ‘n seereis na Nederland. Dit laat Anneke weereens as weduwee met ‘n groter kroos (8). In 1654 bevestig Goewerneur Petrus Styvessant eienaarskap van beide plase aan Anneke (9). Anneke keer egter terug na Rensselaerswijk, waar sy in 1663 te sterwe kom (8). In Maart 1667 bevestig die Engelse Goewerneur Richard Nicolls weer die plase as die wettige eiendom van Anneke se erfgename (9).

Anneke Jans #5
Anneke Jans Bogardus se Testament

Op 9 Maart 1670 verkoop die erfgename die twee stukke grond in Manhattan om Anneke se boedel te kan afhandel. Die koper is Goewerneur Lovelace, die Engelse goewerneur van die kolonie. Die dokument word deur al die erfgename onderteken, behalwe Cornelis Bogardus, wat in 1666 oorlede is, sy weduwee, Helena (Teller) Bogardus of sy seun Cornelis Bogardus (9).

In 1673 neem die Hollanders beheer terug, tot 1675, toe dit nogmaals onder Engelse beheer kom. Die Hertog van York eis die grond op as skuldvereffening vir geld wat hy aan Lovelace geleen het. Na Anneke se plase word vervolgens verwys as “die Hertog se plaas”, daarna die “die Koning se plaas” en uiteindelik “die Koningin se plaas” met die aanvang van koningin Anne se troonbestyging. Op 23 November 1705 skenk koningin Anne die eiendom aan die Trinity Kerk en word dit geregistreer in die naam van die “Trinity Church Corporation of New York” as ewigdurende eiendom (7,9). ‘n Jaarlikse rente van een peperkorrel was betaalbaar aan die Britse koningshuis. Tydens koningin Elizabeth II se besoek aan die Trinity Kerk op 9 Julie 1976 word die “agterstallige huur” in ‘n simboliese gebaar vereffen deur betaling van 279 peperkorels (3).

Na raming was die oorspronklike Jansen/Jans/Bogardus eiendom reeds in die 1920’s etlike biljoene dollar werd. Afgesien van die Trinity Kerk, besit die Universiteit van Columbia ook ‘n deel daarvan. Eise deur die nageslag van Anneke Jans het veral daarop berus dat een van die kinders nie die verkoop van die eiendom afgeteken het nie. Dit was dan ook die seun Cornelis Bogardus se nageslag wat oorspronklik die eis teen die Trinity Church Corporation ingestel het, wat tot dosyne hofsake aanleiding gegee het. Die tydsverloop tussen oordrag na die Trinity Church Corporation en instelling van die eis was egter so lank dat dit die Kerk se eiendomsreg verseker het, ongeag of al die erfgename oorspronklik die dokument geteken het al dan nie (10). Mens kan ook nie die politieke en ekonomiese mag van die Trinity Kerk teenoor die van die erfgename as bepalende faktor buite rekening laat nie.

Samevattend die volgende: Die kinders van Anneke Jans en Roelof Jansen het die van Roelofs vir die dogters en Roelofszen vir die seun, aangeneem. Nie een het die van Jansen gebruik nie. Slegs Sara, Trijnte (Katriena) en Fijtje het kinders gehad (8).  Daar bestaan geen bewyse dat Jan ooit getroud was nie. Hy was steeds ongetroud toe sy ma in 1663 dood is, sowel as in 1670, toe hy as landmeter in Beverwyck gewoon het. Hy moet nie verwar met Jan Roeloffsen wat in Schenectady gewoon en aan die hand van Indiane tydens die 1690 massamoord gesterf het nie (12).Die kinders van Anneke Jans en Everardus Bogardus, naamlik Willem, Cornelis, Jonas en Pieter het die van Bogardus aangeneem, van wie Willem, Pieter en Cornelis nasate gehad het (11).

Die nasate van Anneke Jans beloop reeds etlike miljoene (13).

Oor die hofsake die volgende aanhaling: “In reviewing the facts again today, however, one could conclude that the heirs of Anneke Jans were treated unfairly, but it is also plainly clear that no such lawsuit should ever be initiated again because of the finality of the court judgements that were previously rendered” (11).

Meer inligting oor hierdie hofsake word verskaf in twee publikasies van William J. Parry  in die New York Genealogical and Biographical Record, Vol. 125, April en Julie 1995 uitgawes getiteld “The ‘Heirs of Anneke Jans Bogardus’ versus Trinity Church: A Chronicle of New York’s most Prolonged Legal Dispute”; en Vol. 126, April 1995, getiteld “A Family Feud: Anneke Jans Claimants in1831” (12).

Geen bewyse kon verkry word wat Cornelis Jansen, vader van Suid-Afrikaanse stamvader Zirke, aan hierdie Roelofs/Roelofszen/Bogardus families koppel nie.

Die storielyn bly steeds merkwaardig. Hoe het ons voorvaders te hore gekom van Roelof en Anneke Jansen en die eiendom op Manhattan Eiland, die vermeende verbintenis met die Hollandse koningshuis, die oordrag van die grond in erfpag aan die Trinity Kerk?

Bronne

 1. The Dutch Settlers Society of Albany, Volume 43, Yearbook 1970 – 1972

2. Voetnota in Engels, outeur onbekend, onderaan dokument getiteld Oud-Archief Gemeente Amsterdam

– extract uit het Kerkelijk Huwelijks inteekening register DT&B No. 409

 3. https://en.wikipedia.org/wiki/Trinty_Church_(Manhattan)

 4. Brief van LP Kuyt aan S Jansen, 20 November 2002

 5. Americans of Royal Descent, deur Charles H Browning, 1894, Vol.3, p. 800

 6. Halve Maen. Quarterly Magazine of the Dutch Colonial Period inAmerica, Vol.   xlviii, April, 1973, No. 1

 7. http://www.expage.com/page/annetje

 8. http://userpages.umbc.edu/~cschmdl/Anneke.htm

 9. http://www.xroyvision.com.au/drake/history/draketext9.htm

 10. http://www.freelabs.com/~whitis/clan/bogardus/

 11. http://freepages.genealogy.rootsweb.com/~ghosthunter/Anneke/page2.htm

 12. http://freepages.genealogy.rootsweb.com/~ghosthunter/Anneke/page6.htm

 13. http://freepages.genealogy.tootsweb.com/~ghosthunter/Anneke/page0.htm

 

TERUG