ERKENNINGS

 

Hierdie werk het baie te danke aan die navorsing van ‘n groot aantal historici, geskiedskrywers en medewerkers.

Die leser moet daarom vir geen oomblik onder die wanindruk verkeer dat alles wat hier opgeneem is eksklusief vanuit my pen voortgevloei het, of dat dit by uitstek op die rekenaar in my studeerkamer geskep is nie. Die leser word gevolglik in die eerste plek verwys na die verwysingsbronne aan die einde van hierdie dokument. Die meeste dank gaan aan daardie outeurs.

Heel voor op die eerste sitplek van die voorste ry van medewerkers is egter my eggenote, Elise Breytenbach. Sy het met net soveel oorgawe soos ek gewerk om oor baie jare die inligting in te samel wat hier saamgevat is. Terwyl ek deur die stowwerige en verweerde dokumente van die Staatsargief in Victoriastraat in Kaapstad geworstel het op soek na wetlike dokumente soos registrasies van geboortes, huwelike, sterftes, testamente en kontrakte, het sy selfs langer ure in die Kerkargief in die ou Sinodesentrum deurgebring. Waar my werk gewentel het rondom bekende name en gebeurtenisse, het sy geworstel deur boeke en registers sonder indekse op soek na onbekende name van hulle wat voor ons was.

Ek moes Elise se naam noem, maar weet nie eens waar om te begin met die tientalle familielede wat saamgewerk het en my aangepor en gemotiveer het nie. Vanoor die lengte en breedte van Suid-Afrika het hulle meegehelp en die klein stukkies van die legkaart bygedra. Ek kan nie almal noem nie, maar daar is enkeles wat my sal skuldig maak aan ‘n misdaad as ek nie hul name noem nie. Ek dink eerstens aan Zirkie de Klerk (gebore Jansen) van Victoria Wes, nou reeds oorlede, my oupa aan vaderskant se suster. Ek was bevoorreg om die wonderlike herinneringe wat sy van haar pa, Zirk (Langbaard) Bernardus Jansen, gehad het, persoonlik by haar te kon verneem. Dan was daar Kobus en Koks Cloete van Philipstown, albei reeds oorlede, wat met fantastiese geheue die ingewikkelde familieverbintenisse van Johannes (Dons) Jansen van Philipstown kon uitlê. Laastens, maar geensins die minste nie, was daar natuurlik die kosbare gesprekke met Auret Jansen en Bennie Viljoen van Graaff Reinet. As direkte afstammelinge van die inwoners van daardie bekende huis in Plasketstraat, Graaff Reinet, het hulle die Withuis-Jansens laat leef en sodoende ‘n onskatbare waardevolle bydrae gelewer.

Ek kan ook nie nalaat om te verwys na die bydrae van my medewerker, Michael Clements, van Neustadtgödens in Oos-Friesland nie. Michael se belangstelling in die geskiedenis van Neustadtgödens het hom genoop om ‘n skriftelike bydrae te maak. Dit is met dank dat raakpunte tussen sy werk en die meegaande geskiedenis van Friesland hier opgeneem word.
 
Eer aan diegene wat leef, maar dis eintlik hulle wie se gene in ons liggame leef wie se nagedagtenis ons met hierdie werk probeer eer. Hulle is ons voorgeslagte, die mense wat die hoofrolle speel in hierdie verhaal: die mense sonder wie hierdie verhaal nooit sou kon wees nie.

Waar hierbo hoofsaaklik verwys word na die geskiedenis van die skrywer se tak van die Jansen-familie van Suid-Afrika, is dit eerstens egter nodig om die wyer draai te loop deur die newels van die voortyd: die periode wat Mark Twain se “inference, drawn from the facts”-gedeelte van die geskiedenis verteenwoordig. Die skrywer neem die leser ongeveer 12,000 jaar terug tot aan die einde van die laaste Ystydperk in Europa. Vandaar word die beeld van Mark Twain se “inference” geskilder om te lei tot by die gedeelte wat hy “the halve which is statement of fact” noem. Die teiken-omgewing vir hierdie voortydse geskiedenis is natuurlik die Jansen-stamvader se geboorteland, Oos-Friesland.

Frederik Antonie Jansen
a.b4.c5.d6.e1.f3.g2.h1
27 Mei 2006

 

TERUG