Anthony van Bengale

Catharina van Palicatte

 

Anthony na PJ Viljoen 

Diagram 18. Philippus Jacobus Viljoen, ‘n kleinkind van, Catharina Snyman, ‘n kleinkind van Anthony van Bengale en Catharina van Palicatte.

Anthony na ME Botha 

Diagram 19. Maria Elisabeth Botha, ‘n agterkleinkind van, Elsie Snyman, ‘n kleinkind van Anthony van Bengale en Catharina van Palicatte.

'n Uitstaande geval van ‘n Indo-Europese verbintenis uit die tydperk vóór 1700, is die huwelik in 1690 van Christoffel Snyman met Marguerite de Savoye. Volgens De Villiers en Pama, asook J.A. Heese was Snyman, ten spyte van sy Nederlandse van, die seun van die vryswart Anthony van Bengale en Catharina van Palicatte. A.M. van Rensburg het bevind dat Christoffel die kind was van ‘n soldaat, Hans Christoffel Snyman, en Catharina van Palicatte (ook genoem Catharina van Bengale of Groot Katrijn). Marguerite se vader en moeder was van Frankryk afkomstig. Haar vader was Jaques de Savoye van Aeth, en haar moeder was Marie Madelaine le Clercq van Doornik. In hierdie geval was die stamvader van die Snyman-familie dus ‘n volbloed Indiër (of ‘n halfbloed Indiër as die navorsing van byvoorbeeld A.M. van Rensburg aanvaar word), hoewel hy aan die Kaap gebore is en dus nie as ‘n immigrant beskou kan word nie. Christoffel Snyman en sy “blanke” vrou het hulle in Drakenstein gevestig.

A.M. van Rensburg beweer dat Catharina van Bengale afkomstig was vanaf Palicatte, aan die Coromandel kusgebied van Indië. Sy is in ongeveer 1631 in Indië gebore en as slaaf weggevoer na Batavia waar sy in diens was van die “vryswarte” Maria Magdalena. Catharina is op 8 Oktober 1656 in Batavia deur haar vriend, Claes van Malabar, seksueel aangerand in ‘n stal by Fort Rijswijk. Tydens die gestoei het Catharina vir Claes met ‘n leer oor sy maag geslaan. Hy is sodanig beseer dat hy vier dae later as gevolg hiervan beswyk het. Catharina is skuldig bevind aan moord en is die doodvonnis opgelê. Haar vonnis is egter weens onbekende redes versag, maar sy is as slaaf na die Kaap verban. Sy het op 21 Februarie 1657 op die skip “Prins Willem” saam met die retoervloot vanaf Batavia in die Kaap aangekom. Catharina was die eerste aangetekende prisonier wat in die Kaap aangekom het en as slaaf aangewend is. Sy is op 29 April 1668 saam met haar vriendin, Mooi Ansela, in die Kaapse Kerk gedoop.

Christoffel en Marguerite kom twee keer in die Jansen-voorgeslagte voor. Philippus Jacobus Viljoen (Diagram 18) was ‘n oupa-grootjie van F.A. Jansen van Olievenfontein, en Maria Elisabeth Botha (Diagram 19) was ‘n ouma-grootjie van A.S. Jansen van Olievenfontein.

Die geval van die Snyman-familie is werklik uitsonderlik. Soos voorheen genoem, het die aantal huwelike tussen blankes en gekleurde persone wat in vryheid gebore is, waarskynlik die grootste enkele groep van “gemengde” huwelike in die Kaapse distrik gevorm tot aan die einde van die agtiende eeu. Boonop was dit ook die enigste wyse waarop gekleurde genetiese materiaal tot die blanke groep in die buite-distrikte (byvoorbeeld, Drakenstein) oorgedra is.

In laasgenoemde geval is die gekleurde herkoms van die individu gewoonlik verberg omdat sulke persone Europese of “blanke” vanne gehad het (vergelyk “Snyman”). Daar het gevalle voorgekom, soos in die geval van die Snymans, waar die stamvader van suiwer Oosterse afkoms was, terwyl die moeder van suiwer Europese afkoms was. In die ekstreme geval, byvoorbeeld die geval van Anthony van Bengale en Constantia van Palicatta, waar beide die stamvader en moeder van Oosterse herkoms was, is die kinders nogtans as kultureel “blank” beskou en is ten volle in die Europese groep opgeneem.

In die geval van die Snymans het ons dus ‘n voorbeeld van ‘n familie wat as “Afrikaners” erken word, maar waar die familie-naam nie van Europese herkoms is nie en waar beide die stam-ouers van nie-Europese herkoms is. Dit is moontlik dat Christoffel gebore is toe sy slawe-ouers reeds vrygestel was en dat hy toe as “Europees” aanvaar is.

Dit is egter ‘n bekende feit dat die “verblanking” van die Indiese stamvader nie sonder teenkanting plaasgevind het nie. Toe die Hugenote hulle vanaf 1688 aan die Kaap gevestig het, het hulle hoofsaaklik as gesinne gekom en die kanse op vermenging met ander kulturele groepe was aanvanklik swak. Tog het daar reeds vroeg vermenging met die ander kulturele groepe plaasgevind soos met die vrygeborene, Christoffel Snyman – sy huwelik met Marguerite de Savoye, die Hugenote-kind van Jaques de Savoye en Marie Madelaine le Clerq. Dit is egter nie bekend waarom die Hugenote predikant, Ds. Simond, nie ‘n kind van die Snyman egpaar wou doop nie. Of die weiering te doen gehad het met die Indiër-vader of die persoonlike vete tussen Jaques en Ds. Simond, is nie duidelik nie (Heese, Groep Sonder Grense, p.18).

TERUG