Neustadtgöden

- saamgestel deur Ferdie Jansen
voltooi deur Simon Jansen

Inleining tot Neustadtgöden

In ‘n vorige hoofstuk is genoem dat die klein dorpie Neustadtgödens, naby die teenswoordige Wilhelmshaven aan die Noord-Duitse kus, bekend gestaan het as “Die Kerkryke Plek”. Die periode net na die Dertigjarige Oorlog is spesifiek gekenmerk deur heropbou en herstel van die littekens wat die oorlog op die land en sy mense gelaat het. Die periode tussen 1690 en 1740 is terselfdertyd ook gekenmerk deur ‘n besondere toename in godsdienstige en religieuse aktiwiteite, veral in Oos-Friesland.

kaart

Neustadtgöden Uitleg

In die kort bestek van slegs 50 jaar is vier kerkgeboue van verskillende denominasies in Neustadtgödens opgerig. Die eerste was die kerkgebou van die Evangelies Lutherse Kerk in 1695. Die kerktoring, ‘n welbekende baken in die dorp, is in 1714 bygevoeg. Die ou begraafplaas is agter die kerk op die kerkgronde geleë.

Lutherse Kerkgebou
Lutherse Kerktoring
Lutherse Kerk Binne
Begraafplaas

Die Lutherse Kerkgebou is in 1695 gebou, maar die toring is eers later (1714) bygevoeg.

Die toring is sedertdien gerestoureer volgens die oorspronklike ontwerp.  Die horlosie en klokkespel is steeds oorspronklik. Die Preekstoel (oorspronklik) is van regs voor na links voor in die kerk verskuif.  De begraafplaas is baie verweer en het hoogstens monumentale waarde.

Kateder
Doopvont

Die Oorspronklike Kateder(1696) en Doopvont (1698) voor in die Lutherse Kerk

Die volgende groep om hul kerkgebou op te rig was die Evangelies Hervormde Kerk in 1715. Die toring met sy kenmerkende daknok en torinkies en koepel het tot in die middel van die twintigste eeu behoue gebly. Die kerk het as ‘n plek van aanbidding gedien tot kort voor die tweede wêreldoorlog toe dit aan ‘n privaatpersoon verkoop is. Die gebou is later in wooneenhede omskep,

Gereformeerde Kerk

Die Evangelies Hervormde Kerkgebou

Die Katolieke het hulle St. Joseph’s Kerk in 1716 gebou. Hierdie was die eerste Katolieke kerkgebou wat in Oos-Friesland opgerig is na die Hervorming. Die kerkgebou is steeds in gebruik en kerkdienste word tot vandag daar gehou.

Katolieke Kerk

Die Katolieke Kerkgebou

Die Mennoniete was volgende om hul plek van aanbidding te bou. Dit was in 1741 en word as die hoogtepunt van die gemeente se bestaan beskou. Die gemeente se getalle het geleidelik begin daal en die laaste diens is in 1841 in die kerkgebou gehou. Die gebou het in onbruik geraak en spoedig vervalle geraak. Tydens die oorloë van 1870/71 en 1914/18 is dit as ‘n militêre voorrade depot gebruik. Vanaf 1934 is dit eers as ‘n gimnasium gebruik en toe as brandweerstasie. Vanaf 1958 het die Lutherse Kerk die gebou as Begrafnis Kapel begin gebruik.  Dit is vandag 'n restaurant.

Menoniete Kerk

Kerkgebou van die Mennoniete

Die vyfde en laaste kerk om gebou te word was die Joodse Sinagoge in 1852. Teen omstreeks 1860 was meer as ‘n kwart van Neustadtgödens se bevolking Joods. Jode van so ver as Wilhelmshaven het die sinagoge tot in 1902 as ‘n plek van aanbidding gebruik. Die geskiedenis van Duitsland het egter nie vir Neustadtgödens misgekyk nie. Joodse Kerkdienste moes noodgedwonge in 1936 beëindig word. Die sinagoge het gelukkig die veelbesproke “crystal night” van die nazis in 1938 vrygespring – die enigste in Oos-Friesland wat die verwoesting vrygespring het. Die sinagoge is hierna in ‘n verf-fabriek omskep, maar is kort daarna gesluit weens die risiko van ‘n ontploffing in die historiese Kerkstraat in die dorp. Die meeste van die Joodse burgers is in die daaropvolgende jare ontvoer en na die konsentrasiekampe gestuur. Sedert 1988 word die gebou vir wisselende kunsuitstallings gebruik.

Joodse Sinagoge

Die Joodse Sinagoge

Te midde van al hierdie godsdienstige aktiwiteite het die mense van Neustadtgödens hul gewone gang gegaan. Die boere het hul produkte op die dorpsmark verkoop; die vishandelaar het met ywer vars vis ingevoer en aan die dorpsmense verkoop; die meulenaar het permanent vars gemaalde meel beskikbaar gehad en die kruidenier het ‘n hele spektrum van ware aan die huisvrouens van die dorp gebied. Dan was daar natuurlik die belangrikste bedryf van die dorp: Materiaal, wat plaaslik met die hand geweef is, was veral bekend vir die besondere gehalte daarvan. Een van die beroepswewers van Neustadtgödens, Jacob Harms Frese, was getroud met Anna Margaretha Jansen, die dogter van Kleremaker Cornelius Jansen. Anna was Cornelius en Trintke (Friesies vir Carharina) Jansen se tweede kind. Hul oudste, ‘n seun Zirke, se geboortedatum is nie presies bekend nie, maar moes iewers tussen 24 Mei 1730 en 23 Mei 1731 gewees het volgens sekere dokumente van die Lutherse kerk wat gedurende 2005 opgespoor is.

Die Jansen-gesin was Lutherse Protestante en lidmate van die Lutherse gemeente op Neustadtgödens. Lede van die gesin is na hul afsterwe vanuit hierdie kerk begrawe en Cornelius self is vir ‘n tweede keer, nadat Trintke oorlede is, met Margaretha Siefken vanuit dieselfde gemeente getroud. Trintke is op 17 April 1742 oorlede en is natuurlik ook vanuit die gemeente begrawe. Die gesin se woning was in dieselfde straat (Sielstrasse, in die sewentiger jare hernoem na Kirchstrasse) as die Lutherse Kerk geleë, sodat dit aanvaar word dat sy in die kerk se begraafplaas ter ruste gelê is. Die gesin was daad-Christene, en het die kerk vir meer as net godsdienstige rituele gebruik: Zirke is op 23 Mei 1747 as sestienjarige seun in die Lutherse gemeente as lidmaat aangeneem, ‘n aksie wat op daardie tydstip in die geskiedenis met erns bejeën is, en bewys lewer van die Jansen familie se godsdienstigheid.

Jansen huis

Kirchstrasse 57 (voorheen Sielstrasse,
die perseel waar die Jansenhuis gestaan het tot ca1753

Jansen Huis

Met die hoender op die daknok,
en die Lutherse Kerkgebou hoër op in die straat.

Zirke Jansen was elf jaar oud, en sy twee sussies Anna Margaretha en Eile Catharina, onderskeidelik drie en vyf toe hul moeder in April 1742 oorlede is. Die ouderdomme van die kleintjies kan moontlik die rede wees waarom Cornelius slegs sewe maande na Catharina se oorlye weer getroud is.

Dit was in die laat winter van 1752 toe ‘n dramatiese gebeurtenis in die gesin se bestaan sou plaasvind. Zirke was mondig en die groot stroom van sy jong landgenote wat hul vaderland verlaat het op soek na ‘n beter toekoms elders, het waarskynlik ook die wanderlust in Zirke wakker gemaak. Omstandighede was gunstig vir die jong man van Neustadtgödens om self sy heil elders te gaan soek. Sou die reis van sy lewe in sy vaderland plaasvind naby sy ouerhuis en binne sy kulturele erfenis, of elders in ‘n nuwe omgewing? Al die stories oor die donker Afrika-kontinent en die mistieke Ooste sou hom heel waarskynlik erg fassineer en sy jeugdige avontuurlustigheid tot die uiterste prikkel.

Die opbou tot hierdie "verhuisings"-scenario het waarskynlik lank voor sy geboorte reeds begin. Die gevolge van die bou van die Ellenser Dam ten Ooste van Neustadtgödens was sonder twyfel een van die primêre aanleidende oorsake. Die ontworteling en die verandering in lewenswyse wat die dorpenaars as gevolg van die bou van die dam moes ondergaan sou beslis ‘n direkte invloed op hul daaglikse bestaan hê. Hul afhanklikheid van die see en die gevolglike bestaansmetodiek wat oor eeue gevestig was, sou beslis nie volledig vervang kon word in die kort periode wat verloop het tussen die bou van die dam en Zirke se geboorte nie. Enige teenspoed sou op die straathoeke, op die mark of dorpsplein, dadelik aan die bou van die dam, daardie monster wat van vissers en ‘n seevarende burgery wewers, snyers en handelaars gemaak het, toegeskryf word. Hierdie gesprekke sou sekerlik ‘n blywende indruk op die gemoed van die jong Zirke gelaat het.

Net asof dit nie genoeg was nie, en net ‘n skrale vyf jaar na die bou van die dam, het die Dertigjarige Oorlog uitgebreek. Hierdie oorlog sou sonder twyfel ‘n verwoestende uitwerking op die lewens en daaglikse bestaan van die dorpenaars hê. Vir die volgende dertig jaar sou Oos-Friesland die een militêre besetting na die ander ervaar. Dit is opgeteken dat huursoldate, wat op een tydstip gedurende die oorlog in Oos-Friesland deur die Hollanders vasgekeer was, al die beeste in die landstreek doodgemaak het. Hierdie spesifieke voorval het aanleiding gegee tot uiterste armoede en gevolglike massa emmigrasie, veral na Amerika.

Kort na die beëindiging van die oorlog het ‘n ander fundamentele verandering plaasgevind wat ‘n dramatiese invloed op die daaglikse bestaan van die inwoners van Neustadtgödens sou hê. Onder die bepalings van die ooreenkomste en verdrae wat die einde van die oorlog beskryf het, is die eeue oue heerskappy en regering van die Graafskappe en veral van die Cirksenas beëindig. So ‘n fundamentele politieke verandering sou sonder meer verandering in die landswette beteken. Dit sou noodwendig verandering in die bevolking se lewenswyse tesame met gevolglike onsekerheid oor die toekoms bewerkstellig.

Alhoewel dit nie aanvanklik enige invloed gehad het op die daaglikse lewens van die Oos-Friesiese bevolking van die vroeë agtiende eeu nie, sou die gebeurtenisse in Pruise en veral Oos-Pruise spoedig baie na aan die deur van Oos-Friesland kom. Die besetting in 1744 van Oos-Friesland deur Frederik die Grote het, vir die soveelste keer, fundamentele verandering van die landswette en gevolglik die lewenswyse van die bevolking meegebring.

Onsekerheid oor hul toekoms sou dus in hierdie tydvak voorop in die inwoners se gedagtes en gesprekke wees. Die Jansen’s van Neustadtödens se vaderland was nou deel van Pruise en die Heilige Romeinse Ryk. Hulle het geen keuse gehad in hierdie nasionaliteits- en identiteitsverandering nie. Hulle was nou Duitsers. En hierdie was ‘n Duitsland met regeerders wat besig was om voor te berei vir oorlog. Massa werwing vir die oorlogspoging het plaasgevind in al die gebiede wat aan Pruise behoort het, insluitend Oos-Friesland.

Oor die werklike redes waarom die  21-jarige Kleremakersseun, sy familie en sy bekende omgewing in Neustadtgödens verlaat het kan ons egter hoogstens net bespiegel. Was Zirke dalk aangelok deur die hoë lewensstandaard in Holland op daardie tydstip - dis moontlik dat hy maar net  wou gaan kyk het, suiwer aangedryf deur die gees van die onderneming.  Miskien het hy hom maar net verhuur aan die VOC omdat hy niks anders gehad het om te doen nie. Dit is 'n historiese feit dat baie fortuinsoekers, ook vanuit Oos-Friesland, na Amsterdam en ander stede van die "Lae Lande" aangetrek is op soek na rykdom  en welvaart.

Nie Europese Banier

TERUG