Geboorte van ‘n Kultuur

- saamgestel deur Ferdie Jansen
opgedateer deur Simon Jansen

Geboorte van ‘n Kultuur

Tydens die doodsnikke van die laaste Ystydperk, (9 000vC tot 8 000vC) was die seevlak aan die Noordkus van die Europese vasteland ongeveer 100 meter laer as wat dit vandag is. Die kusgebied was sanderig. As die seevlak vinnig gestyg het was dreinering stadig en heelwat binnelandse mere is dan gevorm. Die kusgebied was nat en tot sover as ‘n 100 kilometer binnelands is die aarde bedek met moerasturf. Oor ‘n periode van honderde jare is daar ook tydens die siklusse van die see ‘n klei neerslag gevorm. Hierdie proses van see, sandduine, gety-moeras, klei en turf-neerslag het homself etlike kere deur die milenia herhaal. Die hoogliggende gedeeltes het hoofsaaklik sanderig gebly, en is kontinu vanaf die Neolitiese periode bewoon. Hierdie bewoners was die oorblyfsels van die migrerende landbouers vanuit Mesopotamië.

Hierdie “Hunnebed” of kamergraf is oos van Delfzijl in die provinsie Groningen onder 2 meter kleigrond ontdek. ‘n Klip sarkofaag is ook op die terrein opgegrawe

Almal is bewus van ‘Stonehenge’ in Engeland, megalitiese klipsirkels van Noord-Engeland en Skotland, asook die ‘Menhirs’ van Frankryk. Min mense is egter bewus van die megalitiese kamergrafte, of ‘hunnebedden’, wat op die sanderige hoogliggende gedeeltes van Groningen en Emmen in Noord-Europa voorkom. Hierdie grafkamers dateer so ver terug as 5 000vC en is dus ouer as die piramides van Egipte. Teen ongeveer 4 000vC (tydens die nuwe Steentydperk) het die jagters wat deur Europa geswerf het, hul lewenstyl dramaties begin aanpas onder die invloed van die migrerende landbouers vanuit die suide. Hulle het geleer om graan te verbou, om beeste mak te maak en om permanente skuilings en wonings te bou. Die eerste landbouers het hulself gedurende hierdie tydperk in Noord-Wes Duitsland, Denemarke en Swede gevestig (etal). (Etal) Een groepering van hierdie landbouers het hout gekap met klipbyle en het die vrugbare grond bewerk. Hulle het bekend geword as die mense van die Oorlogsbyl (Battle Ax) kultuur en het langs die Oostelike kuslyn van die Noordsee gewoon. Dit is hierdie mense wat in 3 450vC verantwoordelik was vir die bou van die groot klipgrafkamers. ‘n Ander groepering was bekend vir hul besondere erdewerk. Die erdepotte het ‘n kenmerkende tregtervorm gehad en is met geometriese patrone versier. Hierdie groepering het bekend geword as die Tregterbeker (Funnel Beaker) kultuur en het hoofsaaklik in die hedendaagse middel-Duitsland voorgekom.

Argeologiese Pot

Argeologiese Pik

Voorbeelde van Argeologiese voorwerpe van die Oorlogsbyl en Tregterbeker kulture

Die mense wat in hierdie tydperk die landstreke van die hedendaagse Frankryk en Suid-Duitsland bewoon het was die voorlopers van die latere Keltiese kulture. Hulle het van hier af oor die Britse Eilande versprei, maar ook Sentraal Europa soos Poland, Ukraïne, Slovakye en Romenië bewoon. Die Teutoniese kulture het in die Bronstyd (1 800vC) ontstaan deur die samesmelting van die Oorlogsbyl en Tregterbeker kulture. Hierdie bevolkingsgroep het in 1000vC oor Skandinawië begin versprei en behalwe Noord-Duitsland, ook Denemarke en Suid-Swede beset. Hulle het terselfdertyd ook dieper in Duitsland self ingetrek. Hulle sou later in die geskiedenis as Germane bekend gestaan.

Teen 800vC was die oorspronklike Germaanse bevolking in drie duidelike groeperings verdeel. Daar was die Germane in Wes-Europa, die Gote en Vandale in die Ooste, asook die Skandinawiërs in die Noorde. Hierdie groepe het verskil op die basis van taal en kultuur. Teen die einde van die Bronstyd (700vC) was die Germane die enigste bewoners van die kusgebiede van Noordwes Duitsland. Hierdie groep was op hulle beurt verder verdeel in drie afsonderlik identifiseerbare groepe. Die onderverdeling is op grond van die verskillende godsdienste van die onderskeie stamme gedoen. Hierdie drie groepe is die Inguaeone, die Istuaeone en die Irminone genoem.

Gedurende die eerste eeu nC het die Romeinse skrywers Plinius en Tacitus geskryf oor die sogenaamde Frisii. Die naam is afgelei van Inguz die god van die Inguaeone. Die Germaanse woord vir Inguz was Fryer. Die volgelinge van Fryer is Freisias (Presios volgens die Indo-Europese woordstam) genoem omdat hulle geglo het dat hulle afstammelinge van hul god was. Freya was die Germaanse godin van vrugbaarheid en liefde. Die Friese het dus tot die Germaanse groepering, die Inguaeone behoort en hul naam beteken “Seuns van Freya”.

Antieke Duitsland teen ongeveer 500 vC

Die ander stamme wat deel was van die Inguaeone, was die Jutte, die Angele en die Saksers. Van hierdie drie was die Saksers die naaste verwant aan die Friese. Die Chaukii, ‘n groepering van die Irminone, het net oos van die Friese voorgekom en die Saksers nog verder oos. Die Friese was net voor die aanbreek van die Christelike era egter steeds die grootste Germaanse groepering in Noordwes Europa. Hulle het die Noordsee kusgebied tussen die Ryn- en Ems-riviere bewoon, in wat vandag bekend staan as Groningen en Friesland-oos. Die Friese was net voor die aanbreek van die Christelike era egter steeds die grootste Germaanse groepering in Noordwes Europa. Hulle het die Noordsee kusgebied tussen die Ryn- en Ems-riviere bewoon, in wat vandag bekend staan as Groningen en Friesland.

Nie Europese Banier

TERUG