Roelof Andries Jansen Tak

- Bygewerk deur Simon Jansen

Roelof Andries Jansen #34 Storie

Daar ontbreek nog foto's terwyl die kamer in aanbou is!


Roelof Andries Jansen #34 is op 23 Augustus 1789 met Elsie Elizabeth Vlotman #35 in Kaapstad getroud. Elsie was die derde kind van Antonie Frederik Vlotman en Aletta Catharina Zaaiman. Antonie Frederik Vlotman was 'n kleinseun van Atonie Vlotman en Sara Bruynvis, beide vanaf Amsterdam in Nederland. Aletta Zaaiman stam uit 'n veelbesproke en geskiedkundige familie van Kaapstad. Sy was 'n kleindogter van Pieter Zaaiman, die oudste seun van Daniel Zaaiman, afkomstig vanaf Vlissingen, Nederland.

Vlissingen is die hedendaagse bekende hawestad aan die monding van die Westerschelde en die toegang tot die Noordsee, sowat 45 minute per motor vanaf Antwerpen. Dit is baie interessant om daarop te let dat Daniel Zaaiman getroud was met Petronella van Meerhof, die dogter van Pieter van Meerhof, 'n mediese dokter vanaf Kopenhagen in Denemarke. Hy was in diens van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie en het gedien op Jan van Riebeeck se personeel. Hy was getroud met Eva, 'n hottentottin in Jan van Riebeeck se huishouding. Die huwelik tussen Pieter van Meerhof en Eva op 12 April 1664, was een van die eerste tussen 'n Europeër en 'n boorling van die Kaap.

Elsie Elizabeth Vlotman is op 30 Augustus 1772 in Kaapstad gedoop. Sy was dus sewentien jaar oud toe sy met die nege-en-twintigjarige Roelof Andries Jansen getroud is. Dit is nie bekend wanneer Roelof Jansen die Kaap verlaat het nie. Hy was reeds in 1784 'n gevestigde landbouer aan die Oos-grens. Die plaas De Geelhoute Boom is op 7 Januarie 1784 as leningsplaas aan hom toegeken. Die plaas word steeds bewoon onder die naam Geelhoutboom en is geleë aan die Boesmansrivier, wes van die teenswoordige Alexandrië in die Oos-Kaap, naby Port Elizabeth. Roelof was dus 24 jaar oud toe die plaas aan hom toegeken is.

Roelof en Elsie het drie seuns en vier dogters gehad. Die seuns was, met hul geboortedatums in hakies, Frederik Antonie Wilhelm Johannes (1795), Zirk Bernardus (1800) en Roelof Andries (1807). Die dogters was Elsje Elizabeth (gedoop, 1792), Zirkija Jacoba (gedoop, 1792), Anna Catharina Lasya (1798) en Johanna Louisa (1803). Dit was dus Roelof Andries Jansen, Zirke se tweede seun, wat sy vader sou vernoem en sodoende gesorg het dat die stamnaam van die Jansens, "Zirke", vir die nageslag behoue gebly het. Die byvoeging van Bernardus is nogeens 'n demonstrasie van die Buys familie se invloed op die verloop van die Jansen geskiedenis, Bernardus was die naam van Catharina Buys se oudste broer. Dit was voorts ook Roelof Andries Jansen wat sy eerste seun Frederik Antonie genoem het en daarmee 'n ander baie bekende Jansen naam gevestig het. Soos reeds gesien, het Elsie se vader Anthonie Frederik Vlotman geheet.

Daar is hier bo verwys na die Hottentottin, Eva, en haar posisie onder die voorgeslagte van Roelof Andries Jansen se Vlotman eggenote. Eva se regte naam was Krotoa. Sy is deur Maria van Riebeeck, die eggenote van die volksplanter, Jan van Riebeeck, na Eva hernoem. Krotoa was 'n kind van omtrent 11 jaar oud, 'n dogter vanuit een van die inheemse Khoi stamme aan die Kaap, toe Jan van Riebeeck en sy gevolg op daardie herfsdag in April 1652 voet aan wal gesit het in Tafelbaai. Dit is aangeteken dat sy op die strand was saam met 'n aantal van haar stamlede toe die van Riebeeckgroep se bote geland het. Sy het opgevoed en goedgemanierd voorgekom en daar is dadelik onderhandel dat sy in die Van Riebeeck-huishouding opgeneem word as speelmaat vir die Van Riebeeckkinders. Hierdie gebeurtenis het die pad voorberei vir haar latere huwelik met Pieter van Meerhof en die gevolglike geskiedkundige verloop waarvolgens die hele nageslag in die Roelof Andries tak van die Jansens as Eva Krotoa se bloedverwante aangeteken sou word.

Navorsing dui aan dat Eva Krotoa 'n lid van die Goringhaikona Strandlopers was. Haar oom, Autshumato, beter bekend as Herrie die Strandloper, was die Kaptein van die betrokke Strandloperstam (Khoikhoi) aan die Kaap. Daar is aangeteken dat Eva op die rug van 'n os vervoer is, of gery het. In die Khoi tradisie het dit op hoë status gedui. Laasgenoemde feit, tesame met haar oom se status, het van Eva Krotoa 'n lid van die Kaapse adel gemaak.

A.M. van Rensburg skryf in "My Enrichment": "One might pose the question what entitles one to be an Indigenous person or First Nation person? Do I qualify or not?" Eva was 'n lid van 'n familie wat aan die Kaap oor hul Khoi volgelinge geheers het lank voordat Jan van Riebeeck daar voet aan wal gesit het. Sy was ook onder die eerstes van die plaaslike bevolking wat tot die Christendom bekeer is, gedoop is, en later met 'n Europeër getroud is. Haar vereniging in 'n huwelik met Pieter van Meerhof, die Deense dokter-kolonis, was in 'n sekere sin die begin van die Afrikaner, 'n nuwe Nasie aan die Suidpunt van Afrika.

Na aanleiding van Van Rensburg se diskoers kan gevra word of die nageslag van Eva Krotoa (insluitend die afstammelinge in die Roelof Andries tak van die Jansens) koloniste is omdat hulle afstam van Pieter van Meerhof, en of hulle Afrikane is omdat hulle afstam vanaf Eva? Is hulle inboorlinge van Afrika met Europese bloedverwantskap, of is hulle Europese nedersetters met Afrika bloedverwantskap? Is hulle Europeërs of is hulle Afrikane?

Historiese Feite

Net soos bostaande feite 'n klug maak van die pas afgelope stelsel van Apartheid op grond van velkleur, maak dit 'n klug van die huidige stelsel van "voorheen benadeeldes" op grond van velkleur alleen. Ooreenkomstig hul afkoms is Afrikaners maar net Afrikane soos enige Zulu of Xhosa. Daar is in September 2004 in die Suid-Afrikaanse pers berig dat DNA toetse getoon het dat oudpresident Nelson Mandela geneties verwant is aan die Khoisan. Beide Mandela en die afstammelinge van Zirke Jansen se tweede seun, Roelof Andries Jansen, is dus afstammelinge van die oorspronklike bewoners van Afrika. Geen persoon het die reg om enige van hierdie afstammelinge op grond van hulle velkleur hul Afrikaskap te ontsê nie. Roelof Andries Jansen se nageslag het ook geen inset gehad in die besluit van Zirke Jansen om hom aan die suidpunt van Afrika te vestig nie. In sy eenvoudigste vorm beteken hierdie bewering dat hulle nie koloniste of setlaars is nie, maar mense van Afrika, net soos Mandela.

Roelof Andries Jansen #34, (2.Zirke, 1.Cornelius) Gedoop 7 Desember 1760 in Kaapstad.  Hy trou (1) op 23 Augustus 1789 in Kaapstad met Elsie Elizabeth Vlotman #35, (dogter van Anthonie Frederik Vlotman #76 en Aletta Catharina Zaaiman #77) Gedoop 30 Augustus 1772.  Hy trou (2) op 28 Januarie 1810, Geertruy Maria Swanepoel #274.
Kinders van Elsie Elizabeth Vlotman:
21.     Zirkija Jacoba Jansen #176.
22.    Elsie Elizabeth Jansen #354, Gedoop 23 Desember 1792 in Graaff-Reinet.  Hy trou op 9 Julie 1809 in Graaf-Reinet met  Gabriel Jacobus Vermeulen #355.
23.    Frederik Anthonie Wilhelm Johannes Jansen #356 Gebore 22 Februarie 1795.
24.    Anna Catharina Lasya Jansen #359, Gedoop 29 Julie 1798 in Graaff-Reinet.  Sy trou op 8 Desember 1816 in Graaff-Reinet met Marcus Johannes Fourie #360.
25.    Zirk Bernardus Jansen #32 Gebore 1 Mei 1800.
26.    Johanna Louisa Jansen #363, Gebore 21 April 1803, Gedoop 21 Mei 1804 in Graaff-Reinet.
27.    Roelof Andries Jansen #364 Gebore 28 April 1807.
Nie Europese Banier

TERUG