Die Withuis Skildery

- Navorsing en mede-outeur: Susan Davis
- Outeur: Ferdie Jansen

Withuis Skilderye

#30 Withuis 1950

'n Foto van die Withuis wat ongeveer Desember 1950 geneem is.

Die sogenaamde “Withuis”, wat vroeër jare (tot ongeveer 1965) in Plasketstraat, Graaff-Reinet, aan die onderpunt van Caledonstraat gestaan het, was 'n bekende huis van die Jansen-familie van Graaff-Reinet. Die leser word in hierdie verband verwys na die Foto-album elders op hierdie webwerf [klik op "Kiekies" en gaan na die bladsy vir (#30) Frederik Antonie Jansen]. Susan Davies, 'n Graaff-Reinetter en soos Ferdie Jansen, ook 'n afstammeling van die "Withuis"-Jansens, het in 2008 in Graaff-Reinet afgekom op 'n foto van 'n skildery van die Withuis, maar geen idee gehad van wie die skilder was en of die kunswerk op daardie stadium nog bestaan het nie.

Withuis Skildery 1ste Foto

'''Die foto van die skildery wat Susan Davies in Graaff-Reinet gevind het. Die skildery moes tussen 1903 en 1942 gemaak gewees het, want volgens ‘n foto deur fotograaf William Roe in 1903, het die motorhuis regs van die huis toe nog nie bestaan nie en daar is later vasgestel dat die kunstenares die skildery in 1942 verkoop het.'''

Susan Davies het dit op haar skouers geneem om die kunstenaar van die skildery te probeer identifiseer en ook die geskiedenis van die kunswerk te probeer naspeur. Sy het gevolglik die eienaar van die oorspronklike skildery-foto, Mnr Whitlock, ook van Graaff-Reinet, genader. Hy kon die kunstenaar as Norah Pitman identifiseer. Haar nooiensvan was Massey en sy was met Mnr Pitman, wat ‘n onderwyser by die Union High skool was, getroud. In 'n artikel in Lantern van Julie 1986 word haar naam aangedui as Norah Massey Pitman. In die betrokke artikel, “The Peoples of Graaff-Reinet and District” het afdrukke van twee van haar ander skilderye verskyn. Norah Pitman was vir jare die bibliotekaresse op Graaff-Reinet. Mnr Whitlock het aangedui dat hy vermoed dat die skildery van die Withuis in die veertigerjare van die vorige eeu geskilder is.

Norah Massey Pitman

Norah Massey Pitman

Verdere navraag deur Susan het haar gelei na 'n oorlewende familielid van Norah Pitman, Mev. Claire Sheard, van Graaff-Reinet, wat in besit was van ‘n aantal van Norah Pitman se skilderye. Claire kon ongelukkig nie aandui wie die huidige eienaar van die “Withuis”-skildery is nie. Sy het vermoed dat Norah dit waarskynlik op een van haar uitstallings verkoop het.

Wat op hierdie stadium gelyk het na ‘n doodloopstraat, het egter spoedig in ‘n suksesverhaal ontvou toe Ferdie en Susan die foto van die skildery op 30 Mei 2008 onder die titel "Skildery Gesoek" in die Graaff-Reinet Advertiser laat plaas het. Toe Jenni Rogers, van die plaas Hathersage tussen Graaff-Reinet en Middelburg, die betrokke koerant oopmaak, het sy dadelik haar skildery herken! Sy het vir Ferdie per e-pos laat weet dat die vermiste skildery in haar sitkamer hang en vir baie jare reeds in haar familie se besit is.

#30 Withuis skildery

Die huidige eienaar van die oorsprnklike Withuis-skildery, Jenni Rogers van die plaas Hathersage naby Middelburg (Oos-Kaap), het hierdie foto in 2008 beskikbaar gestel.

Jenni het verwittig dat sy groot sentimentele waarde aan die skildery heg. Sy het egter nie enige besonderhede, soos byvoorbeeld wanneer die kunswerk gemaak is, geken nie.

Die opspoor van die oorspronklike skildery het uit die aard van die saak groot opgewondenheid in die Jansen-familie veroorsaak, maar hierdie aanvanklike opgewondenheid is gou vervang deur ‘n nog groter opgewondenheid: die resultate van 'n verdere soektog na die geskiedenis van die skildery het hierna soos ‘n speurverhaal in die kleine rondom die skildery ontvou.

Toe Union High se skoolgeboue in 1963 te klein geword het, is grond vir nuwe skoolgeboue tussen Plasketstraat en die Sondagsrivier aangekoop. Bouwerk aan die nuwe skoolgeboue het in 1965 op die terrein van die Withuis-erf en -wingerde begin. Die Withuis moes dus omstreeks hierdie tyd gesloop gewees het.

Mnr Whitlock, ‘n amateur historikus van Graaff-Reinet, versamel rekords en foto’s van ou geboue wat in die dorp gesloop word. Hy het geweet van Norah Pitman se skildery, en toe hy verneem van die sloping van die Withuis, het hy ‘n foto van die skildery by Norah se suster (Mev. Dr van Heerden) bekom. Behalwe vir foto’s en historiese dokumente, beskik Mnr. Whitlock ook oor ander besonderhede, soos die erfnommers van ou geboue in Graaff-Reinet. Hierdie versameling van historiese data spruit voort uit sy belangstelling in die geskiedenis van die dorp.

Jenni Rogers, self opgewonde oor die speurveldtog wat haar skildery ontketen het, het haar tannie, Mev. Sigi Tilney (voorheen Kroon, en gebore Dodds), van die soektog in kennis gestel. Na ‘n besoek van Susan Davis aan Mev. Tilney, het die ontknoping van die verhaal vinnig gevolg. Mev Kroon se vader, Percy Dodds, ‘n wolmakelaar van Port Elizabeth, het die skildery in 1942 vir homself aangekoop. Hy het die “Withuis”-skildery, tydens ‘n besoek aan die wolboere van Graaff-Reinet, vanaf Norah Pitman gekoop. Na sy dood het een van sy seuns, Jenni se vader, die skildery gekry. Jenni het dit op haar beurt weer as geskenk ontvang.

Jenni vertel dat sy op skool was in Union High waar sy in 1972 gematrikuleer het. Sy het Graaff-Reinet verlaat en het later vir Swissair in Zurich gewerk. Die Withuis-skildery was vir drie jaar saam met haar in Switserland! Vier-en-twintig jaar na haar vertrek vanaf Graaff-Reinet, toe sy haar suster besoek het, het sy haar toekomstige lewensmaat, Richard Rogers, ontmoet. Hulle is in 1996 getroud en Jenni het teruggekeer Suid-Afrika toe. Haar en Richard se dogter was in 2008 'n skolier by die Union Preparation Skool om so hul familie-tradisie van verbondenheid aan die skool voort te sit.

Jenni heg besondere waarde aan die skildery as gevolg van haar verbintenis met die Union High, wat op die Withuisperseel gebou is, asook die feit dat sy die skildery vanaf haar oupa as erfstuk gekry het. Jenni het soos volg hieroor geskryf:

Let us get to the story of how I came to the painting of the Withuis by Norah Massey.

My grandfather, Percy Roger Dodds, owned a wool firm called P.R. Dodds and Sons. While visiting wool farmers in the Graaff-Reinet district, he bought the painting from Norah Massey. About 5 years before he died, he decided on a novel way to divide his valuables between his five children. He requested their presence one evening at his home. When they arrived, he had used playing cards to mark all items of value. For example, the dining room suite was the Queen of hearts, the persian carpet the 2 of spades etc. Then he held another pack for them to draw a card at a time. This was how my father, Derek Roger Dodds, aquired the painting of the Withuis. When my father passed away, I asked my brother and sister if, since I went to school at Union High, would it be possible for me to have the Withuis painting, luckily they both agreed.

In 1996, I married Richard Rogers, an old school friend of the farm Hathersage in the Middelburg District. His grandfather had come from England as a young man to manage a horse stud on the farm Dwarsvlei, also in the Middelburg District. While scratching around in a shed, we came across a wool bale marker of DODDS, indicating that his grandfather had sold his wool via my grandfather's wool firm!

Dodds Stensil

Die wolbaal adres-stensil waarvan Jenni Rogers skryf

Die Jansen-familie is saam met Richard en Jenni Rogers opgewonde omdat die skildery, na soveel jare, selfs na ‘n draai in Switserland en terug in die omgewing waar Norah Pitman dit meer as sewentig jaar gelede geskilder het, nou hierdie spesiale erkenning kon kry. Die Jansen-familie is voorts dankbaar teenoor Mnr Whitlock wat die knoop in die soektog deurgehaak het weens sy belangstelling in ou geboue en en sy belangstelling in die versamel van dokumentêre bewysstukke en die geskiedenis van Graaff-Reinet.

Laastens is daar natuurlik Susan Davis se volgehoue belangstelling in die wel en wee van haar Jansen-voorgeslagte wat al die speurwerk mooi saamgevat het in ‘n konstante stroom e-pos briewe aan Ferdie, haar verlangse neef in Engeland.

TERUG