Nieu-Bethesda se Jansens

 - Navorsing deur Susan Davis
 - Outeur: Ferdie Jansen

Wie was hierdie Jansens en waar lê hulle oorsprong? Susan Davis se moeder en eweneens Ferdie Jansen se vader het met affiniteit na die Jansen-familie van Nieu-Bethesda verwys. Susan en Ferdie is beide afstammelinge van Graaff-Reinet se Jansens (Withuis), en wou graag die mistiek van hulle ouers se verwysings na die Jansens van Nieu-Bethesda opklaar. Die oorspronklike navorsing is deur Susan gedoen en haar werk is vervolgens deur Ferdie verwerk vir publikasie. Ons begin die verhaal heel voor, by die Jansen-stamvader.

Roelof Andries Jansen (#34), die jongste seun van die Jansen stamvader, het sy eerste kind, ’n dogter, as Zirkija Jacoba Jansen #176 laat doop. Alhoewel hy later sy vyfde kind, sy tweede seun, voluit na sy vader sou vernoem, is dit veral sy tweede en derde kinders wat ons aandag trek. Die tradisionele naamgee-tradisie van die tyd figureer sterk in die Jansen familie. Dit was dan ook so dat Roelof Andries sy eggenote se vader en moeder sou vernoem nadat sy eie vader reeds by sy eerste dogter vernoem is. Die tweede dogter, Elsie Elizabeth Jansen (#354), is na haar Vlotman ouma vernoem. Die derde kind, ’n seun is na sy Vlotman oupa vernoem. Anthonie Frederik Vlotman is by hierdie derde kind as Frederik Anthonie Wilhelm Johannes #356, vernoem. Dit is nie duidelik waarom die “Anthonie” en “Frederik” name omgeruil is en waar die “Wilhelm” en “Johannes” name vandaan kom nie.

Hoe dit ookal sy, FAWJ Jansen #356 is op 22 Februarie 1795 gebore. Hy het sy vrag name op 17 Mei 1795 ontvang toe hy deur sy ouers in Graaff-Reinet laat doop is. Roelof Andries Jansen #34 en Elsie Elizabeth Vlotman #xx was op daardie stadium reeds vir elf jaar woonagtig in die Oos-grens gebied. Hy het sy eerste plaas, De Geelhoute Boom, geleë aan die Boesmansrivier, alreeds in 1785 as leningsplaas ontvang.

Roelof en Elsie se oudste seun. Frederik Antonie Wilhelm Johannes Jansen #xx is as twintigjarige jongman met Anna Susanna Wilken #xx getroud. Hulle sou sewe kinders hê. Die vierde, hul tweede seun, Ernst Johannes Jansen #372, is op 3 September 1829 in Graaff-Reinet gebore. Hy is op 10 Augustus 1910 in die ouderdom van 81 jaar in sy huis in Somersetstraat, Graaff-Reinet oorlede.

Ernst is op 4 Junie 1849 in Graaff Reinet met Cecilia Anna Swanepoel #xx getroud. Sy is in Aberdeen gebore en is op 23 Desember 1831 gedoop. (Sommige bronne dui op 25 Desember 1831 as haar geboortedatum). Dit is nodig dat ons vir ’n oomblik vertoef by die voorgeslagte van Cecilia Swanepoel. Haar vader was Jan Stephanus Swanepoel en haar oupa aan vaderskant was Johannes Joachim Swanepoel, ‘n kleinkind van Pieter Swanepoel, die Swanepoel Stamvader. Cecilia se moeder was Anna Catharina Susanna du Preez . (#372) Ernst en Cecilia Jansen sou hul eerste dogter Anna Catharina Susanna Jansen #2832 noem, en hul sesde kind, ’n seun, Johannes Jochimus Jansen #2839.

Ernst Johannes Jansen #372 was ‘n vermoënde man wat in ‘n groot huis in Somersetstraat, Graaff-Reinet gewoon het. Hy het vier eenderse huise langs die groot huis laat bou, een vir elk van sy vier dogters Anna #2832, Madgalena #2835, Cecilia #2841 en Maria #2843. Die vier huise het as “Die Pophuise” bekend gestaan. Dit is tans in gebruik as ‘n Bed-en-Ontbyt gastehuis. Ernst Johannes het die plaas Wilgebosch naby Nieu-Bethesda gekoop en hy en sy familie het daarheen getrek. Sy seun, Johannes Jochimus #2839, het die plaas in 1910 by sy vader geërf.

Wilgebosch #1
Wilgebosch #2

Wilgebosch plaaswerf is in die voetheuwels van Kompasberg (foto links) geleë. Die werf is steeds in ’n redelike toestand, maar die huis (hoewel bewoonbaar) staan leeg. Die huidige einaars van die plaas woon in Italië.

Daar is tien kinders uit die huwelik van (#372) Ernst Johannes en Cecilia Anna gebore. Die sesde kind, 'Johannes Jochimus Jansen #2839, isop 29 Augustus 1862 te Graaff-Reinet gebore. Hy is in Graaff Reinet getroud met Anna Engelia Grundlingh, (gebore in 1862 as die dogter van Pieter Jacob Grundlingh en Anna Catharina Horak). Soos reeds genoem, het hulle op die plaas Wilgebosch naby Nieu-Bethesda geboer.

Wilkgebosch #3
Wilgebosch #4

Die twee plaashuise op Wilgebosch se werf. Die ou opstal (links) word tans as ’n skeerskuur gebruik deur die huidige eienaars. Die nuwe woonhuis (foto regs) staan leeg.

Op 23 Maart 1911 het (#2839) Johannes Jochimus en Anna Angelia Jansen as mede eienaars van Wilgebosch hul gesamentlike testament onderteken. Johannes se broer, (#2838) Roelof Andries Jansen, op daardie stadium Sekretaris van die “Graaff Reinet Executeurs Kamer Beperkt” is aangestel as eksekuteur van die gesamentlike boedel. Die testament het bepaal dat Anna vruggebruik sou erf indien Johannes eerste te sterwe sou kom. Alle los goedere, lewende hawe (aanvanklik met uitsondering van die meubels wat uitgehou is vir die langslewende) en alle vaste bates, met uitsondering van die plaas self, moes verkoop word. Die plaas sou verhuur word aan die seuns (#2848; Jan Ernst, #2850; Pieter Jacob, #2851; Anthonie Frederik en #2852; Daniël Jan) met eerste opsie van weiering en indien hulle nie sou belang stel nie, aan vreemdelinge.

Ons maak volledigheidshalwe hier ’n tussenwerpsel oor Roelof Andries Jansen en die Graaff-Reinet Eksekuteurskamer:

Roelof Andries Jansen #2838, ouer broer van Johannes Jochimus Jansen #2839, is op 2 Oktober 1860 in Graaff Reinet gebore. Hy was getroud met Maria Magdalena Liebenberg #xx. Roelof was ten tye van sy dood op 21 Augustus 1931 (volgens sy Sterftekennis, maar 1939 volgens ‘n koerantberig) ‘n afgetrede sekretaris van die “Graaff Reinet Board of Executors”. Hy het in Bourkestraat, Graaff-Reinet, gewoon.

Die Graaff-Reinet Advertiser van 9 Augustus 1956 berig soos volg na aanleiding van die aftrede van “Miss Andrie Jansen” #2859 as senior tikster by die Graaff-Reinet Board of executors”:

“JANSEN FAMILY SERVED THE BOARD FOR 78 OF A HUNDRED YEARS

My father, the late Mr R.A. Jansen, started with the Board as a junior on 1 September 1877, and worked himself up to Secretary in 1902, which position he held until 1 Setember 1927, when he retired. He was appointed on the directorate where he served the company until his death in 1939 (sic).

In his fifty years of service he never took a holiday, and only once in his life was he ever late – and that for an hour.

Miss Jansen said that she will look after her aged mother, who will be 90 years young on 2 September 1956. Recently Mrs. Jansen had a fall, but despite this remains in very good health.”

Dit is nie bekend watter van die drie dogters van (#2838) Roelof Andries hier ter sprake is nie. In die berig word sy as “Miss” aangespreek, terwyl al drie die dogters van Roelof Andries getroud was volgens sy Sterftekennis. Sy Sterftekennis gee voorts sy sterfdatum aan as 1931 en nie 1939 soos wat in die koerantberig beweer word nie. ‘n amateur-bron dui aan dat Roelof Andries nog drie verdere kinders gehad het, naamlik (#2902) Theron Jansen, (#2903) Elizabeth Jansen en (#2859) Andrie Jansen (oorlede 1982).

Om terug te keer na die onderwerp van bespreking, naamlik die Jansens van Wilgebosch:

By oorlye van die langslewende van (#2839) Johannes en Anna Jansen is die plaas in vier gelyke dele verdeel en nagelaat aan vier van die seuns, naamlik #2848; Jan Ernst, #2850; Pieter Jacob, #2851; Anthonie Frederik en #2852; Daniël Jan. Die seuns moes terselfdertyd ‘n bedrag van 400 Pond aan die oudste dogter, (#2849) Anna, betaal. Die seuns kon elk sy erfporsie verhuur na goeddunke, eerstens aan die ander broers en dan aan die publiek.

Na Johannes Jochimus #2839 se dood in 1911 het Anna Engelia vruggebruik behou. Die grootte van Wilgebosch was 6660 morg. Indien die grond in vier dele verdeel sou word soos wat die testament bepaal het, sou die individuele dele nie ekonomiese eenhede verteenwoordig het nie, en die plaas is aanvanklik deur die Jansen broers in sy geheel bestuur. Die grond is later aan persone buite die familie verhuur, steeds as ’n volledige ekonomiese eenheid. Die seuns het die plaas verlaat en loopbane in die handel en nywerheid gevolg. Na hul moeder se dood (in 1942) moes hulle egter noodgedwonge die plaas oorneem ooreenkomstig die testamentêre bepalings. Hulle het die eiendom vir ‘n periode van vyf jaar aan Zacharia le Roux Greeff verhuur omdat hulle nie self die vermoë of die wil gehad het om te boer nie. Tydens hierdie periode is die derde seun, Anthonie Frederick #2851 oorlede (in 1945) en het sy oudste seun, (#2917) Adelbert Peter Jansen, sy aandeel van die erfporsie oorgeneem . Na verstryking van die eerste huur periode is die grond vir ‘n verdere periode van vyf jaar verhuur aan dieselfde huurder. Die tweede periode sou op 2 Maart 1955 verstryk het.

Die plaas is geweldig verwaarloos tydens die onderskeie huurperiodes. Die huurders was nie geneë om enige verbeterings aan te bring of kapitaal te investeer nie. Die gevolg was dat die Departement van Grondbewaring ‘n bevel uitgereik het met ‘n plan waarvolgens die plaas verbeter en erosie bekamp moes word. Die grond sou onteien word deur die Departement indien die plan nie uitgevoer sou word nie. Die familie-eienaars (drie broers en die vierde broer se seun) het nie beskik oor die fondse om die verbeterings aan te bring nie, en het gevolglik aansoek gedoen dat die grond verkoop kan word, teenstrydig met die bepalings van die oorspronklike testament. Die “Graaff-Reinet Board of Executors” is deur die familie voorgestel om die opbrengs van die plaas ten gunste van die familie te belê. Die aansoek om die plaas te verkoop en dat die geld belê word ten gunste van die vier familie-eienaars is op 14 Mei 1955 deur die Hooggeregshof in Grahamstad bekragtig. Die nuwe eienaar was Lionel de la Harpe, wat die plaas vir 66 600 Pond gekoop het. Dit was destyds ongeveer R0.13m. Die huidige eienaars is twee broers van Italië wat die grond vir R7,2m bekom het.

Bostaande inligting is vanuit die amptelike stukke rondom die verhuring en verkoop van Wilgebosch bekom. Oorlewering stel egter die saak ietwat anders. Die storie gaan dat dit die “oudste seun” (#2848) Jan Ernst was wat moes boer na sy vader se dood in 1911, maar dat hy self kort na die ou vader oorlede is. Die grond is toe onder die beheer van die tweede seun, (#2850) Pieter Jacob geplaas. Hy het die plaas tot in 1919 (net na die Tweede Wêreldoorlog) bestuur. Laasgenoemde het so min geboer dat die plaas uiteindelik aan nie-familielede verhuur is. Hy het bekend gestaan as die “Lui Jansen” en baie staaltjies word rondom hom en sy familie vertel. ’n Oud-inwoner van Nieu-Bethesda vertel dat die baas van Wilgebosch heel dag in en om die huis gesit en gelê het. Wanneer die hitte van die dag gekom het het hy glo op ’n matras buite in die skaduwee van die huis gelê. Soos wat die son geskuif het, het hy dan die matras al agter die skaduwee aangesleep. Hierdie proses het hom dag na dag herhaal. Daar was glo naderhand ’n behoorlike pad om die huis soos wat die matras se gesleep die grond versteur het.

Bo-en-behalwe die verval onder Pieter, is die plaas heeltemaal deur die daaropvolgende huurders verwoes. Die eerste huurders na die onttrekking van die Jansens, was twee Van Niekerk broers. Nadat die een sy eie plaas gekoop het, het die oorblywende broer en een van hul ander broers Wilgebosch tot in 1945 gehuur. Die derde Van Niekerk broer het op sy beurt die plaas “Genora” naby Wilgebosch gekoop. Laasgenoemde en sy vrou het vanaf 1928 tot 1938 op Wilgebosch gewoon voordat hulle na Genora verhuis het.

Volgens oorlewering is Wilgebosch gesamentlik aan twee swaers, Van Rensburg en Greeff verhuur toe die Van Niekerk broers se huurtydperk in 1945 verstryk het (Anna is natuurlik in 1942 oorlede). Greeff was met Van Rensburg se suster getroud en Van Rensburg het skynbaar net aan die transaksie deelgeneem om sy suster en haar man te help. Die plaas is tydens die eerste huurperiode vir 750 Pond per jaar verhuur. Na verstryking van die eerste periode is die huur met 50 Pond per jaar verhoog tot 800 Pond, maar Greeff doen toe die ongelooflike om 10 Pond addisioneel per jaar aan te bied as hy as alleenhuurder kon optree. Hy het dit sonder sy swaer se medewete gedoen. Hierdie bedrag is deur die Jansens aanvaar en op hierdie wyse is sy weldoener en swaer uit die huurtransaksie uitgesluit. Greeff was toe alleenhuurder tot in 1955, toe die plaas verkoop is.

(#2850) Pieter Jacob het nooit tydens sy moeder se lewe getrou nie, en hy het, nadat hulle die familieplaas na 1919 verlaat het, by sy moeder tot met haar dood in 1942 op Nieu-Bethesda gaan woon. Na sy moeder se dood is Pieter Jacob met ‘n dame baie jonger as hyself getroud. Sy was ‘n onderwyseres in die skooltjie op Nieu-Bethesda. Sy was skynbaar ‘n baie kwaai juffrou, en jonger as Pieter. Dit is nie bekend of dit die rede was vir die egpaar se spoedige verhuising na Beaufort-Wes nie, maar Pieter se nuwe jong vroutjie het blykbaar haar oog gehad op ‘n Mnr Van der Merwe, ook van Nieu-Bethesda, en meer haar portuur as Pieter. Terwyl Pieter en sy jong vroutjie nog op Nieu-Bethesda gewoon het, is ‘n dogtertjie, (#2915) Nerina Jansen, op 15 April 1944 in Graaff-Reinet gebore. Nerina sou later Professor in Kommunikasiekunde by die Universiteit van Suid-Afrika word.

(#2839) Johannes en Anna se testament het voorts bepaal dat die plaaskerkhof op Wilgebosch ongeskonde bewaar sou word en dat dit indien nodig vergroot kon word tot ‘n halwe morg. Die begraafplaas het in onbruik verval en is totaal deur plantegroei oorgeneem. Behalwe vir twee grafstene, waarvan slegs gedeeltes van die inskripsies behoue gebly het, het nie ‘n enkele grafsteen in die kerkhof behoue gebly nie. Die twee stene wat effens leesbaar is, is vir persone met die van Davel aangebring. Oorlewering wil dit hê dat Lionel de la Harpe se skoonvader ‘n Noorweër was en dat hy in die ou begraafplaas op Wilgebosch begrawe is. Van al 18 die grafte in die kerkhof is die name van net drie van die persone wat daar begrawe is dus bekend. Susan het in Julie 2008 op eie inisiatief en onkoste die begraafplaas laat skoonmaak nadat sy toevallig die testament onder oë gehad het.

Wilgebosch #6
Wilgebosch #7

Susan Davis, (nee Gous, ‘n afstammeling van die “Withuis”- Jansens van Plasketstraat, Graaff-Reinet) by die enkele staande grafsteen (verweer en sonder inskripsie, foto regs) in die ou begraafplaas op Wilgebosch (foto links).

Dit was ook die begeerte van die twee testateurs dat geen skade aangerig sal word aan die ou moerbeiboom wat omtrent 30 treë vanaf die woonhuis op die plaas gestaan het nie. Dit is nie heeltemaal duidelik na watter boom verwys word nie, maar dit word vermoed dat dit die ou moerbeiboom is wat tans net onder die voorstoep van die nuwe plaashuis staan. Dit is ongeveer dertig treë vanaf die ou plaaswoning. Die betrokke boom groei steeds, maar is baie verwaarloos. Dit kan egter met die nodige aandag en sorg gered word sodat dit ten minste vir nog ‘n paar geslagte behoue kan bly.

Wilgebosch #8
Wilgebosch #9

Susan Davis staan langs die ou moerbeiboom waarna, na wat vermoed word, in Johannes Jochimus se testament verwys word.

Kinders van Johannes Jochimus (#2839) en Anna Angelia Jansen:

Jan Ernst Jansen #2848

#2849 Anna Catharina (Katie) Jansen. \\Sy was getroud met Manuel (Manie) Minnaar. Anna Catharina het nie die familieplaas geërf nie, maar het 600 Pond kontant, asook haar moeder se lewenspolis ontvang na haar moeder se dood. Sy het ook al die meubels in die Wilgebosch plaashuis geërf. Hierdie kosbare erflating word tans deur haar kleinseun, Dr. Minnaar bewaar. Hy het ook steeds sekere kledingstukke van Anna Angelia. Anna het op haar veertiende verjaardag ‘n klavier ontvang wat haar vader vanaf oorsee vir haar bestel het. Die klavier is per skip tot in Port Elizabeth gebring en toe per ossewa tot op Wilgebosch vervoer. Anna se kleinseun (Dr Minnaar) besit steeds die klavier.
Hendrik Johannes (Henry) Minnaar #2910, gebore op 17 Desember 1919.
Dr. Minnaar #2912 van Graaff-Reinet.
Anna Engelina (Enge) Minnaar #2913.

Pieter Jacob Jansen #2850. Hy trou laat in sy lewe met ‘n dame baie jonger as hyself. Hulle woon op Beaufort-Wes. Oorlede 18 Januarie 1958.

Nerina Jansen #2915.
Wilgebosh #10

Nerina Jansen BA, BA Honn, MA, (Stellenbosch), D.Litt. (UNISA), Professor in Kommunikasiekunde.

Nerina Jansen #2915 is op 15 April 1944 op Graaff-Reinet gebore. Sy was ‘n Professor in Kommunikasiekunde aan die Universiteit van Suid-Afrika. Sy het diabetes gehad en is op 14 Julie 2000 in die ouderdom van 56 jaar oorlede. Nerina het haar hoërskool opleiding in 1961 aan die Hoërskool Sentraal op Beaufort-Wes voltooi. Sy het daarna die grade BA, Honneurs en MA, al drie Cum Laude, in Maatskaplike werk en Sosiologie aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. In 1972 het die Universiteit van Suid-Afrika die graad D.Litt et Phil aan haar toegeken. Sy is in 1968 as junior lektor by Unisa aangestel. Op 1 Oktober 1982 is sy bevorder tot Professor in Kommunikasiekunde by Unisa. Sy was in 1992 hoof van Kommunikasiekunde by Unisa. Sy moes egter weens slegte gesondheid in 1996 aftree. Unisa het haar egter met volle regte aangestel as Emiritus Professor. Na haar dood het Professor Pieter Fourie van Unisa se Departement Kommunikasiekunde, vir Nerina Jansen soos volg met die woorde van die digter Lorca besing:
Ek besing jou gestalte en jou grasie Die verhewe volwassenheid van jou begrip. Ek besing jou sier en kordaatheid met woorde wat kreun.
’n Gedenksteen is vir Professor Jansen op haar ouers se graf aangebring.

Anthonie Frederick Jansen #2851, oorlede op 14 Oktober 1945 in Noord-einde, Port Elizabeth.

'Adelbert Peter Jansen #2917.
Hy is in 1886 gebore en is op 23 Junie 1925 met ‘n spesiale lisensie in Uitenhage se magistraatskantoor met Catharine Caroline de la Harpe getroud. Sy is in 1906 gebore. Adelbert was ‘n Draadspan-kontrakteur en die egpaar het op Klimpoort in Uitenhage se distrik gewoon. Hy is op 17 Januarie 1971 in Port Elizabeth oorlede.
Jeanne Arlaine Jansen #2939, gebore 12 Julie 1951.
Anthony Frederick Jansen #2940, gebore 24 Maart 1954.
Miriam Engelia Jansen #2941, gebore 22 Mei 1928.
Jochymus De la Harpe Jansen #2942, gebore 3 Februarie 1933.
Leonora Emma Jansen #2943, gebore 9 Januarie 1935.

Daniël Jan Jansen #2852.

TERUG