Proloog

Proloog

Frederik Antonie (Frikkie) Jansen is op 23 Julie 1892 in Hanover gebore. Frikkie was die derde kind van Zirk Bernardus Jansen (“Oupa Langbaard”) en Hendriena Cecilia Viljoen. Sy ouers het hom op 4 September 1892 in Hanover laat doop. Frikkie se vader het verskeie beroepe beoefen. Hy was onder andere transportryer, boer en waterfiskaal. Na sy aftrede het Zirk by sy dogter op Beaufort-Wes gewoon. Hy is op 25 Augustus 1943 oorlede en is in Beaufort-Wes begrawe. Frikkie se moeder is kort na die geboorte van haar vierde kind, Dirk Johannes, oorlede. Frikkie was toe skaars twee jaar en ses maande oud. Hy het ook twee susters, Hendriena Cecilia (Hennie) en Anna Susanna Francina (Annie) gehad. Frikkie se vader is binne ‘n jaar na sy eerste eggenote se dood weer getroud met Leonarda Johanna Louw. Uit hierdie huwelik is vyf dogters en ‘n seun gebore: Hester Cecilia (Hester), Zirkie Bernarda (Zirkie), Leonarda Johanna (Lenie), Johanna Petronella (Joey), Aletta Catharina (Lettie) en Leonard Johannes (Leonard).

Anna Sophia (Annie) Jansen is op 28 Maart 1895 in Phillipstown gebore. Sy was die derde kind van Zirk Bernardus Jansen (“Oupa Zirk”) en Anna Sophia van der Merwe (“Ouma Vita”). Annie is op 2 Junie 1895 in Phillipstown gedoop. Haar vader het Olievenfontein, die familieplaas gekoop, en was dus die eerste Jansen eienaar van die plaas. Hulle het hier geboer tot met hul aftrede. Zirk is op 26 Julie 1932 in sy huis in Sophiastraat, Phillipstown, oorlede. Annie het twee susters en ‘n broer gehad: Johanna Catharina (Johanna), Gertruida Johanna (Truia) en Zirk Bernardus (Seun).

Olievenfontein Plaas

Olievenfontein, Frikkie en Annie se plaas in die distrik van Phillipstown.

Frikkie en Annie se onderskeie Jansen-oupas, Frederik Antonie Jansen (die sogenaamde “Frikkie Withuis” van Plasketstraat, Graaff-Reinet) en Zirk Bernardus Jansen, was broers. Verwys na Tabelle 1 en 2 in die Inleiding hieronder. Die twee broers se ouers (Frikkie en Annie se gemeenskaplike oupa- en ouma-grootjie), Zirk Bernardus Jansen en Aletta Catharina Momberg, was self neef en niggie. Oupagrootjie Zirk Bernardus Jansen, se moeder (Elsie Elisabeth Vlotman), en oumagrootjie, Aletta Catharina Momberg, se moeder (Johanna Francina Vlotman), was eie susters. Hierdie gemeenskaplike oupagrootjie van Frikkie en Annie, Zirk Bernardus Jansen, was ‘n kleinkind van stamvader Zirke Jansen Die stamvader was oorspronklik vanaf Neustadtgödens, ‘n geskiedkundige klein dorpie naby Wilhelmshaven in Oos-Friesland, Duitsland. Zirke het in 1753 as soldaat in diens van die Hollands Oos-Indiese Kompanjie na die Kaap gekom en hom as kleremaker en wynboer in Drakenstein (Paarl) gevestig.

Frikkie en Annie is op 18 Februarie 1919 in Phillipstown getroud. Hulle het op die familie-plaas Olievenfontein, in die Phillipstown-distrik geboer. Annie is op 8 September 1972 oorlede, en Frikkie die volgende dag, op 9 September 1972. Beide is in Phillipstown begrawe.

Drie kinders is uit die huwelik gebore: Zirk Bernardus (gebore 10 Augustus 1920), Frederik Antonie (gebore 28 Februarie 1926) en Anna Sophia (gebore 11 Oktober 1937).

Naan na Genetika

TERUG