Magteld Maria Cornelisse

Magteld na MJ Willemse

Diagram 15. Mativus Johannes Willemse, ‘n agterkleinkind van, Magteld Maria Cornelisse

Dit is opmerklik hoe hoog die persentasie van ingevoerde slawe of slavinne, wat verhoudings met Europeërs aan die Kaap gehad het, van Indië of Oos-Indië afkomstig was. Baie van hierdie verhoudings was bowendien buite-egtelik. Waar daar ‘n nageslag uit sulke verhoudings ontstaan het, was dit nie noodwendig dat hulle in die blanke samelewing opgeneem was nie. Waar die verhouding langdurig van aard was, en dus as ‘n de facto huwelik beskou kon word, is die kinders wel in die blanke samelewing opgeneem.

‘n Uitsondering was egter die geval van Magteld Maria Cornelisse van Bengale en Gerrit Willemse van Leeuwarden in Friesland, Noord-Holland. Hulle is amptelik op 9 April 1691 getroud. Magteld was ‘n ingevoerde slavin van Indiese (Bengale) oorsprong. Sy was dus ‘n slavin van “volle kleur”, dit is, sy was afkomstig van ‘n gebied waar die inwoners nie-Eurpeërs was. Teenstrydige inligting is opgeteken oor die afkoms van Magteld Maria Cornelisse. Sy staan ook bekend as Maria Cornelisse, Maria van Bengale, of die dogter van Cornelis Claassen en Catharina van Malabar. Verwys in hierdie verband ook na die hoofstuk oor Catharina van Malabar. Enkele geskiedskrywers verwys na Maria Cornelisse as die dogter van Willem Cornelissen, ‘n konstabel op Jan van Riebeeck se personeel, en Maria van Bengale, op haar beurt die dogter van Cornelis Claassen en Catharina van Malabar. Vir die doeleindes van hierdie studie is dit nie belangrik wie haar ouers was nie, behalwe om aan te dui dat beide van nie-Europese afkoms was, vandaar die benaming “Maria van Bengale”.

Magteld en Gerrit was die stamouers van die Willemse-familie in Suid-Afrika. Hulle agterkleinkind, Mativus Johannes Willemse, was ‘n grootjie-oupa van Anna Sophia Jansen van Olievenfontein (Diagram 15).

Die aantal huwelike tussen blankes en gekleurde persone wat in vryheid gebore is, vorm waarskynlik die grootste enkele groep van “gemengde” huwelike in die Kaapse distrik tot 1800. Die nageslag van sulke huweliksverbintenisse het bekend gestaan as vrye gekleurdes, omdat die moeders vrygestelde slavinne van “volle kleur” was, en die vaders, Europees van oorsprong.

So was al die kinders van Gerrit en Magteld Willemse geneties Indo-Europeërs, maar is in die Europese samelewing aanvaar en opgeneem. Volgens De Villiers en Pama het vyf van hierdie kinders op hulle beurt huwelike gesluit waaruit ‘n nageslag gespruit het. Hiermee is ‘n vermenigvuldigingsproses aan die gang gesit wat ‘n invloed sou hê op die genealogiese en genetiese samestelling van die latere Afrikaner en so ook die Jansens van Olievenfontein.

TERUG